
Die wenner van die 2024-UJ-prys is SJ Naudé vir Van vaders en vlugtelinge (Human & Rousseau).
Die UJ-prys vir Afrikaans neem uitnemende tekste in enige genre wat oorspronklik in Afrikaans geskryf is en in die vorige kalenderjaar verskyn het, in ag. Die prys, wat in 2001 vir die eerste maal toegeken is (aan Antjie Krog vir Kleur kom nooit alleen nie uit 2000) se waarde is R75 000.
Vyf-en-vyftig titels waaronder romans, digbundels, dramas, kortverhaalbundels, jeugliteratuur, en ook niefiksie soos ’n biografie, memoir en literêr-akademiese werk, het meegeding om vanjaar se prys.
Die beoordelaars het Naudé se teks uitgesonder as verruimend en met ’n delikate en ontroerende vertelling waarin kompleksiteite van bestaan, ontheemding en wêreldvervreemding ondersoek word deur lewensbeskoulike en ook intiem-menslike uitbeeldings van karakters. Die roman delf in die impak van vervreemding en verlies, terwyl dit terselfdertyd 'n refleksie bied op die duursame aard van die menslike gees. Met sy ryke intertekstuele lae en evokatiewe prosa, is Naudé se werk 'n getuigskrif van die veerkragtigheid van verbintenisse wat ons definieer en onderhou.
Naudé het in 2012 die UJ-debuutprys vir sy kortverhaalbundel Alfabet van die voëls ontvang. Die UJ-prys is reeds twee keer aan hom toegeken: in 2018 vir sy roman Die derde spoel, en in 2022 vir Dol heuning.
Uit die keurverslae:
- Naudé se eksperimentering met genres verruim die wyse waarop daar na die kortverhaal, novelle, en episodiese roman gekyk kan word. Die skrywer weef ’n delikate vertelling waarin die tema van vervreemding op besonderse wyse verken word en in die aansluiting wat bewerkstellig word by die lang tradisie van plaasnarratiewe, is daar nie ’n terugval op ’n ondersoek na magsverhoudinge, of ’n sentimentele terughunkering na die verlede nie, maar ’n ontroerende vertelling van ontheemding.
- In Van vaders en vlugtelinge daag Naudé lesers bykans meedoënloos uit om wyer en dieper te lees as net agter die storie aan en die karakters ondermyn enige stereotipering en voorspelbaarheid. Naudé se hantering van die vertelling waardeur die onvoorspelbaarheid en toevalligheid waaraan die mens se leeftyd en lotgevalle onderworpe is ondersoek en beskryf word, is uitsonderlik. Hiermee verweef is besinning oor identiteit deur lewensbeskoulike en intiem-menslike uitbeeldings van karakters se pogings om beter te wees as die voorbeelde wat hulle self gehad het; terwyl geen vaste en sluitende antwoorde op enige van die groot vrae wat in die roman gevra word aangebied word nie. Naudé se plekbeskrywings is beeldskoon.
- Van vaders en vlugtelinge deur SJ Naudé is 'n ondersoek van die kompleksiteite van familiebande en die soeke na identiteit teen die agtergrond van moderne wêreldvervreemding. Die roman delf in die impak van vervreemding en verlies, terwyl dit terselfdertyd 'n refleksie bied op die duursame aard van die menslike gees. Met sy ryke intertekstuele lae en evokatiewe prosa, is Naudé se werk 'n getuigskrif van die veerkragtigheid van verbintenisse wat ons definieer en onderhou.
Die beoordelingspaneel vir die 2024 UJ-prys vir Afrikaans was die letterkundiges Frederick Botha (Sol Plaatje Universiteit), Karen de Wet (Universiteit van Johannesburg, en voorsitter) en Janien Linde (Noordwes-Universiteit), die digter Ronelda Kamfer, en skrywer en regisseur Mercy Kannemeyer.
Die prys word later vanjaar aan Naudé oorhandig tydens ’n geleentheid aangebied deur die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste.
Lees ook:
Die derde spoel deur SJ Naudé: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

