
https://naledi.co.za/product/twitter-dawn/
Twitter dawn
Joe Kitchen
Naledi
ISBN: 978177617280
Koos Kombuis, oftewel Joe Kitchen, praat met Naomi Meyer oor sy boek Twitter dawn, wat onlangs by Naledi verskyn het.
Koos, ek sien jy het onlangs ’n boek geskryf onder die naam Joe Kitchen. Is alles nou Engels, en jy ook?
Nee, alles is nie nou Engels nie! Afrikaans sal altyd my eerste liefde bly. Ek is egter in die proses om myself te vestig as ’n Suid-Afrikaanse eerder as ’n eksklusief Afrikaanse woordkunstenaar. En natuurlik sal ek verheug wees as my Engelse werk ook toenemend oorsee gelees word! Die enigste rede hoekom ek die pseudoniem Joe Kitchen in Engels gebruik, is omdat ek al te dikwels agtergekom het oorsese magazines is geneig om “Kombuis” verkeerd te spel. Hulle foeter aanmekaar in die rigting van “Kombius”, met die i en die u omgeruil! Twitter dawn, hierdie baie kort novelle, het op Maandag 20 Februarie uit die drukkers gekom, presies op dieselfde oomblik toe my nuwe Afrikaanse album, “Nag van die honde”, aanlyn vrygestel is.
........
Twitter dawn, hierdie baie kort novelle, het op Maandag 20 Februarie uit die drukkers gekom, presies op dieselfde oomblik toe my nuwe Afrikaanse album, “Nag van die honde”, aanlyn vrygestel is.
..........
Die boek se naam is Twitter dawn. Almal se konsentrasie is nou ongeveer so lank soos ’n Twitter-plasing. En lyk my jou hoofstukke is ook so lank (of sal ek eerder sê so kort). Hoe het hierdie boek ontstaan?
Ek het so ’n paar jaar gelede aan myself die uitdaging gestel: Wat as ek ’n kortverhaal op Twitter skryf? Of, nog beter, ’n langer storie? Dit het onmoontlik gelyk, want twiets was toe nog beperk tot 140 karakters. Maar ek het vasgebyt!
Die boek is oor ’n tydperk van jare as twiets geskryf. Maar nou is hierdie vlietende boodskappe in ’n boek saamgevat. Is dit nie teenstrydig nie?
Ja, dit het my sowat drie jaar geneem om die storie te voltooi. Maar, om eerlik te wees, die aantal mense wat die verhaal van begin tot end gevolg het, is waarskynlik minimaal. Dit het my hartseer gemaak dat so min mense dit enduit kon volg. Daar was heelwat belangstelling, selfs in die pers, maar ja, soos jy sê, mense se aandag bly nie lank op een plek nie; dis die siekte van ons tyd. Op die ou end het die hele affêre vir my gevoel soos ’n private speletjie. As Naledi nie nou die relevansie van die eksperiment raakgesien het nie, sou dit altyd net dít gebly het: iets wat ek gedoen het om myself te entertain.
Nog iets: Is dit dieselfde ervaring om ’n boek te lees as wat dit is om ’n Twitter-plasing te lees? Dink jy nie ’n mens moet die plasings een vir een lees en daaroor nadink en eers weer later die volgende twiet lees nie? Is die boek-ervaring dieselfde?
Nee, natuurlik is ’n boek beter. Ek bedoel, om eerlik te wees, om ’n boek op Twitter te probeer skryf is ’n misbruik van die medium! Maar toe ek eers begin het, het die storie sy loop met my geneem, en kon ek eenvoudig nie ophou nie!
Waaroor gaan jou storie? As jy dit nou soos ’n roman moet verduidelik/uiteensit.
Die storie, om dit baie kortliks op te som, is ’n toekomsfantasie waarin ek deur middel van fiksie die vraag stel: Waarheen is ons as spesie op pad met sosiale media? Wat as sosiale media op die ou end vir ons meer werklik word as persoonlike interaksie in die werklike lewe? Bygesê (en hierop is ek nogal heel trots), dit was voor die tyd toe die konsep van Meta geopper is.
..........
Wat as sosiale media op die ou end vir ons meer werklik word as persoonlike interaksie in die werklike lewe?
............
Is dit ’n speletjie hierdie? Dink jy dis werklik die toekoms? Gaan mense sulke kort hoofstukke wil lees en daardeur bevredig voel?
Die hoofstukke is baie kort, ja, ongeveer drie tot vier twiets per hoofstuk. Miskien moes ek dié ’n “haiku-story” genoem het eerder as ’n “micro-novel”?
Onthou jy die TV-program Beyond 2000? ’n Mens se verbeelde idee van hoe die toekoms sal lyk en nou, inderdaad beyond 2000, is iets totaal anders. Of is dit? In Twitter dawn is dit ’n era van tegnologie, maar in ons werklike lewe sit ons daagliks sonder krag. Is dit nie ’n bietjie teenstrydig nie?
Ek het nou die dag ’n lang gesprek met ChatGPT gehad oor hierdie kwessie, want die nuwe tegnologie gebruik geweldig baie krag, en krag is iets wat soms moeilik bekombaar is, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Sy antwoord was baie insiggewend. Hy het gemeen dat kunsmatige intelligensie dalk in die toekoms ingespan kan word juis om nuwe kragbronne te ontdek en te ontwikkel! Dis iets waaraan ek nog nie self gedink het nie.
Hierdie boek is saam met tegnologie geskryf, of saam met tegnologie se beperkinge, as ’n mens dit so wil noem. Want jy mag net ’n sekere aantal karakters vir ’n Twitter-boodskap gebruik. Dink jy dis die toekoms van boeke? Nou saam met bots of ander tegnologie?
...........
Dis groter as wat ek self aanvanklik besef het, en dit is een rede hoekom ek so bly is dat dit nou as ’n novelle verskyn het, want mense praat deesdae al hoe meer hieroor. Die nuwe tegnologie is besig om op talle vlakke ons lewens te verander en oor te neem. Twitter dawn was vir my die begin van hierdie spekulasieproses.
..............
Ek dink nie iets soos dié is ’n toekomstige resep vir boeke nie, en ek sal dit ook nie weer probeer nie; dit was ’n eenmalige “grappie”. Wat wel vir my boeiend is, is die tema wat hier aangeraak word ... Dis groter as wat ek self aanvanklik besef het, en dit is een rede hoekom ek so bly is dat dit nou as ’n novelle verskyn het, want mense praat deesdae al hoe meer hieroor. Die nuwe tegnologie is besig om op talle vlakke ons lewens te verander en oor te neem. Twitter dawn was vir my die begin van hierdie spekulasieproses. Ek hoop dat beter en meer kundige skrywers as ek sulke dinge in groter detail sal ontgin.
Wat is ’n onlangse boek, geskryf deur ’n mens, wat jy geniet het?
Ek is nou byna klaar met Martin Ford se bekende 2015-publikasie, The rise of the robots. Dis ’n boek wat deur ’n mens oor robotte geskryf is. Ek sien uit na die eerste boek wat deur ’n robot oor mense geskryf gaan word! Dalk kan so iets Imke van Heerden se volgende projek wees ...
Lees ook:
Besinning oor die ASSAf-paneelbespreking oor ChatGPT, assessering en hoër onderwys
Hoe verskil ChatGPT van Microsoft en Google se gespreksagente?
To Google or to Chat? Getting information is likely to change


