
https://naledi.co.za/product/twitter-dawn/
Twitter dawn
Joe Kitchen
Naledi
ISBN: 978177617280
..........
Kan die mens, gevang in die web van plesier wat hy self gespin het, ooit gelukkig en tevrede wees? Joe Kitchen se distopie plaas die dilemma in ’n neutedop.
............
Kan die mens, gevang in die web van plesier wat hy self gespin het, ooit gelukkig en tevrede wees? Joe Kitchen se distopie plaas die dilemma in ’n neutedop.
In ’n tyd van glinsterende oordaad, superhelde in metaversums, baldadige spesiale effekte, avatars en baksteendik romans, verdwyn die klein gebaar en fyner kunswerk soos mis voor skouspel. Groter is nou eenmaal groter, en kleiner is helaas net ... kleiner.
Twitter dawn deur Joe Kitchen (Koos Kombuis), uitgegee deur Naledi, is ’n dun boekie. In die bestek van 154 bladsye kry anderwêreldse karakters, denkwyses, uitings en omgewings beslag. Op die voorblad kliek ’n kubistiese handjie op ’n rekenaarskerm en so begin ’n reis in die onbekende, altans ’n sfeer wat ons dink ons ken en bemeester het – die kuberruim. ’n Soort onderwêreld.
Aanvanklik lyk dit na ’n 3D paradys waar alles moontlik is en elke fantasie verwesenlik kan word, elke begeerte uitgeleef kan word. Op bladsy 11 word allerlei onnodige swaarkry en gesukkel van die voorgangers gelys: “[...] ongelukke, pyn, om lelik gebore te word.” Alles iets van die verlede in Twitterworld.
Die verhaal ontvou in opeenvolgende fragmente, kort en langer paragrawe wat nie die aandagspan van die gemiddelde moderne leser ooreis nie. Wat nie beteken daar is nie heelwat pitkos vir die aandagtige leser nie.
In ’n ewe pittige voorwoord beskryf die skrywer sy roman as ’n “voorstedelike fantasie oor wat van sosiale media in die verre toekoms kan word”. Dis dalk nader as wat die leser dink ...

Twitter-logo: https://pixabay.com/vectors/twitter-tweet-twitter-icon-2170426/; boekomslag: https://naledi.co.za/product/twitter-dawn/
Die manuskrip is oorspronklik van 2010 tot 2013 in die vorm van twiets op die internetforum Twitter gepubliseer. In boekvorm is die vloei van die eerste plasings gekonsolideer tot een relaas wat in een middag gelees kan word.
Die protagonis Alpha Beeper het pas mondig geword. Hy kom van ’n familie van eBay-handelaars en media-nomades en voer ’n sorgelose en dikwels verveelde bestaan in sy gemaksone. Die leser lei af dat hierdie halfmens-, halfdigitale konstruksie volledig “avatar” is. Hy bewoon die kuberruim, Twitterworld, waar hy in vier dimensies sy lewe lei.
Twitter dawn kan maklik as ’n literêre foefie afgemaak word, bloot ’n grapboekie wat die draak steek met bleeksiele se grootste skepping, die internet. The revenge of the nerds op kosmiese skaal.
Kitchen het destyds al, sowat ’n dekade gelede, met sy twietparagrawe die aard van sosiale media en die versluierde euwels profeties benader. Snaaks is dit wel dikwels, en nie net vir die ingewyde leser wat al die verwysings verstaan nie, soos in sy oggendbede aan die almagtige Bill: “Our Father which art in Hard-Drive, hallowed be thy Avatar, thy Geekdom come, they Jobs be done, in Cyberspace as it is in 4D. Give us this day our daily bytes, and forgive us our free ADLS, as we forgive those with more ADLS than us. Lead us not into the meltdown, but deliver us from Hackers. For thine is the software and the power and the input, for ever and ever. Ah Bill.”
Alfie verwyl sy tyd met besoeke aan sy boesemvriend Kraker, hy verdwaal in ’n stowwerige biblioteek, luister in by kletskamers en het blykbaar nie ’n werk nie. In ’n wêreld wat deur bleeksiele bedink, gebou is en steeds bestuur word, kan die avatar-persoon hom/haar besig hou met verhewe of ligsinnige bedrywighede en praatjies. Alfie het byvoorbeeld ’n neiging om alles te herhaal.
Voorts is hy skynbaar nog ’n maagd. Liefde is ’n gerug wat hy probeer ontsyfer, en al is seks in oorvloed beskikbaar in die vorm van kuberporno, het hy eerder ’n behoefte aan sosiale kontak en vriendskap met vroue.
’n Leser kan wonder: Is daar ware diepte aan die verteller en ander karakters op sy pad? Diepgang of die tekort daarvan is hier juis die tematiese spil waarrondom die handeling draai. Want Alpha gaan deur ’n krisis van betekenis.
Kan die mens, gevang in die Web van plesier wat hy self gespin het, ooit gelukkig en tevrede wees? Maak dit hom ’n superindividu of bloot ’n nabootsing van ander se avatars?
Dit is nie duidelik of hierdie post-post-moderne kubermens van vlees en bloed is nie, maar hy het dieselfde hunkeringe as sy 3D voorsate, en hy hou van hamburgers gemaak van 100% bief. Sy naïewe gedagtes, gedrag en gewoontes is simplisties en fokus op kuberplesiere. Hy leef in die Nou.
Die 3D geskiedenis en letterkunde is lank vergete, al word dit in ’n aanlyn biblioteek bewaar.
Aanvanklik verloop die storie in ’n ligte trant as ’n futuristiese satire wat die vervlakking van die mensdom karteer. Alfie se vriend Kraker word ontvoer deur die heersende Geeks en ontdek ’n eetplek waar hy iets van ’n vroeër werklikheid proe. Die bibliotekaris Trudy verbreed sy digitale horisonne deur hom aan George Orwell se 1984 bloot te stel. Dit blaas sy bestaansbegrip oop en hy begin besef hy bevind hom in ’n soortgelyke outokratiese bestel, met Bill as Big Brother. In die absurde drama Waiting for Godot deur Samuel Beckett kies Alfie om Godot te wees, tot sy groot teleurstelling, want die titelkarakter verskyn dan nie eens op die verhoog nie.
Die raakpunte met ander literêre werke is humoristies en terselfdertyd onheilspellend, want duidelik is Twitterworld geen paradys nie. Dis die groot distopie wat voriges insluk.
Daar is struikelblokke op die held se pad, soos ’n botsing tussen twee e-karre, wat redelik moeiteloos omgekeer word deur digitale tyd te manipuleer. Elke kort greep/hoofstukkie (een per bladsy) eggo die manier waarop mense in ons media-versadigde tyd klets en waarskynlik in die nabye toekoms sal kommunikeer.
’n Mens kan wonder of romans straks soos hierdie een gaan lyk. ’n Nuwe, radikaal-gestroopte manier van lees het immers lankal posgevat: Fiksie word in allerlei mikro-formate geskep en verslind. En waarlik, lees bly lees, al is dit blitslees, kitslees en vlaklees. In dié opsig wil die werk ’n voorspelling waag, weliswaar tong in die kies, wat gepaard gaan met ’n waarskuwing dat die groot literêre werke kan vergaan.
Inderdaad is daar ’n apokalips wat die skepping van Bill en die Geeks bedreig, wat deur die titel, Twitter Down, gesuggereer word. Is daar lewe en vreugde en vooruitgang moontlik ná die internet? Met al die onlangse verwikkelinge rondom Elon Musk wat Twitter oorneem, het die tema nuwe relevansie gekry.
Die genre van fantasie met ’n skeut futurisme en wetenskapfiksie wat Kitchen hier ontgin, is relatief-nuut in Afrikaans, maar welbekend in ander tale. In 1884 het Flatland: A Romance of Many Dimensions deur Edwin Abbott Abbott (stet) verskyn, geskryf deur “A Square”. Hierin ontmoet ’n karakter van die platvlak, oftewel 2D wêreld, ’n kubus van die 3D wêreld. Abbott Abbott wou satiries kommentaar gelewer het op die engheid van die Victoriaanse sedes in Brittanje.
The dot and the line: A romance in lower Mathematics deur die argitek en beplanner Norton Juster is eweneens ’n speelse verkenning van dimensies en wiskunde wat poog om die leser aan te spoor om te wonder hoe lyk ’n heelal met meer dimensies as dié waaraan ons gewoond is. In Stanislav Lem se kortfiksie The three electroknights word elektriese verskynsels as karakters uitgebeeld.
..............
Kitchen se klein roman het ’n snelle pas wat die spanning beding namate die digitale bestel in duie stort. Dit lees lekker, en die bladsye blaai vanself.
..............
Kitchen se klein roman het ’n snelle pas wat die spanning beding namate die digitale bestel in duie stort. Dit lees lekker, en die bladsye blaai vanself.
Sosiale media-slawe wat nie kan wegkyk van vele skerms nie, asook lesers wat outydse boeke verkies, sal almal geprikkel word deur dié distopie-in-’n-neutedop. Mikro en makro vind hier ’n goue middeweg.
Lees ook:
Besinning oor die ASSAf-paneelbespreking oor ChatGPT, assessering en hoër onderwys
Hoe verskil ChatGPT van Microsoft en Google se gespreksagente?
To Google or to Chat? Getting information is likely to change
Twitter dawn: ’n gesprek met Koos Kombuis, oftewel Joe Kitchen


