Toyota US Woordfees-TV 2021: enkele gedagtes

  • 0

“Die verlede bestaan nie meer nie. Die toekoms is al wat ons het. Al die risiko’s, en ook al die oplossings, lê daarin opgesluit.”

Só sê Morné Mostert, direkteur van toekomsnavorsing by die US, tydens sy aanbieding in die Beste professor-diskoerse wat as deel van die opwipkanaal Woordfees-TV (DStv-kanaal 150) se feesprogram tot op 7 Oktober uitgesaai word.

“Ons weet ook,” voeg hy by. “Die toekoms lyk anders as dit wat ons ken.”

Sowel die toekoms as vanjaar se Woordfeestema is iets anders.

Kunstefeeste dwarsoor die wêreld volg sedert die uitbreek van die COVID-19-pandemie verskillende benaderings: opwipfeeste, kleiner aanbiedinge, amfiteaters, stroming. (Sien ook twee artikels rondom die Woordfees se opwipfees vanjaar: hier en hier.)

Nog selde was ’n Woordfeestema egter so opvallend van toepassing op die aard en grein van hierdie fees as juis nou. Iets anders is die Woordfees gewis vanjaar, en daarvan kan feesgangers dwarsoor die land en in buurlande met DStv-toegang wat die afgelope paar dae in hul sitkamers fees, getuig. Weens die voortslepende grendelbepalings word die Toyota US Woordfees vanjaar nie in Stellenbosch aangebied nie, maar op die TV uitgesaai.

Gewoonlik is daar teaters, nou is daar ’n skerm. Normaalweg is daar ’n lewende gehoor, vanjaar is die feesgangers jou huisgenote. ’n Selfoon wat onder normale Woordfeesomstandighede in die teater lui, veroorsaak in algemene opvoeringsomstandighede soveel ongelukkigheid soos Eskom se beurtkrag. Tydens vanjaar se TV-fees, daarenteen, beantwoord mense hul oproepe terwyl ’n produksie aan die gang is, en bespreek die vertoning soms kliphard met mekaar.

’n Kenmerk van die ou-bekende Woordfees is dat die program so vol is dat ’n feesganger mooi moet beplan wat hy sal bywoon omdat die items met mekaar kan bots. Vanjaar se program kan in ’n paar PDF-bladsye opgesom word.

Saartjie Botha het rondom die besluit om die Woordfees vanjaar op die TV uit te saai, genoem dat stroming nie altyd so effektief werk nie en dat navorsing getoon het kykers skakel gou af as ’n produksie op die internet aangebied is. Daarteenoor het mense in die grendeltyd aanhou televisie kyk, en dit trouens toenemend gedoen. Vandaar die besluit om tydens die onvoorspelbare pandemietyd die Woordfees vanaf die planke na die kassie te verskuif.

Hoewel die fees iets anders is, is die Woordfees op TV se program in die ou bekende afdelings verdeel: Skrywersfees, Leefstyl, Film, Toneel, Klassiek, Dans, Diskoers, US-universiteitskoor en WOW.

Hoe beeldsend mens ’n fees, met sy unieke atmosfeer en gees? Hoe vertaal mens die hart en siel daarvan om dit lewensvatbaar vir die televisie te maak?

Dalk moet weer terugverwys word na Mostert se aanhaling – met ’n byvoeging, in hierdie geval. Wat hierdie TV-fees betref: Die verlede bestaan nie meer heeltemal soos wat ons dit geken het nie. ’n Mens kan nie interaksie met jou medegehoorlede hê soos wat mens dit in die teater het nie, maar as mens gewillige huisgenote het saam met wie mens kan fees, is dit ’n andersoortige en sinvolle teaterervaring. Bygesê: as mens bevoorreg genoeg is om tyd te hê om te kyk (daar is ook heelwat deurlopende heruitsendings), en ook toegang tot die betrokke DStv-kanaal het.

Enkele feeshoogtepunte wat in hierdie skoolvakansie-omgewing beleef is, demonstreer die uiteenlopende program: Ryan Pedro se digkuns, ’n Niewe era vi Kaaps, Willem Anker se Skepsel, Lien Botha se Vin, die Digtersparadys, Bertus Basson, Rudie van Rensburg se gesprek oor sy volgende Hans-boek, Zoid se konsert, Nina Schumann se klassieke musiek, die inperkingskookboekgesprek van Ruben en Ingrid Jones, die hulde aan David Kramer, Charl du Plessis op die klavier, die US-koor, Zorada Temmingh, Kom ons loop weg-boekgesprek met Erika Murray-Theron en Juliana Coetzer, Lize Beekman, die toneelstuk Valsrivier, ’n boekgesprek tussen Hannes van Wyk en Anton Muller (oor Anton se Ek onthou …), Blomme vir Jupiter, Reza de Wet se Mis, Drie digters in konsert, Damon Galgut se gesprek met Marthinus Basson rondom The promise, ’n Strauss & Co-kunslesing, die WOW-spelfees, Jeremy Veary se bespreking oor sy boek.

Twee items op die feesprogram behoort uitgelig te word. Die Beste professor-diskoersreeks (’n vertoonvenster van waarmee navorsers by die US hul besighou) en die Altyd ’n Matie-narratiewe (’n fokus op ’n verskeidenheid oud-Maties en waar hulle hul in die lewe bevind, asook hoe dié universiteit hul geslyp het). Albei hierdie items kan in ’n sekere sin beskou word as advertorials vir die US – een van die primêre naamborge van die Woordfees - maar dit versoen baie effektief met die Woordfees se program, wat ook intellektuele besprekings aanbied. Die navorsing in die Beste professor-diskoerse was interessant en onderhoudend aangebied.

’n Boekbespreking wat gefokus het op ’n kleinverhaal van ’n alombekende outistiese Stellenbosser, Anton Muller, raak die kyker aan die hart. Dit kan ook gesê word van die gesprek tussen Erika Murray-Theron en Juliana Coetzer, wat albei die versorging van mense met spesiale aandag ken. Murray-Theron se Kom ons loop weg handel oor die versorging van haar man wat aan Parkinson se siekte gely het, en Coetzer, skrywer van Bloedvreemd en Die kind se naam is Anneke, se dogter is gestremd nadat die waterpokkievirus haar brein as kind aangetas het en haar progressief aftakel.

Die kamera kan naby gesigte draal. Dis ’n fees om die skrywersgesprekke te kan bywoon en intiem naby aan die gesprek te kan sit en luister.

Vir my was nog ’n persoonlike hoogtepunt om in Stilbaai te hoor hoe die somerwind teen die deur beur, en in staat te wees om nog ’n Woordfeesboekgesprek te kon bywoon – en te luister hoe Damon Galgut sy Booker-genomineerde The promise bespreek.

Of om sommer impromptu te kan teater en om Reza de Wet se Mis saam met gewillige huis- en feesgenote te kon beleef.

’n Versplinterde fees was dit dan, nie ’n saamtrek op Stellenbosch nie. Tog het die Stellenbosse aard van die fees na buite uitgestraal.

Die toekoms is inderdaad onbekend. Ja, die fees op die TV is ’n grendeltydfees – die lewe is nou vol onderbrekings en die professionele en private omgewings vloei inmekaar soos waterverf. Dit is nie dieselfde as wat die Woordfees altyd was nie. Tog was dit Woordfees in murg en been, en die bestuur van die fees moet geloof word vir nóg ’n vernuwende manier om die kunste uit te dra.

Karen Zoid, een van die feesdeelnemers, het by ’n ander geleentheid gesê dat sy dit bewonder as iemand doen wat hulle kan met wat hulle het. En dis presies wat die Woordfeesbestuur vanjaar gedoen het. Hulle het iets anders geskep. Vernuwend, kreatief, en met dieselfde uitspattige Woordfees-flair wat Woordfeesgangers reikhalsend na die volgende Woordfeeservaring laat uitsien.

Lees ook:

Woordfees op die teevee

Die ongetemde stemme van Afrikaanse musiek

Toyota US Woordfees op TV: Daaglikse program

Woordfees-TV 2021: ’n Onderhoud met Saartjie Botha

Toyota US Woordfees op TV: Hannes van Wyk oor Sê groete vir Ma

Toyota US Woordfees op TV: Anna-Mart van der Merwe oor Valsrivier

Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud met Elmari Rautenbach oor die boekeprogram

Persverklaring | Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal | Toyota SU Woordfees TV pop-up channel

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top