Toyota US Woordfees 2021: oorsig oor ’n naweek van Flikker & Flash-opskietteater

  • 0

Die Toyota US Woordfees het die afgelope naweek ’n Flikker & Flash-opskietteater-ervaring oor twee dae op Stellenbosch aangebied. Maryke Roberts het haar aan die kunste gaan oorgee.

Die hele fees is onder leiding van die gesoute teatermakers Alfred Hinkel, Andrew Buckland, Gcina Mhlophe, Gregory Maqoma, Jefferson Tshabalala, Jolyn Philips, Mmatumisang Motsisi en Sylvaine Strike ontwikkel en het met ’n Kunstenaarsweek begin.

.........

Altesaam 67 kunstenaars was deel van die program en het alle genres van die kunste verteenwoordig, van improvisasie, teaterkuns, dans, modeontwerp, multimedia, hip-hop en koreografie tot opera, musiekteater en visuele kuns.

..........

Altesaam 67 kunstenaars was deel van die program en het alle genres van die kunste verteenwoordig, van improvisasie, teaterkuns, dans, modeontwerp, multimedia, hip-hop en koreografie tot opera, musiekteater en visuele kuns.

Saartjie Botha, vertel: “Die Woordfees het vooraf 16 moontlike ruimtes identifiseer en met eienaars onderhandel oor die gebruik. Die meeste ruimtes is gratis aan die Woordfees beskikbaar gestel. Kunstenaars het geleentheid gehad om na die verskillende ruimtes te kyk en ’n eerste en tweede keuse aan te dui. Die Woordfees se tegniese span het toe stukke geplaas met inagneming van kunstenaarsvoorkeure, tegniese inrigting wat vir die ruimte geoormerk was, die lengte van die stuk en moontlike klanksteurnisse.”

Tien ruimtes rondom Plein-, Kerk- en Dorpstraat is vir die 16 vertonings gebruik, maar almal binne loopafstand van mekaar.

Ons kom vroegmiddag op die dorp aan, val by ’n straatkafee in vir ’n koffie. Die feestelike atmosfeer om ’n gedeelte van Ryneveldstraat waar die Stellenbosch-wynroetes hul Straatsoirées met verskeie wynplase hou, laat my bloed bruis.

Ek besef met die aansig van die eerste plakkaat van die Toyota US Woordfees teen ’n glasruit hoe opgewonde ek is vir hierdie geleentheid; hoe erg ek die kunste gemis het.

Voor die Hofmeyrsaal is ’n Woordfees-beampte besig om ’n groep gemaskerde sekuriteitswagte in te lig oor die aand se verloop. Die saal is verlig binne, en musiekinstrumente staan in afwagting vir die vertonings later. Die vorige aand is hier musiek gemaak en gedigte voorgedra.

Ons kry ons glase en bewyse by die Wynroetekantoor en stap oor na waar ’n blok in Ryneveldstraat afgeskort is vir stalletjies en voetgangers. Liggies en geel vlaggies wapper tussen die akkerbome. Mense sit op hooibale en gesels; by wynstalletjies wissel mense ’n paar woorde voor hulle proe en aanbeweeg.

Tydens die Straatsoirée sit ons op houtstompe onder ’n akkerboom en kyk na die mense. Selfs dié ervaring is nuut en opwindend. Iets wat ons voorheen baie geniet het, maar nou met ander oë bekyk; die maskers en handreiniger, temperatuur-meet en naam opskryf, iets wat binne ’n jaar deel van ons lewens geword het, alomteenwoordig.

Die son verkleur die bome se blare in goue versiersels en die skaduwees word lank.

Die klein glasboks oorkant die straat, waar daar voorheen af en toe kunswerke uitgestal is, gaan ’n hele teater word. In die enge twee meter by vyf meter gaan kunstenaars iets magies skep. Ons sien hoe Woordfees-personeel stoele uitpak, hoe wit heinings opgerig word om mense se getalle te beheer. Die kuns kom na die strate toe.

........

Die kuns kom na die strate toe.

.........

Ons kuier nog met ’n paar vriende op die sypaadjie, om die ruwe laaibordtafeltjie op die verste punt van die soirée. Ons is steeds skrikkerig vir die virus wat ons wêreld op sy kop gedraai het. Ek sluk die laaste Hartenberg rooi in my glas.

Die spanne ruim die straat op, en die tyd kom al nader om ons laaibordtafel en boomstompstoele af te staan. Die soirée is oor; die Woordfees-vertonings het begin.

In die klein glashoek oorkant ons is dit Lauren Dasappa se operastem wat oor die vier straathoeke en sypaadjies dawer. Die kragtigheid van haar stem kruip tot in elke hoekie van die voormalige galeryvenster. Die paar mense vir haar vertoning staan in stille verwondering en luister en kyk, maar dis dié wat nie bewus was van die Woordfees nie wat in hul spore vassteek, omdraai en luister.

Clowns (foto: Nardus Engelbrecht)

Die effek van musiek is onmiskenbaar. Die wonder van buite wees, van kuns kan ervaar, amper tasbaar.

Toe ek by ons eerste vertoning met Phulusho Khwiyane my bril moet uithaal om in te teken en die glase wasem toe van my asem teen die warm masker, ervaar ek weer die paniek wat ek ’n jaar gelede by die Woordfees ervaar het, toe die KKNK 2020 gekanselleer is en akteurs begin spekuleer het oor watter impak hierdie vreemde COVID-19 op ons gaan hê.

Phulusho Khwiyane (foto: Nardus Engelbrecht)

Ons stap tussen die verskillende teaterruimtes: ou galerye, leë winkels en restaurante; die stoep van ’n geslote Erfurthuis, waar daar vorige jare strome mense was om kaartjies en programme te koop, om te ruil of af te haal.

Die ervaring herinner my aan een van my teatergunstelinge, die sogenaamde tentjiesteater van Nederland, wat Rhodé Snyman, voormalige hoof van die KKNK, na Oudtshoorn gebring het as uitkampteater. Intieme kuns in klein opslaantente waar daar skaars meer as 10 mense kan sit. Die akteurs wat amper op jou skoot speel en in verskeie vertonings die gehoor deel maak van die teks. Op Oudtshoorn was al die tentjies voor die burgersentrum opgeslaan en jy kon met tye die stuk langsaan se dialoog hoor.

.........

Woordfees 2021 is anders.

Die feit dat jy as’t ware agter die kuns aanstap en net deur die ligte in elke ruimte in die donker gelei word, het vir my dieper betekenis. Die paar minute tussen vertonings die enigste tyd om die vorige vertoning te verteer; amper vir herkou te bêre later. Vir hoe lank hierdie sielservaringe ons moet voed, steeds onbekend aan ons, want feeste en teaters se toekoms is onseker.

...........

Woordfees 2021 is anders.

Die feit dat jy as’t ware agter die kuns aanstap en net deur die ligte in elke ruimte in die donker gelei word, het vir my dieper betekenis. Die paar minute tussen vertonings die enigste tyd om die vorige vertoning te verteer; amper vir herkou te bêre later. Vir hoe lank hierdie sielservaringe ons moet voed, steeds onbekend aan ons, want feeste en teaters se toekoms is onseker.

Ons loop weer verby die hoekie waar Lauren opera sing. Sy staan nou buite op die sypaadjie. Die akoestiek dalk te sleg binne-in die glasboks. Die ruimte dalk te nou vir haar wye stem.

Ek het jou leaf (foto: Nardus Engelbrecht)

Haar stem volg jou in die donker straat af, op pad na Pleinstraat waar die ou Birdcage-restaurant twee stukke om die beurt huisves: Ek het jou leaf en Ebumnyameni. By tafeltjies in die De Wetvierkant sit paartjies en eet, heel moontlik onbewus van die teater wat onder hul neuse gemaak word. Teatergangers stap verby en gaan staan in die tou vir vertonings.

Ons word deel van ’n geroesemoes van die nargroep met hul rooi neuse wat mense op ’n ander straathoek vermaak. Daar is gelag en arms swaai en ’n wildheid aan die groep. Jou kommer wyk vir ’n wyle met hul kwinkslae.

Onderweg na Ryneveldstraat 32, waar daar voorheen ’n sakeonderneming was, lok die ligte van Pleinstraat 20 my. Die hoekwinkel was voorheen ’n kombuiskaswinkel en ook galery. Nou is dit leeg, afgesien van die akteurs van Café Souvenir wat in geel ligte optree. Die tou is te lank vir ons ongeduld en toe ons verbystap, raak ’n vrou aan my arm. “Julle moet julle haas na die De Wetsentrum, Ek het jou leaf is die beste show wat ek nog gesien het!”

Maar eers nommer 32, vir Free Biopsy met onder meer Nicole Holm en Tertius Meintjies. Die klein gehoor staan teen die leë vertrek se muur. Amper gaan sit ek langs Nicole op die oop teaterbankie teen die oorkantste muur, tot ek besef sy is deel van die stuk.

Mense word deur ’n jong vrou ondersoek en in ’n agterkamer word organe of oë verwyder wat dan in ’n yshouer deur ’n gewapende man verwyder word. Enkele lede van die gehoor staan nader om te sien wat in die agterkamer aan’t gebeur is. Die res van ons staan vasgenael. Die deur agter ons swaai oop en die Woordfees-beampte moedig ons aan om te gaan kyk wat daar agter op die operasietafel gebeur.

........

Ons is teatergroentjies in hierdie ongewone styl en plek. Net so vreemd soos die akteurs moet wees.

.........

Ons is teatergroentjies in hierdie ongewone styl en plek. Net so vreemd soos die akteurs moet wees.

By Erfurthuis speel die akteurs op die stoep, en hoewel net 17 mense toegelaat is om ver uit mekaar in die tuin te staan, hang verskeies nuuskierig aan die heining en word deel van ’n groter gehoor.

Daar is geen woorde in Yekabani Le Panty nie; net twee akteurs, Carin Bester en Peggy Mongoato, wat woordeloos met groot hoepelonderrokke waaraan onderbroeke en vrouebroekies vasgewerk is, rondstap. Hul bolywe is kaal, afgesien van hul bra’s wat effense skuiling bied. Hul gesigte het maskers op wat later afgehaal word voor hulle mekaar met modder insmeer.

........

Sonder ’n program of sinopsis oor elke stuk is dit nou meer as ooit oorgelaat aan die kyker om sin te maak van wat hy of sy sien en ervaar.

.........

Toe ons ná die kort vertoning koers kies na die volgende een, stap drie ouerige mense voor ons. “Wat het pas gebeur?” vra die vrou verontwaardig. Jy kan hoor dat sy uitgesluit voel by die groep wat die stuk – binne en buite die heining – ervaar het. “Jy moet gaan nadink en dan self besluit wat jy uit die stuk gekry het,” kom die antwoord van een van die metgeselle. Hulle stap in stilte verder.

Hoe waar was sy woorde nie. Sonder ’n program of sinopsis oor elke stuk is dit nou meer as ooit oorgelaat aan die kyker om sin te maak van wat hy of sy sien en ervaar.

My siel kom effe tot rus by die laaste glasboksteater voor die Moederkerk. Hier is dit die tjelloklanke van Sunday Kelechi en begeleiding van Joshua Pieterson wat mense teen die akkerbome – selfs oorkant die straat – laat leun. Die diep, strelende klanke van sy musiek ’n lafenis vir verwardes.

Toe die laaste note van die orrel onder Zorada Temmingh se vingers stil word in die Moederkerk, wat die fees amptelik afsluit, is my gemoed in ’n tweestryd: Ek wil nie hê die aand moet einde kry nie, want my siel het so gesmag na sulke verkwikking, maar ek voel ook só vol emosies dat ek kwalik nog ’n vertoning sou kon huisves.

Antoinette Kellermann en Cintaine Schutte (foto: Nardus Engelbrecht)

Cintaine Schutte wat in Café Souvenir te sien was, het voor die fees op sosiale media geskryf dat dié Kusntenaarsweek en fees “op die regte tyd gekom het, toe my vlammetjie maar baie laag gebrand het”.

Sy haal ook die woorde van Cornelia Faasen van NATi by die openingsgeleentheid aan: “Ons het almal ons balans verloor die laaste jaar. Ons was in ’n kollektiewe rouperiode, want ons manier van leef, ons waarde as kunstenaars, tegnici, kunsadministrateurs en samewerkers is deur beide ons regering en ander mense wat ons bestaan as ’n leefstylkeuse of stokperdjie sien, as waardeloos bevind.

“Baie is geskryf oor die gevoel van verlies wat die afgelope jaar ervaar is. Hoe ons behoefte aan vergader, aan die heilige oomblikke om in ’n teater te wees, geskuif het en nooit deur enige ander medium vervang kan word nie. Ek gaan dit dus nie herhaal nie. Dié van ons wat weet, weet.”

Sy het haar toespraak afgesluit met die woorde: “Ons is reg vir werk en om ons vaardighede te slyp. Ons is hier in hierdie nuwe spasie van werk en hoop.”

Cintaine vertel na afloop van die Flikker & Flash dat dit ongelooflik was om weer te kon toneelspeel. “Maar die week het ons forseer om te collaborate met mense wat ons miskien nooit mee sou saamwerk nie, of nooit die geleentheid sou kon hê om mee saam te werk nie. So net om in jou groep te beweeg, te skep, selfs props te vind, jou styl te kry, kostuums te kry en uit dieselfde mond moes praat; dieselfde storie moes vertel in só ’n kort tydjie iets bymekaar te sit ... 15 minute klink min, maar jy moet nog steeds ’n goeie narratief gee, veral vir mense wat honger is vir teater en stories wil luister.

“Die feit dat ons dit in leë winkels gespeel het en dat die eienaars van die winkels dit vir ons verniet gegee het, was ongelooflik. Die feit dat daar glasvensters is, het gemaak dat mense van buite kon sien en nuuskierig kon wees oor wat ons doen. Daar was kinders van vier, vyf jaar by ons optredes wat nog nooit in ’n teater was nie. Stellenbosch het op soveel vlakke mense se lewens geraak, ongeag of dit dans of musiek of narratief was.”

Cintaine sê die teaterbedryf is rou: “Ons trek aan die kort ent – baie kunstenaars werk al vir meer as ’n jaar nie. Daar was eerlike gesprekke, baie trane, maar soveel blydskap om net weer te kan skep; te voel asof jy weer ’n stem het en dit te kon gebruik.”

Sy sê die week se mentorskap en ondersteuning was verbysterend. “Om net weer moed te kry en te kan geraas maak, was heerlik.”

 

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2021: Saartjie Botha oor Flikker & Flash, straatteater en nuwe tye

Toyota US Woordfees 2021: Teaterlose kuns

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top