Toyota US Woordfees 2021: Teaterlose kuns

  • 0

KKNK, die jaar 2000

Oudtshoorn gons. Feesgangers sit op strooibale en eet roosterkoek. Die bier vloei. Straatkinders kom dans vir donasies. Op my feesaandenkingshemp, net bokant die prent van potdeksels wat soos vreemde vlieënde voorwerpe oor die Karoo sweef, staan daar: “Dis deksels opwindend.”

Meestal ís dit. Die sale is vol. Die musiek bons. Die gordyne lig. Die skares is daar.

Een aand, tydens ’n happening / immersive art-geleentheid, sit die gehoor op die sement van ’n parkeerterrein.

Een van die akteurs praat daar voor in Hollands – ons kan nie alles hoor wat hy sê nie. ’n Vuurhoutjie ontvlam. ’n Drom word aan die brand gesteek. Ons kyk na die vuur; dink dis die opvoering.

Enjins brul agter ons. Ons kyk om. Masjinerie peil op ons af, skopgrawe en trekkers. Daardie petrolkonka wat gebrand het, het net ons aandag afgetrek, besef ek terwyl ek opspring en begin hardloop. Ons is aktiewe deelnemers. Nou moet ons vlug vir ons lewens.

Yaseen Manuel by Flikker & Flash (foto: Nardus Engelbrecht)

Woordfees, Flikker & Flash, 10 April 2021

Die hele wêreld is deur ’n pandemie getref. Baie mense sterf. Sommiges is baie siek. Die armes word armer. Mense stry oor inentings, ivermektien, en kudde-immuniteit. Sakeondernemings maak toe en geboue staan leeg. Om van teaters nie te praat nie.

.......

Saartjie Botha: “Kunstenaars het nodig om weer in hulle kunstenaarskap te glo, in hulle aard en wese, en hopelik is Kunstenaarsweek en Flikker & Flash ’n platform om kunstenaarskap te bevestig. Dit is ook ’n broodnodige kreatiewe inspuiting in die psige van Stellenbosch.”

........

Die winkels en kunsgalerye en restaurante wat gebuk gaan onder die ramp van verlies van inkomste, word twee aande lank gevul deur werklose mense, die kunstenaars. Daar mag telkens 13 mense op ’n slag binne-in ’n venue ingaan. Almal se temperatuur word geneem. Ons stap binne, ons betree andersoortige ruimtes. Ons bly ver uitmekaar. Ons dra maskers.

.........

Saartjie Botha: “Optredes gaan meestal in leë winkelruimtes gebeur. Die kunstenaar is veilig agter glas, en die gehoor is veilig in die buitelug met klankversterking soos nodig. Omdat ’n beperkte aantal toeskouers vanaf die straat, sypaadjie of gang in die ruimte sal kan insien, doen ons korter vertonings van 5–15 minute, voor gehore wat wissel van 20 tot veel meer. Gehore beweeg na verskillende ruimtes om verskillende kunstenaars te sien, amper op die Universiteit Stellenbosch se Vensters-model. Ons glo hierdie vernuwende projek sluit aan by ’n trotse tradisie van Woordfees-waagstukke wat in die verlede aangepak is.

...........

Buite in die straat kuier die studente op die stoepe. Weet hulle dis opwip-Woordfees-naweek? Hier en daar wapper Woordfeesborrels op die sypaadjies. Dis alles gratis. Waar is die mense wat uitgehonger is vir kuns? Hulle kruip nie almal weg vir die virus nie. Baie van hulle, in die ewig-krimpende wêreld waarvoor COVID-19 die blaam kry, is onbewus van die teater vlak onder hul neuse.

Ons is ’n groepie van 13 mense in ’n leë kunsgalery net langs Decameron.

Toevallige verbygangers sien wat binne die leë kunsgalery plaasvind. Hulle hoor die oorverdowende klassieke musiek; hulle sien die liggies wat hierbinne begin skyn. Hulle staan stil op die sypaadjie en kyk na binne. Spoedig is daar baie mense wat van buite af na binne kyk.

........

Saartjie Botha: “Omdat dit in openbare ruimtes gebeur, is daar natuurlik ’n moontlikheid dat dit sommige toeskouers se eerste ervaring van lewende kuns is. Daaroor is ons natuurlik baie opgewonde.

.........

Antoinette Kellermann en Cintaine Schutte (foto: Nardus Engelbrecht)

Antoinette Kellermann stap die gebou binne wat voorheen ’n kunsgalery was. Sy word deur ’n kelner na haar tafel geneem. Sy bestel grepe herinneringe van haar lewe vanaf ’n blanko spyskaart.

“Wat sal ek bestel?”

“Ek dink jy weet reeds.”

“Nee, hoe sal ek weet? Hier staan niks.”

“Jy bestel elke keer dieselfde.”

Ons volg die akteurs wat tonele uit haar lewe uitbeeld.

Ons stap agter die akteurs aan. Ons word meegevoer. Ons is aktiewe toeskouers.

Hier is nie stoele nie. Hier is ’n vloer. Dalk kyk ons net. Dalk is ons deel van die toneelstuk.

.........

Saartjie Botha: “Alle vertonings is gratis en gehoorlede kan donasies in ’n hoed of kitaartas gooi, of per Snapscan bydra tot die Tribuo-fonds wat juis gestig is om kunstenaars tydens die grendeltyd te ondersteun.”

............

Phulusho Khwiyane (foto: Nardus Engelbrecht)

By die volgende vertoning, in die leë @Home in die Eikestad Mall praat die akteurs in verskillende tale. Die toneelstuk is grotendeels in Xhosa. Een van die akteurs, ’n verteller, vra in Afrikaans wat gesê word. Die gehoor verstaan: ons verstaan nié. Ons in hierdie dorp is midde-in ’n gesprek oor meertaligheid, en ons beleef die kompleksiteit daarvan.

"Social commentary," merk my wederhelf op, toe ons uitstap.

"Ja, dis oor die taaldebat!" sê ek.

"Nee," sê hy. "Dit was oor 'n geheime liefdesverhouding tussen vroue."

.........

Maryke Roberts skryf oor Flikker & Flash: "Sonder ’n program of sinopsis oor elke stuk is dit nou meer as ooit oorgelaat aan die kyker om sin te maak van wat hy of sy sien en ervaar.

.........

Buite vergader die res van die geselskap. Waarheen gaan hulle nou? Hulle kyk op die roetekaart. Gaan hulle na die volgende leë winkel of eetplek? 

Die jongste lid van die geselskap is moeg. Ons moet haar huis toe neem. Die drie tienerseuns in die geselskap is die teenoorgestelde van moeg. Hulle beweeg saam met die ander volwassenes na nog teatervertonings.

Onder die straatligte, op pad na die motor, dink ek aan ’n artikel wat ek ontvang het, gereed om te verskyn: Kan fleksie-argitektuur die kunste red?

........

Fleksie-argitektuur is volgens die jongste Wunderman Thompson-neigingverslag vuurwarm nuus. Nou wonder ’n mens of dit moontlik ’n oplossing kan bied vir die benarde situasie waarin die kunste hom tans bevind.

..........

Op die stoepe kuier die studente. ’n Ent verder, onder afdakke, lê ’n straatslaper reeds onder sy slaapsak vir die nag.

Is teaterlose ruimtes ’n veilige hawe vir die kunste?

Weg van die skares word die stilte gaandeweg meer dawerend. In ’n pandemietyd, waar elke asemteug ’n risiko is, is dit amper gerusstellend.

Nie vir die kind by ons nie.

Die kind is nou al moeg en sy stry moedeloos met ons, haar ouers, omdat sy nou al van die aand se pret ontneem word.

.........

Mens kan teen die ouerfiguur rebelleer net omdat jy weet jou ouers gaan altyd daar vir jou wees. Was dit dalk ook so met teater, die vanselfsprekendheid daarvan?

Was Oudtshoorn se happening, jare gelede op die parkeerterrein, ’n vreugdevolle en andersoortige protes juis omdat daar ’n keuse was, omdat fisiese teater bestaan het?

..........

Mens kan teen die ouerfiguur rebelleer net omdat jy weet jou ouers gaan altyd daar vir jou wees. Was dit dalk ook so met teater, die vanselfsprekendheid daarvan?

Was Oudtshoorn se happening, jare gelede op die parkeerterrein, ’n vreugdevolle en andersoortige protes juis omdat daar ’n keuse was, omdat fisiese teater bestaan het?

Die kind gaan slaap en ek keer terug na die feesverrigtinge, met my man wat tuis waak.

Op pad na die Moederkerk se orreluitvoering dink ek aan ’n onlangse onderhoud met Roger Ballen. In die onderhoud praat hy van die gevaar van kuns. Dat dit mense laat ondersoek, laat nadink. En hoe positief dit is. Hy praat oor sy begeerte dat iemand as ’n sekere mens met sekere idees ’n toneelstuk moet gaan kyk en as ’n ander mens by die toneeluitvoering moet uitstap.

Ek het vrae oor die volhoubaarheid van opwipfeeste; ek het vrae oor watter doelwitte bereik kan word. Ek wonder waar teaterlose kuns sal kan intrek en gaan woon.

.........

Veral wonder ek oor geld. Kuns moet gevaarlik wees. Maar kuns is nie verniet nie.

.........

Veral wonder ek oor geld. Kuns moet gevaarlik wees. Maar kuns is nie verniet nie.

Ek het ook ’n vaste wete. Dis moontlik om anders te dink, en dis moontlik om klein entjies vooruit, die onsekere toekoms in, te gaan met “’n trotse tradisie van waagstukke”.

Zorada Temmingh (foto: Nardus Engelbrecht)

Die laaste vertoning van die opwipfees word deur baie mense bygewoon, onder andere en uit vrye keuse, deur drie tienerseuns. Een van hulle maak, uit eie beweging en ver van die ouers se aanmoediging, ’n kort opname van die musiek. Dit is hier onder op YouTube gelaai. Is daar dalk hoop vir die kunste? 

Die orrelmusiek, aan die einde van die opwipfees, bring hoop in ’n taal wat almal in die dorp verstaan: musiek.

(Hier onder is ’n kort uittreksel uit die Widor Toccata, soos vertolk deur Zorada Temmingh.)

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2021: oorsig oor ’n naweek van Flikker & Flash-opskietteater

Toyota US Woordfees 2021: Saartjie Botha oor Flikker & Flash, straatteater en nuwe tye

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top