Woordfees op die teevee

  • 1

Ons is meer as halfpad in die Toyota US Woordfees Fees TV – die eerste kunstefees wat op Suid-Afrikaanse televisie op ’n opwipkanaal uitgesaai word – en my oë is al byna vierkantig, maar van televisie afsit en gaan slaap is daar geen sprake nie.

***

Dit was baie jare gelede – 22 om presies te wees – toe Theo Kemp my in my kantoor by ’n gemeenskapskoerant kom besoek. Ek was onder meer vir die weeklikse vermaakbladsye verantwoordelik en hy wou hoor of ons sou betrokke wees by ’n nuwe fees wat die universiteit beoog. Dit sou ’n deurnagviering van Afrikaanse woordkuns wees. Hulle soek mediavennote wat sal help om die nuus te versprei. Klein begin, groot drome.

Vanjaar is daardie fees 21 jaar oud en boonop op televisie, want grendelreëls hou ons weg van kuns en feeste en saamtrekke. Maar aan vindingrykheid was daar 22 jaar gelede nie einde nie en nou, met protokolle en uitdagings, staan die span onder leiding van Saartjie Botha, die Toyota US Woordfees-direkteur, weer nie terug met hul vernuf nie. Daarom fees jy nou op jou teevee en eie rusbank, en tussendeur kan jy ’n ogie hou oor die kinders, die kat en jou wasgoed en dat die rys nie aanbrand nie.

Saam met die program wat ek gedruk het, is my groen glimpen om af te merk wat ek sien. Die fees skop Vrydag af en ná ’n vroegoggendvergadering skuif ek reg vir Nataniël se boekbekendstelling: 107 Kaalkoppe met Sarie se redakteur, Michelle van Breda en die kunsjoernalis Diane de Beer. Nataniël skryf die rubriek al vir twee dekades.

Nataniël (Foto verskaf)

Michelle sê dat toe sy 20 jaar gelede as Sarie se redakteur oorgeneem het, was die land aan die verander: Nelson Mandela was president en die tydskrif moes verander, maar nie heeltemal onherkenbaar word en lojale lesers vervreem nie. Sy wou rubriekskrywers gebruik wat die Sarie-wêreld kon inkleur – ander idees en taalgebruik en ander style as die huidige tydskrif s’n. Nataniël se rubriek was deel van daardie verandering.

“Ons het verlede jaar die slagspreuk ‘Jy is genoeg’ aangeneem en die land se vroue het so positief reageer. Vroue wil hul grense verskuif en staan hul plek vol. Maar hulle wil ook herinner word dat hulle genoeg is.”

Nataniël sê die rubriekskrywery het ook sy grense verskuif: “Dit het my die kans gegee om vir mense te sê al dra ek lipstiek en hoë hakke, het ek familiewaardes. Ek glo in die Kinderbybel en ek verstaan wat in jou huis aangaan, want ek kom ook uit een.”

Nataniël sê hy het die rubriek destyds begin skryf en homself gesien hoe hy plat op sy maag lê op Planeet Kaalkop en afkyk na die chaos op aarde. Hy het besluit hy gaan sy rubriek altyd afsluit met ’n preek – “Paolo Coelho preek en kyk hoe famous is hy en ek is mal oor preek!”

Hy sê mense moet sy boek een rubriek op ’n slag lees. Nie al 107 na mekaar nie. “Jy gaan tog nie spa toe en kry 107 behandelings na mekaar nie,” vertel hy vir Diane. Hy sê die rubriek verg baie streng dissipline, omdat hy so min woorde mag gebruik.

Hierna verlustig ek my in die storie van Stellenbosch Wynroetes, wat vanjaar 50 jaar oud is. Ek herken mense saam met wie ek al wyn gedrink het; mense by wie ek al ure omgekuier het; mense na wie ek verlang. Ek hoor hoe Niel Ellis vertel dat hy die eerste wynmaker was wat druiwe oor grense vervoer het om wyn op Stellenbosch te maak; hoe die eerste pinot noir op Muratie gemaak is; hoe die aard van ons wynbedryf voor die sewentigerjare hom nie geleen het tot wyntoerisme of ’n wynroete nie; hoe daar tot 1989 geen gastehuis op Stellenbosch was nie; en hoe Delheim (as een van die eerste drie wynroetelede saam met Spier en Simonsig) die eerste restaurant gehad het, met kaasborde wat saam met wynproeë bestel kon word.

Ek kan nie help om te dink aan al die lekker plekke waar ek al op die dorp oorgebly het of op wynplase gesmul het nie. Mens vergeet so maklik dat alles iewers moes begin het.

Die Woordfees TV-beeld is soms baie vol pieksels; soms breek die klank krakerig op; soms vries die beeld vir ’n sekonde of twee. Ek wonder of dit net my internetverbinding is en of almal hierdie ervaring het. Maar dis tog nie asof daar nooit in enige teater-ervaring nie sulke klein jakkalsies opduik nie – mikrofone skree, beligting is soms daardie sekonde of drie te laat of te vroeg, klank raak weg ...

Hannes van Wyk (Foto verskaf)

Sê groete vir Ma met Hannes van Wyk is ’n baie egte teater-ervaring. Ek kon my indink dat ek in die donker teater sit, die beligting en byklanke net soos in ’n teater; nie met nuwe tegnieke wat hinderlik inmeng nie.

Hannes se moeitelose wisseling tussen die rol van sy ma, hy as klein seuntjie en dan rouende man ná haar dood – al die stemverskille en houdings het my vir 50 minute doodstil laat oorgee. Saam gehuil toe sy oë blink van die trane.

Die feesprogram verklap: “Reghardt Roberts van Aswegen se hele lewe, menswees en bestaan draai om die een vrou wat hom in die lewe gebring het. ’n Knop-in-die-keel, tong-in-die-kies kykie na die dinge wat ons almal raak: die ‘blerrie getik-tok van die klok, oudword en siek’.”

Die stuk is egter soveel meer, want daar is iets van ons elkeen se grootword in daardie storie. Ons kom uit ’n ander era, van ooptes en ruimtes en geen heinings en alarms; van fietse buite op die grasperk los; oorslaap sonder ’n oornagtassie of baie reëlings en saamrygeleenthede. Sonder selfone en whatsapps.

Maar dit vertel ook van die verlange na my eie ma, want soos Reghardt sê: “As jou ma nie meer daar is nie, is jou rug oop. Ek wens daar was besoekure in die hemel.”

En van die dae toe dinge eenvoudiger was, amper soos tydens inperking wat ons weer na binne laat begin kyk het, die eenvoudige dinge in die lewe laat begin raaksien en waardeer het.

Foto: Maryke Roberts

Ek geniet die stilte van my sitkamer; geen tannies wat in hul handsakke grawe vir ’n suiglekker of gou nog vir boeta whatsapp terwyl die akteur in die donker staan en wag nie; geen laaste geselsies oor hoe lekker die pannekoek nou buite was terwyl teatergangers die atmosfeer probeer indrink nie.

Ek kyk kortfilms en dokumentêre films oor dans en verdrukking en luister na boekbesprekings. Die oorrol van een program in die ander laat my toe om na professore te luister, komedie te geniet – soms met ’n glas rooiwyn, soms met ’n beker tee. Buite ervaar ek die eerste lig, skemer en donkernag. Ek sit op die bank, traag om op te staan en iets mis te loop. My voete tik saam met David Kramer en my lyf wieg saggies met die jong musikante van LGT Young Soloists.

Homegrown se klassieke musiek stel musikante bekend na wie ek nie normaalweg sou luister nie. Dit laat my gedagtes saam met die tokkelklanke van ’n pikswart vleuelklavier op die verhoog of met Cameron Williams se klarinet of Liesl Stolz se fluit deur die leë Endlersaal dans.

Zorada Temmingh (Foto: Nardus Engelbrecht)

En hoe mooi om die Konservatorium se orrel deur die saal te hoor weergalm!

Ek hou van klassieke musiek, maar kan nie toe-oë uitmaak wat is Bach of Beethoven of Rachmaninoff nie. Ek sal ook nie ’n kaartjie koop vir ’n klassieke uitvoering nie, maar danksy Woordfees verbreed ek my horison.

Die bespreking rondom lockdownreseptestories lê my na aan die hart. Ek is deel van daardie groep wat tydens die eerste streng inperking gestig is. Daardie tyd wat ons na ons kombuise gejaag en ons kooktalente laat herontdek het. Ingrid Jones, mede-eienaar van Mikateko Media en televisie-aanbieder, het hierdie kooktalente ’n tuiste gegee, maar ook so mense die kans gegee om hul stories te deel: die Lockdown Recipe Storytelling Book-blad op Facebook. Nuwe lede is op uitnodiging toegelaat. 

Elke resep moet die storie agter die resep en ook ’n goeie-gehalte-foto insluit. Ingrid het selfs aanlyn fotografieklasse aangebied sodat geen grys, onooglike foto’s gedeel word nie. Aanvanklik was dit resepte wat mense aan hul ma, ouma of tannie herinner het, maar dit het natuurlik ontwikkel in mense se gunstelingresepte en stories van hul grootword of komvandaan. Die kookboek Lockdown Recipe Storytelling Book – die stories van ons komvandaan, het in Desember verskyn. Ek kook uit daardie boek; my resepte is op daardie Facebook-blad.

Die sjef Reuben Riffel is die gespreksleier. Hy lees Ingrid se inleiding, waar sy skryf hoe hande kan voed én vernietig; waar hande gevat kan word en dinge kan verander. Hy lees: “We are not asking for a seat at the table, we are setting the table, and we are bringing the chairs.”

Adéle Smith, Fahiem Stellenboom en Sandra van der Rheede, wat deel is van die bespreking, is almal effe stom en bewoë toe hy stil word met die boek oop op sy skoot en Ingrid antwoord: “Iets moet altyd groter as jy wees; jy word op die ou einde irrelevant. Ons het ’n groter plig as om net onsself te voed.”

Tussen programme is video’s met bekende musikante. Devonecia Swartz en Wilken Calitz se “Mzanzi lullaby” gee my hoendervleis, nie net vir die mooi woorde nie, maar omdat ek die vertoning laas lewend gesien het op Woordfees 2020, voor ons geweet het wat later daardie maand en jaar op ons wag.

Daar is ander klein plesiertjies, soos ’n paar sekondes deur Moesiera Owies oor haar Afrikaans wat plat en anders is as hoe haar hoërskoolonderwyser dit wil hê – dis skurf en rol oor die tong soos haar bry. “My Afrikaans draai in die Kaap, woon nou innie Vredenburg; my Afrikaans staan uit in ’n taxi in Yeoville; my Afrikaans is jaloers op Engels, vry en volmaak; my Afrikaans voel soms verlore in ’n wêreld vol tale. My Afrikaans is myne ...”

Ferine & Ferase (Foto: Nardus Engelbrecht)

Soms geniet ek teaterstukke, soos Ferine & Ferase, Goue jare, Die vlieënde koffer, Mis of Valsrivier – een of twee het ek voorheen by dié fees gesien. Heelwat is goed, ander is vir my minder suksesvol op die kassie. Toneel vra vir effe ongemaklike stoele; ’n effense dynserigheid in die lug van teaterrook; die swart buitelyne van ander voor jou in die rye; die blou skynsel van die beheerpaneel op die regisseur en beligtingspan se gesigte agter in die saal. Die wete dat die akteurs agter die gordyn wag en dat jy niks kan pause of weer kyk nie. Jy moet die eerste maal dáár wees en luister.

Valsrivier (Foto: Greteli Fincham)

Ek verluister my aan Azille Coetzee se voorlesing uit haar eerste roman, Die teenoorgestelde is net so waar. Dit gaan oor drie vroue wat hul plek in die wêreld probeer vind. “Hoe hulle deal met die dubbelsinnigheid van die lewe. ’n Soort vloeibare teensinnigheid waarteen ons so skop in die wêreld. Die intimacy van vroulike vriendskap en saamwoon as vriende,” verduidelik sy. Sy lees van “tussen hulle sit die stilte. Dit kry lyf in die nag tussen hulle” en my tone krul van plesier oor hoe mooi my taal is.

Die lewe roep, ek gaan doen inkopies met my oog op die horlosie. Aandete word aanmekaar geflans terwyl Magdalene Minnaar en José Dias in Nocturne sing. Die volgende vertoning wat ek wil sien, is Karen Zoid saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Met my vorige Karen Zoid-konsert was ek reg onder die verhoog met ’n BBBP-kaart om my nek. Die reuse-buitelugverhoog het gedreun en gerammel onder die klanke; blou en wit ligte en ’n rokerigheid wat elke dan en wan die lug ingeblaas is. Agter my effe dronk mense wat saamwieg en sing; die klanke van ander konserte op ander velde wat in die kort stiltes en tussenposes aangedryf kom.

Ek sit vasgenael in die donker; die videografie van die vertoning só meesleurend: nabyskote van vingers op snare; ’n trom wat saggies tril onder ’n slag; die konsentrasie op ’n violis se gesig; Karen se blonde krulle wat skud as sy Valiant Swart se “Sonvanger” met soveel emosie sing die trane loop by my wange af.

Dis mooi; dis nostalgie; dis spyt vir dit wat nie kan wees nie; dis dankbaarheid vir dit wat kan wees. Ek drink gulsig aan die kunsbeker; die dors was diep.

Ons horlosie langs die televisie staan op 20:10; ons klink ons glase op die lewensveranderde gebeure wat in 2010 ons lewenspad gekruis het; ons klink weer op 20:17 se hoogtepunte en die uitdagings van 2019. Op 2020 klink ons nie. Net voor 20:21 oorslaan na 2022 toe, klink ons weer: Oktober van hierdie jaar is darem nie te sleg as jy kan Woordfees in jou sitkamer nie ...

Ek luister tussen wasgoed opvou en plante natgooi na wyse professore in Diskoers-gesprekke oor hoe ons meer op kinders moet fokus met beleidsbesluite vir die toekoms; dat dit nog nie te laat is om dinge om te swaai nie. Dat daar geen bewyse is dat groen tee gesonder is as ander tees nie – dankie tog! Ek verneem dat ’n viool uit Afrikahout gemaak is en ’n dieper toonkleur as ander viole het; deel stories van oud-Maties en waar hulle vandag in die wêreld is.

Net voor die Springbokke en die All Blacks speel, verklaar Willem Pretorius in sy boekbespreking teenoor Schalk Burger dat Schalk ’n “baie meer komplekse mens is en ’n boek jou nie heeltemal kan omvat nie”.

Bennie Fourie (Foto verskaf)

Teen die tyd op dag twee of dag drie – alles loop inmekaar daar op my rusbank – dat Bennie Fourie in die komediesketse sê dis vir hom nogal snaaks om nie voor ’n gehoor te staan nie, besef ek hoe moeilik dit vir kunstenaars sonder applous moet wees. Maar dan voeg hy droog by: “Ek kry gelukkig omtrent ewe veel applous of daar ’n audience is of nie!”

Die heruitsendings van die programme maak dat ek een aand in die donker met my geliefdes om my inskakel vir Karoo Suite 2: Karoonagte met Coenie de Villiers, Deon Meyer en Mauritz Lotz. Deon lees: “Trek vir jou ’n stoel nader; ons wag net vir die maan om onder te gaan. Dis die donker wat hier die nag laat sprankel.”

My oë is weer vol trane. Die verlange na Karoonagte. Ek verstaan die woorde “hemel van ons huis”, want hoeveel maal oor die waters het ek nie al opgekyk na ’n vreemde uitspansel en gedroom van die dag wanneer ek weer onder my eie, bekende naghemel kan staan nie.

Ek verlustig my in die kuierplekke wat Bertus Basson met sy vriende ervaar; my voete stap saam in die berg; kyk saam kuns in die Rupertmuseum.

Daar is drie dae van Woordfees TV oor. Ek het ’n goeie skeut fees agter die blad. Sommige vertonings sal ek weer kyk om die fyner nuanses op te slurp; om dit wat onduidelik was, uit te klaar.

My kunsdors is geles. My kop is vol insig – nuwe én bekende stemme. Ek is dankbaar vir die wyshede van ander wat ek kon hoor.

Maar my dors na skouerskuur met feesgangers; vriende tussen vertonings ontmoet vir ’n vinnige koffie of middagete; probeer om op die nippertjie kaartjies te koop nadat iemand iets aanbeveel het; ingedagte voor ’n kunswerk te staan; of die son oor die berge te sien ondergaan by ’n buitelugkonsert op Stellenbosch, is nog diep. Ek mis selfs die tannies se lekkergoedpapiertjies ...

My applous vir Saartjie en haar span, vir elke kunstenaar, videograaf, grimeerkunstenaar, kostuumontwerper en beligtingspan is egter luid en oordadig.

Ek sal kan hou tot die volgende Toyota US Woordfees – hopelik weer in lewende lywe gehou – waar ek my dors na mense en kuier en goeie wyn en sononder in die wingerde ook sal kan les.

Viva die kunste!

Lees ook:

Die ongetemde stemme van Afrikaanse musiek

Toyota US Woordfees op TV: Daaglikse programskedule

Woordfees-TV 2021: ’n Onderhoud met Saartjie Botha

Toyota US Woordfees op TV: Hannes van Wyk oor Sê groete vir Ma

Toyota US Woordfees op TV: Anna-Mart van der Merwe oor Valsrivier

Toyota US Woordfees op TV 2021: ’n Onderhoud met Elmari Rautenbach oor die boekeprogram

Persverklaring | Toyota US Woordfees TV-opwipkanaal | Toyota SU Woordfees TV pop-up channel

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top