
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
| Stryd van die reuse Michael Green ISBN: 9780796193957 Uitgewer: Wordslingers |
Pale toe! Michael Green ISBN: 9781037098840 Uitgewer: Wordslingers |
Hier is twee lekker geskenke vir die rugbyliefhebber wat nou al alles het. Green vertel ’n hond uit ’n bos uit. ’n Leser raak skoon lus vir ’n bier as jy so die sweet ervaar van hierdie ouens wat alles gee vir hul land, hul provinsie of soms net hul klub.
Die meeste van die spelers wat ons in Green se boeke ontmoet, het die groen-en-goud oor hul koppe getrek, maar daar word ook dikwels melding gemaak van die goeie ouens wat ongelukkig was om nié daardie eer te kry nie.
Maar wag, kom ons begin met ’n paar lekker vrae, in die styl van Green:
- Wat het Suid-Afrika se bekende sjef Cass Abrahams met rugby te doen?
- Waarom het Gayton McKenzie een aand ’n moerse ou dik getik en toe ’n gebreekte bottel liefderik oor die kêrel se keel laat gly?
- Wat het Kallie Knoetze met ’n Bloubul-trui gedoen?
- Watter rugbyspeler het beurtkrag aan die Britte bekendgestel?
- Watter Springbok-kaptein dra graag gedigte van Breyten Breytenbach voor?
As julle iets van hierdie twee boeke wil weet, is dié vrae ’n lekker wegtrekplek. Dis presies ook wat Green aan jou doen. Hy stel ’n storie voor, trek jou in, gee dan ’n lekker fopaangee en voor jou kom kry, is hy op ’n ander storie. Jy hou nog die ander storie dop, dan pop Green skielik met die eerste storie onder die pale op met antwoorde wat jy nie geweet het jy wil hê nie.
Bliksems lekker.
Cass Abrahams se man, Jowa, was eens ’n voortreflike rugbyspeler, maar kon weens apartheid nie vir sy land speel nie. In 2013 het hy as deel van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se program Yesterday’s heroes wel sy Bokbaadjie gekry.

Jowa Abrahams (Foto: Izak de Vries)
Jowa word betrek weens ’n lekker patatresep wat Cass altyd vir hom gemaak het.
So van eetgoed gepraat. Michael Green se kennis van die wêreld buite rugby is soms gevaarlik. Baie gevaarlik. Hy lees te veel. Lees is baie gevaarlik. Green kyk ook weird flieks. Dis hoe hy geweet het dat daar 16 mense oorleef het in die 1972-vliegongeluk waarin Uruguay se rugbyspan betrokke was.
Die absoluut ware feite is dat 16 mense ’n vliegramp in die Andes oorleef het deur, onder andere, van hulle dooie vriende te eet.
Piers Paul Read het in 1974 ’n boek daaroor geskryf, Alive: the story of the Andes survivors. Twee films is later gemaak wat op die boek gebaseer is.
Toe, jare later, besoek Uruguay se rugbyspelers Suid-Afrika en hulle moet, onder andere, in die Baai speel.

Michael Green (Foto: Izak de Vries)
Nou wat het dit met Michael Green en sy gevaarlike kennis te make? Alles. Want daar staan Green, een van ons land se bekende sportskrywers, langs die veld en hy besef: Daai ou wat daar staan, is een van die 16 wat die ramp oorleef het. En daai ou wat daar speel, se pa is een van die ouens wat dood is. Dit beteken hierdie ou het daai ou se pa opgevreet.
Oukei. Green is ’n beter skrywer as ek, so hy bied die storie effens anders aan. Die probleem is dat hy waarskynlik so iets vir die fotograaf Deon Ferreira vertel het. En Ferreira, wat nou al effens keelvol was vir die swak vertoning van die span wat hy moes afneem, wou toe opsluit gaan vra dat die vleiseter die seun van die dooie aan die kuit moet byt vir ’n lekker foto.
Terloops: Green se suster, Phyllis, is ’n blerrie goeie fotograaf. Sy het ook ’n aantal rugbystories om te vertel, soos van die keer toe die Skotsman sonder onderklere meer in sy eie balle as in dié op die veld belanggestel het. Lees maar hoe haar boetie dit vertel.
Wat het dit met Joha en Cass te doen? Niks, maar dis ook hoe Michael Green skryf. Jy gaan nooit vir een oomblik verveeld wees nie, want nes jy dink jy weet in watter rigting hierdie rolbeweging gaan, pass hy die storie na ’n ander ou uit ’n ander era en dan praat hy oor iets heeltemal anders.
Lekker!
Gayton McKenzie is nou nie juis ’n kêrel wat ek graag sal wil probeer moer nie, want hy is heelwat groter as ek en ons weet mos hy moes 17 jaar lank homself in die tjoekie verdedig. Sukke ouens leer verdedigingsvaardighede wat dronk omies met bierpense nie het nie.
Ongelukkig was daar toe ook een aand ’n paar ooms wat Gayton wou moer, wat dalk oukei sou kon uitgedraai het, maar toe hulle sy vrou ook wou seermaak ... Wel ... Toe leer hulle vinnig waarom ek nie drink voor vir ek Gayton gaan ontmoet nie.
Joost van der Westhuizen was op sy dag ook glo iemand wat maklik appels geswaai het, en, anders as ooms met bierpense, het hy geweet wat hy doen. So, toe Joost een aand vir Michael Green wou moer, wel, toe moes Green maar soos ’n Flinkdink-span sy bek toehou en oopmaak op die regte tyd.
Ek is nie seker of Joost ooit teen Kallie Knoetze gespeel het nie, maar Kallie het op sy dag vir die Blou Bulle gespeel. ’Strue. Voor hy vir 12 rondes teen die Olimpiese kampioen John Tate in die kryt geklim het, was Knoetze ’n knap rugbyspeler. Gerrie Coetzee het ook rugby gespeel, terloops.
En, as jy Michael Green glo, het baie rugbyspeler vuis geslaan, op die veld en van die veld. Lees maar die boek. Vuishoue en kopstampe kom redelik gereeld voor in die twee boeke.
Om te lees is dus gevaarlik. Michael Green lees wyd. Hy ken die Afrikaanse letterkunde. Ditto met Wynand Claassen, die blommekindkaptein wat lief is vir Breyten Breytenbach se gedigte.
Green se wye leeskennis maak ook dat ons veel meer leer van die woelige Suid-Afrikaanse skrywer Uys Krige, wat op sy dag keiharde rugby gespeel het in Frankryk. Dit lei natuurlik weer na talle ander staaltjies oor ander bekende Suid-Afrikaners wat ook in die buiteland gespeel het.
Michael Green staan ook bekend as RR Ryger. In Green se eie woorde: “Die boeke wat ek onder daardie naam skryf, is gewoonlik taamlik rof, maar realisties.”
Ek hou van Ryger se werk, en ditto dié van Green. Hier is geen pretensie nie. Green spot heerlik met homself, soos die vertellers in Ryger se werk ook altyd hul eie grootste kritici is.
Anders as met Ryger se werk, is Michael Green se stories feitelik korrek. Elkeen is uitstekend nagevors en die lang bronnelyste agterin beide boeke wys hoeveel leeswerk ingegaan het in hierdie pittige vertellinge.
Green was self ’n kranige rugbyspeler en sy liefde vir die sport het nooit opgehou nie.
In ’n onlangse resensie oor Eben Etzebeth se biografie Ten slotte skryf Green: “Sover ek weet het die meeste rugbyskrywers darem so bietjie skole- of klubrugby gespeel.”
In Stryd van die reuse en Pale leer ons ’n hele aantal rugbyskrywers ken; van hulle het self die groen-en-goed gedra.
Koop hierdie boeke vir ’n sportliefhebber. Ek het ure se genot geput uit dié twee effens mallerige boeke. Mallerig? Jip. Hulle is. Ek moet die leser waarsku. Maar dis lekker. En flippen interessant.
Daar is een punt van kritiek wat ek wil opper: Die gebrek aan ’n indeks het gemaak dat ek frustrasie ondervind wanneer ek weer sommige mense se stories wou oorlees. Die probleem is: Ek begin soek na ’n storie oor iemand, kry dit nie, maar herlees dan ’n hele spul ander stories. Ag ja. Daar ís erger dinge wat my al oorgekom het, maar ’n indeks sou lekker gewees het. Hier is soveel kennis ingeprop in hierdie twee boeke, jy wil weer en weer daarna terugkyk as naslaanbronne.
Ek gaan afsluit. Ek weet ek het nie die vraag oor beurtkrag beantwoord nie. Ek gaan nie. Die antwoord daarop, en honderde ander heerlike feite, wag op ’n sportliefhebber as hy of sy hierdie twee boeke gaan begin lees.
Pale toe!
(...)
O hel, keer! Green het ’n tikskoppie gekies.
Lees ook:
’n Onderhoud met Michael Green, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie
"Oupa Joe" deur Michael Green, kategoriewenner in Netwerk24 se Om te skryf-kompetisie



Kommentaar
Ek het in 1987 sosiale rugby gespeel in Pretoria. Ons was maar 'n saamgeflanste span. Michael was ons afrigter. Hy het nie omgegee om hierdie klomp minder vaardige, maar ywerige, spelers af te rig nie. Sy liefde vir die spel het deurgeskemer. Dit was altyd interessant en prettig om tyd saam met hom deur te bring. Salute Michael, ek hoop jou drome word bewaarheid. Jy verdien dit.