In gesprek met RR Ryger oor Drank, seks en David Bowie

  • 1

Drank, seks en David Bowie
RR Ryger
Uitgewer: Wordslingers
ISBN: ‎9780639779409

RR Ryger se “fiktiewe biografie” Drank, seks en David Bowie is nou in druk beskikbaar. Izak de Vries het ’n ruk terug die e-weergawe gekoop en gelees.

Hier is hulle gesprek oor die teks.

Die boek gaan, dalk toevallig, oor drank. En oor Bowie. Daar is ook seks in. Maar kom ons begin by die Rygers. Ronnie Ryger se ma wou skynbaar wegloop met Lance James. Hoekom het Ronnie dan ’n fiksasie op die minder bekende liedjies van David Bowie ontwikkel?

Ek sou sê Ronnie het op ’n kol te veel tyd gehad waarin hy kon snotbolletjies rol en toe luister hy op ’n meer intense wyse na Bowie se musiek en spesifiek die minder bekende goed, omdat hy juis iemand is wat daardie snotbolletjies wat hy so rol, in die sogenaamde celebrities met hulle kommersiële diddly shit se rigting skiet.

David Robert Jones, beter bekend as Dawid Bowie, was ’n verkleurmannetjie. Daar was altyd ’n nuwe persona om te pas by ’n nuwe musikale kragtoer. Is RR Ryger ook iemand wat homself die hele tyd herontdek, of bewustelik herontwerp?

Nee, glad nie. RRR groei maar net, in sommige instansies duidelik stadiger as ander.

Goed, dan die drank. Ronnie Ryger drink te veel. Hy meng met ander wat ook te veel drink en dikwels te min eet. In hierdie benewelde toestand gebeur seks. Is dit die Afrikaanse weergawe van die “gevalle mens”? The man who did not need to fall to earth, he sommer donnered flat on his face here on earth?

Klink nogal na ’n goeie teorie. Soos ons weet, is daar baie mense wat eers dapper word as hulle dronk is.

Natuurlik is my vorige vraag se interteks The man who fell to earth, soos gespeel deur David Bowie in die oorspronklike rolprent met daardie naam.

Jy en jou seun het ’n interessante musiekvideo, Vreet ek die pad, gemaak waarin daar ook meer as een onsubtiele verwysing is na The man who fell to earth. Is die Ryger-soeke na Bowie dus groter en breër as hierdie boek?

Ons (ek en Gareth) het lekker reaksie gekry op ons vorige musiekvideo Antjie Krog en goedjies wat juggle. Ons het dit só geniet om saam te werk dat ons besluit het om nog ’n video te maak. Ek wou ’n rock song in die lyn van “Radar love” van Golden Earring of “LA woman” van The Doors gehad het, maar toe ons hom workshop, verander die konsep en nou is dit iets anders.

Die woorde is:

Vreet ek die pad, of vreet die pad my
Ek ken niemand hier nie, en niemand ken my
My hart is gekraak, nou jaag ek maar
En die radio is aan

Maar tog, iewers in my hart is daar ’n snaar
Ons kom so ver, waarom dit weggooi

Deure gaan oop en deure gaan toe
Glase word vol en glase word leeg
Vriende verdwyn en vyande verskyn
En alles gebeur ook andersom

Anderkant die suipgrens!

Ek gee die woorde, want ons het ’n R.E.M./Michael Stipe getrek, so jy kan nie lekker hoor watse kak ek prewel as jy die song kyk nie. Maar hier is dit, en ek sal seker nou die fokken Hertzogprys vir kak poetry kry daarvoor. Wonderlik.

Gepraat van poetry – die “vreet ek die pad, of vreet die pad my”-lyn kry ek uit ’n gedig van Anne Stevenson “Traveling behind glass”. (“Am I swallowing the road, or is the road swallowing me.”)

Vreet ek die pad gaan oor liefde/hartseer/drankmisbruik. Ons het dit met die video ’n ander laag gegee deur dit aliens te maak wat die aarde besoek ala Bowie in The man who fell to earth en dan as gevolg van drank opfok.

Ek en Gareth beplan nou ’n kortfilm, dis nou as hy nie deur ’n ander sanger of filmmaker opgeraap word vir ’n projek voor dit nie. Die laaitie is ongelooflik talentvol en hardwerkend. Dit (die projek) is ’n remake van iets wat ons jare gelede toe hy nog op laerskool was, geskiet het, getitel My pa die alien. Ons het ons amper doodgelag toe ons ander dag weer daarna gekyk het.

In Engels kan “alien” enige buitestaander wees, hulle hoef nie uit die ruimte te val om as “die ander” te kwalifiseer nie. In Frans ook. Albert Camus het in L'Étranger sy hoofkarakter, Mercault, ’n buitelander gemaak, wat ’n ander buitelander skiet. Jy is baie eksplisiet dat jou buitestaanders wit en Afrikaans is. Die vreemdeling is dus die mens in die spieël?

Jy ken mos daai een van jy staan voor die spieël en dan kyk jy in jou oë en vra: “Maar wie is jy dan?” Veral as jy jonger is en jouself verras met die kak wat jy aangejaag het. Ek doen dit nie meer nie. Ek voel ook nie soos ’n buitestaander nie. Dis soos daai selfhelpboekies wat die ouens skryf wat baie geld maak – JY IS ’N UI! Lekker man. Okay, nou is ek ’n ui en party mense hou van my en party nie en ek pas by party plekke in en by party nie.

Soos in L'Étranger vind daar ’n moord plaas in Drank, seks en David Bowie. ’n Mens wil nie te veel weggee van die storie nie, ’n weermagkonneksie is verantwoordelik vir die hele gemors. Het die weermag dus van sommige goeie Afrikaners vreemdelinge in hul eie land gemaak?

Nee, ek sou nie so ver gaan as om dit te sê nie. Ek sou eerder sê om in die weermag te gewees het, het party ouens uitgefreak. Kan jy dink hoeveel mense word nou in daai konflik tussen Rusland en die Oekraïne uitgefreak?

Ronnie is nogal gelukkig wanneer hy werk vir ’n oud-Rhodesiër (ek gebruik opsetlik die “wit” term) wat effens op Ian Smith lyk. Dan kom liefde en seks ter sprake en hy vat die pad. Is liefde gevaarlik?

Liefde is for sure gevaarlik. Luister maar net hoe klop jou hart as jy verlief is. Jy kan ’n hartaanval kry van opgewondenheid en jou verbeelding sit op loop en jy dink allerhande kak uit. Dis great stuff, maar helse gevaarlik.

Ronnie se verlede haal hom in, maar dit moet die leser maar self sien. Sonder om die storie weg te gee, is hier teen die einde twee baie teer momente rondom vaderskap, en selfs aanvaarding tussen man en vrou. Anders as in die buitestaander, gespeel deur Bowie in The man who fell to earth, is hier dus hoop ná al die drank (en die seks), nie waar nie?

Baie beslis. En selfs die ware Bowie het darem, so hoor ons, teen die einde ware liefde gevind met sy Iman.

Ek wil my verstout om te sê dis ’n hardegatboek met ’n sagte hart. Wat dink jy?

Ek hou van die woord “menslik”. Ek sal chuffed wees as iemand hier en daar ’n traantjie trek – van die lag en vir die oomblikke van deernis en menslikheid.

Laastens, ek het my kopie of Amazon gekoop, maar dit gaan nie cool wees as jy my foon met ’n permanente merker teken nie. Jy gaan binnekort by die Etienne van Heerden Veldsoirée optree. Waar koop ’n mens die papierweergawe om dit te laat teken?

In hierdie stadium kan mens dit ook op Takealot koop. Wordslingers (die uitgewer) probeer nog om dit by boekwinkels in te kry, maar dis natuurlik ’n proses. Dit kan ook direk van Charl Pretorius (die uitgewer) bestel word. Sy e-posadres is charl@wordslingers.co.za en sy selfoonnommer is 063 604 4701. Die boek sal ook by die Etienne van Heerden Veldsoirée te koop wees (my vrou Willemien sal dit daar verkoop). Ek en Gareth beplan ook ’n road trip vir ’n week vroeg in November Wes-Kaap toe met, in hierdie stadium, moontlike optredes in Swellendam/Wellington/Stellenbosch waar ons die boek gaan verkwansel. 

Lees ook:

Michael Green (aka RR Ryger) (1963–)

Die program | The programme: Etienne van Heerden Veldsoirée, 22–24 September 2023

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top