Michael Green (aka RR Ryger) (1963–)

  • 0

Gebore en getoë

Michael Green is in 1963 in Brits naby Pretoria gebore. Sy pa ia vroeg oorlede: “Ek was ’n laaitie van vyf, ses, toe’s my pa dood. Ons was ses kinders. My ma het ons góéd grootgemaak ...”, vertel Michael aan Murray la Vita in Die Burger van 25 Junie 2011.

Sy ma het jare lank by die Departement van Bosbou se saadafdeling gewerk, reg oorkant die Weskoppies-hospitaal. “Partykeer het die mal ouens daar rondgedwaal soos zombies tussen die bome.”

Hy het sy kinderdae in Roseville, ’n voorstad van Pretoria, deurgebring. “Dit is baie naby aan die Mader-hotel (wat in Beertjie en sy boytjies ’n groot rol sou speel). Die arena van dronkenskap en gevegte”, onthou Michael.

Al het sy ma hulle goed grootgemaak, was sy rolmodel vanaf hy ongeveer veertien jaar oud was, die ou wat die kwaaiste gedrink het en die kwaaiste kon vuisslaan van sy pelle op skool. “So het ek in daai macho milieu grootgeword; ek en my broers het ook baie baklei. Maar ek dink nie my boeke is heeltemal na daai een kant toe nie. Daar is altyd darem balans, hoop ek. En dit is wat my ma sou verskaf van jongs af.”

Sy oupa Joe en ouma Minnie het in die destydse Verwoerdburg gebly. Oor sy oupa onthou Michael: “Daai ou was ’n legend. Hy was ’n cowboy fanatic. En hy was ’n bakker wat sulke fyn tertjies kon bak, totdat hy ge-fire is omdat hy sy baas gebliksem het. Toe word hy ’n spoorwegwerker. Daai is een van die redes waarom ek skryf. Hy was hierdie larger than life karakter. Ons het daar gekom en dan vertel hy ons hierdie real life stories ... van hoe hy weggebly het uit die skool en dan kry hy ’n donkie langs die Apiesrivier en dan ry hy die donkie heeldag.” Murray la Vita onthou ’n Saterdagmiddag in die laat jare tagtig: Michael en hy ry in sy bakkie deur die strate van Verwoerdburg. Dit was winter en hulle het stilgehou voor die ouetehuis waar sy oupa gewoon het.

Skryf was nog altyd die ding wat hy gedoen het – van laerskool af kon hy nogal redelik goed skryf. “In standerd twee het ’n juffrou vir die klas gesê: ‘Julle gaan nog van hierdie ou se boeke lees – hierdie moordverhale.’ Dit was nadat ek iets oor die Pangaman geskryf het. Wat sy gesê het, het nogal vasgesteek in my brein. Ek het van kleins af ’n redelike bisarre verbeelding gehad.”

Michael het as tiener begin skryf. “Veral toe ek 17 en 18 was in matriek, het ek goed voorgelê aan tydskrifte om te probeer ekstra geld kry vir drank en paartie. Ek en my pêl, ou Cor Herbst, dat ons nou sê maar kan Durban toe gaan. Dan skryf ek vir Huisgenoot stories. Maar somehow wou die ous nooit ons stories publish nie. Die een storie was byvoorbeeld ‘Die Beer van Katanzaro’ ... dan is dit nou ’n ou wat ouens met ’n byl kap, en dit lyk my nie dit het Bennie Fritz, die verhaleredakteur, aangestaan nie. Niks van daardie goed is ooit gepubliseer nie.”

In Vrye Weekblad van 28 September 1990 vertel Michael aan Ryk Hattingh dat hy van kleins af fanaties godsdienstig was. “Ek dink dit het my gevou. Jy weet, godsdiens is fokken hard, nè? Toe het ek Openbaring so ’n bietjie daar gevat en sjoe-sjoe! As daardie perde en die vlymende swaarde en daardie outjies eers op jou afpyl, dan sukkel ’n ou ’n bietjie, nè?

“En toe het ek gevou, maar my ma-hulle het darem nie geweet nie. Maar toe, op ’n kol, amper soos in Die hol gevoel, ek weet nie of dit die drank was nie, standerd nege, tien, toe besluit ek ek is die Messias. En ek het net vir my beste pel, ’n up and coming blues guitarist wat ’n mean guitar speel, gesê: Luister, my maat, jy sê vir my Messias. Ek het hom Angel genoem, Dark Angel.

“Jissus, ons was siek gewees, perd. Dan kom ons daar by die disco aan, mean menere. Messias, wat sal ons drink? Daai tyd het ons nog brandefien gevat, dubbel klippies, klipdrift en Coke. Angel vat sy Castletjie daar. Ek kan nie glo ek het daardeur geleef nie.”

Verdere studie en werk

Sy eerste werk na skool was as sekuriteitswag by die Uraanverrykingskorporasie by Pelindaba. “Ek het daai werk vir ses maande gedoen en toe is ek vir twee jaar Weermag toe.”

Michael vertel aan Hattingh dat hy in die weermag ’n paar boys gekry het. “Hulle vra wat’s my naam? Ek sê Messias. Hulle sê mmm Messias, strange naam, hê? Een aand toe staan hulle nog so, toe sê ek, sien julle daai ster daar, dis Mia Urr, dis nou presies waar ek vandaan kom. Toe begin die ous pis in hulle broeke soos hulle lag. Hulle sê toe luister my maat, is jy siek of wat? Sê ek wel, seker maar...”

Toe Michael by die Weermag uitkom, het hy vir so twee of drie weke by Van Schaik-boekwinkel as verkoopsman gewerk. “En toe het hulle my afgedank. Ek het die boeke gelees in plaas van verkoop. Toe het ek by Technikon Pretoria gaan swot vir joernalistiek. Die ander jobs ... ek het ’n paar snaakse werkies gedoen.

“Ek was ’n tuinjong, en ek het daai 3D-signs op die rugby- en krieketvelde geverf; vir omtrent ’n jaar was ek ’n verwer van dit. Ek het ook met boomplantdag saadjies getel en goeters in sakke gesit.” Tussendeur het hy as sportverslaggewer by Die Transvaler en Beeld gewerk. En was hy sewe jaar lank redakteur van die tydskrif Loslyf.

“Dis nou nie asof ek tussen jobs rondgeval het nie. Ek het altyd vryskutwerk gedoen, maar om daai inkomstetjie aan te vul, het ek altyd snaakse werkies gedoen.”

Oor sy werk as redakteur van Loslyf, die eerste pornografiese tydskrif in Afrikaans het Michael aan Hilda Grobler vertel dat sy werk daar anders is as wat mense dink. “Hier is nie ’n bed waar ons kan in- en uitspring soos ons lus het nie. Dis ’n gewone joernalistieke kantoor. Ek en my vrou het gereeld geld bymekaargemaak en dan het ons so goedkoop moontlik in Europa rondgeloop. Na ek van my een reis teruggekom het, het ek nie werk gehad nie. Ek het oral vryskut werk gedoen. Toe Ryk Hattingh by Loslyf weg is, het ek aansoek gedoen en die werk gekry. Dis net ’n joernalistieke joppie. Die ouens het baie keer ’n verkeerde idee oor wat aangaan by Loslyf – dis glad nie so opwindend soos wat party ouens wil hê nie. Elke ou sien maar die ding op sy eie manier. My siening is as die ou nie in die tydskrif belangstel nie, moet hy wegbly. Ons verbreek nie enige wette nie.”

Michael het sy boek, Beertjie en die boytjies, begin skryf rondom 20 Julie 1985 toe die Noodtoestand afgekondig is. “Ek dink ek was nog ’n technikonstudent. En toe ek begin werk by Beeld, toe het ek hom vir ’n uitgewer gestuur. Hulle het nie belanggestel nie. Ek dink dit was Human & Rousseau of Tafelberg of een van daai dudes. ’n Ou weet mos nie hoe werk die shows nie,” vertel Michael aan La Vita. “Terwyl die manuskrip weg was, het ek Die hol gevoel geskryf en toe het Taurus hom aanvaar. Toe kom Beertjie terug en toe gee Taurus hom ook uit. Dit was eintlik die beter boek.”

Die hol gevoel is in 1989 deur Taurus gepubliseer. Hy het sy werk as sportjoernalis laat vaar om heeltyds aan Die hol gevoel te werk. Hy het bedank, want hy het genoeg vertroue gehad dat hy ’n boek kan skryf.

Dit is onder Michael se skuilnaam, RR Ryger, uitgegee. Hoekom juis RR Ryger: “Toe my eerste boek gepubliseer is, het ek gedink ek moet ’n meer Afrikaanse naam kies, want ek skryf dan in Afrikaans,” in 2011 aan Herman Lategan.

In Oktober 1994 se De Kat het hy aan Murray la Vita vertel dat hy nie kan onthou hoe hy sy skrywersnaam gekies het en wat dit beteken nie: “Later toe iemand my gevra het, het ek gesê miskien staan die RR vir Riff Raff, want dit kon nogal inpas by sekere van die stukke wat ’n ou geskryf het. Dit het begin as ’n grap gemik op al die ouens met die geniunely pretensieuse name. Ek het die belaglikste moontlike naam gekies. Die rede hoekom ek ’n ander naam gevat het, is omdat ek nie onder my eie naam wil skryf nie. Dis onnodig om dit te doen. Neem nou maar rocksangers soos David Bowie – dis nie sy eie naam nie. As ’n ou kan plate maak onder ’n ander naam, dan kan ’n skrywer mos ook onder ’n ander naam skryf.

“Daai tyd het ek nog as sportverslaggewer by ’n koerant gewerk en ek kon nogal ’n bietjie feedback gekry het as die ouens uitgevind het wat ek skryf. Ek het later uitgevind ek kan maar onder enige naam skryf, want so min mense lees anyway jou boeke – so ek kon maar geskryf het wat ek wou onder Tant Susan of enige ander naam. So RR Ryger is nie ’n skuilnaam nie, maar dit is vir my gemaklik, want ek wil nie hê mense moet vir my ma-hulle sê ‘Jou seun het nou hierdie boek geskryf’ nie.”

In 2006 vertel Michael aan Maricelle Botha (Die Burger, 1 Junie 2006) dat hy deesdae die naam RR Ryger gebruik vir die “wilder” of meer letterkundige boeke en sy eie naam vir sy ander skryfwerk.

Oor Die hol gevoel het Gunther Pakendorf in Die Burger van 22 Maart 1990 as volg geskryf: “Maar moenie dink omdat die boek aan die maer kant is, dat hy noodwendig pieperig is nie; inteendeel, dis sommer sterk twak dié. So baie is daar nog selde in ’n Afrikaanse boek gevloek en geswets, gedrink en hoereer, bloed en braaksel, geweld en doodslag beskryf as hier.

“’n Sterk storie ook, veral Boek Een, en dis darem meer as die helfte. Die hooffiguur, met die ietwat rare naam Lytton, is ’n kwaai jong man, ’n rebel without a cause, wat die meeste tyd òf dronk, òf babelaas is. Hy is ’n weeskind wat deur stiefouers, met nog meer ongewone name (Hamydal en Armandine) grootgemaak is, mal randeiers met hul eie duister, kultus-agtige godsdiens. Êrens het hierdie eerste deel my aan Hesse se Steppenwolf laat dink, veral in sy eksistensiële nihilisme, wat met sy oorgawe aan seks en alkohol ’n lewenservaring soek wat buite die bourgeois alledaagse is. En soos Harry Haller in Steppenwolf het Lytton ook heelwat te doen met die opdrifsels van die samelewing, wat hy in disko's en kroeë ontmoet.

“Maar die nihilisme het natuurlik ook ’n keersy, die hol gevoel van verlatenheid, die kenmerk van die verlore seun op soek na sy vader. Die inwendige gesprekke wat Lytton met sy dooie pa voer, wat hom soos ’n skim agtervolg en betig, is duidelik ’n weerspieëling van Lytton se soeke na ’n sinvolle lewe waar liefde en geborgenheid hom eindelik rus sal laat vind. (...)

“Terwyl Hesse se held sy eksistensiële angs darem kan sublimeer en Mozart en jazz met mekaar kan versoen (al is dit met behulp van seks, alkohol en dwelms), kan die arme Lytton nou maar net nie die pyp rook nie. Sy terugkeer na die ‘Twee Malles’ (sy stiefouers) in hul sonderlinge ‘koepel’ is ’n travestie van die Bybelse woorde wat hy self aanhaal: ‘En wat julle ook in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die vader in die Seun verheerlik kan word.’

“Die bisarre gebeurtenisse wat Lytton en sy vriend Tyle in hierdie omgewing meemaak, is ’n pervertering van enige vaagweg normale menslike omgang. Dis ’n soort apokaliptiese ommekeer van alle waardes wat op die end, ná ’n bloedige orgie, tot Lytton, ‘die nuwe messias’, se waansin en einde lei.

“Dis sterk, ja. Maar hoekom sit ek dan nou ook met ’n hol gevoel? Miskien is dit omdat Ryger hom te maklik oorgegee het aan die oordaad van negativisme en rou geweld. Miskien ook dat al die pseudo-eksistensialisme tot al die pseudo-metafisika en dus noodgedwonge tot ’n onbevredigende doodloopstraat moes lei. En omdat Ryger weier om die oorsake - en dan: die antwoorde - vir die probleme van verwarde mense en gebroke verhoudings in die groter maatskaplike verband te soek, waar hulle hoort.”

In die destydse Transvaler (28 Mei 1990) het Joan Hambidge haar resensie van Die hol gevoel só begin: “Ek het as kritikus nog nooit ’n geheim daarvan gemaak dat ek dink Afrikaanse romans is stroef en verbeeldingloos nie. Regte studeerkamermateriaal vir diegene wat ’n doktorsgraad wil skrywer. Of populêr aanmekaar geblik. Maar daar bestaan mín – indien enige – Afrikaanse romans/novelles wat ’n mens méésleur. Totdat RR Ryger se Die hol gevoel voor jou oë beland en jy besef: hier is een skrywer wat soos Kerouac se On the road of William Burroughs se Last exit to Brooklyn die leser ónkant gaan betrap.”

Sy het voortgegaan en geskryf dat soveel nihilisme ’n mens nie aldag te lese kry nie. "En dit word oortuigend uitgevoer. Die totale sinisme van die hoofkarakter Lytton word nie alleen vertel nie, maar oortuigend uitgevoer.

"Die hol gevoel sal nie deur almal begryp word nie, veral nie mense met standvastige vooropgestelde idees oor wat die letterkunde mag sê en wat nie. Die boek sal ook literêr-ingeligtes uit hul konvensionele verwagtingspatrone skok."

Oor hierdie positiewe resensie van Joan Hambidge het Michael aan Ryk Hattingh in Vrye Weekblad gesê: “Wat my geruk het, was dat Joan Hambidge vir my ’n write-up gegee het ... ek het nog nooit so iets gesien nie. Sy gooi hierdie ouens, kyk ek het nie daardie boeke gelees nie, maar hulle is blykbaar mean guys. Die ou wat Last exit to Brooklyn geskryf het, is blykaar ’n mean machine, die en da wat kan ek doen? Wat my beïndruk het, is dit: ek sien gereeld van haar resensies en sy pis op almal se batteries. Ek kan nie glo dat dié vrou spring en sê dis A OK nie. Dis wild. Dit het my weer ’n bietjie moed gegee, want na Charles (Malan) se dingetjie in julle koerant, het ek nie so lekker gevoel nie.”

Michael is tans (2011) ’n sportverslaggewer by Die Burger in Port Elizabeth waar hy en sy vrou, Willemien, en hulle elfjarige seun Gareth woon. Gareth is na die Walliese rugbyspeler Gareth Edwards vernoem. Michael het ’n groot liefde vir rugby en boks

’n Artikel oor Michael wat in die destydse Scope verskyn het met ’n hoofopskrif iets soos “Suid-Afrika se gekste skrywer”, en ’n foto van hom op die toilet met sy broek om die enkels, het ’n mens laat dink dat sy karakters in sy boeke op homself gegrond is. “Daardie artikel is gedoen op ’n dag toe ek ’n bietjie stout was,” vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 28 Maart 2000). “Ek het al baie dinge probeer doen en ek het seker sommige dinge oordoen. Maar ek dink nie ek is so woes en wreedaardig soos ek in daardie artikel oorgekom het nie.”

Die artikel het wel vir Michael en sy vrou, Willemien, bymekaar uitgebring. Sy het dit gelees en vir ’n vriend gesê sy wil Michael ontmoet. Die man was toevallig sy kollega en hy het ’n afspraak gereël. “Voordat ek ’n lovey dovey gehad het, was ek besig om myself te verwoes. Willemien het my gehelp om rigting te kry. Sy duld nie nonsens van my nie. Sy het eenkeer my neus afgeslaan en ons het nooit weer baklei nie.”

Michael en Willemien is in die vroeë 1990’s getroud. Dit het beslis sy wilde lewe verander. “Maar ek meen ’n mens kan nog steeds skryf oor sulke goed,” in 1994 aan Murray la Vita. “Maar ek raak nou meer bewus van feminine sides. My vrou het my meer bewus gemaak van familie en so aan. Dan besef jy jy kan nie net aangaan met ’n rowwe scene nie.”

Gedurende hierdie tyd het hy ook as joernalis by Huisgenoot in Johannesburg begin werk, maar hy sou dit nie beskryf as ’n hele nuwe lewe nie. Sy lewe hét verander en dit het ook uitgekring na sy skryfwerk.

“Ek neem byvoorbeeld die input in ag wat ek kry van my nuwe skoonfamilie. Hulle sal miskien ’n bietjie erg raak oor vuil taal en so aan. Dan kyk ’n ou na jou eie werk en jy begin miskien dink partykeer is dit dalk onnodig om hier en daar iets te sê. Nie dat dit my so baie beïnvloed nie. Ek dink vanself is ek in elk geval op pad om minder robuust te skryf en meer menslik te raak met die skrywery.”

Net voordat hy Willemien ontmoet het, was hy nogal redelik op ’n pad van self-destruction en so aan, bieg Michael teenoor La Vita. “Maar vandat ek haar ontmoet het ... dan kry ’n ou weer iets om voor te lewe. En natuurlik verantwoordelikheid ook. Ek sou nie selfmoord gepleeg het in die tradisionele sin van die woord nie, maar ek sou waarskynlik aan die go gegaan het met ’n moerse suipparty en in situasies beland het waarin ek sou gepeg het. Ja, om jouself met drank en dwelms te verwoes, is ook maar ’n tipe selfmoord, voel ek.”

In 1991 is Michael se boek wat hy eerste geskryf het, Beertjie en sy boytjies, deur Taurus uitgegee. Dit is in 2006 deur Tafelberg herdruk.

"Dit speel af in 1986 toe politieke spanning in Suid-Afrika hoog geloop het. Dit het egter nie vir Beertjie Booyse geskeel nie. Hy kwel hom eerder oor waar hy sy volgende dop gaan drink en oor sy drie seuns se streke: Andreas het uit die weermag gedros, Ketter wil biltong steel en Sugar wil net boks en is verlief op die skool se slet. Voeg daarby vriende soos Harry die Wreker en die Rhodesiese bosvegter Sakkie Saunders, en die tafel is gedek vir ’n absurde, skokkende familiedrama wat hom in Pretoria afspeel," skryf Maricelle Botha (Die Burger, 1 Junie 2006).

Oor die herdruk was Michael baie bly en hoop dat van sy ander boeke ook ’n nuwe lewe sal hê. Hoewel die boek hom afspeel in ’n politiek gelaaide era, het hy nie nodig gehad om enige veranderings ten opsigte van relevansie vir vandag se lesers aan te bring nie. “Ek sou ook nie dele van die boek verander het nie, nie vir so ’n herdruk nie. ’n Mens kan dit in sekere opsigte dalk ’n dokument van daardie tyd noem,” sê Michael. “’n Mate van politieke spanning sal daar seker in elke gemeenskap wees. Die politieke deel is nie so belangrik vir die storie nie; dis eintlik net deel van die agtergrond.”

Die spoed van die lewe is in 1994 deur Hond gepubliseer. Spoed word gebruik in die sin van speed of dwelms en Joan Hambidge (Insig, Julie 1994) meen dat Hunter S Thompson se Fear and loathing in Las Vegas duidelik ’n ikoon vir Ryger is.

Hambidge skryf verder: "Op die buiteblad verskyn Jim Morrison van The Doors-faam en soos Ryger het die rockster ook die bourgeois-grense van sy tyd ondermyn, bevraagteken en verskuif.

"Die spoed van die lewe vertel die verhaal van ’n tydperk in die lewe van die 28-jarige Frederick Mott toe sy lewe byna heeltemal ontspoor het. Hy beland in ’n eksistensiële krisis waaruit hy deur middel van dwelms, dran en seks probeer ontsnap. Sy selfrespek kry ’n verdere knou toe sy gesig in ’n aanval deur die hond van ’n vriend geskend word.

"Hy reis na Europa om die graf van die legendariese Jim Morrison in Parys te gaan opsoek. Maar hy kom nie verder as Amsterdam nie, waar hy in die dwelmkultuur vasval. Saam met ander uitgeworpenes uit verskillende lande leef hy soos ’n kakkerlak in die strate rondom die stad se sentrale stasie. Dis ’n doellose ronddwaal sonder rigting of inhoud.

"By sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy saam met die vroeëre bure se seun, Theunsie, wat nou self by die dwelmhandel betrokke is. Dis net die agteruitgang van Frederick se gesondheid wat daartoe lei dat hy homself opnuut in oënskou neem, en ’n poging kan maak om uit die bose kringloop van sy lewe uit te breek."

Volgens Gunther Pakendorf (Die Burger, 22 Junie 1994) sluit Die spoed van die lewe wat die tema betref, by Die hol gevoel en Beertjie en sy boytjies aan. "Soos in die eerste twee gaan dit ook in Die spoed van die lewe oor ’n gevoel van eksistensiële leegheid en die nietigheid en sinloosheid van die lewe en oor ontvlugting deur middel van kunsmatige prikkels.

"Met sy drie verhale het RR Ryger hom as een van Afrikaanse se sterkste skrywers van die alternatiewe leefwyse op die rand van die a-sosiale en kriminele gevestig. Dié drie verhale vorm saam ’n duidelike eenheid en kan as ’n soort trilogie beskou word. Die skrywer sal nou moet bewys dat hy ook ander temas ewe oortuigend kan aanpak.

"Ryger is ’n vars stem en dit is jammer dat hy binne die Afrikaanse letterkunde nie genoeg aandag kry nie en geliasseer word onder die noemer weird. Die spoed van die lewe moet gelees word as ’n vars aanslag in ons miskien te oor-intellektuele prosa."

In De Kat van Augustus 1994 skryf Eduan Swanepoel dat van al sy prosatekste is Die spoed van die lewe Ryger se mees onbevredigende. “Dis ’n gefragmenteerde teks met gate in die verhaalvloei en met anekdotiese en eksemplariese passasies wat oorbeklemtoon en oorbelig. Die bykans sentimentele toon teen die einde is vir my besonder onoortuigend en irriterend. Maar as narratief wat die problematiek van manllike seksualiteit aanspreek en wat die leser konfronteer met die hele spektrum moontlikhede van homoseks, deur biseksualiteit tot by die heteroseksuele, is dit ’n betekenisvolle werk.

“Dis jammer dat Green nog steeds so min aandag gee aan die moontlikhede wat sy medium bied. Hy is ’n lekker storieverteller, maar daarin lê die gevaar dat hy nie voldoende weerstande vir hom en sy leser in sy tekste inbou om die materiaal waarmee hy werk, genoegsaam te versterk nie. Sonder ’n behoorlike resonansieruimte is die stem wat hier vertel, te onduidelik om voldoende hoorbaar te wees.”

Met die publikasie van Skoelapper in 1997 het Michael aan Stephanie Nieuwoudt (Beeld, 14 Oktober 1997) gesê dat dit dalk sy eerlikste boek is, want anders as in sy vorige boeke is die hoofkarakter nie ’n tawwe tienie nie, maar het hy ook ’n sagter sy. “Ek is tevrede met Skoelapper. Dis afgeronder as my ander boeke en hoewel dit in ’n ligter trant geskryf is, hoop ek tog daar is genoeg pitkos tussen die grappies. Dis geskryf toe ek baie gelukkig was en ek dink die gevoel skemer deur.”

Skoelapper is reeds drie jaar vroeër aan die uitgewer Hond voorgelê en is vir publikasie aanvaar. Die onderneming het egter gevou en Human & Rousseau het die projek oorgeneem. Skoelapper is bemark as ’n draakstekery met hygromans en rillers.

Die resensente het nie geweet hoe hulle Skoelapper moet benader nie. Willem M Botha (Insig, November 1997) het dit beskryf as ’n "ylerige riller-hygroman wat in die geweldgeteisterde Natal van 1993 afspeel: niks meer nie en niks minder nie – deur iemand wat bewys lewer dat hy vlot kan skryf (kennelik onder ’n skuilnaam) en situasies en karakters kan teken, maar met sy talent liewer iets sterkers, en ongemengd moet voortbring."

In Die Burger 26 November 1997) het Herman Wasserman geskryf dat as ’n teks gemik op vermaaklike lees, is Skoelapper ’n onderhoudende boek, "al is die verhaal dalk effens lig en sou van die storiedrade wat opgetel is dalk in ’n langer teks meer tot hul reg kom. Nietemin het Skoelapper die grense van genres subtiel verskuif. En het dit heel aangename leesplesier verskaf."

In Mei 1999 se Tydskrif vir Letterkunde het Louise Viljoen geskryf: "Skoelapper moet gelees word teen ’n breër agtergrond as dié van die hygroman en riller wat op die agterblad genoem word. ’n Mens kan dit byvoorbeeld ook lees naas die ander tekste van Ryger waarin die lewe van die 'fieta' uitgebeeld word. Die werk van stylgenote soos Ryk Hattingh en Thinus Horn skep ook ’n konteks waarbinne hierdie werk na vore begin tree as ’n eiesoortige manifestasie van kontemporêre kultuur. Die teks sluit ook aan by die wyse waarop die Afrikaanse musiek gemaak deur kunstenaars soos Koos Kombuis en Valiant Swart populêre vorme gebruik om mense te vermaak en terselfdertyd kommentaar te lewer op ’n (Suid)-Afrikaanse lewenswyse. Ryger se Skoelapper is dus populêre vermaak met ’n gesofistikeerde angel wat volkome in voeling is met ontwikkelinge in die eietydse kultuur. Êrens in die Huis van Afrikaans moet daar ook vir hierdie soort boek ’n plek wees."

In 1998 publiseer Michael vir die eerste keer ’n boek onder sy eie naam, Michael Green. Dit is Vreemde verskynsels, die eerste in die reeks Geheime dossiere. Dit is beskryf as die Afrikaanse X-files en handel oor die paranormale. “Met die eerste twee boeke van Geheime dossiere (Vreemde verskynsels en Nagbewegings) het ek taamlik tong in die kies geskryf, maar met die derde, Sieners, my ware kleure gewys,” vertel hy aan Francois Smith (Die Burger, 10 Augustus 2000). “Ek voel dat daardie boek maklik een van my bestes is, maar min mense het dit gelees. Nêrens was daar ’n resensie daaroor nie, wat my nie verbaas het nie; ’n ou wat in die toilet poseer met sy tikmasjien, of met pornografie (let wel: nie kinderpornografie nie) werk, kan nie te veel verwag van die hoofstroom nie. Ek het goortgeword met ’n ouma wat ’n siener was en my ma het altyd boeke oor die onderwerp op haar rak gehad wat ek verslind het. Dis ’n passie.”

Aan Hilda Grobler (Vrydag, 3 Julie 1998) het Michael vertel dat sy belangstelling in die paranormale gegroei het. “Ons het in ’n stadium in Pietermaritzburg gebly en dis veronderstel om een van die plekke te wees waar daar baie sightings is. Ek het my oë oopgehou, maar het self nooit iets gesien nie. Ons almal ervaar vreemde kragte of het die potensiaal om dit te hê, maar ons is nie van kleins af daarvoor oop nie en ontwikkel dus nie dié vermoëns nie.

“Dis nie iets om voor bang te wees nie, en dis ook nie duiwels nie, maar natuurlik. Ek bedryf my belangstelling daarin deur te lees en ek het vriende wat aan sulke bewegings behoort. Ek gesels met hulle daaroor en as daar sightings is, sal ek moeite doen om ondersoek te gaan instel as ek in die omgewing is.”

Sy idee met die Geheime dossiere-reeks was dat daar ook in Afrikaans oor die onderwerp geskryf moet word, maar op so ’n mnaier dat dit nie te heavy is nie, maar darem ook nie heeltemal poeperig nie. “Soos die reeks vorder, beplan ek om meer gespesialiseerd te raak. Die idee is dat dit ligte vermaak is.”

Die hoofkarakters in Vreemde verskynsels is gewese polisieman Neville Botha en sy kollega dr Mariaan Dreyer. Hulle vorm die ondersoekspan verbonde aan die nuutgestigte Buro vir Paranormale Sake en daar word van hulle verwag om antwoorde te verskaf op vreemde verskynsels wat onder meer sangomas met visioene, heksery, energie-vampiere, zombies en sataniste insluit.

Theunis Engelbrecht (Beeld, 24 Augustus 1998) meen dat Green ’n vlot spanningsverhaal skryf met sy tong stewig in die kies en dat hy daarin slaag om alledaagse situasies bykans ongemerk op te stuur. Hy sien uit na die volgende boeke in die reeks.

In 2000 gebruik Michael weer die naam RR Ryger vir sy verhalebundel Dominatrix en ander verhale. Die titelverhaal is aanvanklik as dramateks geskryf en is vir die eerste keer as Rimpelproduksie by die KKNK opgevoer. 

“Ek het die toneelstuk geskryf nadat die akteurs Wim Beukes en Deidre Venter my gevra het om iets vir hulle te skryf. Dit was ’n uitdaging, veral omdat ek meer ’n fliekganger as teaterganger is. In die proses het ek nuwe dinge oor die skryfproses en die teater gewerk. Kunstefeeste is ’n wonderlike medium waardeur blootstelling plaasvind en werkgeleenthede geskep word. Nie net vir akteurs nie, maar ook vir skrywers. Die publiek herontdek by sulke feeste die teater. Nes ek.”

Dominatrix handel oor ’n man wat “genesing” gaan soek by, soos Ryger haar noem, ’n seksterapeut. “In die proses kom allerlei geraamtes uit sowel die man as die vrou se kas,” sê Ryger.

Die akteurs was nou betrokke by die skeppingsproses. “Hulle het bydraes gelewer om sommige tonele te verleng en hier en daar aan die teks geskaaf.”

Vir die KKNK is die produksie as “hardebaard” geklassifiseer. Dit beteken daar is ’n ouderdomsperk van 16.

Wim en Deidre voel die geweld en seksuele aspek in die drama is nie oordoen nie, maar gemotiveerd. Michael probeer om nie te uitdagend te wees nie. Maar daar is seker mense wat van hom sal verskil.

Michael en sy vrou, Willemien, het self die boek uitgegee as Walkure-uitgewers. "Die woord beteken vrou as strydgodin. My vrou is ’n strydgodin. Ek wou nie kanse waag met ’n hoofstroom-uitgewer nie en was nie lus vir die hele proses van keurders wat sensuur toepas nie. Ons wou ook sien of ons wel self ’n boek kán publiseer.”

“Astrodom” is volgens Johan Coetser (Beeld, 10 Julie 2000)pure pornografie en is in 1996 vir die eerste keer in die tydskrif Loslyf gepubliseer. Dit is soos “Dominatrix” ’n verhaal van en oor sinlike mag.

Die derde verhale, “Berserker” was in 1993 een van die finaliste in De Kat se romanwedstryd. Dit is ’n verhaal oor die grensoorlog. Toe Michael dit vroeër saam met sy verhaal Drank, seks en Alan Chaney aan uitgewers voorgelê het, was die kritiek dat “mense moeg is vir sogenaamde grensverhale” en dat alles daaroor reeds gesê was. Michael het egter nie daarmee saamgestem nie, het hy aan Francois Smith erken. “Ek is nie, en was ook nie, op hoogte van al die oorlogboeke uit ons eie bodem nie, en uit gesprekke met vriende en/of oudsoldate, dink ek beslis nie alles is reeds vertel nie. Dis tog ’n helingsproses ook. Ek was self in die weermag, en het my ding gedoen, maar was darem nou ook nie die groot grensvegter van die fotoboekies nie. Meestal probeer ek oor goed skryf wat ’n invloed op my gehad het, en dis net natuurlik dat my opleiding en twee jaar as soldaat iewers sal inglip.”

Dis verhale wat handel oor geweldadige seks. “Dis seker maar ’n logiese uitvloeisel van dit waarmee ek elke dag besig is,'' sê Michael wat op daardie tydstip reeds vyf jaar redakteur was van die porno-tydskrif Loslyf. “Maar my boeke was nog altyd seksueel, nog voordat ek by Loslyf gewerk het. Dalk is ek net lief vir seks en die dinge wat daarmee verband hou.”

Johan Coetser (Beeld, 10 Julie 2000)meen dat RR Ryger en sy skryfwerk al op uiteenlopende wyses beskryf is: “as werkersklasprosa, absurd, parodie, gedeeltelik outobiografies, postmodern, uitstaande skrywer, ensovoorts. Feit bly staan: ongeag waar Dominatrix en ander stories inpas, die drie verhale daarin sal reaksie uitlok. Om verskillende redes.”

Francois Smith meen dat dit jammer was dat “Berserker” nie in sy oorspronklike langer weergawe en alleen gepubliseer is nie, aangesien die ander twee verhale nie die skrywer se reputasie gestand doen nie. Dit is ’n redelik vernuftige, drieledige raamvertelling met die episodiese struktuur van ’n pikareske roman. In hierdie verhaal vind die leser Ryger op sy komiese beste, veral die grensverhaal bevat beskrywings wat enigeen met ervaring van die weermagwêreld sal laat gil. Ryger is nie vir diegene wat meen die leegmaak van die slopemmer hoort nie in die letterkunde nie – hier kry jy dit in kleur en geur. Maar waar pornografie in wese geyk is, sorg Ryger op sy beste altyd vir ’n hol gevoel.

Na die publikasie van Michael se jeugverhaal, Die derde rugbybal, in 2003 is hy op die letterkundige front redelik stil. In 2011 verskyn sy volgende roman, Hondsdol, by LAPA Uitgewers. Daar was ’n paar redes oor die relatief lang tydperk wat verloop het voordat Hondsdol verskyn het: Verskeie uitgewers het twee van sy vorige werke (’n roman en ’n kortverhaalbundel) wat hy voorgelê het, afgekeur (So dis nie asof hy nie geprobeer het om gepubliseer te word nie). Dan het hy agt jaar vantevore van Pretoria na Port Elizabeth getrek en met ’n ander werk begin wat ’n groot aanpassing was. En derdens is dit nie altyd ewe maklik vir Michael om lus te wees om nog te skryf as skryf jou werk is nie.

"In Hondsdol tref ons weer die nihilisme, die fantasmagoriese omstandighede en gebeurtenisse, die geweld en die sonderlinge humor waarmee dit vervleg is aan. Veral die verhouding waarin geweld en humor tot mekaar staan," skryf Murray La Vita. Die verhaal speel af in ’n buurt in Port Elizabeth.

Dit was eers ’n kortverhaal en Michael het dit uitgebrei met die hulp van sy seun Gareth. “Partykeer dan sit ek ’n bietjie daar en skryf in die kamertjie (’n buitekamer wat as studeerkamer dien) en dan kom Gareth in en vra wat doen ek. Dan sê ek: ’nee, ek skryf nou die boek.’ Dan sê hy: ‘Vertel my bietjie!’ En dan bounce hy sommer ’n paar idees van my af. So dis moerse lekker om so ’n wisselwerking te hê met my seuntjie.”

Vanaf Michael se huis in Port Elizabeth se voorstoep sien ’n mens ’n groot dubbelverdiepinghuis wat aan ’n ou dame behoort het wat aan kanker dood is. Sy het dele van die huis uitverhuur aan mense wat later weens dwelmhandel in hegtenis geneem is. “Die tannie wou gehad het ons moet saam met haar ingaan om te gaan kyk wat gaan in die huis sodat sy kon evidence kry en die polisie oortuig om die ous te kom uitsit. Dit het ’n bietjie rof geraak daar. Obviously het ek dit nooit gedoen nie. Dit sou selfmoord wees. Ek kon miskien uitstorm met my knopkierie en die ouens verjaag in die straat, maar daai ouens het gúns.”

In Hondsdol begin die aksie wanneer Ben Hond, die hoofkarakter, wél saam met Tan Lien gaan ondersoek instel na haar huurders se doen en late. In die boek is Ben en sy seun, Henry, ook na aan mekaar. Pa leer vir seun allerhande koeng foe Lee-bewegings en hulle kyk saam Bruce Lee-flieks. Daarby glo Henry in sy pa se droom: om Bruce Lee – A Kung Fu Musical te skep.

Michael vertel aan La Vita (Die Burger, 25 Junie 2011) dat die eerste poster van ’n hero wat hy teen sy muur gehad het, was van Bruce Lee. “Ek het so ’n bietjie karate geneem, maar net inleidend, amper. Die liefde vir boks en rugby het oorgevat. Maar ek het ongelooflike bewondering vir ouens soos Bruce Lee. Ek het nou vir Gareth van sy movies begin wys sodat hy kan check wat doen hierdie dude.”

Ben, sy vrou Gracie en hulle seun Henry is nou nie wat ’n mens normale mense sou noem nie. En Tan Lien vereis ’n geharde sisteem. Vanaf die oomblik wat Ben en Tan Lien in die gehuurde woonstel instap, begin die aksie en word die leser saamgesleep op jaagtogte van toneel tot toneel, waar die aksie en drama hulle vasvang. Ben word betrek by die dwelms, misdaad, korrupsie by die polisie en geweld. Tussen al die geweld deur, is daar egter ook oomblikke wanneer die verskillende karakters se vrese, hoop en liefde na vore tree. In Sarie skryf Phyllis Green: "Dit maak hulle mens in die ware sin van die woord en maak ook dat jy as leser nie verswelg word deur die rollercoaster rit van geweld nie. Hondsdol is ’n hoogs vermaaklike verhaal wat tot Suid-Afrikaners sal spreek, want dis net in hierdie land waar sulke mal dinge gebeur en mense dink dis maar soos dit is."

Herman Lategan (Rapport, 5 Mei 2011) kon die boek nie neersit nie. “Dit was te lekker. Dankie tog vir ’n goeie Afrikaanse boek sonder tierlantyntjies en dankie tog dat die stem(me) van die storievertellers RR Ryger en Michael Green nie stil geword het nie.” Volgens Lategan is Hondsdol gestroop van alle pretensieuse literêre foefies en teorieë en jy word deur die nakkte storie van een drama na ’n volgende meegesleur. Dis die soort boek wat aanklank sal vind by oopkop tieners tot die ouer garde in Huis Herfsblaar, en tussenin. “Goddank die stem van die storieverteller leef na al die jare nog ongeskonde, suiwer, voort.”

Oor sy skryfwerk vertel Michael dat die onbewuste ’n belangrike rol in sy werk speel. Hy wil nie “te veel lol” met sy kreatiwiteit nie. “ ’n Ou se tyd is beperk en met mý tipe skryfwyse – ek hou daarvan om ’n ou te boei, so ek het die basiese storie en dan los ek dit vir die onderbewussyn. Ek glo ’n filmmaker soos David Lynch werk ook baie daarmee.

Dit is die tipe goed wat ook, as jy dit klaar gekyk het, dan gaan dit in jóú onderbewussyn indwaal. Ek kan dit nou nie sê van hiérdie boek nie, maar ek dink van my vorige boeke het wél daai effek op party mense gehad.

“So selfs al dink ’n ou dalk dit is net ’n ou boekie, sê ek: Moenie die boekie onderskat nie, daar is dalk ietsie meer, want dit kom uit ’n snaakse plek uit. Partykeer luister ’n ou musiek en dan sien jy mos prentjies. So as ek met ’n boek begin, gaan sit ek nie en dink ek soek ’n idee vir ’n boek nie. As ek sien, dan is ek maar besig om te peuter en te skryf. En al skryf ek twee bladsytjies; al skryf ek ’n paar paragrawe – dis fine met my.

“Partykeer sal ek sien dit gaan nou nie lekker nie. En dan sal ek miskien gaan draf of ’n lekker lang stappie langs die see vat. Die see is vir my great vir kreatiwiteit. Jis, dis ongelóóflik. Ek dink nie ek sal ooit uit stories uit raak nie ... deur net langs die see te stap. Byvoorbeeld, daar is ’n plek op pad Oos-Londen toe, Kenton-on-Sea: daar is hierdie amper onaardse rotse daarso. Dis ’n skrywer se dróóm as jy net ’n bietjie daar stap en jy laat jou mind net gaan. Jy gáán storietjies kry.”

Die gebruik van verkleinwoorde is kenmerkend van Michael se manier van praat en skryf. Daarmee skep hy (afhangend van die konteks) sarkasme, ironie, humor, die absurde. En dit is dikwels op homself gerig. “Oukei, sê nou jy het klaar geskryf vir die dag en jy wonder hoe gaan hierdie storie nou verder gaan. Ek weet waar ek wil eindig, maar ’n storie moet darem sy draaitjies vat – soos die lewe. Ek sê nie vir my brein: Opdrag! nie. Hy weet dit al, want hy is al geoefen. Partykeer lê ek in die nag wakker en dan kry ek net hierdie movie omtrent in my mind. Dis maar hoe dit werk. Ek wil nie te kwaai daaroor dink nie, want netnou verloor jy dit! En dít sal nou nie prettig wees nie.”

Etienne Leroux is een van Michael se gunstelingskrywers. Verskeie kuiertjies by sy huis het al as gevolg van Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins in wanorde ontaard. “Om dié rede steek my vrou deesdae die boek weg as daar mense kom kuier. Leroux word vandag as een van die pioniers van die Afrikaanse boek beskou en daar is al baie geskryf oor die veelvlakkigheid van sy werk.

“Aangesien ek ’n eerlike platkop is, sal ek nie maak of ek ’n kenner van die Griekse mitologie is en daarom sy werk selfs meer waardeer nie. Vir my was Leroux ’n besonderse woordkunstenaar en dele van sy boeke is skreeusnaaks. Dis die moeite werd om van sy boeke nou en dan weer te lees. Veral Sewe dae by die Silbersteins en veral die gedeelte van bladsy 63 tot bladsy 69. Dit is die deel waarmee ek al verskeie gaste met ’n brullende, drankaangedrewe stem geteister het. In hierdie deel hou ene Dries van Schalkwyk, sekretaris van die Rooi-Swart Ollenwaar-stoettelersvereniging, ’n toespraak waarin hy ’n geheimpie oor die ‘fantastiese bees’ Brutus verklap. Leroux skryf so meevoerend deeglik dat dit vir die leser voel of hy by die partytjie is. Hierdie paar bladsye is inderdaad ’n hoogtepunt in die Afrikaanse skryfkuns en behoort verpligte leesstof vir alle depressiewe mense te wees.”

“As jy depressief is, moet jy egter wegbly van my ander gunstelingboek, Tough Guys Don’t Dance. Dis geskryf deur die Amerikaanse skrywer Norman Mailer, wat nes Leroux ’n koddige dog indrukwekkende figuur was. Tough Guys Don’t Dance is sekerlik nie Mailer se beste boek nie, maar op ’n persoonlike vlak werk dit vir my. Ek het eers die fliek – waarvan Mailer self die regisseur was – gesien voordat ek die boek gelees het.

“In my boek Die spoed van die lewe (in 1994 deur Hond-uitgewers onder my ander skryfnaam, RR Ryger, gepubliseer) skryf ek só oor hierdie werk van Mailer: ’norman Mailer se Tough Guy’s Don’t Dance is een van my gunsteling-boeke en -rolprente. Die idee van ’n man met ’n lelike verlede wat op ’n drank- en dwelmvlug gaan ná hy die liefde van sy lewe verloor, is vir my geloofwaardig. Ek het al self sulke dinge gedoen.”

Michael is al (veral in die 1990’s) dié Generasie X-skrywer in Afrikaans genoem, die skrywer oor en vir die ontworteldes, die verlore geslag. Oor die etiket erken Michael dat dit vleiend is op ’n sekere vlak, maar beperkend op ’n ander. “Eintlik is ek nie heeltemal seker wat die definisie van Generasie X behels nie, en ek stel ook nie daarin belang om dit na te vors nie,” vertel hy aan Francois Smith (Die Burger, 10 Augustus 2000).

“Ek doen maar net my eie ding. Van my sogenaamde aanhangers weet ek nie veel nie, behalwe dat die ouens van Bitterkomix van sommige van my boeke gehou het. Verder is ek altyd verbaas as iemand sê hulle het ’n boek van my gelees, want my royalty-tjek is altyd so klein. Dalk leen die ouens maar die boek onder mekaar uit, ek weet nie. Wat ek wel weet van Dominatrix is, omdat dit nie deur die meeste boekwinkels aangekoop is nie, kry ek tog ’n breër groep mense wat my werk lees, want ek versprei dit by Hustler sekswinkels.”

Publikasies

As RR Ryger:

Publikasie

Die hol gevoel

Publikasiedatum

1989

ISBN

0947046224 (sb)

Uitgewer

Bramley: Taurus

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Beertjie en sy boytjies

Publikasiedatum

  • 1991
  • 2006

ISBN

  • 0947046380 (sb)
  • 0624043916 (sb)

Uitgewer

  • Bramley: Taurus
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die spoed van die lewe

Publikasiedatum

1994

ISBN

0620179465 (sb)

Uitgewer

Groenkloof: Hond

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skoelapper

Publikasiedatum

1997

ISBN

079813741X (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dominatrix en ander stories

Publikasiedatum

2000

ISBN

0620255706 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Walkure

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

As Michael Green:

Publikasie

Vreemde verskynsels (Geheime dossiere; no. 1)

Publikasiedatum

1998

ISBN

0628036946 (sb)

Uitgewer

Halfway House: Perskor/Kagiso

Literêre vorm

Paranormale fiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nagbewegings (Geheime dossiere; no. 2)

Publikasiedatum

1998

ISBN

0628037287 (sb)

Uitgewer

Midrand: Perskor

Literêre vorm

Paranormale fiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Sieners (Geheime dossiere; no. 3)

Publikasiedatum

1999

ISBN

0628037554 (sb)

Uitgewer

Midrand: Perskor

Literêre vorm

Paranormale fiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die derde rugbybal

Publikasiedatum

2002

ISBN

0620292954 (sb)

Uitgewer

MC Publishers

Literêre vorm

Jeugverhaal

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hondsdol

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780799349580 (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor Michael Green beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top