Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die hol gevoel
Skrywer: RR Ryger
Uitgewer: Wordslingers
ISBN: 9780796168269
In 1989 het die rebelse uitgewery, Taurus, RR Ryger se debuut, Die hol gevoel, uitgegee. Ryger sê self in die voorwoord van die nuwe uitgawe: “Dit het nogal ’n interessante reaksie uitgelok.”
Jip, die eens vermaledyde novelle het weer die lig gesien. Dit is einde 2024 deur Wordslingers heruitgegee.
Joan Hambidge was destyds die enigste resensent wat dit gedurf waag het om positief te wees hieroor. Hambidge, wat nie straight is of mooi rokkies vir manlike kollegas se goedkeuring wou dra nie, het ingesien dat Ryger die patriargie behoorlik aan die knaters beet het met hierdie novelle. Sy vergelyk Die hol gevoel destyds met Jack Kerouac se On the road en Hubert Selby se Last exit to Brooklyn.
Ek stem saam.
In ’n nawoord agterin die heruitgawe skryf Ryger dat hy tydens die kyk van Pedro Almodóvar se The skin I live in (uitgereik as La piel que habito) en Stanley Kubrick se Eyes wide shut gedink het aan Die hol gevoel. Beide het natuurlik gedraai lank ná Die hol gevoel verskyn het.
Ja. Dalk. Ek wou aanvanklik nie lekker hieraan byt nie. Dalk word ek oud, maar Eyes wide shut en La piel que habito handel vir my oor welaf mense wat hul eksistensiële krisisse vanuit hul welvaart wil probeer bestuur. Die belangrike raakpunt sou egter wees dat Lytton, die hoofkarakter in Die hol gevoel, wel genoeg geld het. Sy krisis het te doen met sy status in die kultus van sy pa. Die kultus is natuurlik teenwoordig in Eyes wide shut en loerbroer in Almodóvar.
Dus? Ek dink nou wel Ryger het ’n punt beet.
Ek sou tog, steeds, veel eerder sê Almodóvar se 1980-debuut Pepi, Luci, Bom is ’n uitstekende pasmaat. Daardie film was vol jong, nihilistiese mense wat pot rook en met seks eksperimenteer. Die hoofkarakter word ook deur haar ryk ouers onderhou en rebelleer juis teen hulle establishment, veral dan, by implikasie, die rol van die moeder.
Ek sou ook dink dat die uiters serebrale L’Étranger (vertaal as The outsider en The stranger) van Albert Camus veel meer gemeen het met hierdie novelle van Ryger as wat ’n mens sou dink. Meursault, die hoofkarakter in L’Étranger, word gevang omdat hy ’n Arabier doodskiet. Die hof se woede skyn egter te wees dat hy sou durf seks hê op sy moeder se sterfdag; ’n Arabier se dood is bloot ’n lastige probleem. Op dié manier toon Camus hoe problematies ons samelewing se norme is.
Norme?
Wel, norme is juis wat Ryger uitdaag in hierdie teks.
Lytton, sy hoofkarakter, is ’n veglustige dronkaard wat in ’n vuil woonstel bly. Ná sy tyd in die weermag is hy skynbaar rigtingloos. Uit gesprekke, met ’n lover en ’n paar vriende, kom die leser agter Lytton is aangeneem en sy ouers bedryf ’n vreemde sekte.
Weens sy komvandaan en sy tyd in die weermag, ly Lytton waarskynlik aan post-traumatiese stres. Meer nog, enige iemand wat Anthony Akerman se outobiografie Lucky bastard gelees het, sal weet dat ontheemding ’n bepalende aspek van ’n aangenome kind se vormingsjare kan wees.
Is die ouers se sekte egter gewoon iets wat ons sonder metaforiese bymotiewe moet lees? Ek dink nie so nie.
Wanneer Lytton teruggaan na sy aanneemouers se huis, blyk dit ’n amorfe doolhof te wees, een met verskuilde deure en gange en loergate. Dit voel meer of hy in iemand se brein ronddool as in ’n gebou. Die onheiligheid wat hy daar aantref, maak dat ’n mens veel meer verstaan hoekom Lytton alles doen om die teenoorgestelde te wil wees.
Die vaderfiguur heers oor alles hier met ’n ysterhand. Sy volgelinge dink aan hom as ’n soort heilige en hy wil sy mantel om Lytton se skouers plaas om die sekte te laat voortleef.
Die leë gevoel in Lytton, wat hom dryf tot nihilistiese selfvernietiging, word grootliks geskep deur die onvermoë om by die pa se aggressiewe selfverheerliking aan te pas. Dit maak ook dat Lytton sukkel om gesonde verhoudings met vroue te behou.
Wat sê Die hol gevoel dus van mans se psige en die kultusse wat hulle om hulself skep?
In die laat jare tagtig, toe hierdie teks verskyn het, is Suid-Afrika bestuur deur ooms met stywe vingers wat ’n kultus van apartheid probeer beskerm het teen die res van die wêreld. Apartheid was ’n amorfe doolhof van wette wat een ding sê, maar vergrype, ook seksueel, aangewakker het en juis die teenoorgestelde bewys het.
Die hol gevoel, as ’n klagstaat teen die vaderfiguur, spreek dus teen die establishment van die laat tagtigs. Dit is ook hoekom Taurus, die alternatiewe uitgewery, en Hambidge, die akademikus buite die establishment, die waarde van die teks kon raaksien. Beide was ook slagoffers van die ooms se sienings.
Dus?
Ryger sê self oor sy debuut: “Dis nie ’n wafferse boek nie, moet ek erken.”
Ek dink weer die boek sou kon doen met ’n veel ernstiger redakteurshand, iets wat Taurus nie gebied het nie. Die heruitgawe het die novelle ook nie probeer opsmuk nie.
Daar is dus gebreke, maar dat Die hol gevoel steeds, 35 jaar ná dit die eerste keer mense in hulle bier laat stik het, nou ook mense sal laat stik in hulle groen smoothies, is nie te betwyfel nie.
Pepi, Luci, Bom, Almodóvar se 1980-debuut, was dalk nie sy beste nie, maar dit het hom gevestig as ’n effens mallerige, alternatiewe stem in die filmbedryf. Neem kennis.
Moderne jong mense in Suid-Afrika, die VSA en Europa is vir baie lank beskerm teen die hatige patriargie. Ons samelewing het ’n sagter plek geword en het by sommige jong mense die selfopgelegde plig van woke-wees aangemoedig. Die wokes was so selfvoldaan dat hulle alles van die vorige generasie wou ignoreer, goed of sleg.
Als gaan nou weer verander.
Trump is terug. Europa en Suid-Afrika en Afghanistan en Indië en talle ander lande word al weer bedreig deur mans wat dink hulle kan namens die res van die samelewing praat. Gematigde lesers, kunstenaars en denkers sal nou weer harder moet praat om menseregte te beskerm. Vroue gaan weer moet baklei vir gelyke beregtiging. Minderhede is weer in groot gevaar. Ons beweeg terug na die kultus van die wit man.
Toe RR Ryger se Die hol gevoel die eerste keer gepubliseer is, was dit soos ’n knie in regse knaters. Daar is tans weer hopeloos te veel regse knaters wat luidrugtig rondswaai. Die heruitgawe van Die hol gevoel kom op ’n baie goeie tyd.
Kommentaar
Wow. Jou skrywe is so goed en omvattend en raakskiet, 'n verhaal op sy eie. Dit is prikkellekker. Ek gaan die boek soek.