
Mark Beale, beter bekend as die stoeipromotor “The Weasel”, soos hy lyk wanneer hy in ’n rustige bui is. (Foto: Michael Green)
...
“Dan praat ek nie eers van wat die toeskouers met my aangevang het nie! Soos die dag in Boksburg toe ’n oom my getakel het!” lag Beale.
...
In die rofstoeikryt was Mark Beale altyd die booswig. Sy bynaam was “The Weasel” en sy tong was net so vlymskerp soos sy vlieënde volstruisskoppe.
Dis dan vir baie van sy ondersteuners dalk ’n verrassing wanneer hulle hoor dat die ruwe man eintlik ’n hart van goud het en vir baie jare al by jeugopvoedingsprogramme betrokke is.
Beale (60) was eers ’n jeugpastoor voor hy sy eie program geloods het waarin hy en ander stoeiers skole besoek en praatjies hou waarin kwessies soos boelies, dwelmmisbruik, gewelddadige bendes en tienerswangerskappe aangespreek word.
Alles het egter by stoei begin. Beale was vyf jaar oud toe dié sport hom in ’n greep van staal beetgekry het waaruit hy hom nog nooit kon loswikkel nie.
“My oom het daai jare saam met ouens soos die legendariese Jan Wilkens gestoei. Hy het ’n tyd lank in Kanada gewoon en toe hy terugkom Suid-Afrika toe, het hy onder die naam ‘Renaldo van Kanada’ gestoei,” vertel Beale.
“Ek het van ek vyf jaar oud is stoeigevegte bygewoon. Die een aand het Jan Wilkens in die Veremarksaal [in Port Elizabeth, waar Beale opgegroei het] gestoei. En oom Bull Hefer, die promotor, roep al die stoeiers daar in die kleedkamer bymekaar vir ’n vergadering. Ek is ook daar en Jan Wilkens tel my in sy arms op en ek besluit net daar – ek wil eendag nie net stoei nie, maar ook ’n groot stoeipromotor soos oom Bull word!”
Dit sou ’n hele paar jaar neem voor Beale sy merk as promotor begin maak het, maar intussen het hy alles wat hy oor rofstoei kon leer, by sy oom Renaldo opgetel.
“Toe ek nou so 18 of 19 was, het ek vir my rofstoeilisensie gegaan. Toe sê hulle [die stoei-owerhede] vir my: ‘Waar kom jy vandaan? Jy ken dan alles!’” vertel Beale laggend.
In die begin het hy onder sy eie naam gestoei, maar ’n sekere promotor van Kaapstad het op ’n dag besluit hy moet eerder die naam “Buster Brown” gebruik.
Beale het eindelik die Suid-Afrikaanse ligswaargewigkampioen geword, maar hy het nooit sy droom om ’n promotor te word vergeet nie.
“Paul Lloyd, wat ook bekend was as die stoeier Pink Panther, het gevegte in Johannesburg gereël. Toe oortuig ek hom dat ek onder sy vaandel ook toernooie in die Oos-Kaap kon begin reël,” vertel Beale.

“The Weasel” (Mark Beale) besig om die toeskouers op te werk tydens een van sy rofstoeipromosies. (Foto: Verskaf)
Hy was maar 25 jaar oud toe hy sy eerste toernooie begin reël het. In 1998 het Beale sy eie promosieliggaam World Wide Wrestling begin.
Voor dit moes hy sy storie ken om met sy rofstoeiloopbaan te volhard. Die stoeiery was nie baie betalend nie en hy moes ook as ’n bestuurder by ’n juwelierswinkel gewerk het.
“Ek het baie in Kaapstad en Johannesburg gestoei en moes baie verlof insit by my werk,” sê Beale.
“Hulle sou my byvoorbeeld agtuur op ’n Maandag bel en sê ’n stoeier het onttrek, kan ek nie Kaapstad toe kom nie. Dan sit ek verlof in en ry van Port Elizabeth Kaapstad toe. Vyfuur die middag is ek in Kaapstad en agtuur die aand stoei ek, dan ry ek weer terug Baai toe.”
Hy het baie seergekry in die kryt. Hande gebreek. Enkels. En al daardie gevallery op sy rug ... Hy sukkel deesdae soms om uit die bed uit op te staan.
“Dan praat ek nie eers van wat die toeskouers met my aangevang het nie! Soos die dag in Boksburg toe ’n oom my getakel het!” lag Beale.
Minder snaaks en baie tragies was die aand in 1993 toe hy en sy boetie Jimmy saam aan ’n spanstoeigeveg in die Baai deelgeneem het.
Altwee was bebloed toe hulle ná die geveg in die kleedkamer kom.
“Ek voel ’n bietjie sleg,” het Jimmy aan Mark gesê en op ’n bankie gaan lê. ’n Paar minute later was hy dood.
“My boetie se dood het my erg ontstel en ek het dit ernstig oorweeg om die sport te los,” onthou Beale.
Maar toe hy weer sien, is hy weer in die kryt.
“Weet jy, omdat ek so baie na gevegte moes ry, was ek in baie ongelukke betrokke,” vertel Beale.
Die een keer het hy twee keer dieselfde nag gedroom dat hy in ’n ongeluk was en dat ’n persoon in wit geklee vir hom wink. ’n Dag of wat later was hy op pad Swartruggens toe, toe hy voel die treiler wat hy agter ’n bakkie sleep, is onstabiel.
Hy het uitgeklim en die stabiliseerder verstel, toe ’n trok die bakkie waarmee hy gery het tref.
“My elmboog is deur ’n los stuk yster gebreek en ons bakkie het deur die lug gevlieg,” onthou hy.
’n Ander keer was hy in Germiston. Sy motor was derde van ’n stopstraat af, toe ’n dronklap beheer oor sy motor verloor en syne “uithaal”.
En wat van die keer toe hy by die Oppikoppi-fees gaan stoei het? Op pad soontoe het hy gesien hoe rol die treiler wat hy trek (met die kryt daarin gelaai) se een wiel al brandend by hom in die bakkie verby.
Op pad terug van die fees het een van die bakkie se wiele sowaar ook afgeval; die bakkie het gerol en toe tref ’n sewesitplekbus die bakkie!
Hy dink die liewe Here het altyd ’n plan met hom gehad, reken Beale, anders was hy lankal dood.
“Ek was in my jonger jare ’n jeugpastoor en het al in 1985 in die townships met kinders gewerk,” vertel hy.
“Toe ek in 2015 die Wrestle Monster-promosie begin het, het ek sosiaal verantwoordelik gevoel om weer daardie soort ding voort te sit.
“Ek het gedink hoe ons as stoeiers ons deel kan doen vir die gemeenskap. Met respek gesê: Kinders luister baie keer eerder na sporthelde as na predikers of politici, so ons klomp stoeiers het toe skole begin besoek en boodskappe van hoop begin uitdra.”
Die inisiatief het so gegroei dat Beale-hulle deesdae met die steun van die Oos-Kaapse Departement van Onderwys skole in byna die hele Oos-Kaap besoek.
...
Tydens hul besoeke deel die stoeiers pamflette met kontaknommers van die polisie en maatskaplike werkers aan die kinders uit.
...
“Ons besoek soms tot vier skole ’n dag. As ons die eerste keer by ’n skool kom, doen ons ’n algemene praatjie vir ’n groot groep kinders. Dan doen ons later ’n opvolgbesoek waar ons met kleiner groepe werk en met die hulp van spesialiste op spesifieke probleme [byvoorbeeld dwelmgebruik] fokus,” sê Beale.
Tydens hul besoeke deel die stoeiers pamflette met kontaknommers van die polisie en maatskaplike werkers aan die kinders uit.

Mark Beale in aksie tydens een van sy besoeke aan ’n Oos-Kaapse skool. (Foto: Verskaf)
“Dis soms hartverskeurende werk en mens is soms geskok oor die dinge waarmee die kinders worstel. Tieners wat swanger raak, terwyl hulle byvoorbeeld nog in die laerskool is. Sulke goed ...”
Met stoei is hy nog lank nie klaar nie. Hy stoei nou wel nie meer nie, maar as promotor is hy baie aktief en bied hy nie net toernooie plaaslik aan nie, maar ook in Afrika-lande en in Indië.
“In die vroeë 2000’s het die SAUK my gekontrakteer om vir hulle ’n weeklikse stoeiprogram Thunderstrike te skiet. Dit was baie gewild en ons het ’n nuwe geslag helde soos Tornado, die Kwaito Kid en Kilimanjaro gevestig,” vertel Beale.
“In 2010 het TV-mense van Indië my kom sien en ek het toe Suid-Afrikaanse stoeiers soontoe gevat om in toernooie en op die TV op te tree en ons het ook Indiese stoeiers help oefen en ontwikkel.”
So, die stoei hou hom steeds baie besig. Maar nie so besig dat hy nie tyd maak om skole te besoek en met kinders oor dinge wat krap, te gesels nie.
“Jy plant die saadjie by die kind en hoop in jou hart dat jy na van die kinders deurgedring het,” sê Beale.

