
Titel: Ten slotte
Skrywer: Eben Etzebeth
ISBN: 9781776194940
Uitgewer: Jonathan Ball
Dis vir sommige lesers ligweg irriterend wanneer ’n rugbyspeler sy biografie skryf voor sy loopbaan iets van die verlede is. Die vraag kan tereg gevra word of daardie speler oor ’n jaar of wat, wanneer hy nou sy tokse finaal weggepak het, sy boek weer gaan uitgee met ’n nuwe hoofstuk bygelas?
Maar hier het ons nou Eben Etzebeth se biografie Ten slotte en niemand kan stry dat hy ’n boek werd is nie. Hy is immers die Springbok wat nog die meeste toetse gespeel het, so ons kan net sowel lees wat hy self daaroor te sê het.
En mense wil sy storie lees.
Meer as ’n duisend belangstellendes het in Oktober by die N1-winkelsentrum in Kaapstad opgedaag toe hy sy boek bekendgestel het.
Die histerie was sekerlik genoeg om selfs die Hertzogpryswenner Antjie Krog te laat wens sy was ook ’n rugbyspeler. Dan sou meer mense haar boeke, soos die briljante Binnerym van bloed, gelees het.
Slim Antjie sou verseker die kaptein van haar rugbyspan gewees het. Stel jou voor – Antjie op skrumskakel; sy skuif haar brilletjie reg en daar glip sy soos ’n jong Joost van der Westhuizen steelkant om die skrum en gaan druk.
Moenie grinnik nie, Antjie was ’n rabbedoe-plaasmeisie en het baie hardkoppigheid van haar ma, Dot Serfontein, geërf.
Maar terug na Eben, “die enforcer”. Pasop! Moet hom nie dit noem nie; hy hou nie daarvan nie. Noem hom eerder Eben “die vriendelike”.
“Mettertyd het ek agtergekom watter teenstanders uit hul pad gaan om my te tart, en ek het geleer om daarvoor te lag. Dis hoekom jy my dikwels met ’n grynslag op die gesig sal sien wanneer ’n skermutseling op die veld uitbreek,” skryf hy.
Daai “glimlag” is natuurlik genoeg om enige teenstander net daar in sy broek te laat skyt. Eben het nie nodig om bolle te rol of kop te stamp nie.
Eben was nie altyd so groot nie, skryf hy. Dit het harde werk gevat om sulke moerse muscles te kry. Dis ’n les wat enige jong, voornemende speler uit Eben se boek sal kry: oefen-oefen-oefen!
Hy was nog ’n junior toe hy ná ’n besering weer probeer fiks word. Toe sê hy vir sy kondisioneringsafrigter: “Luister, ek gee nie om of ek elke dag opgooi nie, kry my net gereed.”
Die ander ding wat outjies met sterretjies in hul oë by Eben kan leer, is moenie suip nie.
“Ek kon nog nooit die filosofie van ‘on the booze, win or lose’ verstaan nie,” skryf hy.
Dit beteken nie dat Eben nie van bier hou nie! Bier het al selfs gehelp dat sy een arm weer sterker word ná hy dit beseer het.
“Vir die eerste drie weke kon ek nie my linkerarm hoër as 90 grade lig nie. Ek moes die meeste dinge met my regterhand doen, insluitend bier drink,” skryf hy.
Sy maats het toe daarvan ’n punt gemaak om wanneer hulle saam kuier, “Buffalo!” te skree. Dis die naam van ’n “speletjie” wat vereis dat mens net jou drankie met jou linkerhand mag drink. Op dié manier het sy vriende, en die bier, dus gehelp dat hy daardie arm weer kon buig!
Eben maak dit duidelik dat daar ’n tyd vir ’n gefuif is. Hy vertel dat hy elke keer wanneer hy die Wêreldbeker saam met die Bokke gewen het (twee keer), omtrent vir drie weke snotters was. Maar dan was dit weer gim toe!
’n Groot, beroemde ou soos hy moet maar sy tyd en plek mooi kies waar hy ’n dop skiet. Dit het hy tot sy ontsteltenis uitgevind toe hy voor die WB-toernooi in 2019 in Japan in Langebaan gaan kuier het.
Daar beland hy toe per ongeluk midde-in ’n bakleiery en toe hy weer sien, word hy van rassisme en aanranding beskuldig. Die donker wolk het vir weke oor sy kop gehang en sy onskuld is eers ná die toernooi bewys.
Rugbyliefhebbers sal groot plesier put uit Eben se herinneringe van wedstryde, soos sy 50ste toets. Dit was in 2016 teen die Wallabies in Brisbane.
“Voor daardie dag is my trui nooit geskeur nie; ek het nooit steke nodig gehad nie; en het nooit ’n geelkaart gekry nie. Al drie het in daardie wedstryd gebeur,” onthou hy.
Sy beskrywing van die reeks teen die Britse en Ierse Leeus wat in 2021 tydens die Covid-pandemie gespeel is, is ook besonder insiggewend.
En wat van toe hy in 2017 die kaptein was van die Bokspan wat met 0–57 teen die All Blacks in Albany verloor het? O, die pyngedagte ...
Vele moederharte sal dalk jaloers begin klop as hulle lees met hoeveel respek Eben sy vrou (Anlia) die hof gemaak het. Hierts! Die ou grote is nogal romanties!
So, hierdie biografie van Eben kan met blymoedigheid aanbeveel word. Nie net oor wat hy geskryf het nie, maar ook oor die lekker leesbare lettertipe en lynspasiëring. Selfs in kerslig kan ’n mens die storie gemaklik volg.
Nie dat Eben hom daaraan sal steur as ’n rugbyskrywer sy boek ’n regmerkie gee nie.
“Met een of twee uitsonderings het, wie ook al die berig geskryf het, nog nooit rugby gespeel nie, wat nog te sê van op ’n gevorderde vlak,” brom hy.
“Selfs wanneer ek ’n positiewe berig oor my lees, traak dit my steeds nie, want bes moontlik weet die skrywer nie waarvan hy of sy praat nie.”
Ek weet darem nie of dit alles waar is nie. Sover ek weet het die meeste rugbyskrywers darem so bietjie skole- of klubrugby gespeel.
Waarom is daar dan nie voormalige Springbokke wat rugby skryf nie? My liewe vader, vra jy nog? Weet jy watse patetiese salarisse rugbyskrywers verdien en watse onmenslike ure sportskrywers werk?
’n Voormalige Springbok sal nie sommer vir sulke peanuts werk nie. Hulle verkies die glans van die TV. Daarmee het ek nie ’n probleem nie. Dis baie vermaaklik om te sien hoe die manne hulle lippies so beklemtonend op ’n tuit trek elke keer wanneer hulle iets slim gesê het.
Lees ook:
Rassie, stories oor rugby en die lewe deur Rassie Erasmus, saam met David O’Sullivan: ’n onderhoud

