Postumiteite vir Breyten deur Yves T’Sjoen vereer Breyten

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Postumiteite vir Breyten, deur die oog van digters, vertalers en navorsers
Redakteur: Yves T’Sjoen
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781997476450

Postumiteite vir Breyten, deur die oog van digters, vertalers en navorsers word op 24 November, die herdenking van Breyten Breytenbach se sterfdatum, tydens ’n kongres in België bekendgestel. Die goeie nuus vir Suid-Afrikaners is dat Naledi ’n Suid-Afrikaanse uitgawe op dieselfde dag sal beskikbaarstel.

Soos met T’Sjoen se Twee oversijde wat in Julie bekendgestel is, lei T’Sjoen hierdie teks deeglik in, dan stel hy ander aan die woord om ’n smorgasbord van sienings oor Breyten met die leser te deel. Op die punt ’n klein belangeverklaring: Selfs my naam verskyn hierin, iets wat ek binnekort sal verduidelik, maar ek put geen finansiële voordeel uit hierdie teks nie.

Veeltalig en grensoorskrydend

Nie net het T’Sjoen kenners uit verskeie lande genooi om bydraes te lewer nie, die boek is ook veeltalig. Die grootste aantal bydraes is in Afrikaans, gevolg deur Nederlands, maar hier verskyn ook tekste in Engels en Frans.

Soos T’Sjoen in die voorwoord sê (10):

Het werk van Breytenbach, indrukwekkend zowel in omvang en diepgang als in internationaal renommee, krijgt ruim weerklank van dichters en prozaschrijvers in Afrikaans en Nederlands, ook in Engels en Frans. Meerdere primaire titels in het verzameld werk zijn daarnaast vertaald in Italiaans, Pools, Portugees, Russisch en Spaans. Ook in die talen reageren schrijvers op poëzie en proza van Breytenbach. 

Die reaksie van skrywers uit Afrika op Breyten se oeuvre verduidelik T’Sjoen soos volg (10):

Daarenboven zijn auteurs van Afrika in contact gekomen en in gesprek getreden met diens geschriften. Zij maakten kennis met het werk, bijvoorbeeld tijdens kunstenfestivals op het Afrikaanse continent of in de context van het pan-Afrikaanse Gorée Institute in Senegal. Breytenbach was medeoprichter en uitvoerend hoofd van het departement cultuur (2002–2010).

Yves T’Sjoen se lang onderhoud met Kerneels Breytenbach teen die einde van die versameling bied ook interessante insae in die manier waarop daar met Breytenbach se intellektuele eiendom omgegaan word ná sy dood.

Terloops: Breyten was, deels weens sy Zen-denke, baie ná aan die dood regdeur sy hele lewe. Georges Lory som dit so op (125): “Il se traitait lui-même de vieux bouffon, mais il prenait la mort au sérieux. Elle est omniprésente dans ses strophes.” Google se vertaling hiervan lees: “Hy het homself ’n ou nar genoem, maar hy het die dood ernstig opgeneem. Dit is alomteenwoordig in sy strofes.”

Ten einde laas is daar ook twee kodas wat die versameling gesprekke in Postumiteite vir Breyten vergesel.

In die eerste koda beskou T’Sjoen Afrika as ’n geskrewe ruimte. Hy sê dat Breytenbach se visie vir Afrika ’n plek van alternatiewe denke is (273).

Breytenbach promotes an imagination of Africa that is neither one-dimensional nor homogeneous. Rather, it is oriented toward creativity, standing in opposition to nationalist discourse, and presenting a shifting vision of Africa – not only because the continent is politically, historically, geographically, and culturally pluricentric, but also because Breytenbach himself developed a construct of Africa, that evolved throughout his writing career.

T’Sjoen skryf ook heelwat oor die Gorée Instituut en hoe dit inpas by Breytenbach se visie van ’n ruimte waar alliansies tussen die globale Suide en die globale Noorde gesmee word.

Die land van MOR, Breytenbach se grenslose plek van denke, kom ook onder die loep (278).

Critics occasionally refer to Breytenbach’s romanticization or idealization of the artist’s role in this regard. The author does indeed speak of dreams and visions, tentatively generating an image of an ideal existence that we would do well to embrace. Through the power of language and stories, and from a sense of wonder, we continue to imagine the world. What else remains to us in this fractured and disquieting earthly existence, on a continent like Africa, burdened by a torn colonial and postcolonial past? We may read Breytenbach’s reflections on the land of MOR as a sign of hope, even as a moral compass. The Middle World functions as an encouraging and indispensable transit zone, a site of self-determination, a polis in which the laws of capital, selfishness, and egocentrism do not reign, and where bureaucracy or the exploitation of people and planet are not tolerated.

Net soos Breytenbach homself deurentyd herbedink het, was sy visie oor die kontinent ook nie staties nie (281):

Just as Breytenbach’s identity takes on different configurations, so too does his construction of Africa. This imagery is shaped by the author’s reading and by the ways in which the perspectives of other thinkers are absorbed and transformed in his own work.

Die tweede koda handel oor Breytenbach se naïewe poging om Suid-Afrika te infiltreer en sy gevolglike inhegtenisname.

Breytenbach het lank vermoed dat Berend Schuitema, die man wat Breytenbach self gewerf het vir Atlas/Othela, hom verraai het. Conny Braam, wat betrokke was by die antiapartheidstryd, sou beweer dat Schuitema nie die probleem was nie. Breytenbach was naïef en het te maklik gepraat. Die naam van Craig Williamson, die superspioen van die apartheidjare, word egter genoem. T’Sjoen gaan krap dan in die argiewe en kom met baie interessante feite rakende Williamson vorendag. T’Sjoen sê (289):

De rol van Williamson moet natuurlijk verder worden onderzocht. Her en der heb ik wat speurwerk kunnen verrichten, onder meer in krantenknipsels bewaard in de Alexandre Moumbaris Papers in het Historical Papers Research Archive van de Universiteit van die Witwatersrand. Moumbaris was Grieks-Egyptisch verzetsstrijder, lid van het anc en veteraan van de paramilitaire anc-organisatie Umkhonto we Siswe (1961–1993), isiXhosa voor “speer van de natie”.

Baie interessant.

Ander praat, T’Sjoen bring byeen

Die grootste deel van die boek bestaan uit antwoorde op vrae wat T’Sjoen aan ander oor Breytenbach gevra het. Dis ’n gewigtige groep mense wat in Postumiteite vir Breyten byeengebring is.

In die eerste deel, gesprekke met digters en vertalers, verskyn bydraes deur Andries Bezuidenhout, Zandra Bezuidenhout, Robert Dorsman, Dominique Botha, Neil Cochrane, Marius Crous, Tom Dreyer, Klara du Plessis, Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen, Diana Ferrus, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Denis Hirson, Marlise Joubert, Kleinboer, Antjie Krog, Georges Lory, Johann Lodewyk Marais, Nkateko Masinga, Erwin Mortier, Charl-Pierre Naudé, Churchil Naudé, Bernard Odendaal, Pieter Madibuseng Odendaal, HJ Pieterse, Alwyn Roux, Alfred Schaffer, Laurens Vancrevel, Ilse van Staden, Hein Viljoen en Cas Vos.

In die tweede deel het T’Sjoen Breytenbach-navorsers met vyf vrae genader. Diegene wat geantwoord het, is Francis Galloway, Karen Kuhn, Alwyn Roux, Sandra Saayman, Marilet Sienaert, Annika van der Linde, Anke van der Merwe, Louise Viljoen en Andries Visagie.

Sommige van die antwoorde het reeds op LitNet se susterblad, Voertaal, verskyn, ander op die webwerf Versindaba.

Die antwoorde en die navorsing wat gedoen word, is vir my fassinerend, deels ook omdat soveel van die navorsers aan my onbekend is. Francis Galloway, Louise Viljoen en Andries Visagie lewer uit die aard van saak beredeneerde, skerp insigte, maar onder meer Sandra Saayman, dogter van Daantjie Saayman, was aan my onbekend en ek haar bydrae geniet. Anke van der Merwe het my laat regop sit. Haar navorsing het Breytenbach se “volle Afrikaanse poëtiese oeuvre ondersoek deur middel van korpuslinguistiek teen die agtergrond van die teoretiese raamwerk van laatwerk” (237). Daar was talle verassings vir my in hierdie boek, maar Van der Merwe se navorsing was so totaal anders en heeltemal buite my normale leespatrone.

Vrae aan die man wat vra

T’Sjoen het homself merendeels op die agtergrond gehou tydens die versamel van hierdie tekste, en by geleentheid het ek, uit blote nuuskierigheid, gedink dis dalk ’n goeie idee om vir hom, Yves T’Sjoen, ’n klompie vrae te vra oor sý betrokkenheid by Breytenbach. Ek wou onder andere van hom weet hoe hy met Suid-Afrika kontak gemaak het. Dit het fassinerende antwoorde, en verdere vrae, tot gevolg gehad. Ons gesprek is uiteindelik op Voertaal gepubliseer en is nou, effens verwerk deur T’Sjoen, ook in Postumiteite vir Breyten opgeneem.

Alles mooi bymekaar

Baie van die tekste in Postumiteite vir Breyten is wel op die internet te kry. Om dit alles egter in een band, mooi versorg en gekureer, te kon lees, was ’n bron van vreugde. Dit is gaaf dat Naledi kans sien om ’n Suid-Afrikaanse weergawe te publiseer – die wêreldburger Breytenbach was immers van Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse publikasie is moontlik gemaak deur die ruim ondersteuning van Skribis, die Belgiese uitgewer, die Universiteit Gent, die Gents Centrum voor het Afrikaans en die studie van Zuid-Afrika, asook Samespraak.

Postumiteite vir Breyten is ’n kleinood vir Breytenbach-lesers en ’n waardige huldiging vir die digter/dromer/skilder van Wellington. Soos Dominique Botha sê (67): “Breytenbach is die Maradona van die Afrikaanse poësie.”

Lees ook:

Breyten Breytenbach (1939–2024)

Breyten Breytenbach – aanhou beweeg en geraas maak ...

Gesprekskuns: Breytenbach se blywende, lewende nalatenskap

Herinneringe aan my oom Breyten

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Breyten; vir Breyten

Altyd Breyten, die man met die groen trui

Breyten Breytenbach (1939–2024)

Twee overzijden deur Yves T’Sjoen: ’n lesersindruk

Lesersindruk: Twee overzijden. Gesprekken op de literaire brug tussen Afrikaans en Nederlands geredigeer deur Yves T’Sjoen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top