Twee overzijden deur Yves T’Sjoen: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Twee overzijden, gesprekken op de literaire brug tussen Afrikaans en Nederlands
Redakteur: Yves T’Sjoen

Uitgewer: Academia Press
ISBN: 9789059964150

Yves T’Sjoen se inleiding van 22 bladsye, wat sy meer as 30 literêre gesprekke voorafgaan, het my laat besef ek is gelukkige blikskottel. Danksy direkte kontak met LitNet en Voertaal, maar ook ’n noue verbintenis met SASNEV oor jare heen, was ek lank reeds ’n nuuskierige afluisteraar van gesprekke op die literêre brug tussen Afrikaans en Nederlands. Nou nooi T’Sjoen meer mense om saam te luister en hy stel my ook bekend aan diegene wie se stemme ek andersins nooit sou kon hoor nie.

Maar waarom is gesprekke soos hierdie belangrik?

Alledaagse Afrikaanse mense, ook geleerdes wat wyd lees, verstaan deesdae al hoe minder Nederlands. Toe ek op skool was, het ons nog ’n Nederlandse boek gelees as deel van ons finale Afrikaanse opleiding. Selfs dit is deesdae nie meer deel van die leerplan nie. Wanneer ek by geleentheid skrywers soos Bennie Lindelauf na skole vergesel het, kon selfs die slimste klasse nie sy Nederlands volg nie. Ek moes dikwels tolk.

Met hierdie boek verleen T’Sjoen groter toegang tot die gesprekke tussen tale en letterkundes, én hy versamel baie interessante mense wat heelwat te sê het.

Die Afrikaanse letterkunde se ontstaan en die Nederlandse kolonis

Ons ken die breë geskiedenis van kontak tussen Nederlands en Afrikaans. Taalkundiges, soos (wyle) Christo van Rensburg, voer die ontstaan van Afrikaans terug na ’n tyd voor Van Riebeeck sy verversingstasie hier kom oprig het – die inheemse inwoners, wat gewoond was om handel te dryf met Arabiere wat ál met die Ooskus af gevaar het na die suide van Afrika, het aangepas en begin handel dryf met die Portugese, Franse, Engelse en Nederlandse skepe wat van Europa af om Afrika se suidpunt begin vaar het. Daar, reeds, is die fondamente van ’n nuwe taal gelê.

Met Van Riebeeck se aankoms aan die Kaap, die aanland bring van slawe en die uiteindelik skep en uitbreiding van ’n kolonie, het ’n nuwe taal ontstaan. Drie kenmerkende vorme van Afrikaans kan tot vandag teruggevors word na daardie kontak met die Europese handelaars. Kaaps is ’n beduidende deel van ons erfenis, wat steeds gevier word en al hoe meer aandag kry, selfs met ’n eie Kaapse woriboek wat onlangs verskyn het. Gariepafrikaans is deur mense soos Anastasia de Vries ondersoek en word geboekstaaf deur skrywers soos Thomas Deacon en Lynthia Julius, terwyl Oosgrensafrikaans verhef is tot die amptelike variant en vandag algemeen in gebruik is.

T’Sjoen vra dus nou wanneer Nederlandse letterkunde in Suid-Afrika opgehou bestaan en wanneer Afrikaanse letterkunde oorgeneem het. Was Van Riebeeck se dagboeke nog Nederlande letterkunde? Of was dit reeds die saadjie van ’n Afrikaanse letterkunde?

Sy ondersoek delf nie baie diep in die geskrewe geskiedenisse van Kaaps, soos die werke van Abu Bakr Effendi, óf die drukperse wat opgerig is by sendingstasies soos Genadendal nie. T’Sjoen maak dit egter wel duidelik dat ons nie kortsigtig moet wees en slegs na die stigting van blanke instansies soos die Genootskap van Regte Afrikaners, of die verklaring van Afrikaans as amptelike taal in 1925 te kyk nie; hy sien eerder ’n kontinuum wat uiteindelik van een taal se letterkunde na ’n ander taal oorgeskakel het – die datum is dalk minder belangrik.

T’Sjoen is ook deurgaans bewus daarvan dat ’n mens nie oor die Afrikaanse letterkunde kan praat sonder om ook die verhale en skrywes van en in Kaaps en Gariepafrikaans te betrek nie. T’Sjoen is ewe bewus daarvan dat die Afrikaanse letterkunde in gesprek is met inheemse tale soos Engels, Nama, en die amptelike Afrikatale in ons land. Net soos hy as Nederlandstalige Belg in kontak is met Franse letterkunde wat in sy eie land geskep word, so is Afrikaanse lesers ook in kontak met ander tale se letterkundes – al vind dit ongelukkig te min plaas. Die Nederlandse letterkunde, daarenteen, is deesdae gewoon nie meer buite akademiese sfere ’n groot kwessie onder Afrikaanstaliges nie – wat jammer is.

Die teenpool sou natuurlik ook waar wees. Nederland het lank gelede politieke bande met apartheid-Suid-Afrika verbreek, en ongelukkig was Afrikaans ’n groot deel van apartheid se ideologiese bagasie. Die digter en akademikus Alfred Schaffer het byvoorbeeld teenoor T’Sjoen opgemerk dat die kontakgeskiedenis tussen die twee letterkundes meer soos ’n swaaideur eerder as ’n brug is.

Binnelands of oor landsgrense heen?

T’Sjoen merk op dat tale soos Nederlands, Engels, Frans en Spaans verskillende letterkundes oplewer in verskillende lande; een taal, maar sienings en tekste uit talle wêrelddele. T’Sjoen vind dit dus nie vreemd om uit België kontak te bewerkstellig met die Afrikaanse letterkunde oor landsgrense heen nie. Hy wonder hoe ons in Namibië en Suid-Afrika aansluiting kan vind by die letterkundes van België, Nederland, Suriname, Aruba, Curacao of Indonesië, en natuurlik ook andersom, danksy die talige brug wat ons letterkundes moontlik maak.

Dit is opwindend.

Hoe benader ons ’n letterkundige geskiedskrywing?

T’Sjoen het verskeie ander pogings om die geskiedenis van verskillende letterkundes te boekstaaf gaan navors, en hy berig daaroor in sy voorwoord. Dit in sigself is die moeite werd om te lees.

T’Sjoen kyk veral na tekste wat oor die Engelse letterkunde in Suid-Afrikaanse geskryf is, maar hy delf dan ook veel verder na diegene wat, as voorbeeld, die geskiedenis van die Franse letterkunde oor landsgrense heen probeer boekstaaf het.

Uiteindelik besluit T’Sjoen dan dat hy gevallestudies sal gebruik, en veral sal aandag gee aan diegene wat reeds die literêre brug betree het. Laat húlle praat, laat húlle stemme gehoor word, dan word die navorsing nie bloot een navorser se siening en stem wat oor en oor gehoor word nie.

Wie staan op die brug en gesels?

T’Sjoen versamel dus ’n groot aantal skrywers, vertalers, akademici en selfs ’n uitgewer om die praatwerk te doen. Verskillende stemme, verskillende lande, verskillende tale en verskillende beroepe word hier byeengebring om te gesels oor hulle ervarings op die literêre brug tussen die Afrikaanse en die Nederlandstalige letterkundes.

Aan elkeen van hierdie uiteenlopende mense stel T’Sjoen vrae. So leer hy, as redakteur, en ons as die lesers, ’n wyduiteenlopende aantal standpunte ken. Elke bydraer word ook bekendgestel deur T’Sjoen sodat ons weet waar hulle inpas en hoekom hulle op die brug staan en gesels.

Hier is die lys deelnemers, as ek dit reg het: Benno Barnard, Simone Atangana Bekono, Zandra Bezuidenhout, Dominique Botha, Breyten Breytenbach, Wannie Carstens, Robert Dorsman, Babs Gons, Stefan Hertmans, Peter Holvoet-Hanssen, Lynthia Julius, Antjie Krog, Tom Lanoye, Danie Marais, Erwin Mortier, Charl-Pierre Naudé, SJ Naudé, Gert Vlok Nel, Fanie Olivier, Jolyn Phillips, Alfred Schaffer, Riana Scheepers, Francois Smith, Nicol Stassen, Marlies Taljard, Marc Tritsmans, Rob van der Veer, Miriam Van hee, Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk, Eben Venter, Peter Verhelst en Ingrid Winterbach.

Dit is groot name en dit is daarom ’n voorreg om die onderskeie sienings te kan lees. Die leser maak só ook met uiteenlopende standpunte kennis. Die boek heet immers Twee oversijde, oftewel twee teenoorgestelde kante. Tog – hoe meer ons die verskillende kante van ’n saak aanhoor, hoe groter word die bewussyn dat almal van ons wat toegang tot hierdie gesprekke op die brug het, gelukkig is om hulle te mag meemaak.

Lees ook:

Lesersindruk: Twee overzijden. Gesprekken op de literaire brug tussen Afrikaans en Nederlands geredigeer deur Yves T’Sjoen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top