'n Onderhoud oor kunsmatige intelligensie en die algoritme in die klaskamer: ’n probleem of probleemoplossing?

  • 0

Riaan van der Bergh, adjunkhoof- uitvoerende beampte van Fedsas, praat met Naomi Meyer oor die gebruik van KI in die klaskamer.

Riaan, ons het ’n rukkie gelede gesels oor die gebruik van KI in die klaskamer. Dis nou weer die einde van die toetsreekstyd in baie skole en dalk ’n goeie tyd om weer hieroor te praat. Dis ’n ingewikkelde onderwerp, en ons almal het verskillende opinies daaromtrent. Wat is jou gedagtes omtrent oplossings en die gebruik van KI vir opvoedkundige doeleindes?

Ek sien groot potensiaal en geleenthede op ons deurstoep met die KI-hulpmiddele wat reeds spesifiek op leer en onderrig gefokus is. Die algemene gereedskap, soos ChatGPT, Claude and Gemini, bied ook baie voordele. Ek is self ’n ouer en genereer al die afgelope twee jaar vir my kinders oefenvraestelle sonder memorandums in verskeie van hulle vakke. Nie net skep dit goeie oefenvoorbeelde nie, maar dit gee die tieners ook kans om eksamenfiks te word. Die ander groot voordeel is die skep van lesplanne en klasgeemateriaal vir onderwysers. Programme soos Brisk, Diffit, MagicSchools en NotebookLM skep kreatiewe en vindingryke materiaal binne sekondes. Dit bespaar nie net baie tyd vir onderwysers nie, maar verryk die klasgeeproses en skep oefeninge wat dalk meer persoonlik en gedifferensieerd is om elke leerder se leer-DNS te pas. Leesstukke, plakkate, vasvrae, langvrae, potgooie, video-aanbiedings (in verskeie tale) kan maklik gegenereer word.

Ek dink nie die onderwyssektor kan hierdie kragtige hulpmiddels vermy en nie voordeel trek vir leerders en onderwysers nie. Ons móét dit eenvoudig gebruik en leer hoe om die risiko’s te mitigeer.

........
Ek dink nie die onderwyssektor kan hierdie kragtige hulpmiddels vermy en nie voordeel trek vir leerders en onderwysers nie. Ons móét dit eenvoudig gebruik en leer hoe om die risiko’s te mitigeer.
........

Daar is twee gelaaide frases in my vorige vraag: “oplossings” en “opvoedkundige doeleindes”. Dink jy nie KI sal veroorsaak dat kinders minder krities oor sake dink nie? Of sal hulle nie doodgewoon vir KI vra om hulle werksopdragte namens hulle te doen nie?  Hoe hanteer mens hierdie sake – as ouer of as onderwyser?

Kinders wat wil kortpad neem en selfs wil kul, sal dit steeds doen, soos in die verlede. Kritiese denke en dieper leer is nie ’n waarborg in die huidige stelsel nie.

........
Kinders wat wil kortpad neem en selfs wil kul, sal dit steeds doen, soos in die verlede. Kritiese denke en dieper leer is nie ’n waarborg in die huidige stelsel nie.
.........

Trouens, soms gaan dit net oor “punte versamel” vir leerders. As leerders eers vra of die materiaal in die toets gedek gaan word, dan weet ons hulle leer vir punte en nie vir leer nie. Ek dink as jy goeie gereedskap goed inspan, dan kan dit die kritiese denke verhoog, en as jy dit sleg inspan, dan kan dit jou huiswerk doen en leer jy niks nie.

Skole moet begin leiding gee oor die gebruik van die ander intelligensies om jou huiswerk te doen. Soms was dit OI – ouerintelligensie – of boetie of sussie se taak van laasjaar. Ons sal moet praat oor die doel van leer, akademiese integriteit en die verandering in modelle om seker te maak ons bly relevant in die inligtingsera. Feite is nou naby aan almal met toestelle in ons sakke. Ons moet leer om te verstaan wat ons weet, hoe om probleme op te los, hoe om respek te hê, hoe om verhoudings te bou en te bestuur. Die taak van skool is nou baie wyer as lees, tel en skryf.

Ouers en onderwysers moet die gesprek lei oor KI en waarvoor dit gebruik word. Dit is nie nodig om alles te polisieer nie, maar dis nodig om riglyne te gee. Op sekere vlakke is dit toelaatbaar (groen lig), op ander vlakke moet dit beperk word en op spesifieke maniere gebruik word (oranje lig), en op ander vlakke moet dit verbied word (rooi lig). Leerders moet leer hoe om openbaar te maak dát hulle dit gebruik het en hóé, moet verwysings gee en bronne raadpleeg wat aangehaal word.

Daar is ook n groot menslikheid en waardes in gesprekke wat hiermee saamgaan. Respek, integriteit, eerlikheid en ander waardes moet sterk na vore kom in hierdie era waarin ons menswees soms onder druk lyk as gevolg van die gereedskap en platforms van ons tyd.

Mens wil ook nou nie die kind met die badwater uitgooi nie. KI bied soveel moontlikhede: Mens kan nuwe tale aanleer, in gesprek tree met ’n bot wat jou nie veroordeel oor sogenaamde dom vrae nie. Mens kan ander moontlikhede en oplossings help ontgin. Tog: As mens met ’n bot praat, is dit uiters belangrik om te weet dat jy nie met ’n mens praat nie. ’n Menslike gespreksgenoot aanvaar verantwoordelikheid of kan aanspreeklik gehou word vir wat hy sê. Hy het ’n emosionele aspek aan wat hy sê. Sy kennis en navorsing is beperk, maar outentiek. En ek het nog nie eens uitgekom by kopieregkwessies en KI nie. Wat dink jy hiervan – is hierdie sake hoegenaamd relevant om in gedagte te hou as mens praat oor skoolwerk en KI?

Dit is uiters relevant om hieroor te praat. Eerstens moet ons verstaan dat elke keer as jy met so n platform interaksie het, jy persoonlike data “weggee”. Wees dus baie bewus van jou persoonlike inligting en die beskerming daarvan. Verder moet ons leerders leer om tussen die bot en ’n mense te onderskei. Elke platform sê uitdruklik dat daar moontlikhede vir foute in antwoorde is. Gaan dit na en toets krities die uitsette van platforms.

.........
Dit is uiters relevant om hieroor te praat. Eerstens moet ons verstaan dat elke keer as jy met so n platform interaksie het, jy persoonlike data “weggee”. Wees dus baie bewus van jou persoonlike inligting en die beskerming daarvan. Verder moet ons leerders leer om tussen die bot en ’n mense te onderskei. Elke platform sê uitdruklik dat daar moontlikhede vir foute in antwoorde is. Gaan dit na en toets krities die uitsette van platforms.
........

In die middel van die 15de eeu het kerk- en regeringsleiers dieselfde dilemma gehad toe die losletterdrukpers sy verskyning maak. Hulle was bekommerd oor die totale chaos en onstabiliteit wat kon ontstaan as “gewone” mense nou inhoud kan skep en laat druk. Die vraag het toe ook bestaan of mense tussen waarheid en leuen kan onderskei . Die verantwoordbaarheid en verantwoordelikheid van gedrukte inhoud was in 1480 die grootste kwessie. Vandag dink ons alles in druk is van die hoogste standaard en dit wat op die skerm verskyn is verdag. Dalk moet ons nie so bang wees hiervoor nie en die samelewing leer om goeie oordeel te ontwikkel.

Ons hoor soms dat Afrika KI kan gebruik om ongelykheid te help uitwis, maar tog word water uit ’n waterskaars kontinent soos Afrika op die oomblik nog gebruik om KI-stelsels af te koel, en daar is nog baie ander uitdagings en knelpunte betreffende die gebruik van kunsmatige intelligensie in Afrika. Wat kan positief wees vir skole in Suid-Afrika om KI aan te wend en kinders te help vorder – in hul eie tale, op maniere wat nog nie vantevore gevisualiseer kon word nie?

Ek dink, en hoop, dat ons nader aan die digitale brug kom as die voorbestaan van die digitale skeiding. Dit is baie waar dat toegang tot data, toestelle en ander tegnologie nie dieselfde lyk vir alle segmente van die diverse Suid Afrikaanse bevolking nie. Daar is egter saam met die digitale skeiding die moontlikheid van die digitale brug waar die beste onderwysers op platforms miljoene leerders kan bedien eerder as net een klas. Ons kan moontlik die afwesigheid van onderwysers, ekstra klasse en dieper leer aanspreek met tegnologie wat persoonlike leer op eie skedule moontlik maak – en in al ons landstale en meer. KI as ’n tutor is een van die sterkste modelle wat tans groei met die uitrol van KI.

........
Ons kan moontlik die afwesigheid van onderwysers, ekstra klasse en dieper leer aanspreek met tegnologie wat persoonlike leer op eie skedule moontlik maak – en in al ons landstale en meer. KI as ’n tutor is een van die sterkste modelle wat tans groei met die uitrol van KI.
........

Wat is jou visie en toekomsgedagtes oor die gebruik van KI in die opvoedkundige sektor? Gee ’n paar voorstelle vir onderwysers, ouers, beheerrade, kinders en almal betrokke in die onderwys in Suid-Afrika, asseblief?

Die grootste toekomsgedagte wat ek het, is dat ons nie moet praat van die KI-revolusie nie, maar van die KI-evolusie. Revolusie het negatiewe konnotasies, en evolusie kan vir ons dalk dui op genormaliseerde veranderinge en aanpassings. Soos die TV wat in 1976 as ’n euwel beskou is, nou gebruik word om daardie selfde kerke wat daarteen gepreek het, se boodskap aan miljoene uit te saai, kan KI ook vir die positiewe gebruik word.

Die graad 12’s van 2025 was die laaste jaargroep op skool wat voor die slimfoon gebore is. Ons samelewing verander en die skool en onderwys moet daarby aanpas om leerders voor te berei vir die wêreld van werk.

........
Ek het dus ’n groot verwagting en hoop (noem dit dalk visie) dat ons die gereedskap van ons tyd sal omarm, aan die debat sal deelneem, risiko’s sal identifiseer en dit sal mitigeer en bestuur sodat ons die voordeel vir die goeie mense in die samelewing kan skep eerder as om net die nagmerrie van die negatiewe te laat uitspeel.
.........

Ek het dus ’n groot verwagting en hoop (noem dit dalk visie) dat ons die gereedskap van ons tyd sal omarm, aan die debat sal deelneem, risiko’s sal identifiseer en dit sal mitigeer en bestuur sodat ons die voordeel vir die goeie mense in die samelewing kan skep eerder as om net die nagmerrie van die negatiewe te laat uitspeel. Ons het dit met kontaksport redelik onder die knieg gekry en het selfs suiker in die snoepies probeer verminder.

Daar is soveel voorbeelde van wat alreeds in gebruik is. Opsomming van baie werk, vertalings, voorbeeldlesse, oefening en vraestelle, navorsing, toesprake, musiek maak, potgooie skep, aanbiedings struktureer, idees genereer, finansiële state nagaan, toerplanne skep, eetplanne formuleer, prente skep en dit selfs vir Bybelstudie gebruik. Dit alles is onder andere wat ek alreeds doen.

Lees ook:

Indeks: notas, toetse en vraestelle

Wiskunde met LitNet-video: Graad 9-faktorisering, oefening 2

Wiskunde: Graad 1-vraestel en memorandum, eerste kwartaal

Wiskunde met LitNet-video: Graad 10-kwadratiese getalpatrone, kenmerke en vrae

Afrikaans Huistaal: Graad 12-vraestel en memorandum, eerste kwartaal

Wiskunde: Graad 7-vraestel en memorandum, eerste kwartaal

Lewenswetenskappe: Graad 10-vraestel en memorandum, eerste kwartaal

Graad 12: Onderwêreld deur Fanie Viljoen – opsomming en analise

Te min geld vir onderwys: ’n onderhoud oor die regering se plig en ouers se taak

Die totstandkoming van die Nasionale Raad vir Onderwys en Opleiding: ’n onderhoud met Jaco Deacon

Kunsmatige intelligensie kan leergeleenthede verryk

Kunsmatige intelligensie en die dekolonialisering van onderwys in Suid-Afrika

Is ons in ons moer in met KI?

Die impak van kunsmatige intelligensie, generatiewe kunsmatige intelligensie en robotika op gesondheidsorg: Sal dokters oorbodig word?

Kunsmatige intelligensie: Kan ’n bot die Hertzogprys wen?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top