
...
Kreatiewe persone kan KI eerder verantwoordelik gebruik. Sien KI as ’n gereedskapstuk en nie ’n vervanging van jou eie kreatiwiteit nie.
...
Onlangs deel ’n musiekkunstenaar ’n foto van ’n e-pos wat hy van ’n musiekmaatskappy ontvang het. Die musiekmaatskappy wil sy liedjies en lirieke graag gebruik. Hulle wil hom ’n kontrak aanbied. Hulle dink sy liedjies is die volgende groot treffers op Afrikaanse radiostasies en wil “vir lank” saam met hom werk. Daar is net een haakplek: Niemand mag ooit weet dat dié liedjies met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) geskep is nie.
Ek bly dink aan ’n enkele reël in hul aanbod aan hom terwyl my koffie bitter begin proe: “[D]ie publiek verkies outentieke kunstenaars en liedjies [...].”
Ek wil tegelyk lag en huil. Daar word verwag van hierdie kunstenaar dat hy vir die publiek moet lieg. Sy platemaatskappy is beslis bereid om dit ook te doen. Alles in die naam van tantieme, verkope en klieks.
Die kort en lank van die hele morele dilemma wat ek toe ondervind, is dat kreatiewe mense per slot van sake geld maak deur voor te gee. Hulle verdien hul inkomste deur te verbeel, te verdraai, te herkonstrueer en te interpreteer. Wat maak KI dan anders? wonder ek vir dae lank. ’n Taalmodel, die onderliggende tegnologie van enige KI, doen nie meer of minder as daardie einste funksies nie.
...
Dit is bitter dringend nodig dat dieselfde tipe plaaslike inisiatiewe van baan gestuur word om taalspesifieke etikettering vir KI-gegenereerde kreatiewe produkte te ontwikkel. Nie net vir Afrikaans nie, maar vir elkeen van ons erkende tale.
...
Dink mooi daaroor, maan ek myself – baie kunstenaars is tog net ’n beeld, ’n persona, op ’n verhoog. Skrywers, byvoorbeeld, is nie die karakters in hulle boeke nie. Is KI dan nie maar net nog ’n verlengstuk van die kreatiewe persoon nie? Nie net nog ’n argief wat geraadpleeg word in die skep van iets nuuts wat verkoop kan word aan die massas nie?
Eina, my gatsak
Die opkoms van KI het so vinnig gebeur dat dit haas onmoontlik is om die impak daarvan op kultuur en taal in te neem en te verstaan. Waar dinge lelik raak, is wanneer daardie invloed alreeds seermaak waar dit saak maak: in die kreatiewe entrepreneur se bankrekening.
Wie kwalifiseer as ’n kreatiewe entrepreneur? Myns beskeie insiens: enigiemand wat met taal of die visuele- of oudioverwerking daarvan omgaan. As jy op enige manier betrokke is by of aangewese is vir jou inkomste uit die maak van inhoud of produkte – waar taal, hetsy deur gedrukte woorde, visuele beelde of klankgrepe, gebruik word – is jy ’n kreatiewe entrepreneur. Dit sluit in joernaliste, skrywers, digters, teksredigeerders, fotograwe, advertensiebeamptes, grafiese kunstenaars, akteurs, dramaturge, ensovoorts. Dit is ’n baie lang lys van nis-entrepreneurs in die eina-klein nismark wat die Afrikaanse kommersiële produksieveld is.
Hoe brand KI ’n gat in jou beursie? Maklik. Dit kan méér as jy doen en baie, baie vinniger:
- Generatiewe modelle kan teks, foto’s, video’s en musiek skep deur groot datastelle te analiseer en “nuwe” inhoud te genereer. In musiek word KI gebruik om komposisies te skep, lirieke te skryf en volledige liedjies te produseer. Daardie einste gebruik werk soomloos in die advertensie-, film- en videospeletjiesbedryf.
- In die filmbedryf kan KI akteurs naboots, hul stemme en uitdrukkings foutloos namaak. KI kan ook baie komplekse kameraskote foutloos genereer en op versoek dieselfde toneel oor en oor heraanbied totdat die regisseur tevrede is.
- In die bedrywe waar taal alleenlik die draer van die kreatiewe kommersiële produk is, word KI gebruik vir die generering van artikels, stories en poësie. Dit word vir vertaling gebruik, vir die samestelling van die verhaal se plot, die nagaan van feite, in-diepte navorsing oor die geskiedenis of ’n spesifieke onderwerp en natuurlik as speltoetser op ’n massiewe skaal. Daar is ook die neteligheid dat KI gebruik word om “beter” te skryf – herkonstruksie van sinne en die toepassing van ’n sekere styl van skryf kan met die druk van ’n knoppie bewerkstellig word.
Beeld, taal en klank is die driehoek waarop die Afrikaanse, en enige ander, kreatiewe kommersiële bedryf gebou is. Jy luister nie net na RSG nie. Jy sien die advertensies, hoor die liedjies, lees die inskrywings op sosiale media. Dieselfde geld vir kykNET, VIA, Netwerk24, Maroela Media, PRH, JB en ander uitgewers se produkte. Dit is ’n ekosisteem wat vierkantig op die skouer van die kreatiewe entrepreneurs rus.
En dit is juis hier, waar die vernaamste drie funksies begin oorvleuel, waar die doodsklok luid vir die Afrikaanse kreatiewe bedryf lui. Nie almal is meer nodig nie. Net ’n subskripsie tot die nuutste KI-model en ’n vesellynverbinding tot die internet.
Totsiens akteurs. Totsiens sangers. Totsiens skrywers. Totsiens digters. Totsiens die duisende wat agter die skerms in tydskrifte, koerante, uitgewers, filmhuise en televisieproduksiemaatskappye werk. Koebaai vryskutwerk. Nie meer nodig nie, dankie. KI kan die boek skryf, die draaiboek, die klankbaan, die trefferlied en daarna die video- en musiekproduksie uitvoer. En vir ’n bietjie ekstra – al die bemarkingsmateriaal, artikels en berigte ook behartig.
Duisende mense se werk word KI se taak.
Die KI-superagent
KI se ontwikkelingstrant is fassinerend om dop te hou. ’n Jaar gelede het ons almal oopmond gestaar toe ChatGPT ewe astrant “antwoorde” kon gee op komplekse wiskundeprobleme of wyd kon gesels oor baie ingewikkelde kulturele of geskiedkundige oomblikke.
In 2026 betree ons die era van KI-superagentskap. Dit is nie net meer één KI waarmee ons nou te doen kan kry nie, maar ’n swerm van KI-agente wat onverpoosd in die agtergrond saamwerk om vir jou nou nog meer te gee as waarna jy vra en om nog meer te doen as wat jy voorheen kon doen.
Hier is ’n voorbeeld van hoe so ’n KI-superagent vir ’n skrywer kan werk:
- Die skrywer kies ’n tema;
- die KI lees al die skrywer se vorige boeke en identifiseer sy of haar skryfstyl;
- die KI-superagent skop in:
- Een KI doen navorsing oor die tema;
- ’n ander KI genereer name, plekname en storielyne;
- ’n ander KI werk die oorkoepelende plot uit;
- ’n ander KI werk die hoofstukbeplanning uit;
- ’n ander KI skep die karakters in ’n haarfynbeplanning van fisiese voorkoms, taalregister, taalgebruik, maniërismes en komvandaan;
- ’n ander KI begin die inleiding na elke hoofstuk skryf en die slottoneel van daardie hoofstuk;
- ’n ander KI bied die hoofstukke vir die skrywer aan om te kontroleer en skryf dan die inhoud tussen die openingsparagraaf en die slottoneel;
- ’n ander KI pas die skrywer se skryfstyl toe op wat reeds geskryf is;
- ’n ander KI lees die hoofstukke hardop voor vir die skrywer;
- ’n ander KI versorg die teks;
- ’n ander KI ontwerp die voorblad;
- ’n ander KI stel ’n bemarkingsplan op;
- ’n ander KI skryf persverklarings wat aan mediahuise en koerante gestuur moet word;
- ’n ander KI stel ’n lys op van mediahuise en koerante;
- ’n ander KI stel ’n lys op van drukkers vir die boek teen die goedkoopste opsie;
- ’n ander KI kontak drukkers en mediahuise om voorbrand vir die boek te maak, hetsy per e-pos of per foon;
- ’n ander KI skep bemarkingsvideo’s, plakkate en aanlyn advertensies vir die boek;
- ’n ander KI skep ’n webwerf vir die boek en ook die sosialemedia-kanale.
- Die skrywer sit en kyk hoe sy of haar nuwe roman binne ’n uur of twee voor hulle oë vorm aanneem.
Klink dit soos bog vir jou?
Ek wens dit was. KI-superagente is alreeds in internasionale besighede soos Amazon, Goldman Sachs, RyanAir en die Amerikaanse regering ontplooi met enorme sukses. Duisende werksure word gespaar. Produksie skiet die hoogte in. Excel-sigblaaie verdwyn. En duisende verloor hul werk. Net Amazon alleen het 30 000 mense die afgelope drie maande afgedank. Hulle is nie meer nodig nie.
Ek kan nie meer nie
Jy kan vergewe word as jy ’n kreatiewe entrepreneur is en skielik voel hoe ’n koue hand om jou keel vou. KI en die kreatiewe persoon stamp kop en dit het alles met kapasiteit te make. Dit is ’n feit soos ’n koei en moeilik om te ontsnap: KI se produksiekapasiteit oortref die mens s’n met miljoene persentasiepunte. KI se produksiekapasiteit is onbeperk. Menslike kreatiewe entrepreneurs s’n is beperk.
Ek kan nie ’n nuwe roman in ’n dag skryf nie. KI kan. Ek kan nie musiek, lirieke én ’n musiekvideo in ’n dag skep nie. KI kan. Ek kan nie ’n hele tydskrif se uitleg doen, die artikels skryf, die voorblad ontwerp, die beelde skep en die taalversorging in ’n dag doen nie. KI kan.
KI kan en ons kreatiewe entrepreneurs kan nie méér nie. Die wye publiek het alreeds snuf in die neus gekry – want wie wil dan nou nié elke oggend wakker word en ’n splinternuwe roman van hul gunstelingskrywer lees nie? Wie wil dan nou bekommerd wees oor wie en wat die liedjie geskryf het – as dit steeds jou voete laat jeuk en jy wil saamsing? Wie gee nou eintlik om of die hele blerrie koerant deur ’n KI geskryf is? Die foto’s is dan so mooi. Vir wie pla dit nou juis as my gunstelingsepie vrot is van gegenereerde storielyne en KI-geskepte karakters en videobeeldmateriaal?
Is ons in ons moer in?
Sjoe, wat ’n moeilike vraag om te beantwoord. Kom ons begin by die besliste ja, ons is.
Studies toon dat musikante tot 24% van hul inkomste teen 2028 kan verloor aan KI, met kumulatiewe verliese in miljarde dollars en euro’s. In die kreatiewe industrieë voel meer as twee-derdes van werkers dat hul werksekuriteit ondermyn word, en vryskutwerkers ervaar drasties verminderde verdienste. Illustreerders en vertalers rapporteer dat ’n derde tot meer as 40% van hul inkomste daal weens KI.
...
In die kreatiewe industrieë voel meer as twee-derdes van werkers dat hul werksekuriteit ondermyn word, en vryskutwerkers ervaar drasties verminderde verdienste.
...
In Afrikaans, waar die mark klein is, is die impak selfs groter. Boeke, artikels en musiek word reeds deur KI gegenereer, wat kleiner uitgewers en onafhanklike kunstenaars benadeel of selfs tot hul sluiting kan lei. KI-musiek kan inkomste genereer sonder om menslike talent te betaal, wat pryse afwaarts druk en menslike skeppers se lewensvatbaarheid ondermyn.
Voorspellings wys dat KI take in kuns en ontwerp grotendeels gaan outomatiseer, en kreatiewe rolle soos skrywers en ontwerpers sien alreeds ’n aansienlike afname in die vraag na hul talente. Die KI-vloed kom en dit is ’n bysaak of dit in Afrikaans, Engels of Swahili gaan wees. Elke kreatiewe entrepreneur op die planeet gaan sukkel om hul mensgemaakte produk te smous.
Maar daar is hoop
En dit is nie ’n grashalm waarna ons hoef te gryp nie. Dit is inherent deel van wie ons as mens is. Moet nie uit die oog verloor dat KI niks meer as ’n klomp enorme databasisse, rekenaarverwerkers en geheueskywe is nie. KI kan nie “dink” in die tradisionele sin van die woord nie. KI kan nie emosie voel nie. KI sukkel om konteks te verstaan. KI kan nie oor diep onderwerpe filosofeer nie. Emosie, konteks en filosofie is wat ons menslik maak. Dit is ook daardie drie elemente wat dikwels mekaar ontmoet om die magiese vonk af te gee wat iets totaal en al nuuts tot stand bring: skepping. KI kan nie skep nie. KI kan net opgooi wat hy alreeds het, dit herrangskik, anders aanbied of op ’n nuwe manier probeer stel. Maar iets heeltemal nuut, wat nog nooit tevore bestaan het, uit “niks” optower? Aikôna. KI kan nie.
In ’n ander artikel het ek oor die Uncanny Valley-effek gesels. Daardie selfde oeroue instink om te kan onderskei tussen wat mensgemaak en wat vals is, is vir kreatiewe entrepreneurs manna vanuit die hemel. Jy het dit beslis al self ondervind. Die koerant dra die inligting so effens wangebalanseerd en kil oor. Die liedjie luister lekker – maar dit voel vervangbaar, of daar is stukkies in die musiek wat ek al telkemale tevore elders gehoor het. Die boek lees so ’n bietjie soetsappig, onsamehangend of geforseerd. Die verhaal kom bloedloos voor. Alles is daar – die karakters, die storie, die intrige – maar “iets” voel nie reg nie.
Daardie gevoel wat jy kry as jy ’n boek, gedig, artikel, resensie of berig lees wat jou koud laat, is die “vonk” van menslike kreatiwiteit waarna jou brein onbewustelik soek, maar nie kan vind nie. Dieselfde gebeur as jy ’n KI-geskepte video kyk of na ’n KI-geskepte liedjie luister. Dis naais en alles – maar daar kort “iets”.
ʼn Waarskuwing aan die kreatiewe entrepreneur wat KI inspan
Die etiese kern van KI in kuns lê in deursigtigheid. Wanneer maatskappye begin vereis dat KI-gebruik geheim gehou word, ondermyn dit vertroue en mislei dit die publiek.
Verbruikers waardeer boeke, musiek, films en ander kreatiewe kommersiële produkte minder as hulle weet dit is KI-gegenereer, selfs al is dit van hoë kwaliteit. Hulle skat dit goedkoop en maklik vervangbaar. Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dit is ’n wêreldwye tendens. KI-gegenereer beteken “gemaak om weggegooi te word” of iets wat jy teen groot afslag kan bekom. Dink maar aan tuisgebakte koekies en die koekies op die rak in Spar. Dit is nié dieselfde ding nie.
...
Wat verbruikers meer waardevol skat, is kulturele outentisiteit.
...
Wat verbruikers meer waardevol skat, is kulturele outentisiteit. Veral in Afrikaans is daardie stelling waar. Die “Afrikaanse datastel” is beperk vir KI – ons funksioneer in ’n nismark. KI kan net soveel “leer” en dan is daar niks om verder te leer in Afrikaans nie. Dus kan KI maklik die subtiele kulturele nuanses in Afrikaanse literatuur byvoorbeeld ignoreer of bestaande, suksesvolle boeke doodeenvoudig namaak tot vervelens toe. Alle boeke, gedigte, liedjies en filmwerk kan in ’n baie kort tydjie almal na mekaar begin klink of lyk. Dit is nie meer outentiek nie. Dit is ’n herverpakking van iets wat alreeds bestaan het.
Wees dus gewaarsku, kreatiewe entrepreneur in Afrikaans – deur KI te gebruik en die uitkomste dan as jou eie kreatiewe werke voor te hou vir finansiële gewin, gaan jy binnekort nes die res klink, lees en kyk. Jy gaan nie uniek wees nie. Afrikaans is uniek.
KI as verantwoordelike gereedskap
Kreatiewe persone kan KI eerder verantwoordelik gebruik. Sien KI as ’n gereedskapstuk en nie ’n vervanging van jou eie kreatiwiteit nie. Dit beteken KI kan help met navorsing, ideegenerering, konsepontwikkeling en tegniese produksie, soos om konsepte vir karakters, storielyne, klankeffekte of visuele elemente vinnig te genereer, maar die finale besluit oor styl, emosie en boodskap bly by die mens.
Byvoorbeeld, ’n skrywer kan KI gebruik om alternatiewe sinstrukture of agtergrondnavorsing te verskaf, maar steeds die unieke stem en die emosionele “vonk” van die verhaal self inpas. ’n Musikant kan KI laat help met ritmes of akkoordkombinasies, maar die melodie en lirieke so vorm dat dit persoonlik en kultureel relevant en uniek bly. Op hierdie manier funksioneer KI as ’n versterker van menslike kreatiwiteit, nie ’n vervanger daarvan nie, en beskerm dit terselfdertyd die outentisiteit en waarde van kreatiewe werk.
Daar bestaan dan ook geen rede hoekom jy die gebruik van KI in jou kreatiewe werk hoef weg te steek nie. KI word ’n pen, ’n buisie verf, ’n beitel, ’n naslaanboek of ’n liniaal in die mens se hand.
Wie beskerm die kreatiewe entrepreneurs in Afrikaans?
Niemand nie. Daar bestaan tans geen oorkoepelende, wêreldwye wetgewing hier of elders wat dit moontlik maak vir ’n kreatiewe entrepreneur om hom- of haarself te verskans teen die vernietigende effek van KI op kreatiewe kommersiële produkte nie. In die EU en elders is daar wetgewing wat deursigtigheid oor KI-inhoud verplig, maar ons is totaal en al uitgelewer aan menslike ondersoek hier. Die persone wat ons Afrikaanse kreatiewe produk koop, moet vrae begin vra oor waar die boek, film, gedig of liedjie vandaan kom.
...
Daar bestaan tans geen oorkoepelende, wêreldwye wetgewing hier of elders wat dit moontlik maak vir ’n kreatiewe entrepreneur om hom- of haarself te verskans teen die vernietigende effek van KI op kreatiewe kommersiële produkte nie.
...
’n Positiewe gevolg van KI wat nie mens is nie, is dat geen inhoud wat KI geskep het, gelisensieer kan word nie. Suid-Afrika se kopieregwet vereis uitdruklik menslike outeurskap. Voeg daarby dat baie van die gebruiksvoorwaardes van KI juis is dat wat die KI produseer, nie aan jou behoort nie. Jy kan nie lisensieer wat jy nie besit nie. (Dáár is nou vir jou ’n tameletjie! Absoluut niks keer enige iemand om die KI-gegenereerde Afrikaanse danstreffer op die radio vir hulself te vat, te verander en volgende week die trefferparades te klim nie.)
Die groot kokkedore wat KI gehelp skep het en steeds verantwoordelikheid neem vir die rasse skrede vooruitgang daarvan, het lank reeds planne beraam om die moontlike aversie van die mensdom teenoor KI te kortwiek wanneer dit begin posvat. Google, byvoorbeeld, is besig met die Google SynthID-projek – ’n toepassing wat KI-gegenereerde teks, video en foto’s oral op die internet, rekenaars, slimfone en ander digitale toestelle sal identifiseer en subtiel vir die verbruiker laat weet: “Hei, dié boek / video / foto / gedig wat jy nou kyk, is 100% KI of gedeeltelik met KI gemaak. Ek sê maar net ...”
Plaaslike oplossings is dringend nodig
Dit is bitter dringend nodig dat dieselfde tipe plaaslike inisiatiewe van baan gestuur word om taalspesifieke etikettering vir KI-gegenereerde kreatiewe produkte te ontwikkel. Nie net vir Afrikaans nie, maar vir elkeen van ons erkende tale. Die toekoms behels databasisse vir lisensiëring en wetgewing om verbruikers te beskerm, sodat hulle weet of inhoud KI-gegenereer is.
Dit is nodig om menslike kreatiwiteit te beloon. Dit is nodig dat Afrikaanse kreatiewe entrepreneurs beskerm word. As ons regering dit nie gaan doen nie, is dit in die hande van die skrywers, digters, sangers, akteurs en visuele kunstenaars om die oorlogdrom te slaan.
KI ontwikkel vinnig en bied gereedskap vir kreatiwiteit en navorsing, maar dit bedreig inkomste, skep etiese dilemmas en vereis identifikasiemetodes. As die kreatiewe mense wat nuwe dinge in Afrikaans skep, nie beskerm gaan word nie, gaan nuwe dinge in Afrikaans ophou om te bestaan.
Vir meer inligting en nog leeswerk:
Amazon confirms another 16000 layoffs (2026): https://www.bbc.com/news/articles/cx2ywzxlxnlo
BBC-verslag oor kreatiewe werkers se persepsies van KI se impak op werksekuriteit (2025): https://www.bbc.com/news/articles/c8e9627w156o
CISAC- globale ekonomiese studie oor inkomsterisiko vir skeppers deur generatiewe KI (2024): https://www.cisac.org/Newsroom/news-releases/global-economic-study-shows-human-creators-future-risk-generative-ai
Die Suid-Afrikaanse Wet op Kopiereg (98 van 1978): https://www.gov.za/documents/copyright-act-16-apr-2015-0942
EU AI Act-implementering en deursigtigheidsvereistes vir KI-gegenereerde inhoud (2025): https://creativesunite.eu/article/the-eu-is-drafting-rules-to-identify-ai-generated-content-heres-what-the-first-proposal-says
Google SynthID: https://blog.google/innovation-and-ai/products/google-synthid-ai-content-detector/
GPTZero en ander AI-detectors se akkuraatheid in 2025–2026: https://gptzero.me/news/best-ai-detectors
Inside Goldman Sachs big bet on AI (2025): https://www.pymnts.com/artificial-intelligence-2/2025/inside-goldman-sachs-big-bet-on-ai-at-scale/
Jakkalsvibes: Afrikaanse KI-musiek wat die top-20 bereik (2025): https://www.thegotoguy.co.za/post/jakkalsvibes-the-afrikaans-ai-hitmaker-fans-can-t-stop-playing
Queen Mary University-verslag oor kreatiewe industrie-werkers se vrese vir KI (2025): https://www.qmul.ac.uk/media/news/2025/queen-mary-news/pr/creative-industry-workers-feel-job-worth-and-security-under-threat-from-ai-.html
Society of Authors-opname oor werkverlies aan KI vir illustreerders en vertalers (2024): https://societyofauthors.org/2024/04/11/soa-survey-reveals-a-third-of-translators-and-quarter-of-illustrators-losing-work-to-ai
TRAIN Act (VSA-wetsontwerp vir deursigtigheid in KI-opleiding) (2025): https://www.welch.senate.gov/welch-leads-bipartisan-bill-to-protect-musicians-artists-and-creators-from-unauthorized-ai-training
Voorgestelde veranderinge aan Die Suid-Afrikaanse Wet op Kopiereg (98 van 1978): https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/201811/copyright-amendment-bill-b13b-2017.pdf
Why consumers are rejecting AI generated content (2025): https://www.koinsights.com/the-authenticity-premium-why-consumers-are-rejecting-ai-generated-content/
Lees ook:
Elders gesien: Kunsmatige boekvoorblaaie se baadjies getakseer
PenAfrican: AI and the future of creative arts – why writers are not as replaceable as we fear


Kommentaar
Dankie hiervoor, Sydney. Vir my klink die meeste nuwe Afrikaanse popliedjies al reeds voor die koms van intelligensiesimulasiesagteware, wel, dieselfde...
Some really interesting points you have written. Assisted me a lot, just what I was looking for :D.