Missie J9: kreatiwiteit, KI en die kuns om mens te bly

  • 0

Prent: Canva

Op 70 besluit ek dat ek nie sommer irrelevant gaan raak nie. As die wêreld in ’n KI-era instap, dan stap ek saam; nie om my menslikheid prys te gee nie, maar om te kyk hoe ver ek dit kan rek. Relevansie-instandhouding, noem ek dit. ’n Mens moet immers aanhou slyp. Groot digters van ons tyd onthou waarskynlik Opperman se raad: Moenie jou talente aan sagte stene slyp nie. KI staan gereed om nie alleen ’n onverbiddelike taakmeester te wees nie, maar ook ’n gedugte mededinger.

........
Ek het begin eksperimenteer met KI, aanvanklik net om kommentaar te kan lewer oor onderwerpe buite my gewone terrein, en later om allerhande tekste te verfyn. Maar ek is nie blind vir die ironie nie: Elke keer as ek KI gebruik om ’n teks te verfyn, word my eie profiel as taalpraktisyn ’n bietjie flouer.
........

Ek het begin eksperimenteer met KI, aanvanklik net om kommentaar te kan lewer oor onderwerpe buite my gewone terrein, en later om allerhande tekste te verfyn. Maar ek is nie blind vir die ironie nie: Elke keer as ek KI gebruik om ’n teks te verfyn, word my eie profiel as taalpraktisyn ’n bietjie flouer. KI blink uit in dokumentontwerp, in die skryf van gladde sinne, in vertaling, al moet ’n mens soms die nuanses terugwen. Gelukkig is ek nie meer in ’n loopbaanfase waar ek moet baklei vir professionele kudos nie. Ek kan die lewe met ’n glimlag bekyk en eenvoudig mens wees.

Wat dit betref, het Copilot my verseker dat die kern van menslikheid – kreatiwiteit, verbeelding, die vermoë om onverwante idees te verbind – nie sommer vervang gaan word nie. Dit klink mooi. Maar ek is nie grootgemaak om alles te glo wat ek hoor nie, en dis tog vreemd dat Copilot so sku is oor sy eie talente; die mensdom se grootste kompetisie as dit in ons skeppingslaai gaan begin krap.

Ek neem een van my eie kunswerke, ’n abstrakte stuk genaamd Mine sight. Dit het niks met my gewone werk of belangstellings te doen nie; dis bloot ’n spel met kleur met ’n woordspeling in die titel. Ek vra Copilot om die skildery te verbeter. Die resultaat was indrukwekkend, al was dit effens oorgestileer; soos die skilder wat sy intuïsie ruil vir ’n klomp kunsvoorskrifte. Daarna vra ek vir ’n kort resensie. Die antwoord was poëties, selfs ontroerend: ’n boom as getuie, spanning tussen geworteldheid en beweging, ’n woud wat nie net gesien word nie, maar gevoel word ... en dan ’n hele stuk oor hoe die boom simbolies kan wees van ’n aktivis se standvastigheid in sy stryd om die omgewing te bewaar ... Dis vreemd. Die omgewing en aktivisme was uit die gedagte toe ek die kunswerk geskep het.

En toe tref dit my: KI het nie net die kunswerk gelees nie; dit het my gelees. My temas, my neigings, my manier van dink. Terwyl ek KI ondersoek het, het dit my terselfdertyd ondersoek. Dit leer uit wat ek invoer, en gooi dit terug na my in ’n styl wat soms verrassend naby aan my eie lê.

Die vraag oor kreatiwiteit – of dit uitsluitlik menslik is – raak dus minder eenvoudig. KI kan inderdaad alternatiewe voorstel, probleme op ongewone maniere oplos en onverwante idees verbind, net soos mense kan. En tog bly daar iets mensliks oor die manier waarop ek reageer op die wêreld teenoor KI se reaksie daarop. Die emosionele resonansie lê nie in die masjien nie, maar in my. Terwyl Copilot emosionele resonansie probeer namaak in die resensie oor my kunswerk, is dit nog altyd ’n namaaksel, nie die ware ding nie. Die probleem lê by die geloofwaardigheid van die namaaksel, en geloofwaardig is dit wel.

Daar is natuurlik ’n debat oor plagiaat, oorspronklikheid en die gevaar dat KI die kunste kan “steel”. Maar Prediker het lank voor algoritmes reeds gesê: Wat was, sal weer wees; daar is niks nuuts onder die son nie. Miskien is die vraag nie of KI oorspronklik is nie, maar of ons bereid is om saam met dit te ontwikkel – nie as vervanging nie, maar as ’n nuwe soort kreatiewe gespreksgenoot.

My verkenning van KI het my dus nie minder mens gemaak nie. Inteendeel. Dit het my herinner aan die dele van myself wat nog lewendig, nuuskierig en speels is. En dit het my laat besef dat ek, selfs in my sewentigs, nog ’n missie kan hê.

Missie J9: ’n reis na die über-styl wat KI op sy tone kan hou.

Lees ook:

PenAfrican: AI and the future of creative arts – why writers are not as replaceable as we fear

Elders gesien: Clinton V du Plessis se "Gebed" deur KI gesing

Your AI IQ: LitNet research (Afrikaans black metal) | Jou KI-IK: LitNet-navorsing (Afrikaanse swartmetaal)

Die moontlike nut van ChatGPT en DeepSeek om Afrikaanse taboetaal te onderrig, faktore wat die gebruik van swetsbotte kan dryf en implikasies vir die onderwys

Agterstories: Ou nuus kry nuwe baadjie

Springmielies: Deus in Machina – my selfoon spioeneer op my

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top