Springmielies: Deus in Machina – my selfoon spioeneer op my

  • 1

Prent van slimfoon: Gábor Adonyi op Pixabay

  • Nini Bennett skryf ’n gereelde rubriek vir LitNet.

’n Vriendin sê nou die dag vir my sy wil nou nie paranoïes klink nie, maar haar selfoon weet alles van haar af. Want, vertel sy my, haar foon hoor en sien alles wat sy doen. En: Die foon verstaan selfs Afrikaans ...

Inderdaad: Dit is alles so, en mens noem die verskynsel omgewingsintelligensie (ambient intelligence of AML). Ons is almal bewus van die verskynsel, alhoewel nie baie mense dit by die naam ken, of die werking daarvan verstaan nie. En nee, dis nie die een of ander wetenskapfiksiekomplot nie.

Omgewingsintelligensie het in ’n sekere sin die klimaat vir KI voorberei. Daar is sensornetwerke en -verwerkers in slimfone en ander slimtoestelle wat op die verbruiker se omgewing reageer en só voorsien in die behoeftes van die verbruiker. In leketaal: Jou selfoon “kyk” (via remote viewing) en “luister” na alles wat jy sê of doen op jou toestel. Hierdie diensgeoriënteerde argitektuur, wat sensitief is vir elektroniese omgewings, versamel inligting oor jou: Het jy al daaroor gewonder wanneer jy iemand (persoonlik) ontmoet en daardie persoon kort daarná opduik in jou nuusvoer as “people you may know”? Of wanneer jy Clicks toe gaan, daar skielik ’n magdom Clicks-advertensies in jou nuusvoer insluip? Of wanneer jy ’n spesifieke onderwerp google, daar skielik nuwe inligting oor daardie onderwerp in jou nuusvoer verskyn? Al gewonder hoe Spotify jou musieksmaak lees en vir jou speellyste voorberei? Ensovoort.

Omgewingsintelligensie “leer” slimfone om proaktief op tree. Die term is in die laat 1990’s gemunt deur die tegnologievisioenêr, Eli Zelkha, van Palo Alto Ventures. Omgewingsintelligensie se netwerke beskryf insgelyks toestelle en hulle omgewings se sensors en netwerke wat stil-stil na jou luister en kyk, van jou leer en by jou aanpas – sonder dat jy ’n vinger verroer. Dink aan dit as die digitale weergawe van jouself: ’n Deus in Machina, die gees/god, of “spook” in die masjien. Jou selfoon is jý, en net so uniek soos jou eie DNS.

Die tegnologie is versteek – daar is geen lomp knoppies nie. En die tegnologie is aanpasbaar; dit gebruik onder meer KI om jou behoeftes te voorspel op grond van patrone in jou gedrag, ligging of omgewing. Omgewingsintelligensie is ook alomteenwoordig – dit is orals; van jou slimfoon tot in slimhuise, waar alle toestelle met mekaar “praat” en so jou data naspoor en insamel.

Die Europese Kommissie se ISTAG-verslae in die vroeë 2000’s het omgewingsintelligensie as die toekoms van rekenaars en digitale toestelle voorspel: ’n mengsel van IoT (die Internet van Dinge), masjienleer en sensors vir mensgesentreerde tegnologie. En die projeksies was verstommend akkuraat. Vandag dryf dit alles van stemassistente soos Siri tot voorspelbare teks, wat vooruit geskryf word – en dit maak die lewe makliker, maar teen watter prys?

Slimfone bied die perfekte argitektuur vir omgewingsintelligensie: Dit is propvol mikrofone, kameras, GPS, versnellingsmeters, giroskope en selfs omgewingsligsensors wat die heeltyd omgewingsdata uit jou wêreld insamel. Dis nie passiewe afluisteraars nie – dis aktiewe intelligensie. Só werk dit in die praktyk: Jou foon se KI beweeg in reële tyd-data – jou ligging (GPS), beweging (die versnellingsmeter sien of jy hardloop of stap) en selfs agtergrondgeraas (die mikrofoon hoor mense verder weg gesels) – net om te raai wat jy volgende wil hê. Stap jy in die gim in? Dan speel dit jou oefenlys. Gaan jy laatnag huis toe? Dan demp dit die skerm en stel ’n kalmerende podcast voor. Dit is konteksbewustheid in aksie.

Toeps soos Google Maps of Spotify gebruik masjienleer om vooruit te dink.

Tik jy “pizza” in ’n boodskap? En boem – daar verskyn afleweringsadvertensies in jou omgewing. Dit word aangedryf deur omgewingsrekenaars, waar jou foon nie net reageer nie, maar ook proaktief optree deur die data van die afgelope 10 minute te gebruik om die volgende 10 sekondes te voorspel. Draagbare toestelle maak dit nog beter: Jou slimhorlosie kan met jou foon sinkroniseer om jou termostaat van ver af te verstel – alles deur IoT-handdrukke.

Selfs “skadelose” dinge, soos die omgewingsligsensor (wat outomaties die helderheid aanpas), kan jou verraai. Navorsers van MIT het onlangs gewys hoe dié sensors gekraak kan word om lae-resolusie-beelde van jou skermgrepe of omgewing te rekonstrueer – sonder dat die toepkamera toestemming nodig het.

Kortom: Jou selfoon “kyk” nie met bose bedoelings nie – dit is net geoptimaliseer vir gerief. Maar daardie optimalisering slurp inderdaad ’n vloedgolf persoonlike data op en maak jou toestel deel van ’n reusagtige, intelligente netwerk.

Nou ja; dalk is my pel nie om dowe neute paranoïes nie. Omgewingsintelligensie se “altyd-aan”-funksie is ’n privaatheidsmynveld, veral op slimfone waar dataversameling ingebou is. Dit sluit groot bekommernisse in, soos die alomteenwoordige nasporing. Sensors tel alles op – van jou hartklop (oefenhorlosies), tot gesprekke (via stemassistente). Kombineer laasgenoemde met wolk-KI, en jou gewoontes vorm ’n gedetailleerde profiel wat verkoop kan word aan adverteerders, of gekraak kan word deur kwaaddoeners.

Toeps vra toestemming vir persoonlike inligting en data word oor ekosisteme heen gedeel (jou foon se Google, Apple of Meta). Vooroordeel sluip ook in – KI wat in andersoortige data opgelei is, verstaan dalk nie nie-Westerse gewoontes nie, en mog lei tot onregverdige profilering.

Dan is daar sekuriteitskwesbaarhede. Laekragsensors is goedkoop, maar maklik om te kraak. MIT-studies bewys selfs dat “passiewe” komponente beelde van jou PIN kan laat lek.

Gartner, ’n wêreldwye IT-navorsingsorganisasie, se 2025-verslag beskryf omgewingsintelligensie as uitstekende strategiese tegnologie, maar waarsku teen “onsigbare tegnologie” wat blindekolle skep – huise en kantore word datavakuums sonder dat gebruikers dit besef. Kenners van etiek beweer dit kan outonomie in gedrang bring: As jou foon oor jou behoeftes besluit, waar bly jóú lokus van beheer?

Die goeie nuus is dat jy die “spioen” in jou foon kan afskakel, maar lekkasies sal daar altyd wees. Vind uit wat die vereistes van jou spesifieke toestelle is, aangesien dit kan verskil en daar talle transmutasies voorkom. Jy kan die privaatheidsinstellings verander, of wolklekkasies verminder.

........
Omgewingsintelligensie is soos elektrisiteit, het die KI-pionier Andrew Ng beweer: Dit is transformerend, maar kort veiligheidsmaatreëls om onnodige risiko’s te vermy. Jou slimfoon se intelligensie maak die lewe makliker, maar onthou: Dis jóú foon – nie andersom nie. Die slimfoon besit jou nie en jy is nie bloot ’n lakei van sy omgewingsintelligensie nie.
........

Omgewingsintelligensie is soos elektrisiteit, het die KI-pionier Andrew Ng beweer: Dit is transformerend, maar kort veiligheidsmaatreëls om onnodige risiko’s te vermy. Jou slimfoon se intelligensie maak die lewe makliker, maar onthou: Dis jóú foon – nie andersom nie. Die slimfoon besit jou nie en jy is nie bloot ’n lakei van sy omgewingsintelligensie nie. Volgende keer, wanneer daar inligting in jou nuusvoer verskyn wat voel of jou slimfoon jou gedagtes lees, glimlag net en dink: “Goeie probeerslag, omgewingsintelligensie.”

Omgewingsintelligensie is ’n moderne tweesnydende swaard. ’n Voorbeeld van die voordele wat dit inhou, is aan die hand van die volgende anekdotes, waar omgewingsintelligensie die gedaante van ’n figuurlike beskermengel aanneem: In ’n huis vir bejaarde persone in Yuma, Arizona woon ’n 82-jarige vrou, genaamd Martha. Sy ervaar geheueprobleme, maar sy weier om haar onafhanklikheid prys te gee. Die bestuurder van die tehuis installeer omgewingsintelligensie-sensors in die bejaardes se leefkamer en kombuis: kameras met KI wat bewegings monitor sonder om te “kyk”. Een nag val Martha in die badkamer – niks ernstigs nie, maar beslis ’n waarskuwingsvlag, en genoeg om haar te verwar. Die omgewingsintelligensie-stelsel, ontwikkel deur die navorser en programmeerder, Ehsan Adeli van Stanford-Universiteit, tel dié ongewone patroon op: stadige bewegings en Martha wat nie opstaan nie. Dit stuur ’n stil alarm na die verpleegstasie, met personeel wat binne minute opdaag. Martha is gered sonder dat sy om hulp moes roep. Dié stelsel respekteer privaatheid deur data in sleutelposisies te berg en slegs te aktiveer wanneer daar aberrasies of afwykings in patrone voorkom, soos Martha se afname in aktiwiteit. Oor die omgewingsintelligensie-stelsel het die personeel gesê: “Dit voel nie soos toesig nie, eerder soos ’n engel wat oor die bejaardes waak.”

Vandag word sulke stelsels wêreldwyd in ouetehuise gebruik om die moontlike val van bejaardes te voorspel, en só hul lewens te verleng.

Maar – die snykant van omgewingsintelligensie kan skrikwekkende gevolge hê as dit by sekuriteitsbreuke en -lekkasies kom.

Een so ’n voorbeeld is die Strava-hittekaartramp van 2018 – en die nasleep daarvan wat nog steeds voortduur.

Een aand in Januarie 2018 sit ’n Australiese sekuriteitsnavorser, Nathan Ruser, met sy slimfoon en blaai deur Strava se jongste Global Heatmap. Strava is ’n fiksheidstoep wat atlete en fietsryers se GPS-roetes op ’n wêreldkaart teken – hoe helderder die beeld, hoe meer mense oefen daar.

Nathan zoem in op konflikareas ... en versteen.

In die middel van die Siriese woestyn, honderde kilometer van enige dorp af, brand helder rooi en geel lyne om ’n roetekleurkaart te vorm. Dit is nie paaie nie. Dit is geheime militêre basisse in Sirië en Irak ...

Die soldate het, sonder om die gevolge te besef, hulle Strava-slimfone gedra wanneer hulle die basis gepatrolleer of gedraf het. Die omgewingsintelligensie-stelsel het ongelukkig hulle GPS-liggings elke paar sekondes opgeteken, die data outomaties na Strava se wolk opgelaai en dit op ’n publieke hittekaart getoon. Binne ure het die wêreld geweet wat die presiese liggings van geheime basisse was; die roetes wat soldate draf (dus, waar die heining se gate is); en selfs waar die gimnasium en slaapplekke van die soldate was.

Die Pentagon het paniekerig geraak. Hulle het onmiddellik ’n wêreldwye verbod op fiksheidsspoorders vir soldate in gevegsones uitgereik. Maar die skade is klaar gedoen. Terreurorganisasies het die kaart afgelaai en gebruik om aanvalle te beplan.

Steeds – joernaliste volg die nuutste Strava-kaart getrou, en baie van daardie basisse se aktiwiteite brand steeds helder – want soos nuwe soldate arriveer, sit hulle hul slimfone aan en omgewingsintelligensie gaan rustig voort om hul roetes te teken ... sonder dat hulle besef hul maak hulself sigbaar vir die hele wêreld. Niemand het doelbewus inligting gelek nie; hulle het net, heel onskuldig, geoefen. En omgewingsintelligensie bring stilweg alle inligting bymekaar om só ’n spioenasiekaart te skep.

........
Maar natuurlik sou die beste spioen in die wêreld ’n naspoortoestel gedra het. Alles pure spioenasie – maar vandag is dit nie meer fiksie nie.
........

Ek het iewers in die 90’s, toe Pierce Brosnan nog die rol van James Bond gespeel het, vir die eerste keer bewus geraak van ’n hittekaart. Aan die einde van ’n Bond-film verdwyn James, en natuurlik aanvaar sy baas, M, dat hy iets oorgekom het. Maar iewers het oranje en rooi kolletjies op ’n geheime kaart verskyn, wat 007 se liggaamshitte opgetel het, nogal in die passievolle omhelsing van ’n vrou. Hoe dan anders? Maar natuurlik sou die beste spioen in die wêreld ’n naspoortoestel gedra het. Alles pure spioenasie – maar vandag is dit nie meer fiksie nie.

Lees ook:

Springmielies: Die moderne herinterpretasie van Jesus as KI-kletsbot

Springmielies: Die entrepreneurskap van werkloses

Springmielies: Die opgaarversteuring – wanneer jy níks kan weggooi nie

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top