Elders gesien: Kunsmatige boekvoorblaaie se baadjies getakseer

  • 1

Skets deur Alexandra Koch van Pixabay

 

Sidney Gilroy skryf op Facebook:

Onlangs was ek weer in my gunstelingboekwinkel. Ek lees uitsluitlik Afrikaanse boeke, en soos altyd dryf ek na dié rakke toe. Maar iets voel nie reg nie. Ek tel een van die nuutste boeke op, bekyk die voorblad, lees die agterkant. ’n Krieweling begin stadig teen my ruggraat afkruip. Hoe verder ek teen die rak afgly, hoe duideliker word dit: binne ’n ongelooflik kort tyd het AI die voorblaaie van Afrikaanse boeke begin infiltreer. Daar is baie, wat ons in my bedryf sal noem, AI-slop in die omgang.

Die mense op die voorblaaie lyk... net effens verkeerd. Die diere lyk vreemd. Die agtergronde en geboue het daardie romerige, hiperrealistiese glans wat ál te mooi probeer wees, maar eintlik is dit kunsmatig oordadig. Dit voel soos ’n Disney-tekenprent wat voorgee om die werklikheid te wees. Dis nou oral: die tipiese robothand, nét-net versteek deur ’n bietjie digitale “tweaking”. Hele voorblaaie word duidelik deur ’n AI-model geskep.

Hoekom merk ek dit so vinnig op? Is dit omdat ek in AI werk? Miskien. Dalk is dit vanweë die Uncanny Valley-effek wat ek so sterk teen my nek voel blaas — daardie oerinstink waarmee ons as mense opgemaak is om uit te ken wanneer iets menslik wil lyk maar dit nie is nie. Dit is dieselfde instink wat ons al eeue lank gehelp het om deur gekamoefleerde roofdiere, giftige plante en misleidende vrugte nie om die bos gelei te word nie. Sodra ons brein registreer dat iets voorgee om iets anders te wees, skop daardie tweede, outomatiese reaksie in: walging. Dit is basies biologie. Ons sien wat fop sodat ons, as spesie, nie flop nie.

En dis vir my eintlik hartseer dat my Uncanny Valley-refleks nou uitgelok word deur die voorblad van ’n Afrikaanse boek. Afrikaanse boeke is reeds ’n klein, brose niche-mark — skaars, kosbaar, in die gedrang van ’n oseaan vol oorsese aanbod. Ek dink aan wat in die VSA gebeur: duisende grafiese kunstenaars verloor hulle werk as gevolg van AI-generasie; die patentkantoor weier om kopiereg te registreer vir AI-voorblaaie; en omdat niemand eienaarskap kan opeis nie, is die werk basies publieke domein. Enigiemand kan dit namaak. Enigiemand kan dit kopieer. Anybody can... die mantra van ons era.

Maar wat sê dit ook van my etiek as skrywer as ek AI-voorblaaie op my boeke sou toelaat? Vandag is dit die omslag. Volgende week dalk die inhoud. En dan? Dan staan die Afrikaanse skrywer en die grafiese kunstenaar al twee in dieselfde UIF-ry. Ek lees ook dat Amazon begin sien dat boeke met AI-voorblaaie wat nie deur ’n grafiese kunstenaar onder hande geneem is nie, swakker klikgetalle en laer verkope toon. Dit maak sin. Skryf is skeppende kuns. AI skep nie — dit herkou bloot wat dit reeds ingesluk het. Hoekom ’n mensgemaakte kunswerk neem en dit in ’n kunsmatige dop druk en dit dan aan lewende, denkende mense probeer verkoop?

Mense koop met hulle oë eerste. As ek ’n AI-voorblad kies vir my volgende boek, watter boodskap stuur ek? Hoe help dit die potensiële koper om te weet: Hierdie is mensgemaak. Hierdie is uniek. Hierdie is nie nog een van die miljoene AI-afskeidsels wat die internet en ons kulturele ruimtes tans oorstroom nie.

Ek het so gevoel dat dit ’n golf is wat eers later, deur swakker boekverkope, gestuit sal word. As die intrinsieke waarde van die grafiese kunstenaar, die mensgemaakte, verstaan en weer waardeer word. Wanneer die menslike aanraking wegval, voel die boek wat ek in my hand hou plat of vals, selfs al kan die gemiddelde koper nie presies sê waarom nie. Miskien lê die oplossing in ’n handevat tussen grafiese kunstenaars en AI. Laat AI dien as vertrekpunt, maar die grafiese kunstenaar moet die voorblad “vermenslik” deur te doen wat net ’n mens kan doen: skep.

Wat ek wél weet, is dat Afrikaanse boeke nie kan bekostig dat daar enige afstand tussen ’n potensiële leser en ’n nuwe boek ontstaan nie.

Lees ook:

Elders gesien: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?

Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke

Is KI ons nuwe Raka?

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top