’n Blik op Pretoria FM se pad na die middelmoot

  • 0

Foto: Pexels

  • Johannes Froneman is emeritus professor in joernalistiek aan die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus. Hier breek hy ’n lansie vir Pretoria FM.

Toe ek 17 jaar gelede RSG en Radio Pretoria in ’n boekhoofstuk bespreek het, was die teenstellinge maklik om te identifiseer. Baie water het egter sedertdien in die see geloop. RSG is min of meer op dieselfde spoor, maar Pretoria FM het uit Radio Pretoria ontwikkel en het merkbaar moderner geword. Hoe het dit gebeur en watter invloed het dit op die Afrikaanse medialandskap?

Die vernuwing van Pretoria FM onder voorsitterskap van Willie Spies en die gelyklopende totstandkoming en sukses van Maroela Media moet eintlik saam gelees word. Albei hou verband (maar nie op dieselfde wyse nie) met die Solidariteit Beweging se opkoms as die belangrikste rolspeler in die Afrikanergemeenskap. Met sy meer as 30 organisasies – van AfriForum tot Akademia, van Helpende Hand tot Soltech – is daar byna nie ’n terrein waar Solidariteit nie aktief is nie. Die media is een.

Dit was vanselfsprekend om ook ’n teenwoordigheid in die media te hê. In 2011 is Maroela Media as ’n gratis digitale nuusplatform gestig. Onder leiding van Susan Lombaard het Maroela merkwaardig gegroei, en dit word maandeliks deur sowat twee miljoen mense gelees.

Die regulatoriese omgewing van gemeenskapsradiostasies is ingewikkeld en dit het verskeie hofsake geverg om uitsaairegte te kry. Trouens, die ou Radio Pretoria is in stryd ontvang en gebore en het aanvanklik, vroeg in die 1990’s, onwettig uitgesaai. Later is ’n lisensie bekom.

Pretoria FM moes reeds verskeie kere veg om uitsendings vanaf agt herleistasies voort te sit, want ’n beperkte reikwydte so tipies aan gemeenskapsradiostasies was net minder as waarna die stasie gestreef het. Uiteindelik was onderhandelinge met die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) suksesvol. Daarna volg 'n belangrike deurbraak: 'n eie kanaal (887) op DStv. Nou kon luisteraars oor die hele land die stasie hoor – en wêreldwyd op die internet. Pretoria FM is inderdaad ’n stasie wat ’n bepaalde belangegemeenskap wil bedien, waar die luisteraars ook al woon.

Organisatoriese vernuwing, moderne ateljees en ’n span jong, bekwame omroepers het gevolg. ’n Webwerf met vars pienk en turkoois as korporatiewe kleure en die naam Pretoria FM het bevestig dat die stasie sy effe stowwerige oumensklere afgeskud het. Die ontoereikende ateljees in Sinoville is agtergelaat en na Murrayfield in die ooste van Pretoria geskuif. Nog later is na Loftuspark, neffens Loftus Versfeld, geskuif. Die stasie het nou met selfvertroue in die hart van Pretoria gestaan. ’n Eie gebou lê nog in die toekoms.

........
Waar die ou Radio Pretoria ingebed was in ’n Boere-Afrikaner-versetkultuur, was dit nou ’n vennoot van Solidariteit – verset wanneer nodig, maar immer bouend aan ’n selfstandige gemeenskap.
........

Waar die ou Radio Pretoria ingebed was in ’n Boere-Afrikaner-versetkultuur, was dit nou ’n vennoot van Solidariteit – verset wanneer nodig, maar immer bouend aan ’n selfstandige gemeenskap. Hierdie vennootskap is egter nie ’n formele een nie. Dít sou ’n reeds kritiese Okosa rede gee om aan die stasie se lisensie te torring.

Daarom verklaar die stasiebestuurder, James Kemp: “Alhoewel ons drie direksielede vanuit die Solidariteit Beweging op ons direksie het, is daar geen invloed wat uit daardie geledere uitgeoefen word nie. Die inhoud word uitsluitlik deur die nuuskantoor of die betrokke omroepers bepaal.”

Dit sou egter nie onjuis wees om te sê dat die inhoud en styl van Pretoria FM in pas is met die breë Solidariteit Beweging nie.

Programname het aanvanklik aan die ou Afrikaanse diens van die SAUK herinner en sy slagspreuk het hom duidelik teenoor RSG gestel: Radio Pretoria was “’n radio met grense”. Vandag is dit “Pretoria FM, waar ons hoop, glo, lééf in Afrikaans”.

Die teenwoordigheid van gewese omroepers van die Afrikaanse diens (soos Johannes van der Walt, Frik Pieterse en Gideon van den Berg) het jare gelede bygedra tot die gevoel dat die stasie aanvanklik ’n teruggryp na die verlede was. Tog, hulle was ervare en het die stasie help staande hou toe daar bitter min geld was om omroepers te betaal. Een omroeper wat danksy sy professionaliteit en aangename stem bo die ideologie gesweef het, is Heinrich Marnitz. Hierdie veteraan saai steeds daagliks as vryskut uit!

Reeds in 2002 het die destydse stasiebestuurder, Jaap Diederichs, gesê die stasie wil nie terug na apartheid nie, maar vorentoe kyk. Die teenwoordigheid van die vlae van die ou Boererepublieke in die ateljees in Sinoville was egter opvallend. Ook die name van programme, soos Volksmikrofoon.

Vandag sê Pretoria FM oor homself die stasie is “trots Afrikaans en streef daarna om die gemeenskap te bedien en ’n verskil te maak in ons uitsaaigebied”. “Boere-Afrikaners”, en selfs “Afrikaners”, word nie meer eksplisiet gehoor nie – dis ’n Afrikaanse radiostasie.

........
Tog moet daar geen twyfel wees nie: Pretoria FM verskil ideologies van RSG.
........

Tog moet daar geen twyfel wees nie: Pretoria FM verskil ideologies van RSG. Waar die SAUK se RSG steeds binne die reënboogparadigma funksioneer en die breë politieke landskap probeer weerspieël, gee Pretoria FM voorkeur aan nuus oor die aktiwiteite en standpunte van Afrikaanse organisasies (onder meer, maar nie uitsluitlik nie, die Solidariteit Beweging). Oor die DA en die Vryheidfront Plus word gereeld berig. Dit is waar die simpatie van die meeste van hul luisteraars waarskynlik lê. (Die HNP en ander verregse organisasies kry nie publisiteit op Pretoria FM nie.)

Die kern van die Solidariteit Beweging se benadering is dat Afrikaans en sy mense ’n plek in die land het en hier ’n volwaardige toekoms wil bou. Rassisme word verwerp, maar dan ook wette wat teen wit en bruin diskrimineer. Daarmee is Pretoria FM dit met hulle eens.

Die stasie se ideologiese posisie word nie aggressief aangebied nie, maar deelnemers aan gespreks- en nuusprogramme word meestal gekies om die ideologiese inslag van die stasie, sy ondersteuners en luisteraars te weerspieël. Hier is ’n uitstaande figuur die uitgesproke Koos Malan, maar ook RSG maak van hom gebruik. Hy draai geen doekies om wanneer hy die ANC kasty nie; sy ontledings is skerp en oorspronklik.

........
Die realiteite van die postapartheid era word grootliks aanvaar (hoewel nie noodwendig toegejuig nie).
........

Waar nuwe plekname vroeër vermy is, word die nuwe name vandag vrylik gebruik (hoewel die ou en nuwe soms naas mekaar genoem word, soos ook op RSG). Die realiteite van die postapartheid era word grootliks aanvaar (hoewel nie noodwendig toegejuig nie). Die fokus is beslis nie op die verlede nie, maar op die bou van ’n beter toekoms. En dié bouwerk word sonder staatshulp gedoen.

Die musiek is meestal kontemporêr Afrikaans met heelwat goue oues, ook uit die Engelstalige musiekskat. Pretoria FM het drie boeremusiekprogramme per week teenoor RSG se een, maar dié musiek word in bepaalde programme gehoor, nie as deel van die algemene speellys nie. En om ’n snit van die Beatles te hoor is nie vreemd nie.

Sondae is daar verskeie uitstekende programme met klassieke, koor- en orrelmusiek. Tog balanseer ’n program om 12-uur die middag die aanbod wanneer kontemporêre Christelike musiek vir ’n uur gespeel word, wat gunstige reaksie ontlok. Die luisteraars is divers, en so ook hul musieksmaak.

Aanbieders is meestal betreklik jonk, vroulik en hoogs professioneel. Sarina Bosman, Esté Gross en Susan Botha kan by enige Afrikaanse radiostasie instap; Esmarie Yssel is ’n hoogs ervare nuusmens en is onlangs as hoofredakteur: nuus en aktualiteit aangestel. Die stasiebestuurder, James Kemp, het jare se ondervinding as mediamens agter hom.

’n Wesenlike verskil tussen RSG en Pretoria FM is dat laasgenoemde geen bruin of swart omroepers het nie. Maar dit is nie uitgesluit dat dit in die toekoms kan verander nie.

Waar ek jare gelede in ’n rubriek in Beeld na Pretoria FM as ’n voorbeeld van tuisbedryfradio verwys het, moes ek lankal my woorde sluk. Hierdie is nie meer ’n radiostasie waarvoor verskoning gevra hoef te word nie. Dit is afgerond, professioneel.

Onder die innemende Willie Spies se leiding is die stasie dus herposisioneer tot ’n waardige speler in die Afrikaanse medialandskap. Dit verskaf steeds ’n radiotuiste aan Afrikaners, maar dan van luisteraars wie se skerp ideologiese hoeke versag het. Is dit waarom nou eerder na die stasie as ’n Afrikaanse stasie (ipv Afrikaner-stasie) verwys word?

........
Kortom kan tot die gevolgtrekking gekom word dat wat nuus en aktualiteit betref, RSG sy net wyer as in die verlede sprei en daarom inhoudsgewys nader aan Pretoria FM beweeg het.
........

Die stasie is om al die genoemde redes ’n ernstige rolspeler. Kortom kan tot die gevolgtrekking gekom word dat wat nuus en aktualiteit betref, RSG sy net wyer as in die verlede sprei en daarom inhoudsgewys nader aan Pretoria FM beweeg het.

Daar moet ook kennis geneem word van die wyse waarop woordvoerders vanuit die Solidariteit-dampkring (wat eers net op Pretoria FM gehoor is) nou daagliks op RSG gehoor word.

Wanneer dit by die viering van Geloftedag (amptelik Versoeningsdag) kom, is Pretoria FM egter soos die SAUK se Afrikaanse diens van ouds. Ook die godsdiensuitsendings het ’n ander inslag as dié van RSG. Waar RSG sedert die 1990’s predikers vanuit méér as die drie Arikaanse “susterkerke” trek, is Pretoria FM baie behoudend. Eredienste en oordenkings word meestal deur leraars van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK), Gereformeerde Kerke, die Koinonia-deel van die NG Kerk of die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes getrek.

Die deelnemers aan die Sondagaand-besprekings van vrae uit die Bybel word eweneens konsekwent deur teologies konserwatiewe teoloë uit bogenoemde kerkgroeperings getrek. In dié opsig klink Pretoria FM nog soos die Radio Pretoria van ouds.

Hoe bly die stasie staande terwyl ander gemeenskapsradiostasies sukkel en ondergaan? Die stasie trek ’n stewige klomp advertensies en borgskappe; luisteraars dra maandeliks by, terwyl Afrikaanse organisasies moontlik ook ondersteuning gee. Dit is ’n volhoubare model.

Slotsom

Pretoria FM is ’n suksesvolle alternatief tot RSG en bied aan Afrikaanse luisteraars ’n keuse. Nie alle programme (van albei stasies) sal almal geval nie, maar ten minste kan jy wegdraai. Daar is natuurlik ook ander stasies wat deels of in geheel in Afrikaans uitsaai. Tog is Pretoria FM, met sy vol aanbod van musiek, aktualiteit, nuus en spesialisprogramme, asook uitsendings op YouTube, seker die belangrikste alternatief tot die nasionale uitsaaier se RSG. Ideologies staan die stasies nie meer lynreg teenoor mekaar soos jare gelede nie, maar daar is tog klemverskille. Dit verteenwoordig die realiteit van die Afrikaanse bevolking, wat in ’n demokrasie in die media weerspieël moet word.

Bronne en notas

My hoofstuk “Finding a home in Afrikaans radio” in Power, politics and identity in South African media (reds Adrian Hadland, Eric Louw, Simphiwe Sesanti en Herman Wasserman). In 2008 deur HSRC Press uitgegee.

’n Hoofstuk in my boek Ter wille van oorlewing, ideologie en geld (“Die storie van Afrikaanse radio, 1900–2021”). Dit het in 2023 by Akademia Uitgewers verskyn.

’n E-pos-onderhoud met Susan Lombaard, uitvoerende hoof Maroela Media, en verskeie besoeke aan hul kantore.

’n Gesprek met Willie Spies, voorsitter en besturende direkteur, Pretoria FM.

Korrespondensie per e-pos met James Kemp, stasiebestuurder by Pretoria FM.

’n Gesprek met Magdaleen Kruger, eertydse stasiebestuurder van RSG.

Ek het deur die jare besoeke aan Radio Pretoria / Pretoria FM se kantore in Sinoville, Murrayfield en Hatfield/Arcadia gebring.

Lees ook:

Die voortsetting van Die Transvaler as die Noord-Transvaler Metro, sy ondergang en die einde van Perskor

Afrikaanse koerante het lank gelei en mislei, nou is dit tyd vir vorentoe kyk

Luisterverhale

Persverklaring: RSG tel die dae af na Afrikaans amptelik 100 met Sending van ver

Barakat-program: "Afrikaans: ’n taal vir altyd"

Afrikaanse radio 75 jaar oud, deel 1: Dan Sleigh

Afrikaanse radio 75 jaar oud, deel 2: Kaaps, ens

Musiek op die lug: waarom ek gemengde gevoelens het oor die 90%-reël

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top