Afrikaanse radio 75 jaar oud, deel 2: Kaaps, ens

  • 1

Op 18 Junie het ek op SêNet die aandag gevestig op hoe uit pas RSG met die standaard kommunikatiewe praktyk is waarvolgens radiostasies dwarsoor die wêreld die standaardtaal (grammatika, uitspraak, woordeskat, idiome) bevorder. In hierdie opsig sorg RSG dat ons steeds nie ’n normale samelewing is nie. Randverskynsels, soos mengeltaal, word om politieke redes verheerlik omdat die tradisionele sprekers daarvan as voorheen benadeeldes getakseer word. Ek het ook die aandag op die historiese feit gevestig dat Afrikaans nie deur nie-wittes, bv die slawe, uitgevind is nie. "Inteendeel, Afrikaans het ’n erkende variant van Nederlands en mettertyd ’n taal uit eie reg geword omdat hoofsaaklik wittes dit gestandaardiseer, uitgebou en bevorder het."

Vroeër vanjaar, op 2 April, het ek op SêNet geskryf oor die besprekingsprogram oor Afrikaans wat op 16 Maart deur RSG uitgesaai is. Net bruin sprekers het in die paneel gedien. Die uitgangspunt was dat alle soorte Afrikaans gelykwaardig is, blykbaar na analogie van die politieke mening dat alle mense gelykwaardig is. My standpunt was en is dat die voortbestaan van Afrikaans nie deur ’n hibriede-Afrikaans wat met Engelse woorde deurspek is, bevorder word nie; dat bv Kaaps ten minste in hierdie opsig nie gelykwaardig aan Standaardafrikaans is nie.

Met verwysing na laasgenoemde uitsending het ek op 18 Junie geskryf: "Magdaleen Kruger, die hoof van RSG, was in die gehoor. Aan die einde van die program het sy, nadat sy die sprekers se uitlatings vir soetkoek opgeëet het, emosioneel gesê dat die wittes Afrikaans ’gekaap’ (dus gesteel) het en dat sy sal help om Afrikaans aan die bruines terug te gee." Ek het ook drie voorspellings oor die voorgestelde simposium oor Kaaps gewaag en hulle is sedertdien bewaarheid.

Die simposium oor Kaaps het van 19 tot 20 Julie op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) plaasgevind. Inligting hieroor is op LitNet beskikbaar. Veral Gunther Pakendorf se samevatting is nuttig. Uit die plakaat op die foto’s is dit duidelik dat Afrikaans, wat eens die oorheersende taal op die kampus was, nou na Engels en Xhosa die derde plek beklee. Dít is mos ware transformasie. Minstens een van die bruin sprekers het verkies om in Engels oor Kaaps te praat. Dit is soortgelyk aan wat gebeur het toe die "Roots"-simposium (let op die Engelse naam) oor Afrikaans deur die UWK aangebied is en Neville Alexander sy voordrag in Engels gelewer het (SêNet, 12.10.2009). By baie (ontwikkelde) bruines is daar ’n obsessie met Engels. Vergelyk Ziyanda Stuurman se deelname aan die uitsending oor transformasie op 26 Julie (SêNet, 30 Julie).

Bruines se dislojaliteit teenoor Afrikaans en hulle grootskaalse migrasie na Engels op bv skool- en universiteitsvlak is tydens die Kaaps-simposium toegeskryf aan Standaardafrikaans, wat glo as ’n belemmering funksioneer. Daar is byvoorbeeld voorgestel dat skoolhandboeke liewer in Kaaps as in Standaardafrikaans aan hulle beskikbaar gestel moet word, klaarblyklik uitgaande van die veronderstelling dat Kaaps eerder ’n taal as ’n ongestandaardiseerde taalvariant (’n mengel- of hibriede-taal) is. Baie Afrikaanse woorde word verwerp en nie gebruik nie, terwyl potensieel enige Engelse woord in die boesem van Kaaps opgeneem kan word. Kaaps is as ’n progressiewe verskynsel voorgestel, bv in die vorm waarin dit daagliks in die koerant Son gepubliseer word. Koerante wat in Standaardafrikaans verskyn, het glo gestagneer. Die waarheid is dat Son ’n finansiële sukses maar vir die voortbestaan van respektabele (dus standaard-) Afrikaans ’n ramp is. Dit verg ook geen bedrewe profeet nie om te voorspel dat skoolhandboeke in Kaaps nie bruines se toenemende migrasie na Engels sal stuit of omkeer nie.

’n Mens vra jou af: Waarom word daar op die aanpassing of afwatering van Standaardafrikaans aangedring, maar geen eise word gestel vir die verandering/transformasie van Engels om dit lekkerder/makliker vir bruines en ander plaaslikes te maak nie? Waarom word Afrikaner-erflatings, wat dikwels op buitengewone prestasie dui, bv Afrikaans, vir smaad, kritiek en vernietiging uitgesonder? Onlangs het Nico Koopman in Die Burger (25 Julie, p 17) geskryf: "Die verdere ontwikkeling van Afrikaans mag egter nie nie-Afrikaanssprekendes uitsluit of Afrikaans aan hulle opdwing nie." Waarom geld soortgelyke voorskrifte nie vir Engels nie? Waarom mag Engels maar deesdae aan bv alle UWK-studente "opgedwing" word?

Magdaleen Kruger het die simposium oor Kaaps bygewoon en haar standpunt en reaksie was dieselfde as voorheen. Ek sê dit na aanleiding van ’n berig in Die Burger (27 Julie, p 3). Tydens ’n FAK-byeenkoms by die Voortrekkermonument het Kruger gesê "taalgebruik het ook verander en vandag is die hooffokus kommunikasie eerder as die gebruik van sogenaamde korrekte Afrikaans. Kruger het gesê RSG wil ook soveel moontlik variëteite van Afrikaans weerspieël omdat hulle uiteenlopende luisteraars het en nie ’n ou, wit stasie is nie."

Dit is myns insiens heiligskennis om sulke uitlatings by ’n FAK-byeenkoms kwyt te raak en boonop in die Voortrekkermonument. Wat is "sogenaamd" aan korrekte Afrikaans? Daar is talle handleidings en woordeboeke oor korrekte of Standaardafrikaans beskikbaar. Haar uitspraak dien as amptelike bevestiging dat Standaardafrikaans nie deur RSG aangehang word nie. Waarop dit neerkom, is dat sy ’n blanko tjek aan RSG-regisseurs en -omroepers uitgereik het: Mors maar soveel soos julle kan of wil met Afrikaans. By RSG bestaan daar blykbaar geen voorskrifte om respektabele (dus standaard-) Afrikaans te bevorder nie, of sodanige voorskrifte word toegelaat om dooie letters te wees. Dieselfde situasie doen hom by SABC 2 en kykNET voor.

Anders as ander nasionale uitsaaiers, bv die BBC, wat die standaardtaal ondersteun, wil Kruger hê dat "soveel moontlik variëteite van Afrikaans" uitgesaai word. Daarmee bevorder sy taalchaos en breek sy doelbewus Standaardafrikaans af. Dat dit politiek-gemotiveerd is, blyk duidelik uit wat RSG volgens haar nie wil wees nie: "’n ou, wit stasie", wat ’n mens onwillekeurig assosieer met die ou wit mans met grys skoene wat as "taalbulle" geëtiketteer word. Word enigiets in die nie-wit sektor op ’n soortgelyke manier versmaai, of word nie-wittes eerder eenvormig as edel getakseer? Die dwase gewoonte het posgevat om Afrikaners en Standaardafrikaans te verdoem, terwyl daar vir nie-wittes net lof is, of in uitsonderlike gevalle hoogstens ligte, omsigtige kritiek uitgespreek word.

Kruger se standpunt is kommunikasie- (en spesifiek taal-) kundig uit die bose. Haar standpunt is ongetwyfeld as ’n uiting van politieke korrektheid bedoel. Dit gaan myns insiens vir haar om die behoud van haar pos en dus gedienstigheid aan haar SABC- (en by implikasie ANC-) base. Daar sou seker nie beswaar wees as RSG normaalweg daarna streef om in Standaardafrikaans uit te saai maar tog ’n program in of oor bv Kaaps toelaat nie. (Soortgelyk aan die Proteaprogram van die destydse Afrikaanse diens van die SAUK.) Maar dan moet RSG toon dat hy nie net sensitief vir taal- en godsdiens- (bv Christen- en Moslem-) variëteite by sy luisteraars is nie, maar ook vir ander kulturele variëteite.

Die lakmoestoets sou wees of Kruger & kie hulle seën sou uitspreek oor ’n gereelde RSG-program oor wat eie aan Afrikaners is en sou toelaat dat dit "onbevange" uitgesaai word. Afrikaners is ook RSG-luisteraars. Is daar ’n Kruger-oor teen die grond ("op voetsool vlak") om te hoor wat Afrikaners verlang? Woon sy nie net UWK-byeenkomste (soos die bogenoemdes) by nie, maar net so graag ook die byeenkomste van Afrikaner-organisasies (bv die FAK, ATKV, AfriForum, die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns)? Is hier sprake van ’n ewewigtige benadering by ’n nasionale uitsaaier? Word daar ook met Afrikaners "hande gevat om ’n verskil te maak"?

Vir Dan Sleigh se Lientjie kan ek verseker dat daar ander mense is wat soos sy oor Afrikaans en RSG voel. Ek is een van hulle. Ek verstaan ook wat sy met "dom mense" bedoel: "Dit is nou Nuwe Suid-Afrika hier en hulle weet van niks" (p 378). "Ligte word stelselmatig gedoof om ons in die donker te leer leef" (p 97). Gaan ons hiermee vir lief neem? "Geen hoop dus nie, nie op herstel óf verbetering nie" (p 374). Ek kan so iets nie aanvaar nie, want dan het "ek in my ’n leegte ... ruimer as die Karoo" (p 266).

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Dit is maar die verval wat mens kan verwag, Comestor, omdat die Afrikaner se grootste kultuurskat, sy taal, nes hy met sy anker, sy geloof in God, gedoen het, deur die Afrikaner self vir die voëls daarbuite gegooi word, as aas om te verniel soos hul wil - deur die buitestaanders. Tragies, nè? Dit is nie anderstaliges wat die verval en agteruitgang veroorsaak nie, maar die eienaar, die Afrikaner, self! Die Magdaleen Krugers van die Afrikanerdom  is maar net die manifestasie van die simptoom van slapjisserigheid wat in die Afrikanerdom heers - 'n simptoom wat die Afrikaner se verdeeldheid uitlig en ook sy onwilligheid om iets daaraan te doen.

    Ja, RSG is werklik nie meer die huis van die Afrikaner nie - dit is soos die naam suggereer - die speelveld van vreemdes en andersdenkendes en van huis- en identiteitloses.

    Moet die van ons en daar is sekerlik nog genoeg van ons,  wat wel nog aan ons Afrikanerhuis  se kultuurskat wil bewaar en gebruik, nie maar weer 'n Afrikaanse radiostasie op die been bring, nie? Ek meen baie Afrikaners wat daar buite doelloos rondslenter agter RSG aan net omdat daar nie 'n ander heenkome is, nie, sal dan weer huis toe kom.

    Om op die kwaliteit en selfs diversiteit van materiaal, van RSG se programme te ewenaar en selfs te verbeter, is sekerlik nie 'n groot uitdaging, nie. So ook met die advertensies. Miskien is die tyd reg daarvoor.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top