Musiek op die lug: waarom ek gemengde gevoelens het oor die 90%-reël

  • 9

 

 

90% plaaslike musiek op Suid-Afrikaanse radiostasies? Dit klink na ‘n wonderlike idee! Op papier, altans. En, wie weet, dalk in die praktyk ook.

Hoewel feitlik almal op Dag Een opgewonde was oor hierdie aankondiging – ek ook! - was daar weldra stemme van vertwyfeling op Facebook en elders. Ouens het begin vra: Gaan 90% regtig ‘n verskil maak?

Op Dag Twee het ek ook begin wonder.

My hart was terneergedruk my toe ek daardie oggend oudergewoonte my motorradio aanskakel en vir die soveelste keer nog ‘n onbekende nuwe effens nasale Afrikaanse sanger met nog ‘n Amerikaanse aksent sy impotente lirieke hoor uitkreun teen ‘n agtergrond van nog geprogrammeerde drum boxes en nog kitaarsolo’s wat eenvoudig nooit by Jan Blohm sal kan kers vashou nie. En nog ‘n effense ateljee-eggo aan die einde van elke stukkie rymdwang. Dis toe ek  besef: Hierdie beleid gaan waarskynlik maak dat RSG nog méér sulke snert gaan speel pleks van minder.  

Nou ja. Dit is die redes hoekom ek nie te vrééslik opgewonde is oor die 90% nie. Aan die positiewe kant moet mens egter onthou dat “plaaslike musiek” nie slegs Afrikaans is nie, en dat daar meer radiostasies aan die plaaslike hemeltrans is as RSG.

Die SAUK se webruimte lys meer as ‘n dosyn stasies, vele na wie ek nog nooit geluister het nie, soos Ukhozi FM, Lotus FM, Kwekezi FM, ensovoorts. Die 90%-reël, afhangende van hoe dit toegepas word, kan ‘n heel ander impak op hierdie stasies hê as op die stasies wat ek ken. In die praktyk beteken dit dat ek permanent sal moet ingeskakel bly op KFM, want ten minste kan ek daar soms die nuus in my eie taal hoor, en wie weet, met die 90%-reël, dalk ook meer lekker treffers deur Vusi Mahlangu of Johnny Clegg.

Daar is egter steeds vrae. Een van die vrae wat by my spook is: Waarom, wanneer daar wel oorsese musiek gespeel word, is dit altyd dieselfde uniforme formaat? Waarom hoor ons slegs Westerse klanke? Wat van die ryk musiekskat van ons eie kontinent? Dit kan ons eie musikante slegs inspireer as ons meer musiek uit plekke soos, sê maar, Nigerië, kan hoor.

Daar is ook die gevaar dat, indien ons slegs musiek uit eie bodem hoor, ons kulturele wêreldjie kan verklein eerder as vergroot, en ons oningelig bly in terme van belangrike nuwe innoverings elders.

Op die ou end bly dit ‘n tweesnydende swaard. Ek het geen twyfel dat die SAUK se motiewe eg is nie. Ek is egter bang dit gaan op die ou end nog steeds meer oor kwantiteit en persentasies as oor kwaliteit en diversiteit.

Jy kan nie oornag ‘n intelligente luisteraarspubliek skep deur middel van ‘n kwotastelsel nie. Daar sal tot in lengte van dae mense wees wat ‘n traan wegpik elke keer as hulle “Sproetjies” hoor. Jy en ek kan dit nie verander nie. Dit werk soos Uitverkiesing – mens glo daarin of nie.  

Ek wil afsluit met ‘n konkrete voorbeeld. Een van die beste plaaslike albums wat in die afgelope paar jaar verskyn het, is ‘n CD getiteld Scarecrows in a Field deur Chris Davidson en Bill Knight. Dis ‘n wonderlike opname wat teen hierdie tyd al ikoniese status moes behaal het onder plaaslike luisteraars.

Dit bevat sewentien nuwe komposisies wat spreek van liriese voortreflikheid en musikale genialiteit. Dit is waarskynlik die beste produk waaraan Bill Knight nog gewerk het. Maar word dit ooit gehoor?

Om die album fisies in die hande te kry, moet jy wag tot Bill en Chris weer ‘n slag optree in die Alma Café (en jy moet gou maak, want hulle is nie meer so jonk nie), of jy moet self vir Bill gaan kuier in Kommetjie (of sy nuwe adres uitvind, want daar is gerugte dat hy gaan trek). Die feit dat geen radiostasie hierdie musiek nog opgelet het en begin speel het nie, maak die situasie natuurlik nog meer hopeloos.

Dit is dan eintlik my grootste vraag: Selfs met die nuwe reëling in plek, hoeveel moeite gaan die ouens wat die speellyste saamstel doen om uit hul pad te gaan om interessante plaaslike musiek op te spoor? Is hulle bereid om in hulle kombi’s te klim soos David Kramer vanouds en die platteland in te vaar tot hulle iemand onder ‘n boom sien sit en geluide maak met ‘n blikkitaar en ‘n gebuigde teelepel? Waarom sal hulle in elk geval moeite doen? Hulle is gewoond aan die gemiddelde luisteraarsprofiel, hulle ken die publiek se gemaksones. Ek twyfel.

In the end, it will probably be more of the same, more of the same. But we will survive, we will survive ...

  • 9

Kommentaar

  • Jan van der Merwe.

    Koos ja, ek moet saamstem met jou artikel hierbo. Dit gaan beslis 'n geval van same old same wees want jou samevatting is blou in die kol. Ek kan maar net saamstem dat ons musiek van oor die hele kontinent moet speel, want so gaan ons die klein juweeltjies ontdek en ook groter gehore kry. Jou stukkie oor Chris Davidson en meer so Bill Knight is so waar. Ek het die voorreg gehad om Bill se musiek in die laaste maand of twee deur hom persoonlik te ontdek en sjoe ek kan my gat skop dat ek nou eers daarop afgekom het. Briljant om die minste te sê.

  • Gustaf Claassens

    Musiek ken nie iets soos grense nie. Dit kan nie gereguleer word deur politieke korrektheid of voorkeure nie en nog minder kan dit aan mense opgedwing word. Die uiteinde van sulke onsinnige idees of besluite is dat sodanige programme op radiostasies hulle luisteraars sal verloor wat 'n rimpeleffek op talle terreine, ook die ekonomiese een sal hê. Gelukkig leef ons in 'n moderne tegnologiese era wat nie brieke het nie en waar innoverende mense (jonk en oud) alternatiewe sal soek ... en sal kry! Daar's niks verkeerd om platforms te probeer skep vir opkomende of plaaslike kunstenaars nie maar om dit te veralgemeen en die norm te maak is verregaande, om nie eers te praat van 'n afgedwonge kwota nie. Ai, die liewe kwotas tog ...

  • Woon ons nou in Noord-Korea? Gaan die volgende ook 90% verpligtend word? Trots Suid-Afrikaans: Plaaslike voertuie, klere, selfoon, rekenaar, ens.

  • Paul C Venter

    Plaaslike skrywers en spelers sukkel om tantieme uit SABC te kry en hulle weet ons kan nie duur prokureurs bekostig nie, is dit nie maar die eintlike doel met die skielike liefde vir plaaslike musikante nie?

  • Andre du Plessis

    Net soos in die natuur is 'n oop "genepoel" van idees en inspirasie nodig om alle musiek (en ander kunsvorms) te ontwikkel. Hou nie van die kwota-idee. Sien meer kwaad as goed.

  • Christo Volschenk

    Nie vergeet nie, die Apartheidsregering het ook kwotas gehad. As ek reg onthou. Hulle (of dit) was net veel laer. In die omgewing van 20%. Maar dis lank gelede. Het dit die bevolkingsgroep gehelp vir wie dit bedoel was? Ek meen, nee. Vandag bloei Afrikaanse musiek (meen ek, woon buite SA), en dit sonder hulp.
    Ek meen ook Koos is heeltemal reg as hy sê 90% kan die mense nog minder Internasionaal maak, om dit positief te hou. Mens kon daai sin ook baie negatief formuleer het.
    As dit 90% musiek uit Afrika was, wel dan was dit ’n heeltemal ander prentjie!
    Ek woon in Duitsland, waar die kultuurverskeidenheid groot is. Maar selfs hier is geen radio met oorspronklike spellyste nie. Dis altyd net dieselfde snert.
    Daar is, myns insiens, ’n groot gaping vir ’n web-radiostasie met oorspronklike, skeppende musiek uit Afrika. Wat uit SA bestuur word, en sy luisteraars en advertensie-inkomste oorsee het. Maw ’n uitvoerproduk. En almal weet hoe goed dit is om uit te voer met ’n regering wat sy bes doen om die rand in sy peetjie te stuur.
    Kom, Koos. Grawe die koei uit die sloot. Jy't die "standing".

  • Frans Koekemper

    ’n Interessante artikel gelees deur ’n swart jazz kitaarspeler ... meeste swart dj's doen nou recordings ook en op hulle tydslot speel hulle dan hulle eie twak en die manne wat kan se musiek bly ongehoord.
    Ek is en was nog altyd ’n groot aanhanger van ons swart kitaarspelers ... luister bietjie ook na Harari se musiek sou julle dit kon vind.
    Intelligente musiek in Afrikaans raak voorwaar ’n rare klank.

  • Martha Pretorius

    Ek is 'n liefhebber van klassieke musiek wat helaas heeltemal aan die agterspeen suig by die liewe RSG. Daarom vermoed ek dat daar nou nog minder tyd afgestaan sal word aan klassieke musiek om sodoende die 90% kwota vir plaaslike 'musiek' te kan bereik. Gelukkig kan 'n mens blitsig van sender verander en, as jy gelukkig is om in die regte geografiese gebied te woon, luister na 'n sender wat konsentreer op klassieke musiek. Die uiteinde is dat mens al minder tyd bestee om na RSG te luister!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top