Die voortsetting van Die Transvaler as die Noord-Transvaler Metro, sy ondergang en die einde van Perskor

  • 2

Johannes Froneman en Elvira Wood

Die Transvaler het as Johannesburgse oggendkoerant die sirkulasiestryd teen Beeld verloor en het uiteindelik in 1993 as onbenullige middagkoerant 'n stille dood in Pretoria gesterf – net om tog in die gedaante van die Noord-Transvaler Metro te herleef.

Dit is hierdie verhaal, dié van die Metro, wat ons hier opdiep – juis omdat die dood van koerante soos ’n wolk oor die bedryf hang en gemeenskapskoerante lyk of hulle dalk ’n beter kans op oorlewing het as dagblaaie. Feit is dat koerante, ook gemeenskapskoerante, nog altyd moes veg om oorlewing.

Was die Metro as stedelike, betaalde weekblad sy tyd vooruit? Of was inherente probleme wat dalk meer met bestuur as met joernalistiek te make gehad het die rede waarom hierdie lewendige, leesbare blad ook gevou het? Meer spesifiek: was Perskor se uitgerekte dood maar die eintlike rede?

In haar MA-verhandeling, "Die vestiging van die Noord-Transvaler Metro as plaaslike koerant, 1993-1996", het Elvira Bradley van hierdie vrae beantwoord, hoewel die fokus van die verhandeling eintlik op die inhoud van die blad was. Belangrik is dat die studie reeds in 1997 voltooi is en daar dus kans was om met van die belangrikste rolspelers onderhoude te voer terwyl die gebeure nog vars in die geheue was. Dit sluit in Francois Aucamp, hoofredakteur van die Metro, en Louis Kruger wat as bestuurder ’n sleutelrol gespeel het in die stigting van die Metro. Mediahistories is dit van wesenlike belang.

Die Metro-projek herinner sterk aan wat meer onlangs met Die Burger Oos-Kaap gebeur het: die daaglikse papieruitgawe is tot ’n weeklikse publikasie verminder. Bygesê, ’n elektroniese uitgawe is daagliks op Netwerk24 te lees, iets wat nog nie in 1996 moontlik was nie. Die Metro se publikasie was ’n poging om lesers ten minste een keer per week ’n koerant te laat koop, waar hulle nie daarin kon slaag om genoeg daaglikse lesers na die Die Transvaler te trek nie.

Omdat die Metro se stigting ’n direkte gevolg was van die sluiting van die Die Transvaler, was laasgenoemde ’n voorspel tot die kortstondige Metro-verhaal en is daarom ter sake.

Die Die Transvaler het in 1937 onder HF Verwoerd se redakteurskap tot stand gekom. Daarmee het hy die oorgang van ’n aktivistiese Stellenbosse akademikus na ’n politieke rolspeler in Johannesburg gemaak. Die koerant het veral die belange van die Afrikaner aan die Rand en die Transvaalse Nasionale Party in die besonder gedien.

Die koerant was aanvanklik tot ’n groot mate ’n meningsblad, ’n koerant wat byvoorbeeld die besoek van die Britse koningshuis in 1947 om ideologiese redes geïgnoreer het. Teen 1963 was die NP reeds 15 jaar aan bewind en is die groot Afrikanerdoelwit, ’n Republiek, verwesenlik. Dit was tyd om ’n moderner nuuskoerant te word, maar kommersiële sukses was beperk.

In 1971 word die Die Transvaler (wat tot in daardie stadium deur Voortrekkerpers uitgegee is) deel van die nuwe noordelike Afrikaanse persreus, Perskor, maar die koms (in 1974) van Naspers se Beeld ontketen ’n verbete sirkulasiestryd, wat uiteindelik deur Beeld gewen word. Perskor se Afrikaanse koerante sluit die een na die ander totdat ook die Die Transvaler, na ’n kort tydjie as Pretoria se middagkoerant, sluit.

Die volgende week neem die Noord-Transvaler Metro as weekblad in Pretoria en omgewing die plek van die Die Transvaler in. Dit is, ten minste, hoe Perskor dit gesien het. So word die “aflosstokkie” in ’n spotprent op die voorblad van die laaste Die Transvaler aan die Metro oorgegee. Die Metro het dus die Die Transvaler in ander gedaante voortgesit.

Heelwat werk het hierdie stap voorafgegaan. Perskor se direksie het ’n werkgroep aangestel om ’n manier te vind waarop hy ’n voet in Pretoria se Afrikaanse mark kon hou. Markinor se kundigheid is ingeroep en navorsing is gedoen oor wat die lesers wou hê. Die bestaande gratis buurtkoerante is nie as ’n sterk faktor beskou nie; die nuwe weekblad sou met groter joernalistieke aggressie en verfyning die mark betree – iets wat nie te moeilik sou wees nie aangesien die bestaande weekblaaie (wat saam aan Naspers, Perskor en die Pretoria News behoort het) nie met veel entoesiasme uitgegee is nie.

Dit is ook gedoen teen die agtergrond van die politieke transformasie wat op hande was en die moontlikheid dat Pretoria die hoofstad van die nuwe Noordelike Provinsie kon word. Die ander moontlikhede was dat Pretoria dalk ’n “stadstaat” sou wees (dus nie deel van een van die ander provinsies nie), of deel van Gauteng en steeds die hoofstad van die Republiek. Streeksontwikkelingsnuus was daarom ook op die agenda van die voorgestelde 64-bladsy-ponieformaatkoerant.

Perskor het verskeie sterk gemeenskapskoerante elders in die ou Transvaal besit wat die bestuurders in hul entoesiasme gesterk het. Die Metro sou hul ketting van koerante uitbou. Die sluiting van die Die Transvaler het boonop geld losgemaak wat die nuwe koerant ’n hupstoot kon gee. Volgens Aucamp het Perskor R68 miljoen in die bank gehad (wat in destydse geldwaarde ’n aansienlike bedrag was).

Daarom is geld aan bemarking bestee, insluitende ’n bekendstellingsete vir adverteerders en gemeenskapsleiers met ’n oudio-visuele aanbieding en ’n toespraak deur die hoofredakteur oor die nuusaanbieding, karakter en voorkoms van die nuwe koerant. Groot optimisme het geheers oor die Metro.

Die Metro het die volgende slagspreuk gekry: “In voeling met die gemeenskap”. Daarmee saam is die toe-nog-beroemde madeliefie as deel van die mashoof gebruik – dit in ’n tyd toe Noord-Transvaalse rugby nog dominant was en die blommetjie op die ligbloutrui gepryk het.

Buiten vir die gewone fokus op skolenuus, voorstedelike gemeenskapsnuus en plaaslike sport, sou Metro afdelings hê wat meer aan ’n dagblad herinner: daar sou ook oor nasionale en internasionale sake berig word en die insig-blaaie moes die meer intellektuele komponent van sy lesers dien. Partypolitiek sou, soos die gebruik by gemeenskapskoerante is, vermy word. Dus ’n omvattende, aanvullende pakket vir mense wat daagliks Beeld gelees het, maar ook vir hulle wat glad nie daaglikse koerantlesers was nie.

Die analise van die Metro se inhoud bevestig die voorneme om ’n lewendige gemeenskapskoerant met ’n verskil op die mark te bring, al het Bradley bloot op die voorblaaie van die Metro gefokus. Dit gee tog ’n goeie beeld van hoe die redaksie van sy kant af ’n lewendige produk daargestel het.

In die eerste jaar van publikasie (Julie 1993 tot Junie 1994) het stadsraadsake die meeste op Metro se voorblad voorgekom (25%, 12, n=49). Daar moet wel in gedagte gehou word dat die huidige Tshwane-stadsraad toe uit drie rade bestaan het: Akasia, Centurion en Groter Pretoria. Nasionale politiek het byna soveel dekking geniet (23%, 11, n=49). Vir ’n gemeenskapskoerant kan dit as buitengewoon beskou word, maar die Metro was nie ’n gemeenskapskoerant in die tradisionele sin van die woord nie.

As administratiewe hoofstad van die land is baie aandag rondom die verkiesing van April 1994 op Pretoria gefokus. Die verkiesing, inhuldiging van pres Nelson Mandela en die aanwys van ’n kabinet is op die voorblad van Metro gereflekteer. Nog ’n uitsondering op die gewone gemeenskapskoerantreël, wat daarop dui dat die Metro ’n nuusblad in die breër sin van die woord wou wees, was ’n hoofberig oor die nasionale begroting (24 Junie 1994).

Misdaad het in sekondêre berigte die meeste op die voorblad voorgekom. Trouens, indien na alle items (hoofberig, hooffoto, sekondêre berigte, “ander” foto’s, prikkels en grafika) gekyk word, kom misdaad in 11% van die altesame 422 items voor (47 items). Menslike belang het in 8% van alle voorbladitems gefigureer en het goeie en slegte nuus bevat.

In die tweede jaar (Julie 1994 tot Junie 1995) het die meeste hoofberigte op die voorblad na die stadsraad verwys (26%, 14, n=52). Berigte oor die media (Radio Pretoria, Radio Jakaranda en die SAUK in Afrikaans) het nasionale politiek nou as tweede belangrikste hoofberig vervang, gevolg deur misdaad en finansiële sake (soos die nasionale begroting,17 Maart 1994).

Die redaksie het dus berigte gekies wat hoofsaaklik in terme van die geografiese en psigologiese afstandsdimensie verklaar kan word, dus sake wat die wit, Afrikaanse leser van groter Pretoria waarskynlik sou geïnteresseer het. Tog was daar uitsonderings: Berigte oor ’n moontlike gifbesoedeling in die Limpoporivier is sterk aangebied (29 Julie 1994, 5 Augustus 1994, 19 Augustus 1994) terwyl die ongewone ook aandag geniet het: berigte oor slange wat 17 mense gepik het (24 Februarie 1995) en ’n muisplaag (22 Julie 1994).

Lesers se normale belangstelling in die geboorte van babas is ook in ag geneem toe ’n foto geplaas is van sewentien ma’s en hul babas wat op een dag in die destydse HF Verwoerd-hospitaal gebore is (17 Februarie 1995).

Die redaksie het met wedstryde die belangstelling van lesers probeer trek. Gedurende die tweede jaar van publikasie het items oor wedstryde algeheel die meeste op die voorblad verskyn (85 uit ’n totaal van 656).

Samevattend kan gesê word dat die Metro in sy tweede jaar ’n sterker plaaslike kleur gekry het danksy minder stories oor sake van nasionale belang en toenemende prikkels wat na plaaslike stories binne die koerant verwys het.

In die derde jaar (Julie 1995 tot Junie 1996) het die redaksie ’n belangrike tipografiese wysiging aangebring deurdat die voorblad van 10 Mei 1996 deur ’n groot hooffoto en hoofopskrif gedomineer is. Slegs ’n opsomming van die hoofberig het op die voorblad verskyn tesame met prikkels van interessante ander berigte binne die koerant.

Stadsraadstories het steeds as hoofberigte gedomineer (33%, 18, n=53), gevolg deur mediese berigte (13%, 7, n=53) en misdaadstories (11%, 6, n=53). Politiek het in twee hoofberigte opgeduik: nuus oor die regse eetstaker Willem Ratte (21 Junie 1996) en een oor die beweerde ondergang van die Konserwatiewe Party (Die KP sink, 27 Oktober 1995).

Die redaksie het ook lesers probeer lok met foto’s van diere (15 Maart 1996), van die wenners van die Laerskool van die Jaar-wedstryd (1 Desember 1995) en van ’n straatkind wat in Sunnyside opgelaai word (vermoedelik vir seksuele redes) (24 Mei 1996). Dit alles dui op die omvang van die temas wat op die Metro se voorblad voorgekom het.

Tipografies het die Metro oor die drie jaar van sy bestaan merkbare aanpassings gemaak. In die eerste jaar was die voorblad besig met talle berigte en foto’s wat om aandag gevra het. Die hooffoto is selde sterk gebruik en min prikkels is geplaas, wat meegebring het dat die leser nie van die voorblad kon aflei wat in die res van die koerant te wagte kon wees nie. Die verandering na ’n voorblad wat slegs uit ’n groot foto, hoofopskrif en prikkels bestaan het, was taamlik ingrypend en dui op die redaksie se gewilligheid om te moderniseer. ’n Newegevolg was dat sport sterker op die nuusagenda gefigureer het. 

Daar sou met reg geoordeel kan word dat die Metro-redaksie ’n agenda daargestel het wat die teikenmark sou interesseer, dat die blad redelik aan die nuus- en ontspanningsbehoeftes van die teikenmark voldoen het en dat die tipografie (vir die tyd) op peil was. 

Die Metro was dus nie heeltemal ’n gemeenskapskoerant in die tradisionele sin van die woord nie – dus nie ’n koerant wat net op die nuus in kleiner kringe sou fokus nie. Die redakteur, Francois Aucamp, het met reg aangevoer dat daar nie nóg so ’n koerant in die land was nie. En tog het die Metro dit nie gemaak nie en verskyn die laaste uitgawe op 26 September 1997. Die direksie het ’n gebrek aan genoeg advertensiesteun as rede aangevoer.

Maar was dit die werklike rede? Of was dit ál rede? Bradley se studie wys ’n aantal voor- en nadele uit wat op die spel was. So is aanvanklik beplan dat die Noord-Transvaler Metro in Pretoria, Warmbad, Nylstroom en Naboomspruit versprei sou word (ou name word telkens gebruik soos dit destyds gelui het). In Pietersburg sou die Noord-Transvaler Metro se susterkoerant, die Noord-Transvaler, verander na Noord-Transvaler Streek. Die idee was, aldus Aucamp, dat die twee koerante redaksioneel en met advertensies sou saamwerk.

Ander positiewe aannames was dat die Die Transvaler se lesers ’n gevestigde mark was, daar ’n gevestigde netwerk van bronne bestaan het, en die naam “Noord-Transvaler” ’n sterk positiewe betekenis in die gemeenskap gehad het. Die koerant sou pro-Afrikaans wees en die meerderheid inwoners bedien. Volgens die Markinorpeiling was 79% van die inwoners van Pretoria Afrikaanssprekend – ’n syfer wat klaarblyklik die swart bevolking nie in berekening gebring het nie.

Hoewel die beplanning van die nuwe koerant op die oog af professioneel gedoen is, was geen senior redaksielid aanvanklik daarby betrokke nie. Aucamp wat redakteur van Vista op Welkom was, is as redakteur aangestel en het eers in April 1993 betrokke geraak. Die blad het drie maande later vir die eerste keer op straat verskyn.

Volgens die een senior bestuurder, Louis Kruger, was die sakeplan futuristies. Maar Perskor se topbestuur was, aldus Kruger, nie rekenaargeletterd nie en het nie insig gehad in dit wat beoog word nie. Die begroting vir toerusting is, byvoorbeeld, met die helfte gesny sonder om die negatiewe gevolge te snap. Boonop wou die direksie hê dat die nuwe koerant reeds in Julie 1993 gepubliseer moet word en moes die rekenaartoerusting vinnig geïnstalleer word.

Daar was egter ’n tekort aan kundigheid, wat beteken het dat die stelsel nie betyds op dreef was nie en die aand voor publikasie oorlaai is en die koerant die volgende oggend laat verskyn het. Dit was geen goeie begin nie.

Die nuwe rekenaartegnologie sou beteken dat redaksielede nie almal in Pretoria-Wes is nie, maar versprei oor die stad by verskillende takkantore. Dit sou die koerant na die mense bring en eienaarskap van die blad bevorder. Adverteerders sou ook maklike toegang tot die Metro hê.

Die groot planne op papier het egter nie so goed in praktyk gewerk nie. Dit was lank voor die aanbreek van digitale fotografie en slimfone, wat beteken het dat film steeds per motor na die hoofkantoor gebring moes word. In die oggende is redaksievergaderings steeds in Pretoria-Wes gehou. Die redaksie het meestal uit mense bestaan wat aan die ritme van ’n dagblad gewoond was en dalk nie die nuwe visie gesnap het nie. Die afgeleefde dagblad moes oornag ’n vars, moderne koerant word wat die nuwe politieke bedeling met waagmoed aanvaar – anders as die Die Transvaler wat aan die ou bedeling probeer vashou het. Die oordra van die Die Transvaler se redaksie na die nuwe Metro was dus ’n wesenlike probleem. Die verskillende tipe koerant wat in die vooruitsig gestel is, het gevolglik nie heeltemal gerealiseer nie.

Die Perskorgebou in Mitchellstraat, Pretoria-Wes, was in ’n swak toestand en sommige van die toerusting, soos kameras, nie meer op standaard nie. Darem was die biblioteek met al sy uitknipsels, ou foto’s en naslaanbronne tot die redaksie se beskikking. Google was nog nie tot joernaliste se beskikking nie.

Die sirkulasie in Pretoria en omgewing het in die eerste jaar op net meer as 20 000 gestaan, in pas met die geraamde getal. Daarna val dit dramaties tot onder 14 000, moontlik weens ’n drastiese verhoging van 50% in die omslagprys. Dié teenspoed lei tot twee naamveranderings: in November 1995 val die “Noord-Transvaler” weg, wat in die nuwe bedeling nie meer toepaslik was nie. Daarna, in Januarie 1997 word die blad Metro Weekblad. Agt maande later was die blad dood.

Geen winsmakende blad word sonder goeie rede deur sy eienaars gesluit nie. Dit moet dus aanvaar word dat die direksie waarskynlik die ware feite gestel het toe hulle die gebrek aan genoeg advertensies die skuld gegee het vir die sluiting van die koerant. Probleme met die verspreiding van die blad is egter deur ander rolspelers geopper. Dit het so sleg daarmee gegaan dat die kontrak met die verspreidingsmaatskappy in 1996 beëindig is en Metro self die taak oorgeneem het.

Die sluiting moet ook gelees word in die lig van Metro se plasing by ander Gautengse koerante en nie by Perskor se plaaslike of gemeenskapskoerante nie. Die blad was wel lid van die Nuusblad-Persunie, maar nie deel van die afdeling vir die plattelandse pers nie. Die Metro was inderdaad ’n effe ander dier.

Feit is dat toe die Metro in 1997 om sy voortbestaan geveg het, Perskor self die einde van die pad bereik het. Die einde van hierdie groot Afrikaanse persmaatskappy is nog nie in enige detail opgeteken nie. Wel kan gestel word dat die maatskappy se eens winsgewende skoolhandboekbelange nie meer in die post-1994-bedeling die mas opgekom het nie en in 1996 by Kagiso, ’n swart bemagtigingsmaatskappy, ingelyf is. Twee jaar later, op 30 Junie 1998, is Perskor (dus die plaaslike koerante en tydskrifte) deur Caxton oorgeneem.

Die transaksie het beteken dat Dagbreek Trust, wat reeds sedert 1953 bestaan het en ’n belangrike rolspeler in Perskor se eienaarstruktuur was, nou beduidende geld beskikbaar gehad het om as trust die belange van Afrikaans te bevorder. Perskor as uitgewer van koerante het egter nie meer bestaan nie.

Die vraag is of die Metro as hibriede koerant (wat klaarblyklik nie juis geld gemaak het nie en dalk eerder ’n las was) net nie ingepas het in Caxton se planne met die voormalige Perskorkoerante nie. Was onderhandelinge nie reeds in 1997 in so ’n gevorderde stadium dat die bestuur besef het dit is net nie die moeite werd om meer energie en geld in die projek te stoot terwyl dit geen waarde toegevoeg het tot die transaksie wat reeds op die tafel was nie?

Indien hierdie realiteit (die verliese wat die koerant gely het en die voorgenome oorname deur Caxton) die eintlike redes is vir die sluiting van die Metro, bevestig dit dat finansiële redes binne ’n groter korporatiewe spel enige joernalistieke pogings troef.

Dit slaan ook terug na die samesmelting van Beeld se buurtkoerante in 1987 met Perskor en die Pretoria News se buurtkoerante in Pretoria om die Rekord te vorm, ’n suiwer saketransaksie wat die aanbod van koerante gerasionaliseer het, maar geen ag op joernalistieke gehalte geslaan het nie. Dit is juis hierdie koerant (met sy streekuitgawes) teen wie die Metro om advertensiesteun moes meeding en wat, ironies genoeg, bygedra het tot die Metro se ondergang.

Hierdie skets ook die agtergrond waarteen die huidige gemeenskapskoerantbedeling gelees sou kon word: die twee reuse in die veld, Media24 (die koerantbelange van Naspers) en Caxton (insluitende die voormalige Perskorkoerante) het die land in belange-areas verdeel. Mededinging word beperk aangesien dominansie in ’n bepaalde gebied groter winste verseker.

Uiteindelik is die voortbestaan van koerante, ook gemeenskapskoerante soos die destydse Metro, ’n ekonomiese magspel waarin die olifante die gras vertrap. Maar die storie hiervan word selde vertel.    

Daar kan verwag word dat die voortbestaan van Afrikaanse dagblaaie, dalk as weeklikse papierkoerante, volgens dieselfde rasionaal bepaal sal word, maar die internettegnologie maak moontlikhede oop wat nie bestaan het toe oor die Die Transvaler en Metro besin moes word nie. Die fout moet nie gemaak word om te dink dat die toppunt van tegnologiese moontlikhede nou bereik is nie. Reeds in die 1960’s het die wetenskapfiksieheld Frits Stegman sy koerant op ’n toestel (soortgelyk aan ’n faksmasjien) ontvang.

Die toekoms van koerante is dalk nog nie klaar geskryf nie en kan bes moontlik vreemder as die verlede wees.

Eindnotas

Hierdie artikel is grootliks gegrond op E Bradley se ongepubliseerde MA-verhandeling, "Die vestiging van die Noord-Transvaler Metro as plaaslike koerant, 1993-1996". Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys.

  • Johannes Froneman is ’n emeritusprofessor, navorser oor Afrikaanse mediageskiedenis en onafhanklike kommentator oor sake van aktuele belang. Hy was vir 28 jaar lank aan die Noordwes-Universiteit (voorheen Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys) verbonde, waar hy studieleier van Wood se MA-verhandeling was.
  • Elvira Wood is 'n sakejoernalis by Netwerk24 en het benewens die MA (Bedryfskommunikasie) ook ’n PhD in Kommunikasiestudies verwerf.
  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Marthinus Willemse

    Een van die moontlike redes vir Perskor se ondergang was dat hulle in die 1990’s die kontrak om Telkom se telefoongidse te druk, verloor het.

    Dit was op `n stadium die mees gesogte drukkontrak in die land. Toe die kontrak na baie dekades se druk deur Perskor en Naspers eerder aan CTP (Caxton) toegeken is, was dit `n geweldige skok vir Perskor. Naspers was meer blasé, “ons het ander hooi op ons vurk”; Perskor was grootliks afhanklik van telefoongidse en skoolhandleidings.

    Telkom het die kontrak aan CTP toegeken weens hulle tegnologiese innovasie, terwyl Perskor en Naspers op hulle gewone manier aangekarring het.

  • Avatar
    Andries G H van der Walt

    Ek het in die jare 1970 by die Transaler ge werk as hoofverslaggewer en later assistent-nuusredakteur toe Willem de Klerk redakteur was. Die groot probleem met Die Transvaler, feral toe Beeld in 1974 sy verskyning gemaak het, is dat die bestuur van Perskor geen benut gehad het van die hoe mens 'n geslaagde kommunikasie medujm soos 'n koerant moes hanteer nie. Perskor se kern aktiwiteite was eerder as 'n drukkery as 'n uitgewer (bv die druk van telefoongidse). By Beeld was dit die teenoorgestelde. En mens hoef ook net te kyk na wie die redakteurs van die verskillende korante was om te besef fat Die Transvaler vir politieke propaganda bestaan het en nie vir die klassieke doelwitte van 'n kommunikasie medium nie. Die optrede van Marius Jooste en sy handlanger, Koos Buitendag, getuig daarvan. Vir Jooste was redaksionale inhoud net daar om die wit spasie tusseen advertensies vol te maak. Daarby het hulle, soos in die artikel hierbo uitgewys, geensins enige belang gehad om die weerknemrs van Die Transvaler van moderne toerusting te voorsien om hulle beter te laat funksioneer nie. En dan was daar die kullery met sirkulasie syfers ten voor te gee dat Die Transvaler sy man staan teen die professionele joernaliste van Keeromstraat in Kaapstad. Ek het ook voordat ek by Die Transvaler begin werk het, 'n paar jaar lan vir Die Burger in Kaapsytad gewerk onder Piet Cillie as redakteur en Ebbe Dommisse as nuusredakteur. Dommisse was later redakteur na hy 'n tyd lank by Beeld as assistent redakteur gewerk het. Ek was lid van die redaksie van Die Burger toe Beeld in Johannesburg gevestig is. Ek sal nog fdie aand goed onthou toe daar in die Here XV11 afskeid van die redaksielede van die nuwe koerant afskeid geneem is. Schalk Pienaar wat die aanslag in Johannesburg sou lei se woorde onthou ek goed: "Ek gaan nie Johannesburg toe om Die Transvaler aan te vat nie, ek gaan die Rand Daily Mail doodmaak". Dinge het nie verloop soos Pienaar gehoop het nie en dit sou nog 'n hele paar jaar duur voordat die RDM uiteindelik handdoek ingegooi het. Dit was interessante tye veral toe Jooste een jaar vir die joernaliste van Die Transvaler hoenders as Kersbonus gegee het!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top