Kinder- en jeugliteratuurskryfskool 2026 by die Breytenbach Galery: ’n onderhoud

  • 0

Anne-Ghrett Erasmus en Mia Oosthuizen praat met Naomi Meyer oor die volgende kinder- en jeugliteratuurskryfskool wat binnekort by die Breytenbach Galery afskop.

Anne-Ghrett en Mia, dis lekker dat ek met julle kan gesels oor die volgende kinder- en jeugliteratuurskryfskool by die Breytenbach Galery. Vertel asseblief vir LitNet se lesers wie julle albei is.

Dankie vir die geleentheid, Naomi. Ek is Anne-Ghrett Erasmus Coetzee, kurator van die Breytenbach Galery in Wellington. En ek is Mia Oosthuizen, kinder- en jeugboekspesialis wat tans fokus op die begeleiding en ontwikkeling van skrywers, manuskripontwikkeling en eintlik enigiets en alles wat met boeke vir jong mense te make het.

Julle bied vroeg in 2026 ’n skryfskool vir kinder- en jeugliteratuur aan. Dis nie die eerste keer dat julle dit doen nie. Vertel asseblief vir ons lesers wat graag kinder- of jeugboeke wil skryf, wat by die skryfskool gebeur. Wat moet hulle saambring en moes jy reeds ’n boek gepubliseer het om te kan inskryf?

Die omvattende kursus duur 12 maande. Gedurende hierdie tyd wys ek (Mia) vir jou hoe om ’n storie-idee te ontwikkel tot ’n volledige storie/manuskrip wat aan uitgewers voorgelê kan word. Gedurende hierdie proses kom ons elke laaste Saterdag van die maand bymekaar by die Breytenbach Galery waartydens ek alles omtrent die skryf van kinder- en jeugboeke verduidelik, kreatiwiteits- en skryfoefeninge met jou doen en ’n groter opdrag vir die maand gee. Hierdie opdrag voltooi jy voor die volgende kontaksessie en ontvang deeglike terugvoer op jou werk. Elke maand bou op tot die skryf van jou volledige en afgeronde storie. By die kursus ontmoet jy natuurlik mense met dieselfde belangstellings as jy wat ook ’n waardevolle ondersteuningsnetwerk en vriendskappe word soos die kursus vorder en daarna.

Jy hoef slegs op te daag vir die kursus en ons bied die res: van ’n boek en pen, tot middagete en versnaperinge. Deelnemers hoef glad nie reeds gepubliseer te wees nie. Die kursus is reg vir bestaande skrywers en nuwelinge. Ons vra wel dat jy vir ons iets stuur wat jy al geskryf het, sodat ons deelnemers kan keur (indien nodig), aangesien daar beperkte plek is. Dit hoef nie lank te wees nie; ons wil net sien wat jou hand op papier doen.

Sal julle lesers aanraai om reeds voor die slypskool aan storie-idees te dink, of ’n spesifieke mark in gedagte te hê (vir kinders of vir tieners), of enigiets anders wil voorstel, soos die lees van onlangse kinder- of jeugboeke?

Anne-Ghrett (Grietjie): Dis altyd lekker as deelnemers opdaag met idees vir stories, Naomi. Soos ek al agtergekom het die afgelope paar jaar, bepaal die storie uiteindelik die ouderdomsgroep. Dit gebeur soos die storie ontwikkel. 

Mia: Een van die belangrikste goed om te doen voor en tydens die kursus is om soveel moontlik kinder- en jeugboeke te lees.

........
Een van die belangrikste goed om te doen voor en tydens die kursus is om soveel moontlik kinder- en jeugboeke te lees.
........

Natuurlik is dit ’n goeie idee om liefs meer hedendaagse kinderboeke te lees, maar jy mag ook jou ou gunstelinge afstof. Ek verwelkom storie-idees en jou gevoel oor die ouderdom vir wie jy wil skryf, maar vra dat jy oop moet wees vir die proses wat kan lei tot ander idees en ouderdomsgroepe. Soos Grietjie sê, dit is ’n proses wat ontwikkel soos ons jou natuurlike skrywerstem en -styl verken.

 Wat is die kostes en die praktiese inligting rondom die slypskole?

Die kursus beloop 12 maande en kos slegs R2 500 per maand. Dit sluit die volgende in: 

  • Een kontaksessie per maand op ’n Saterdag by die Breytenbach Galery op Wellington. Ons bied ook die opsie om aanlyn deel te neem;
  • kursusmateriaal;
  • persoonlike en deurlopende terugvoer op skryfwerk deur ’n spesialis op die gebied. Soos die kursus ontwikkel, pas ek die kursus ook aan vir elke skrywer om jou te ontmoet waar jy in jou proses is;
  • koffie, tee en middagete word bedien;
  • gassprekers soos van toepassing.
  • Ons kontakbesonderhede is hierbo – op die tweede advertensieprent.

Vertel asseblief ook vir ons lesers van enige publikasies wat uit vorige skryfskole voortgespruit het, as ekstra motivering om sommer nou vir julle slypskool in te skryf.

Hierdie is ’n heerlike vraag! Ons is geweldig trots op ons vorige skrywers.

1.

Troula Goosen vlieg behoorlik na die skryfskool. Sy kom tweede in LitNet se wetenskapfiksie-kompetisie (2024).

Haar boek, Chris, Taffie en die gruwelike grypdief, het in 2025 by Fantasi Uitgewers verskyn.

En haar boek, Kasteel van die blou draak, uitgegee deur LAPA Uitgewers, is Februarie op die rakke.

2.

Pieter van Zyl gaan van krag tot krag met sy joernalistieke werk, maar het ook sy droom bewaarheid om ’n kinderboekskrywer te word. Hy is die skrywer van die gewilde kinderboek, Ruben Namibië en Cindy: manewales van Ruben Lambrechts en sy diere, uitgegee deur Tafelberg.

Een van sy kortverhale verskyn in 2025 in Luca se kortverhaalbundel, Stories vir die siel.

3.

Madeleine Venter bou aan haar skrywersloopbaan. Van haar werk sluit in:

Sy kom derde in LitNet se wetenskapfiksie-kompetisie (2024).

Haar kortverhaal verskyn in Huisgenoot (2025).

Nog ’n kortverhaal verskyn in 2025 in Luca se kortverhaalbundel, Stories vir die siel.

4.

Elsibé McGuffog publiseer in 2023 Katja se kattesalon, en haar volgende prenteboek is reeds aanvaar vir publikasie.

Daar is baie van ons skrywers wat tans op terugvoer van uitgewers en kompetisies wag. Ons sien uit om al hul suksesse te deel en binnekort joune ook.

Ek sê altyd: Kinderboeke is nie kinderspeletjies nie, maar met hierdie kursus kan jy jou drome vlerke gee. En boonop is dit vreeslik baie pret!

Lees ook:

Die geheim van Caban | Wetenskapfiksiekompetisie

Die laaste diamant | Wetenskapfiksiekompetisie

Troula Goosen en die Sproetebessies: ’n onderhoud

Kinderboeke vir die Kerskous en die vakansie

Elsibe Loubser McGuffog gesels met Naomi Meyer oor Katja se kattesalon.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top