Troula Goosen en die Sproetebessies: ’n onderhoud

  • 0

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780798183628

Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis
Troula Goosen

Human & Rousseau
ISBN: 9780798183628

Maryke Roberts skets die agtergrond

Troula Goosen se tweede Sproetebessies-avontuur, Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis, het pas by Human & Rousseau, verskyn.

Lesers het nou reeds die Sproetebessies – drie tieners, Andante, Nova en Milan wat op laerskool hul eie klein bende, die Sproetebessies, gehad het – in die eerste avontuur, Die Sproetebessies en die hart van Die Swart Roos, leer ken.

In hierdie boek kry die Sproetebessies vakansiewerk op Spookkuil, ’n luukse Karoo-gasteplaas in Bobbejaanskloof, naby ’n kuil waaruit daar snags ’n grillerige mis opstyg. Die bestuurder van die gastehuis, ene Luca, het hulle genader om te kom uithelp, en hulle is baie gretig, want hulle moet geld spaar om Italië toe te gaan.

Hulle dink dis vir kelnerinwerk, maar eintlik moet hulle uitvind wie van die eksentrieke gaste met die eienaar se rare fossielversameling peuter. Wie is die geheimsinnige ou wat Andante by die kuil ontmoet en waarom fassineer hy haar so? En watter raaisel is opgesluit in die sterretjiesdagboek wat sy in die solder ontdek?

Ek het verlede jaar met Troula se Swart Roos geskryf daar is dele wat jou die Adams-familie se huis in jou geestesoog laat oproep en ander tye wat die prag en praal só goed beskryf word dat dit jou laat voel of jy aan die kandelare en reusespieëls kan vat. Troula se lang loopbaan as binnenshuise versierder het duidelik in die mooi besonderhede na vore gekom.

Troula het in 2008 ’n skryfkursus voltooi en skryf sedertdien kortverhale, novelles en jeugromans. Sy bied ook skryfwerkswinkels vir tieners aan.

In haar nuutste boek is dit nie net die dekor van die pragtige gastehuis wat so mooi beskryf word nie, maar ook die natuur: hoe die son op die kranse val; hoe die sterrehemel jou kan betower – om nie die liriese liefde vir die Karoo en die saligheid van ’n koel waterkuil te vergeet nie.

Beskrywings soos “middernag onder die Karoosterre is ’n magiese tyd om te swem” ; “die soel water omhels haar”; “op ’n stikdonker nag kan jy omtrent 9 000 sterre met jou blote oog sien”; “Mateo se ore was sterre”; “toe hulle boontoe skiet en miljoene druppeltjies soos confetti op hulle reën”.

Wat egter ook weer in hierdie boek skitter, is haar kreatiewe gebruik van idees en woorde – boonop toeganklike frases vir tieners: “buite sing die sonbesies asof hulle Eisteddfod hou”; “die teleurstelling ... soos ’n bosluis wat nie gaan los nie”; “stink bui”; “haar gedagtes soos vlooie rondhop”.

En dan, natuurlik, elke jong meisie se droom: die Adonis met die bruingebrande bolyf. “Toe die eerste druppels van die waterval op hulle val, kreun Mateo saggies. Haar hart ruk. Wat gaan sy dóén? Al hoe meer druppels reën op hulle neer. Elke druppel glinsterend soos ’n vuurvliegie in die sagte maanlig. Andante draai haar gesig en maak haar oë toe. Dis asof die water haar vrees wegspoel. En die nag is betowerend.”

En die mooiste rok wat sy al gesien het: “.. .dróómrok. Uitgelate draai sy in die rondte. Die wasige varinggroen materiaal pas perfek by haar mosgroen oë en kolk soos die kelkblare van waterlelies om haar skraal lyf.”

Maryke Roberts voer ’n onderhoud met Troula Goosen

Troula, Hoe gebeur hierdie beskrywings – kom dit maklik as jy voor die rekenaar inskuif; hou jy notas op jou foon of geel Post-its oral? Dit klink of jy in daardie gastehuis gaan skuil het terwyl jy die boek geskryf het?

Daar is dele van my stories waardeur ek swoeg, dele wat ek weer en weer deurdink en oorskryf. Die beskrywings waarna jy verwys, vloei egter vanself, alhoewel daar natuurlik orals inspirasie is. Vir Andante en Mateo se swemmery in die sterrekuil is ek byvoorbeeld begeester deur Coenie de Villiers en Deon Meyer se lieflike produksie oor die Karoo. Die manier waarop hulle die ongelooflike sterrehemel beskryf en besing het, was heeltyd in my gedagtes toe ek daardie toneel geskep het.

Soos in die vorige boek het jy die kuns vervolmaak om spanning te skep en die leser kort-kort oor jou skouer te laat kyk. “’n Benoude geluid glip uit haar keel. Nee kyk, sy glo nie aan goed soos spoke nie, maar hierdie verskynsel is verby grillerig.” Of “Die vertrek word donker. ’n Grys koue kruip deur die ruite en klou met taai vingers aan haar vel. Daar is iets ... iemand in die mis, sy voel dit in haar bloed. En dit soek na haar.” Jy hou van spookstories en -temas in jou tienerboeke. Dink jy dit het dieselfde bekoring onder jongmense as byvoorbeeld toe ons jonger was? Of bring jou boeke weer daardie spookstoriebekoring aan ’n nuwe geslag na vore?

Sjoe, ek sal nooit die spookstorie-aande op my oupa en ouma se plaas vergeet nie! Langenhoven se stories het ons vir ons eie skaduwees laat vlug. Vandag nog, wanneer ek vir kinders en jongmense vra watter genres hulle die meeste geniet, is rillers, avontuur-, spannings- en speurverhale, asook spookstories nog altyd hoog op die lys. Ek geniet dit dus om die jong lesers oor hulle skouers te laat kyk en die ganglig saans aan te los.

...........
Vandag nog, wanneer ek vir kinders en jongmense vra watter genres hulle die meeste geniet, is rillers, avontuur-, spannings- en speurverhale, asook spookstories nog altyd hoog op die lys. Ek geniet dit dus om die jong lesers oor hulle skouers te laat kyk en die ganglig saans aan te los.
..............

Is dit makliker om ’n tweede boek te skryf as die karakters gevestig is en mens net op die storielyn kan fokus?

Ek weet nie of dit makliker was nie, maar ek het dit geniet om Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis te skryf. Dit help beslis om reeds die hoofkarakters te ken, maar dit vra tog kopkrap om nuwe interessante newekarakters te skep. Aanvanklik het ek dit oorweeg om madame Rosa te laat opstaan uit die dode en die tweede boek ’n vervolg op die eerste een te maak, maar op die ou end het ek gevoel die eerste storie is afgesluit en dis tyd vir ’n splinternuwe avontuur met nuwe, vars karakters.

Hoe maak jy seker die eerste boek se storielyn skemer so effe deur sodat dié wat dit nie gelees het nie, ook op hoogte van sake is, maar dié wat dit wel gelees het, nie verveeld raak nie?

Ek skep raakpunte. Iets gebeur wat die hoofkarakter aan ’n gebeurtenis in die vorige storie herinner. Nie te veel dat dit vervelige herhaling word nie, sodat die leser die tweede boek kan geniet sonder om verward te voel, en terselfdertyd net genoeg om die leser nuuskierig te maak oor wat in die vorige avontuur gebeur het.

Hierdie boek het baie los draadjies – van familiegeheime en verlore ondergrondse stede tot ander planete en wesens wat daar woon en die Aarde wil oorneem. Hoe hou jy kop van alles en hou jy dinge bymekaar?

...........
Tot my spyt is ek nie een van daardie skrywers wat kan gaan sit en my storie in die fynste besonderhede beplan nie. Alhoewel ek met ’n basiese idee begin en breedweg weet waar ek wil uitkom, gebeur die storie in my kop terwyl ek dit skryf. Op dié manier bly dit ook vir my self ’n voortdurende verrassing.
.............

Tot my spyt is ek nie een van daardie skrywers wat kan gaan sit en my storie in die fynste besonderhede beplan nie. Alhoewel ek met ’n basiese idee begin en breedweg weet waar ek wil uitkom, gebeur die storie in my kop terwyl ek dit skryf. Op dié manier bly dit ook vir my self ’n voortdurende verrassing. Ek sien die eerste weergawe van die verhaal dus as my manier van beplan. Wanneer dit rofweg op my rekenaar is, werk ek die storielyn fyn deur. Ek skrap dele, voeg by en maak seker alles is gemotiveerd, alle vrae is beantwoord en alle los drade vasgeknoop.

Jou boek het baie goeie insae in die dinamika tussen jong meisies wat in ’n paar minute van beste vriende na effe afgunstig, na vermakerig gaan. Hoe hou jy jou karakters getrou aan ’n 2023-tiener?

Ek het nie dag tot dag kontak met tieners nie, maar een ding wat ek nooit verloor het nie, is my “inner child”. Dit bly my kompas. Al leef vandag se jong tieners in ’n heel ander wêreld as ek op daardie ouderdom, is daar sekere dinge wat nie wesenlik verander nie. Saam met die hoofkarakters  vat ek my lesers op ’n verbeeldingsvlug, maar te midde van die avonture bly hulle gewone tieners. Hulle loer na ouens en droom oor die liefde. Hulle het probleme met hul ouers en sibbe. Daar is onderonsies tussen vriendinne en hulle eksperimenteer met klere en grimering, ens.

Daar was in die vorige Sproetebessies ook ’n mooi les oor die lewe, oor die liefde. Is ’n lewensles of pitkos doelbewus deel van jou storielyn, of gebeur dit organies?

...........
Ek begin nooit ’n storie met ’n tema in gedagte nie – dit gebeur terwyl ek skryf; maar dit is vir my belangrik dat elke jong leser die boek met hoop in die hart sal neersit.
.............

Ek begin nooit ’n storie met ’n tema in gedagte nie – dit gebeur terwyl ek skryf; maar dit is vir my belangrik dat elke jong leser die boek met hoop in die hart sal neersit. So ja, al is my eerste doel om ’n paar uur van ontspanning en leesgenot te verskaf, stuur ek my lesers graag weg met ’n tikkie inspirasie vir die lewe.

Hoe belangrik is lees in tieners se lewe, en veral boeke lees, nie sosiale media se kriptiese woordgebruik, emoji’s en foto’s nie?

’n Mens kan baie sê oor die belangrikheid van lees. Tussen die bladsye van boeke wag wonderlike wêrelde om ontdek te word, wêrelde waarheen die leser kan ontsnap en onvergeetlike avonture saam met nuwe vriende kan meemaak. Stories help die lesers ook om hulself, ander mense en die wêreld beter te verstaan en dit stimuleer hul verbeelding en kreatiwiteit. In die wêreld van vandag se kinders het boeke ongelukkig egter groot kompetisie.

Jou verbeelding het regtig vrye teuels gehad met die bose en die goeie. Oor lewe op ander planete: Hoe besluit jy hoeveel moet in die onwerklike en hoeveel in die werklike lewe gesetel wees? Hoe bepaal jy daardie balans?

Dis moeilik om jou vraag te beantwoord oor balans, want ek dink nie bewustelik daaroor nie. Wat ek doen, is om die leser geleidelik voor te berei vir die moontlikheid dat daar iets meer aan die gebeur is as dit wat deel uitmaak van die karakters se gewone lewe. Wanneer ek dink dat die tyd reg is, stap ek oor en trek hulle in die fantastiese in. Dit is belangrik dat hulle moet kan glo dat dit werklik kan gebeur.

Is dit moeilik om in ’n wêreld waar ons almal oorstimuleer is, nog oorspronklike idees te hê?

Ek dink min van ons kan daarmee spog dat ons idees regtig oorspronklik is. Ons bou mos maar almal voort op fondamente en stene wat ander reeds gelê het. Die geheim is seker om ’n vars invalshoek uit te dink, iets wat die leser opnuut sal verras. Ek skryf die stories wat in my kop uitbroei, stories wat sekerlik inspirasie vanuit verskeie hoeke kry, en dan hoop ek maar dis genoeg in die kol vir my uitgewer om ’n kans te waag.

Jy het al genoem jy is baie krities teenoor jouself. Is daar iemand wat jou “op die pad hou” en jou selftwyfel besweer?

Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis is aan drie jare lange skryfvriende opgedra: Ilze Beukes, De Wet Hugo en Annerle Barnard. Skryf is ’n eensame werk en ek dink die meeste skrywers twyfel dikwels aan hulself. Dis daarom ’n voorreg om vriende te hê vir wie ’n mens kan vertrou en met wie jy al die oppe en awwe kan deel. Dan is daar ook my man wat my altyd aanmoedig en ondersteun. Tog, op die ou end worstel ek maar deur die twyfel, byt vas en skryf verder.

Watter terugvoer kry jy op jou tienerboeke en wat was die grootste kompliment wat jy nog van ’n jong leser ontvang het?

Ek kry terugvoer van lesers wat sê dat hulle die boek nie kon neersit nie. Die lekkerste was egter die tiener wat geskryf het dat Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos die beste boek is wat sy nog gelees het.

Is die Sproetebessies tans op hul volgende avontuur?

Alhoewel die bende in al die boeke saamspan om die geheim op te los, kry elkeen van die drie meisies ’n kans om die hoofrol te speel. In Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos is dit die skaam Milan; in Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis is dit die gewilde Andante. Nova se storie het die werkstitel van Die Sproetebessies en die draak van die blou grot en dit speel in ’n klein kasteel in die Pre-Alpe in Italië af. Indien die boek die lig gaan sien, sal dit die leser saam met Nova en haar besties wegraap na … Nee wag, dié geheim kan ek nie nou al verklap nie!

  • Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis, Sproetebessies #2, Troula Goosen, Human & Rousseau, ISBN: 9780798183628, Julie 2023, R185.

Lees ook:

Sproetebessies en die hart van die swart roos: ’n onderhoud met Troula Goosen

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top