Sproetebessies en die hart van die swart roos: ’n onderhoud met Troula Goosen

  • 0

Foto van boekomslag en van Troula Goosen: https://www.nb.co.za

Die Sproetebessies en die hart van Die Swart Roos
Troula Goosen

Human & Rousseau
ISBN: 9780798182812 

Troula Goosen se jongste jeugroman, Die Sproetebessies en die hart van Die Swart Roos, het pas by Human & Rousseau verskyn. Milan, Andante en Nova gaan na ’n musiekfees om die beroemde popster, Tyrion, te sien optree, maar daar wag ’n groter avontuur ... Milan beland op die verhoog saam met die Kaalbas Kitare en uit die bloute ontvang hulle ’n uitnodiging om ’n slypskool by te woon by ’n superster-akademie.

Maar daar skuil ’n donker geheim by Die Swart Roos en die drie van hulle moet vinnig plan maak – net soos toe hulle eens die bekende Sproetebessie-bende was.

Daar is dele wat jou die Adams Family se huis in jou geestesoog laat oproep en ander tye wat die prag en praal só goed beskryf word, dit laat jou voel of jy aan die kandelare en reusespieëls kan vat. Troula se lang loopbaan as binnenshuise versierder kom duidelik in die mooi detail na vore.

Troula het in 2008 ’n skryfkursus voltooi en skryf sedertdien kortverhale, novelles en jeugromans.

Jy dra jou boek op aan jou suster, Erma, wat in Noord-Italië woon. Watter rol het boeke in jul grootwordjare gespeel?

Ek en my suster deel ongelooflike kinderjare, waarin boeke en stories van kleins af ’n kleurvolle rol gespeel het. Saans het my ma vir ons gelees en selfs toe ons al jong tieners was, was hierdie storietyd nog steeds deel van ons aandroetine. Vakansietye was dit Pa se beurt en ek het helder herinneringe van hoe ons in sy arms lê en kraai van die lag of gril tot in ons tone vir Langenhoven se spookstories, Brolloks en Bittergal, of Loeloeraai. Die boeke op ons wenslysie was altyd ’n hoogtepunt in die Kerskous. My gunsteling was die Mienkie-reeks van Sita. Ons is kleintyd reeds aan die biblioteek bekendgestel en het vakansietye met stapels boeke huis toe gekom.

Hoe verseker jy dat jou karakters jonk genoeg vir jong lesers bly?

Alhoewel ek vir jong tieners skryf, het ek op die oomblik nie veel direkte kontak met jongmense nie. Ek probeer dus relevant bly deur ander jeugboekskrywers se werk te lees en veral om met die jong tieners op my Telegram-skryfgroep te gesels. So het ek hulle al gevra om stories se tienertaal ’n bietjie op te kikker.

Hoe moet kinder- of jeugboeke van vandag anders benader word as 30 jaar terug, toe lees nie met elektronika gekompeteer het nie?

Moeilike vraag, want die uitdagings is groot. Ek stem saam met die benadering dat ons vir kinders boeke moet gee wat hulle geniet om te lees en nie wat ons as volwassenes dink die regte leesstof is nie.

.............
Ek stem saam met die benadering dat ons vir kinders boeke moet gee wat hulle geniet om te lees en nie wat ons as volwassenes dink die regte leesstof is nie.
.............

Hoe kry ons kinders en jongmense aan die lees en weg van sosiale media af?

Ek wens ek het die antwoord gehad! Ek dink al wat ons kan doen is om opwindende boeke tot hulle beskikking te stel. Koop dit vir hulle, lees dit vir hulle wanneer hulle klein is, en daarna kan ons net hoop vir die beste. Wie weet, dalk word die tiener wat nou niks wil weet van boeke nie later in sy lewe tog weer ’n entoesiastiese leser.

Jy was as predikantsvrou en ma baie besig en het met jou aftrede op Bettiesbaai eers regtig begin skryf. Maar daar was daardie kort verhaal van die wolkie vir Siembamba. Vertel ’n bietjie meer daarvan, asseblief.

Ek het van kleintyd af stories uitgedink en geskryf en het, aangemoedig deur my pa, daarvan gedroom om eendag kinderboeke te skryf. Die eerste en enigste storie wat ek egter ooit weggestuur het, was oor ’n wolkie wat die wêreld wou gaan sien. Dit is deur die radioprogram Siembamba aanvaar en uitgesaai. Ongelukkig het ek nie meer die teks nie (dit was met die hand geskryf en gepos), maar iewers het ek nog die betalingsbewys van die SAUK wat letterlik iets soos ’n paar sent was.

Jy het laat begin skryf, maar toe jy eers aan die gang is, was daar geen keer nie! In 2016 ontvang jy ’n ATKV-Woordveertjie vir jou eerste vollengte jeugverhaal, Spooksoene. Hoe voel dit?

Die oggend toe ek my e-pos oopmaak en sien Spooksoene het die ATKV-Woordveertjie gewen, kon jy my met ’n veer omklits! Waarom jong lesers vir die boek gestem het, weet ek regtig nie. Miskien omdat kinders lief is vir ril en gril en spookstories altyd gewild bly. Miskien omdat hulle van geheime en speurwerk hou en daar in my stories altyd die een of ander raaisel is wat ontrafel moet word. Dalk is dit die naelbytavonture wat hulle in die proses beleef of die tikkie liefde wat ek vir geur byklits. Hoe ook al, wanneer jong lesers jou boek as ’n gunsteling aanwys, of ’n resensent soos Emiliedjie se jonglesersindruk Die Sproetebessies en die hart van Die Swart Roos aangee as een van die beste boeke wat sy nog gelees het, is daar geen groter beloning nie.

Jy hou daarvan om fantasie in jou boeke te verweef. Waar kom dié liefde vandaan?

My stories is almal in die werklike lewe geanker, of dit in die hede of die verlede is, maar ja, ek daag graag die jong leser se verbeelding uit deur ’n tikkie fantasie soos ’n silwer draad deur die storielyn te weef. Dit stel die leser in staat om te ontsnap na ’n opwindende milieu waar enigiets kan gebeur. Ek glo dat hierdie ontvlugting terapeuties is in vandag se tyd waar jongmense aan soveel wrede realiteite blootgestel word wat dreig om hul drome te kaap.

Ek het onlangs weer daarvan bewus geword toe ek kortverhale moes beoordeel wat deur tieners van 16 tot 18 jaar oud geskryf is. Die temas? Geweld. Gesinsgeweld. Boeliegdrag. Tienerswangerskap. Seksuele misbruik. Geestesgesondheid. Disfunksionele gesinne. Dwelms. Noem maar op, die een donker tema na die ander. Meer as een storie waarin die hoofkarakter sy/haar ouer(s) om die lewe bring. ’n Tikkie fantasie vat kinders net weer weg uit hulle omstandighede na ’n ander wêreld waarin alles moontlik is en waar die goeie oorwin, ongeag.

..........
’n Tikkie fantasie vat kinders net weer weg uit hulle omstandighede na ’n ander wêreld waarin alles moontlik is en waar die goeie oorwin, ongeag.
..............

Nog ’n opvallende ding is die interessante name wat jou karakters het: Andante, Nova, Tyrion en Vincento. Kom hierdie name by jou op met karakter en al, of hoe werk daardie proses?

Soms weet ek van die begin af wat ’n karakter se naam is, soos met Gabriel in Raaiselklip. Soms kies ek ’n naam met ’n betekenis, soos juffrou Estrelita in Raaiselster. Ander kere, soos met Sproetebessies, besluit ek aan die begin op ’n naam, maar soos die skryfproses vorder, help die karakters my reg en vertel hulle my wie hulle regtig is.

Ek maak baie gebruik van visuele stimulering en wanneer ek met ’n storie begin, soek ek altyd eers prente om my karakters so te ontmoet en die milieu te leer ken. Die Sproetebessies-bende is gebore toe drie oulike sproetgesigmeisies my oog op Pinterest gevang het, en die bendenaam is te danke aan die kreatiwiteit van my skryfvriend, De Wet Hugo.

Wat is die moeilikste deel van kinderliteratuur skryf?

Omdat ek nog nooit vir volwassenes geskryf het nie, kan ek nie uit ondervinding praat nie, maar ek dink die groot verskil kom daarby in dat jy as volwassene vir ander grootmense skryf; grootmense wat self ’n keuse uitoefen wanneer hulle boeke koop. ’n Volwassene skryf dus vir die mark wat hulle boeke koop.

Met kinderboeke verskuif die klem. Jy skryf vir jong lesers, maar jyself is nie meer ’n kind nie en moet jouself dus in ’n ander leefwêreld verplaas. Wat dit nog meer kompliseer, is dat kinders – alhoewel hulle weet waarvan hulle hou – nie self hul boeke koop nie. Hul ouers, dus volwassenes, het dikwels ’n bepalende inspraak. Die jeugboekskrywer moet daarom rekening hou met wat vir ouers aanvaarbaar is of nie. Enigiets wat byvoorbeeld met hekse of toordery te doen het, kan maklik in ons mark die wind van voor kry. Sekere elemente van fantasie kan as demonies gesien word, ens.

Om ’n voorbeeld te noem: Pas nadat my boek Maanlig-meermin verskyn het, het ek met ’n groep tuisskolers gepraat. Na die tyd kom ’n diep beswaarde tiener my waarsku dat ek met vuur speel – volgens haar is meerminne ongelooflik demonies. Sy lig my ook in dat die meermin in die storie ook nie uit die oertyd kan kom nie, omdat die aarde net 6 000 jaar oud is. Nadat ek van my verbasing herstel het, het ek floutjies en sonder sukses probeer verduidelik dat meerminne glad nie bestaan nie en dat dit alles sommer net verbeelding is. Vir ’n gesprek oor die ouderdom van die aarde het ek egter nie kans gesien nie!

Gelukkig is daar brûe wat die wêreld van die jong leser met dié van die grootmensskrywer verbind. Soos Walt Disney gesê het: “Laughter is timeless, imagination has no age and dreams are forever.”

Die Sproetebessies het ’n heel aweregse storielyn oor mal professors en wetenskaplikes wat jong mense se breine wil gebruik. Waar kom die idee vandaan en is daar verskuilde sosiale kommentaar in die boek?

Dit was vroeg tydens die pandemie toe ek Sproetebessies begin skryf het. Die wêreld was verward en lamgelê. Terwyl ek besig was om te skryf, het die vraag by my opgekom: Wat sal gebeur as ’n “virus” tieners se breine manipuleer en só die manier waarop hulle na hulself en die wêreld kyk, beheer? Alhoewel ek dit dus nie aanvanklik so beplan het nie, is dit op die ou end verskuilde kommentaar.

Ek lees op Facebook dat die jong resensent Emiliedjie vir Sproetebessies 10/10 gee en mal is oor jou woordkeuses. Ek moet saamstem: “sieleslurper”; “haar voete en hande kom in die pad as sy met seuns gesels”; “tjoklits-op-die-oog ouens”; en “sterstof”. Het jy ’n boekie met oulike woorde voor jou bed?

Nee, ek het nie so ’n boekie nie. Ek is ’n stadige skrywer en dit vat my lank om ’n storie-idee agtermekaar te kry. Sommige hoofstukke word talle male oorgeskryf voor ek tevrede is. Maar sommige dele kom vir my maklik en ek vermoed dit is die dele/woorde waarna jy verwys. Dis seker maar waar die muse my genadig is!

Jy het drie kleinseuns. Hoe het hulle jou boekbenadering beïnvloed?

Omdat my kleinseuns nog onder tien is, en ek vir jong tieners van 12 tot 14 jaar oud skryf, het dit nog nie ’n groot invloed gehad nie. Ek het wel enkele kort stories vir kleiner kinders geskryf wat in opvoedkundige bundels opgeneem is en my eerste boek vir 7- tot 9-jarige lesers verskyn later vanjaar. Hierdie storie, Die super doeper vlermuis, is beslis geïnspireer deur die pret wat ek al saam met my kleinseuns gehad het.

Jy bied graag werkswinkels oor kreatiewe skryfwerk vir kreatiewe leerders aan en skep werkstukke vir onnies. Vertel asseblief meer hieroor.

Wanneer ek skoolbesoeke doen, probeer ek altyd om nie net oor my eie skryfwerk te gesels nie, maar om ook vir die kinders een of twee praktiese skryfwenke te gee. Dit het my op die idee gebring om ’n kursus – gemik op graad 6- tot 9-leerders – op te stel en dit met Zoom-klasse gratis by skole aan te bied. Die kursus vat die jong skrywer vanaf stap een, waar die storie-idee gebore word, deur al die prosesse van karakters bou, milieu skep en storie-idee ontwikkel, tot waar hy/sy uiteindelik sy/haar manuskrip redigeer en afrond.

Die doel van die kursus:

  • Die ontwikkeling van leerders se skryf- en leesvaardighede
  • Die slyp van kreatieweskryfvaardighede = beter opstelpunte
  • Meer insig in literatuurstudie = beter Afrikaans-punte
  • Die kweek van geesdriftige lesers = meer suksesvolle leerders
  • Die plant van ’n saadjie = toekomstige skrywers

Daar was egter soveel belangstelling in die kursus dat ek gou besef het ek sal dit nie kan inpas om dit persoonlik aan te bied nie. Die oplossing was om die materiaal vir die ses modules in YouTube-video’s te sit en die skakels saam met aantekeninge en skryfoefeninge beskikbaar te stel. Die onderwyser ontvang die pakket en kan dit maklik in die klas of as werkswinkel aanbied. Omdat daar ook belangstelling was van tuisskolers en individuele leerders, doen ek dit vir hulle deur ’n groepie op Telegram.

Hoekom is dit belangrik om jong mense sover te kry om hul verhale neer te skryf?

.............
Vir my sal dit ’n groot beloning wees as ek iets kan bydra om ontluikende jong talent te inspireer en van vroeg af te help om die skryfproses reg te benader.
..............

Vir my sal dit ’n groot beloning wees as ek iets kan bydra om ontluikende jong talent te inspireer en van vroeg af te help om die skryfproses reg te benader. Met die beoordeling van die stories waarna ek vroeër verwys het, het ek gesien hoeveel van die aspirantskrywers wat al in die senior fase is duidelik talent het, maar nog geen benul het hoe om ’n goeie storie aanmekaar te sit nie. Verder, al is almal van ons nie skrywers nie, is lees en skryf belangrike vaardighede wat ons jongmense beter toerus om vir hulself ’n blink toekoms te bou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top