
Pampoenpit en die geheime helde deur Bianca Flanders; 9780637007740; LAPA; Ruben Namibië en Cindy deur Pieter van Zyl; 9780624092216; Tafelberg; Neo se onsigbare kombers deur Salamina Mosese; 9781779991089; Pan Macmillan SA; Huisgenoot: het jy geweet? 9781776077632; Best Books
Nog ’n skooljaar is verby en dis tyd vir lekker eet, lekker kuier, lekker speel en ... lekker lees. Lees wat jy wil, want dis vakansie. Ek beveel graag ’n paar sal-wil-leesboeke aan om op die uitkyk voor te wees, veral ook met die oog op daardie op-die-nippertjie Kersaankope.
Wendy Maartens het geen bekendstelling nodig nie, en háár vier nuutste prenteboeke is ook lekker vakansieboeke, gevoelvol deur Nikè Bekker geïllustreer. ’n Drukkie vir Danser speel teen die agtergrond van wilde vleiperde af. Maartens het hierdie boeke aan Kleinmond, waar sy woon, se diereliefhebbers opgedra, so dit maak sin om af te lei dat Danser deel van die trop wilde perde by Rooisand, net buite Kleinmond, is. Ook Druppel Dolfyn wat die branders met branderplankryers deel, en Patat, die berg-, strand- en dorpsbobbejaantjie, wat ook elkeen hulle eie boek in die reeks het, is alledaagse karakters van dié omgewing, waar heelparty jong lesers waarskynlik hierdie jaar vakansie hou. Wiekie, van ’n Wens vir Wiekie, se storie begin êrens in ’n sirkus, maar omdat dit onwettig is om wilde diere in ’n sirkus aan te hou, bring Wiekie en haar ma se storie hulle terug na ’n veilige hawe vir groot katte in Suid-Afrika.

Uitgewer: LAPA Uitgewers
Nog ’n vakansieboek wat dogters sowel as seuns sal interesseer, is Riana Scheepers se derde boek in haar sewe-reeks, Alten Akkedis se sewe sterte. Alten help Frida Verkleurmannetjie om betyds onder ’n gifwolk uit te vlug en verloor met dit sy stert. Nou sal die arme Alten weer ’n hele ruk moet wag voor hy weer soos ’n regte akkedis voel. Frida kom met ’n interessante voorstel. Sy weet van ’n tuin waar daar nie gif gespuit word nie. Oudergewoonte gee die skrywer agterin die boek interessante bonusfeite om daardie vrae wat boeke soos hierdie beslis sal ontlok, te kan beantwoord.
’n Paar kleurvolle prenteboeke ter voorbereiding van die nuwe skooljaar is moontlik ook ’n goeie idee vir vakansieleesstof. Daar word tog tydens vakansies met familie gesels oor die skooljaar wat voorlê en vrese en drome mag dalk in sulke gesprekke opduik. Salamina Mosese se Neo se onsigbare kombers is kleurvol deur Subi Bosa geïllustreer en vertel hoe Neo se sussie hom help om dapper te wees wanneer sy moed hom in party uitdagende situasies wil begewe. Die middelblad waar die boek dwars gedraai moet word om te sien hoe Neo oor twee bladsye by ’n boom opklim, is my gunsteling. In sy nuwe skool moet hy onder andere ook aan ’n swemgala deelneem. Dankie tog vir sy spesiale kombers. Nog iemand wat nie genoeg in haar eie vermoëns glo nie, is die hoofkarakter, Zazi, in Refiloe Moahloli se nuutste boek Jou kans om te dans. Soos party dogtertjies daarvan droom om te sing, of te swem of om krieket te speel, droom Zazi daarvan om te dans. Jou kans om te dans is lewendig deur Gabi Boy geïllustreer. Beide Neo en Zazi se verhale mag jong lesers wat soms daardie ekstra tikkie aanmoediging nodig het om agter hulle drome aan te sing, dans, klim of swem, inspireer om dapper te wees.

Uitgewer: Pan Macmillan South Africa
In die prenteboek My stem kan vreemde dinge doen wys Jaco Jacobs hoeveel mag daar in elkeen se unieke stem is. Hoe ’n stem kan aanmoedig en troos, of ongelukkig ook afbreek en beledig. Jacobs moedig in eenvoudige, gemaklike rym aan hoe jou stem gebruik kan word om ’n positiewe verskil te maak, terwyl Zinelda McDonald se illustrasie daarby ’n voorbeeldscenario wys. Die illustrasie met die woorde “Ons stemme word ’n vuishou wat die wêreld kan verander” wys byvoorbeeld ’n groepie kinders met plakkate waarop daar staan: “Red die planeet, red die pikkewyne.” Ook in die vierde Pampoenpit-titel deur Bianca Flanders word ’n inspirerende boodskap in ’n oorspronklike storie waarin ongewone helde ’n buiging maak oorgedra. Pampoenpit en die geheime helde fokus op werkers wat in die alledaagse lewe as vanselfsprekend aanvaar word, maar sonder wie ons lewens baie anders daar sal uitsien. Pampoenpit en Toets leer om op die uitkyk te wees vir hierdie helde en in hulle voetspore te volg en te help waar nodig.
Vir meer vaardige selflesers is daar nog ’n storie wat in die Overstrand afspeel. Met Troula Goosen se spannende avontuurverhaal Chris, Taffie en die gruwelike grypdief leer die leser ook meer oor die omgewing en sy geskiedenis. Moet egter nie verveling verwag nie. Eie aan Troula Goosen se stories, word werklikheid en fantasie slim gemeng, sodat amper enige iets moontlik is en kan gebeur. Die leser reis saam met Chris (in sy nagklere) en Tawwe Taffie, die dapper seevaarder, van Bettiesbaai na die Hangklip-vuurtoring, Maanskynbaai, Kogelbaai en Dappat se gat ... en nie padlangs nie. Chris, Taffie en die gruwelike grypdief is ’n lewendige selflees-, asook voorleesboek – die perfekte slaaptydstorie om droomavonture te waarborg. Vir ekstra interpretasie en droominspirasie help Stephen Wallace se ekspressiewe illustrasie aan die storie vertel.
Baie binnelanders besoek dié tyd van die jaar die kus, so daar is plek vir nóg twee seestories op die vakansieleeslys. In Jacolene du Plooy se Die seerowers van die Silwer Sardien-titels, Oogsterretjies en Die drie swaarde, is die seerowers meeue, pelikane en ’n gemmerkat. Septimus Seemeeu is anders as die res van die meeurowers. Septimus is nie baie braaf nie, hou meer van lees en wil nie eintlik ’n seerower wees nie. Grommer is ’n brawe gemmerkat en wil baie graag ’n seerower wees. In Oogsterretjies reël Septimus ’n talentaand en vind hy uit wat vir sterre in sy oë sorg. In Die drie swaarde vind Septimus ’n ou kaart wat ’n verlore skat aandui. Kaptein Alleghor Albatros stel egter ook in die skat belang en hy glo boonop nie in die seerowerkode wat sê dat seerowers nie by mekaar steel nie. Wie gaan die skat vind? Elsabé Ebersöhn se prettige illustrasies in kleur is gedetailleerd en moet gefynkam word vir ekstra lekkerkry. Du Plooy gebruik lekkerlees-alliterasie en nommerpas-naamgewing en uitdrukkings om vir prettige leesavonture te sorg. Soos kaptein Swartsnawel sou sê: “Sewentig slymerige slakke.” Lees net die boeke! Julle sal sien.
Almal hou egter nie van stories nie. Baie jong lesers stel meer in feitelike boeke of boeke oor spesifieke onderwerpe belang. Vir diegene het daar onlangs Huisgenoot: het jy geweet verskyn. Het jy byvoorbeeld geweet dat die Bloukransbrug die hoogste brug in Afrika is? Hierdie boek is wel vir lekkerleer, eerder as studeer. Dit sou goed aangewend kon word tydens ’n vakansievasvra, maar mag moontlik selfs gedurende die kwartaal vir eenvoudiger skooltake geraadpleeg kan word. Huisgenoot: het jy geweet is die perfekte geskenk vir daardie weetgierige nefie, maar maak jou maar gereed vir ’n rooigesig wanneer hy jou om die braaivleisvuur vasvra.
Ruben Namibië en Cindy deur Pieter van Zyl is nog ’n gawe boek vir nie-storielesers, al gaan jy hierdie stories wil oorvertel. Lesers ontmoet Ruben en sy gesin wat naby Windhoek in Namibië boer. Hulle is egter meer bekend as groot diereliefhebbers en die veilige hawe wat hulle vir ’n aantal diere bied as vir die Simmental- en Brahmaanbeeste waarmee daar geboer word. En Ruben is bekend vir die TikTok- en YouTube-video’s wat hy gereeld van Cindy en die ander diere plaas. In hierdie boek kan lesers nou die stories agter hierdie video’s lees en Cindy en Ruben se dierefamilie beter leer ken en so ’n tipiese dag op die plaas beleef. Vertellings is duidelik met foto’s en realistiese illustrasies toegelig.

Uitgewer: Human & Rousseau
Laastens, maar nie die minste nie, en beslis my gunsteling-voorleesboek van die jaar, wil ek vir ’n ieder en ’n elk Philip de Vos se Die jaar toe dit gemmerbier gereën het aanbeveel. Op Moedverloor het die droogte almal behalwe apteker Koot Marais en sy gesin verdryf. Katisja met haar rooi sambreel en 64 armbande daag egter daar op en dinge begin verander. Dysie begin meer melk gee en Christoffel lê meer eiers. Ja, Christoffel, Petronella kraai. Nuus van die Agtertrekkers wat op pad is, waai die dorp in en madame Zorada daag op. Daar word weer getrek, agtervolg, weggeraak, ontmoet, gevind ... selfs opgestyg. Philip de Vos se skryfstyl en woordkeuses en Theodore Key se ekspressiewe en gedetailleerde illustrasies waarborg verbeeldingsvlugte en baie binnepret.
Die jaar toe dit gemmerbier gereën het is ’n boek wat nie net op een plek op jou rak hoort nie en sal alle ouderdomme bekoor. Selflees EN voorlees. Daar is woordspelings, versteekte bekende frases of aanhalings, hope humor en eksentrieke en vindingryke karakters. Al hierdie wenbestanddele in ’n storie uit die kop van ons Afrikaanse rympiemeester sorg vir toonkrul-leestyd. Dis ’n uit-die-boks-boek, ’n boek wat jou met lekkerkry los en waarop jy beslis geen etiket, behalwe moontlik ’n goue ster, mag plak nie.
En fluit-fluit, my vakansieleesstorie is uit. Met hierdie lysie boeke hoef daar geen vervelige dae in die vakansie te wees nie. Onthou, lees wat en wanneer jy wil. Dis vakansie.
Boeke in hierdie skrywe aanbeveel:
Pampoenpit en die geheime helde deur Bianca Flanders; 9780637007740; LAPA
Neo se onsigbare kombers deur Salamina Mosese; 9781779991089; Pan Macmillan SA
My stem kan vreemde dinge doen deur Jaco Jacobs; 9781779991065; Pan Macmillan SA
Jou kans om te dans deur Refiloe Moahloli; 9781777991287; Pan Macmillan SA
Alten Akkedis se sewe sterte deur Riana Scheepers; 9780637008266; LAPA
’n Wens vir Wiekie deur Wendy Maartens; 9781776253760; Pan Macmillan SA
’n Drukkie vir Danser deur Wendy Maartens; 9781776253807; Pan Macmillan SA
’n Plek vir Patat deur Wendy Maartens; 9781776253784; Pan Macmillan SA
’n Deuntjie vir Druppel deur Wendy Maartens; 9781776253746; Pan Macmillan SA
Die jaar toe dit gemmerbier gereën het deur Philip de Vos; 9780798185547; Human & Rousseau
Ruben Namibië en Cindy deur Pieter van Zyl; 9780624092216; Tafelberg
Huisgenoot: het jy geweet? 9781776077632; Best Books
Chris, Taffie en die gruwelike grypdief deur Troula Goosen; 9781928446521; Fundi
Die seerowers van die Silwer Sardien: oogsterretjies deur Jacolene du Plooy; 9780637008082; LAPA
Die seerowers van die Silwer Sardien: die drie swaarde deur Jacolene du Plooy; 9780637008105; LAPA
Lees ook:
Die jaar toe dit gemmerbier gereën het deur Philip de Vos: ’n lesersindruk
Chris, Taffie en die gruwelike grypdief deur Troula Goosen: ’n lesersindruk

