
Erkenning van die spookprent: https://pixabay.com/vectors/ghosts-halloween-spooky-cute-haunt-1775548/
- Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.
........
Dit was onlangs nog Oktober en ek dink terug aan hoe winkels oorgeloop het van groot pampoene, monstermaskers en uitverkopings op allerlei lekkers en partytjieversierings. Alles onder die vaandel van Halloween!
........
Dit was onlangs nog Oktober en ek dink terug aan hoe winkels oorgeloop het van groot pampoene, monstermaskers en uitverkopings op allerlei lekkers en partytjieversierings. Alles onder die vaandel van Halloween!
Die wêreld van kinderliteratuur is ryk, opwindend en dikwels onverwags donker. Terwyl die genre meestal geassosieer word met verbeeldingryke avontuur, humor en ontdekkingstogte, het die makabere – spoke, hekse, vampiere, weerwolwe en ander monsters – ’n diep en steeds groeiende aanwesigheid in kinderstories.
In hierdie aflewering so kort voor Kersfees gaan ons kyk na dié grillerige gotiese gebeurtenis en hoe dit ook sy kloue en dalk wortels in van ons kinderliteratuur vind.
Die wortels van hierdie verskynsel: die historiese herkoms van Halloween, die ontwikkeling van die gotiese tradisie en hoe gotiese konvensies en figure vandag neerslag vind in hedendaagse kinderliteratuur sal ondersoek word. Deur die werk van Thomas (2021), Cambridge School (2017), asook Afrikaanse akademiese bronne soos Van Graan (2018), Taljaard-Gilson (2016) en Taljaard (2025) te gebruik, sal daar bespreek word hoe gotiese elemente nie bloot sensasie skep nie, maar ’n psigologiese, sosiale en selfs opvoedkundige funksie kan vervul.
Eerstens sal daar met ’n kort oorsig gekyk word na waar die hele konsep en tradisie van Halloween vandaan kom. Daarna sal die literêre tradisie van die Gotiek gebruik word om enkele elemente en aspekte wat in kinderliteratuur na vore kom, uit te wys en te bespreek.
Waar kom Halloween vandaan?
Dit help altyd om te verstaan waar dinge vandaan kom, want dit help ons om die hede beter te begryp. En vir die komvandaan van Halloween moet ons die wortels in Skotland en Ierland gaan soek, tussen die antieke Keltiese nasies.
Moderne Halloween-praktyke, wat kinders in kostuums, pampoenlanterns en maskers van monsters insluit, word dikwels as kommersiële Amerikaanse tradisies beskou. Eintlik het hierdie gekommersialiseerde feesviering ’n baie ouer en veel donkerder herkoms.
Thomas (2021) verduidelik dat Halloween teruggevoer kan word na die antieke Keltiese Samhain-fees. ’n Liminale tyd, rondom die herfs-winter-ewening in die noordelike halfrond, waarin die grens tussen die wêreld van die lewendes en die dooies vervaag. Daar is geglo dat net voordat die winter aanbreek en die herfs tot ’n einde kom, die skeiding tussen dié wêrelde vervaag en dat geeste, spoke, vampiere, weerwolwe en selfs die feë-volk vrylik tussen die mensdom kan beweeg. Dit was ’n milieu van voorbodes, geeste, bonatuurlike manifestasies en beskermingsrituele. Dink hier aan die leprechaun-kabouters van die Iere, die feetjies, kelpies, eenhorings en dies meer.
Die Cambridge School-webtuiste (2017) bevestig hierdie oorgangsfunksie of liminaliteit van Halloween en toon aan dat Middeleeuse Christelike feeste waarskynlik Keltiese gebruike opgeneem het en so ’n viering geskep het deur die teologie en mitologiese saam te voeg waar vrees vir die onbekende, respek vir die dooies en die behoefte aan beskerming sentraal gestaan het.
Dit is ook soortgelyk aan die fees wat in die Latyns-Amerikaanse kulture gevier word as Día de los Muertos – die fees van die dooies. ’n Fees vir die onthou van die afgestorwe geliefdes, omdat daar geglo is dat hulle vir ’n kort periode elke jaar met hulle geliefde herenig kan word.
Dit is belangrik om te besef dat Halloween nooit net bloot ’n spookfees was nie. Dit was ’n manier om emosionele en sosiale angs te verwerk. Deur die bonatuurlike te verbeel, kon gemeenskappe beheer uitoefen oor onsekerhede soos dood, natuurrampe of siekte. Dit was ’n meganisme wat die onverstaanbare, dit wat geloof en die wetenskap van die tyd nie kon verduidelik nie, te verwerk en te probeer verstaan.
........
Dit is belangrik om te besef dat Halloween nooit net bloot ’n spookfees was nie. Dit was ’n manier om emosionele en sosiale angs te verwerk. Deur die bonatuurlike te verbeel, kon gemeenskappe beheer uitoefen oor onsekerhede soos dood, natuurrampe of siekte. Dit was ’n meganisme wat die onverstaanbare, dit wat geloof en die wetenskap van die tyd nie kon verduidelik nie, te verwerk en te probeer verstaan.
........
Ons kry vandag ’n soortgelyke beginsel in funksionaliteit van kinderliteratuur. Wanneer kinders stories lees oor vampiere, weerwolwe of spoke, word hulle – net soos die Kelte en Asteke – bemagtig om donker temas te hanteer binne ’n veiliger, fiktiewe ruimte.
Die gotiese tradisie: van Europese kastele tot kinderliteratuur
Die gotiese literatuurgenre vorm die mees direkte literêre voorouer van die moderne spook- en monsterstories. Van Graan (2018) verduidelik dat die Gotiek voortdurend herskryf en heruitgevind word en vandag bestaan uit ’n web van subgenres: klassieke Gotiek tot Victoriaanse, postkoloniale en eko-Gotiek. Wat gotiese tekste bind, is die klem op vrees, spanning, die bonatuurlike, wat enige kreatuur van ’n spook tot ’n vampier of weerwolf insluit. Die worsteling met die Ander, wat afspeel in spookhuise, duistere kastele en donker omgewings.
Taljaard-Gilson (2016) beklemtoon dat die Gotiek histories dien as ’n kanaliseringsinstrument vir sosiale vrese. In die klassieke tradisie is spoke, vampiere en weerwolwe nooit net monsters nie. Hulle is die simboliese beliggaming van menslike vrese vir geweld, uitsluiting en trauma. Universele temas wat aanklank vind by ’n wye gehoor lesers.
Daarom floreer die Gotiek telkens wanneer ’n samelewing groot omwentelings beleef. Gevolglik is dit nie verbasend dat moderne kinder- en jeugliteratuur gotiese patrone ontgin nie.
Suid-Afrikaanse konteks
Die Afrikaanse Gotiek vir volwassenes, soos beskryf deur Taljaard-Gilson (2016), word gevorm deur ’n kombinasie van inheemse orale tradisies, Europese spook- en vampiermites, spiritistiese praktyke en plaaslike geloofsfigure (tokkelossie, voorouergeeste, ensovoorts). Dié tekste word gekenmerk deur verlate plase, droogtegeteisterde landskappe en spanning tussen Christelike geloof en okkultiese praktyke.
Hier is waar ons die eindelose verwysings na verhale soos Antjie Somers, die Vlieënde Hollander en verskeie ander spookstories, soos in die versamelings van Wendy Maartens, kan vind. Byvoorbeeld: Die beste Suid-Afrikaanse spookstories (2014) en Die wandelende geraamte en ander spookstories van CJ Langenhoven (2022).
Dit is belangrik om die historiese agtergrond van hierdie vermenging van Europese, Afrika- en Maleise magiese mites en legendes in gedagte te hou, omdat dit hoofsaaklik met die aankoms van Europese setlaars aan die Kaap gekoppel kan word.
Taljaard (2025) beklemtoon verder dat die Gotiek ook ’n spreekbuis vir sosiale vrese is – die bonatuurlike word gebruik om werklike angs, soos dié van geweld, mishandeling, onderdrukking of verlies, te verwerk. Wanneer kinders dus Afrikaanse spookstories lees, tree hulle in gesprek met ’n tradisie waar die bonatuurlike nie bloot vir sensasie bestaan nie, maar vir betekenisvolle emosionele verwerking. ’n Gevestigde funksie van kinderliteratuur.
Gotiese kenmerke in hedendaagse kinderliteratuur
Wanneer ons dink aan die Gotiek, is van die eerste elemente sekerlik die donker ruimtes waarin hierdie verhale afspeel. Die kerke, katedrale en kastele. Hierdie aspek van die Gotiek kom sterk na vore in die klassieke en Victoriaanse Gotiek.
Vampiere in kinderliteratuur, soos in Hotel Transylvania (2017), ’n grafiese roman, of die Little vampire-reeks (1979–1990) deur Angela Sommer-Bodenburg, verteenwoordig die spanning tussen menslikheid en andersheid. Van Graan (2018) wys in haar navorsing daarop dat gotiese figure dikwels grensfigure is wat identiteit en liminaliteit dramatiseer. Dit kan ook beskou word as juis die mees effektiewe karakters en karakterisering, juis omdat hulle so goed binne liminale ruimtes beweeg.
In die artikel, “Die lees van Peter Pan as ’n transgressiewe figuur in kinder- en volwasseneliteratuur”, verbind Theron (2020) die unieke vermoë van karakters soos Peter Pan wat magiese of onverklaarbare kragte besit en dus in liminale ruimtes leef, met die vermoë om vrese te besweer, die onbekende of trauma te verwerk. Die hoofargument as verklaring waarom liminale karakters as brugbouers in literatuur gesien kan word, is dat die wêrelde van die kind en die volwassene verbind kan word deur karakters wat spesifieke elemente van beide leef- en ervaringswêrelde saamvoeg. Soos om te kan vlieg in die geval van Peter Pan, wat moontlik absolute vryheid verteenwoordig.
Weerwolwe kan die verlies aan beheer simboliseer, iets wat kinders kan herken en mee kan vereenselwig, al het hulle nog nie die woorde daarvoor nie. Volgens Taljaard-Gilson (2016) verteenwoordig hierdie figure die onderdrukte self, trauma of instinktiewe drange.
Hier kan ons dink aan Jaco Jacobs se boeke, soos Waldo en die weerwolf met die rooi tekkies (2020), Waldo en die vampier met die geel reënjas (2021), of Fanie Viljoen se onlangse Wêreld van wolwe-trilogie (2020–2022), wat ’n hele wêreld en woud aan die jong leser bekend stel. Want in Droomhoek woon meer as net weerwolwe en spoke ...
........
Wanneer ons aanbeweeg na spoke en spookagtige dinge, is dit nie verbasend dat spookfigure in kinderliteratuur dikwels verlies, geheue en onreg simboliseer nie.
........
Wanneer ons aanbeweeg na spoke en spookagtige dinge, is dit nie verbasend dat spookfigure in kinderliteratuur dikwels verlies, geheue en onreg simboliseer nie. Taljaard (2025) beklemtoon dat spoke metafore vir werklikheidsgeweld is en dat die Gotiek help om traumatiese ervarings vergestaltbaar te maak. In eenvoudiger terme: As daar ’n spook is in ’n boek of verhaal, is daar ’n rede vir sy bestaan wat opgelos moet word. Troula Goosen se Raaiselsee (2020) is hier ’n goeie voorbeeld.
Verryking van kinderliteratuur deur gotiese elemente
Die funksie wat gotiese elemente verrig in kinderliteratuur, is om verskeie redes baie belangrik.
Eerstens is daar emosionele regulering, wat verwys na die vermoë om jou emosies te beheer en reguleer. Wanneer ons byvoorbeeld na weerwolwe kyk, is dit baie duidelik in die meeste verhale dat weerwolwe (veral in verhale soos die Dolfie die Weerwolfie-reeks) geen beheer oor hul transformasies het nie. Dit hou ook dikwels verband met hul emosies, soos dat Dolfie verander nie net onder die volmaan nie, maar ook wanneer hy bang of kwaad raak. Kinders moet die vaardigheid aanleer om hulle emosies te verstaan en te reguleer. Karakters wat dieselfde situasies ervaar en dieselfde ervarings meemaak, het die potensiaal om ’n jong leser te help. Dit mag hom of haar help verstaan hoekom hulle voel hoe hulle voel en, afhangend van die verhaal, “wys” hoe om daardie emosies te hanteer.
Tweedens is daar die sosiale en morele ontwikkeling wat gotiese elemente blootlê. Dit is in hierdie tipe verhale waar die fantasie- en gotiese elemente die skeidslyne tussen reg en verkeerd verdof, of dalk die leser s’n verdoof. Is dit reg om iemand se bloed te drink en hulle in ’n vampier te verander, of hulle te byt en in ’n weerwolf te verander? Jy gaan dan sonder hul toestemming hulle hele lewe en bestaan verander. Is dit reg om vir ander oor jou werklike doen en late te jok, of oor wat jy eet? Wat moet jy dan sê as jy vir ete genooi word en as ’n weerwolf of vampier is jou dieet nie eintlik geskik vir menslike aanskouing nie? Klink dit dalk soortgelyk aan die ongemaklike worstelinge van ’n tiener?
Derdens help dit om ’n kind se verbeelding te ontwikkel, wat dui op hoër-funksie-denke in die brein. ’n Brein wat abstrak deur middel van hul verbeelding kan dink, verkry ook toegang tot funksionele denke en probleemoplossing.
Laastens is daar die historiese en kulturele bewussyn wat in die verhaal self ingebed word deur verskillende elemente, soos vroeër genoem deur Taljaard-Gilson (2016), veral in die Suid-Afrikaanse konteks.
Halloween of nie?
.......
Halloween se herkoms is ryk aan simboliek en liminaliteit. Dit is ’n kwaliteit wat goed aansluit by die Gotiek. Die gotiese aard van kinderboeke is ’n dinamiese, aanpasbare raamwerk waardeur kinders betekenis kan skep. Die ontdekking en selfontdekking leef voort in elke kinderboek waarin ’n monster transformeer, ’n spook praat, of ’n vampier leer hoe om ’n morele en goeie vampier te wees.
........
Halloween se herkoms is ryk aan simboliek en liminaliteit. Dit is ’n kwaliteit wat goed aansluit by die Gotiek. Die gotiese aard van kinderboeke is ’n dinamiese, aanpasbare raamwerk waardeur kinders betekenis kan skep. Die ontdekking en selfontdekking leef voort in elke kinderboek waarin ’n monster transformeer, ’n spook praat, of ’n vampier leer hoe om ’n morele en goeie vampier te wees. Ten spyte van die kommersialisering van feeste soos Halloween en Día de los Muertos, is die monsters, zombies, vampiere, weerwolwe, spoke en ander gruwelike dinge deel van die gereedskap wat ons vir kinders kan gee om die wêreld om hulle te leer ken en verstaan.
Die Gotiek is nie net donker nie; dit is ’n noodsaaklike spoor in die oerwoud van gruwelike kinderverhale.
Bibliografie
Cambridge School. 2017. The origins of Halloween. https://www.cambridgeschool.com/en/the-origins-of-halloween-eng.html (20 November 2025 geraadpleeg).
Taljaard, G. 2025. Grafte, geeste en galgehumor: ’n besinning oor die Afrikaanse gotiek. https://penafrikaans.org.za/grafte-geeste-en-galgehumor-n-besinning-oor-die-afrikaanse-gotiek-gerda-taljaard/ (21 November 2025 geraadpleeg).
Taljaard-Gilson, G. 2016. Die inslag van die Gotiese in die Afrikaanse literatuur. LitNet Akademies, 13(1):185–208.
Theron, A.S. 2020. Die lees van Peter Pan as ’n transgressiewe figuur in kinder- en volwasseneliteratuur. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 27(1):99–118.
Thomas, H. 2021. The origins of Halloween traditions. https://blogs.loc.gov/headlinesandheroes/2021/10/the-origins-of-halloween-traditions/ (20 November 2025 geraadpleeg).
Van Graan, M. 2018. Om deur die grense van genre te lees. Stilet, 30(1/2):74–88.
Lees ook:
Chris, Taffie en die gruwelike grypdief deur Troula Goosen: ’n lesersindruk

