
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die jaar toe dit gemmerbier gereën het
Skrywer: Philip de Vos
Illustreerder: Theodore Key
ISBN: 9780798185547
Uitgewer: Human & Rousseau
As jy al ooit ’n boek gelees het wat geskik is vir lesers tussen die ouderdom van 0–100 plus jaar, sal dit Die jaar toe dit gemmerbier gereën het van Philip de Vos wees. Indien jy lewe en jouself op aarde bevind, sal jy met my saamstem dat jy al ’n draai of twee gemaak het by Moedverloor. Maar Moenie Moed Verloor nie! Daar is ’n Berg van Beloftes. Selfs al is jy die enigste gesin op die dorp. Iewers is daar ’n Mary Poppins in elke Moedverloor, alhoewel sy glad nie soos die Engelse dame klink of lyk nie. Nee, ons boeremeisie heet Katisja, en haar rum punch is gemmerbier. Die enigste ding wat dalk dieselfde is, is die wind van verandering.
Op die dorre dorpie Moedverloor woon die apteker Koot Marais en sy gesin. Vir vyf jaar byt hy vas, want hy glo dit is sy lewensdoel om mense te help met sy medisyne. Die bordjie voor sy winkel verklaar immers: KOOT MARAIS DIE MAN WAT ALLE KWALE GENEES. Al is daar geen ander mense wat hier bly nie. Want sien, ’n mens kan net soveel droogte verduur, voordat jy oppak en trek na die groenigheid van ’n ander plek. Maar dis nie ’n opsie vir Koot, sy vrou, twee kinders, twee hoenders en hulle koei nie. Hulle bestaan net. Totdat Katisja met haar rooi sambreel met die dorp se stofstraat hulle lewe binnekom. Kom ons sê maar sy het ’n alternatiewe benadering en uitkyk op die lewe. Haar konkoksies en veldkoskennis verander die lewens van die Marais’s.
Op ’n dag waai die wind ’n stuk van ’n ou koerant die dorp binne met die nuus dat die Agtertrekkers op pad is. Koot gaan uiteindelik weer die geleentheid kry om iemand se kwale te genees. Von Trap en sy singende kindertjies kry hier ook ’n boerebaadjie in die vorm van Rooi Hans die Groote, sy vrou en hulle 12 kinders. Dinge raak selfs meer interessant met die Agtertrekkers se Moedverloor-deurtrekkery.
Daar is rolspelers soos koeksisters, wakiste, ’n blikpapegaai, verlore kinders, kamoeflering, ’n goddelose waarsegster en die allerbelangrikste 123 bottels ontploffende gemmerbier.
Jy hoef nie van gemmerbier te hou om van hierdie boek te hou nie. Dit is ’n leeslekkerte op ’n standaard van sy eie. De Vos se styl is ligvoetig, speels en deurgaans verrassend – perfek vir jong lesers, maar ook vol tong-in-die-kies humor wat volwassenes sal laat glimlag.
Die boek se krag lê in sy oordaad van verbeelding en die kreatiewe wyse waarop ernstige temas soos droogte, verlies en hoop lig en toeganklik verpak word. Katisja se rooi sambreel word ’n simbool van moontlikheid – dat selfs in die moeilikste tye daar altyd ruimte is vir wonder en avontuur.
Die jaar toe dit gemmerbier gereën het is ’n sprankelende verhaal wat jong én ouer lesers sal betower. Dit is ’n herinnering dat verbeelding soms die kragtigste wapen is teen moedverloor. Was ek ’n filmmaker, sou ek my haas om die filmregte van hierdie boek te kry. En as jy hou van jou kombuis, kan jy Katisja se gemmerbier self brou, al het jy nie toegang tot twee koppies gedroogde paddas, vier eetlepels spinnekoppe en 23 druppels leeubloed nie. Dit is opsioneel.
Lees en kyk ook:
Philip de Vos en Piet Grobler gesels oor Tokkelossiebossie en ander dol gedoentes


