CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
“Dis net só onregverdig!” Mira druk haar lang hare agter haar ore in en plak haarself langs Azan agter die kontrolepaneel neer. Sy ignoreer die vies kyke van die ander jong wetenskaplikes in die ruimtetuig se beheerkamer en skakel haar monitor aan.
“Wintie, nè?” raas sy toe die beeld van ’n ou op die skerm verskyn. ’n Hemels-op-die-oog-ou wat vir die kamera knipoog. Nes die goue meisie wat aan sy arm klou. Terwyl hulle die lanseerarea binnestap, is hy uitgevat in Die Goeie Hoop se silwerwit ruimtepak. Mira se wange word warm toe sy sien hoe die styfpassende materiaal elke spier en kurwe beklemtoon.
“Ga! Hulle lyk meer soos modelle as na ruimteverkenners,” sê sy.
Azan lig ’n wenkbrou. “Is jy omgeklits omdat Talon gekies is om planeet Caban te verken, of omdat Catlea in sy span is?”
Mira rol haar oë. “Jy weet self ons twee is loshande die beste. Dis net omdat Talon die kaptein se seun is dat hy die kans kry om die ekspedisie te lei.”
“Sjuut!” Jazmi kyk oor haar skouer en frons.
Mira se mond gaan oop, maar voor iets bitsigs kan uitglip, pomp Azan haar in die ribbes. Voor hulle skuif ’n paneel weg. Mira suig haar asem in toe sy die blou bal sien wat reg voor die ruimteskip hang. Dink net! ’n Planeet met water en suurstof nes die aarde waarvandaan hulle grootjies dekades gelede moes vlug. Sy sug swaar. “Ek kan nie gló ons mis al die aksie nie.”
“Kyk!” Azan wys na die monitor se skerm. Talon en Catlea gaan staan voor die luik van die verkenningstuig. Catlea glimlag liefies en strooi vir oulaas soentjies na die kamera.
’n Sagte sug tril deur die beheerkamer toe Talon haar hand vat en dit soos ’n antieke aardse ridder na sy lippe bring. Mira klik haar tong. Duidelik wens elke meisie op Die Goeie Hoop sy kan met Catlea plekke ruil.
“Aandag, bemanning!” kom kaptein Morgn se rustige stem oor die klanksisteem. “Sodra die verkenners aan boord is, gaan die aftelling begin. Aangesien ons navorsing daarop dui dat Caban geskik is om menslike lewe te onderhou, het Die Goeie Hoop se lang soektog hopelik tot ’n einde gekom. Oor drie dae rapporteer Talon en Catlea terug en daarna sal ons begin om die planeet te koloniseer.”
“Hei.” Mira kom eers agter sy is besig om met haar naels in haar handpalm te kerf toe Azan langs haar praat. “Gee net kans,” troos hy. “Ons beurt sal kom.”
Mira blaas deur haar lippe. As Azan net wil ophou om in sy drome te leef. “Ja, reg! Wanneer al die pret verby is,” sê sy en skakel haar skerm af.
Die monitor aan haar pols vibreer en Mira kom slaperig orent. Sy kreun en vee oor haar oë.
“Aandag, Verkenningspan B!” Kaptein Morgn klink kortasem. “Meld aan in die beheerkamer. Ek herhaal, meld aan.”
Mira vlieg uit haar slaapkapsule. Sy trek haar uniform aan en haas haar na die hysbak. Azan wag reeds daar. Hy hou die deur oop sodat sy eerste kan instap. “Dit is beslis ’n noodgeval, anders sal kaptein Morgn ons nie in slaaptyd pla nie,” sê hy terwyl hy die knoppie druk, sy ligblou oë bekommerd.
Mira veeg haar hare agter haar ore in. “Dink jy dit het iets met die Caban-ekspedisie te doen?”
“Weet nie. Vroeër, toe ek uit die beheerkamer is, was als nog reg. Die verkenningstuig het veilig langs die meer in die noordelike halfrond geland, net soos ons dit geprogrammeer het. Met nog ses dagliguur oor het Talon en Catlea dadelik te voet vertrek.”
“O, ja?” Mira se mondhoeke krul. “Die windbol het seker in ’n gat getrap en sy enkel geswik. Daar’s tog niemand wat hulle sal aanval nie. Ons toetse het mos gewys daar is geen intelligente lewe op die planeet nie.”
“Presies.” Die keep tussen Azan se oë duik dieper.
“Jy bekommer jou verniet,” stel Mira hom gerus.
Die hysbak gaan oop. Anders as gewoonlik teen hierdie tyd van die skedule, wemel die beheerkamer van personeel. Party skarrel rond, ander sit met bekommerde gesigte voor hulle monitors. Buite voor die ruit hang die skadukant van planeet Caban onheilspellend teen die donker lug.
Kaptein Morgn staan op toe Mira en Azan binnekom. Hy stap met haastige treë nader. “Verkenner 2 staan gereed,” sê hy terwyl hy hulle gang af in die rigting van die lanseerarea stuur.
“Wag die tuig vir óns?” vra Mira oorbluf.
’n Spiertjie spring in die kaptein se wang. “Ek vermoed Talon en Catlea is in gevaar. Julle moet onmiddellik vertrek.”
“Wat het gebeur?” wil Azan weet.
“Als het volgens skedule verloop,” antwoord kaptein Morgn. “Tot net voor die einde van daglig. Toe het hul sein spoorloos weggeraak.”
“Sjoe, dis mooier as wat ek óóit kon droom,” roep Mira uit toe die verkenningstuig deur die atmosfeer breek en sy afkyk na die blou en groen landmassa wat in die goue strale van die oggendson skitter.
Azan glimlag skeef. “En om te dink Die Goeie Hoop soek al hoe lank na so ’n planeet; dít nadat ons oumense die aarde opgemors het.”
“Ten minste kry ons ’n nuwe kans.” Mira fynkam die omgewing onder hulle. ’n Glinstering vang haar oog. “Daar!” Sy beduie met haar wysvinger na waar Talon en Catlea se tuig in die sonlig blink.
“H’m,” beaam Azan. “Van hier af sal ons te voet moet soek.”
Die tuig vat grond. Mira maak haar gordel los en wurm uit haar sitplek.
“Hei, nie so haastig nie,” raas Azan kastig kwaai. “Voor ons dit buite waag sonder ons ruimtepakke en suurstofmaskers, moet ek eers ’n paar toetse doen.”
Mira trippel rond. “Moet jy altyd so oorversigtig wees? Ons gaan regte grond onder ons voete voel, skoon lug inasem, die plante ruik …”
Ná wat soos ’n ligjaar voel, druk Azan ’n knoppie en die luik skuif oop. “Hier gaan ons!” sê hy met ’n laggie, maar Mira kan nie help om te sien hoe hy ’n laserpistool in sy gordel druk nie. “Moet net nie kop verloor nie, nie voor ons uitgevind het wat met Talon en Catlea gebeur het nie.”
Mira is eerste teen die leer af. Vars lug spoel deur haar longe. Druppels glinster op die lang gras en sy laat haar vingerpunte daaroor gly. “Seker gereën laas nag,” fluister sy verwonderd.
Azan bekyk die plek waar die gras platgetrap is en begin aanstap. “Kom nou!” roep hy oor sy skouer. “En maak toe jou mond. Jy is ’n opgeleide ruimteverkenner, nie ’n toeris nie.”
Mira gooi haar toerusting oor haar skouer. Dis nogal moeilik om op ’n vermiste ou - een op wie jy skelmpies verlief is - en sy irriterende, beeldskone meisie te fokus terwyl jy vir die eerste keer in jou lewe sonder ’n ruimtepak buite ’n ruimteskip rondloop. Veral langs ’n meer waar spatsels sonlig silwerblou sterre uit die water toor en die groen van die plante jou oë laat traan van die mooi.
Hulle volg die spoor wat ’n noordelike rigting langs die oewer inslaan. Die son sit al hoog toe hulle by ’n plek kom waar ’n plat kol in die gras wys dat Talon en Catlea daar gerus het. Mira lig haar toerusting af en vryf haar seer skouers terwyl Azan hurk om sy instrumente te raadpleeg. Hy frons. “Snaaks, die monitor tel steeds geen sein op nie. Die verkenners se spore is hier, maar dis of die planeet hulle ingesluk het.”
Mira vee ’n natgeswete haarsliert van haar voorkop en tuur oor die meer. Alles is net so asemrowend. Die blou-blou lug. Die wasige grys mis wat besig is om uit die silwer water op te styg.
’n Beweging vang haar oog. “Azan, kyk!” Sy wys na waar die misvlae om die bome aan die rand van die woud begin draai.
“Wat is dit?”
“Daar! Daar oorkant.” Sy beduie weer.
Azan kom orent en skerm die sonstrale uit sy oë. “Ek sien niks nie.”
“Daar wás iets,” hou Mira vol. “Dit het beweeg. En dit het gelyk soos …” Sy byt haar onderlip vas.
“Kom nou, Mira, moet ek dit uit jou trek? Soos wat het dit gelyk?”
“Ag, los dit net!” Sy buk en tel haar toerusting op. Ten minste is dit ’n goeie verskoning om haar gloeiende wange weg te steek. As hy moet weet wat sy dink sy gesien het, gaan hy haar uitlag.
Met ’n bekommerde frons kyk Azan na haar. “Ons is nie gewoond aan die warm son nie,” sê hy. Toe begin hy aanstap na waar Talon en Catlea se voetspore wegdraai van die oewer om tussen die koelte van die bome te verdwyn.
Hulle volg die spoor in stilte, maar Mira se hartklop dreun in haar ore terwyl haar oë oor die skemer bos om hulle gly. Sy kan die prentjie van wat sy gesien het, nie uit haar kop kry nie.
’n Draak.
Nee, wat makeer haar! Sy het nié ’n spokerige, deurskynende lyf vol skubbe – nes die draakprente in die ou, aardse kinderstories in die ruimtetuig se argief – tussen die bome gewaar nie. Dit was net die opwinding van die dag en mis wat om die donker stamme kronkel wat haar verbeelding op hol het.
Tog ruk haar nek elke keer wanneer ’n droë blaar grond toe warrel.
Hoe verder hulle loop, hoe digter word die woud. Gras maak plek vir ’n blaremat wat dit al hoe moeiliker maak om die spoor te volg. Elke nou en dan gaan staan Azan om die omgewing te bespied en Mira is dankbaar vir die instrumente wat hulle help om rigting te hou. Daarsonder was hulle lankal hopeloos verdwaal.
Hulle het net om die dik stam van ’n boom gestap toe Azan vassteek, so onverwags dat Mira teen sy skouer vasloop. “Eina, wat is dit met jou …” Haar woorde verdamp toe sy die klein leegte voor hulle sien met daaragter ’n rotsagtige heuwel waarvan die bopunt in die mis wegraak. Teen die heuwel kronkel kliptrappe uit, toegegroei deur saggroen mos.
Azan se hand vou om haar bo-arm. “Wag,” fluister hy.
“Dink jy …” Mira lek oor haar lippe. “Dink jy hier is … iemand?”
“Daardie trappe het nie vanself hier gekom nie.”
“Maar dit lyk antiek. Dalk die oorblyfsel van ’n beskawing wat uitgesterf …”
’n Rammeling wat klink of dit van diep onder hulle voete kom, onderbreek haar. ’n Aardbewing? Maar nee, niks skud of bewe nie. Net die geluid, donker en onheilspellend. Verskrik kyk sy na Azan, maar hy vat-vat na sy laserpistool, sy oë vasgenael op die bokant van die trappe.
Asof van nêrens verskyn daar ’n figuur. ’n Vrou. Haar gesig is kleurloos, amper grys, met twee silwer oë wat stip na hulle kyk. ’n Swart rok waarin silwer drade glinster val sag van haar skraal skouers tot net bo haar sandale en ’n silwer tiara hou haar maanwit hare terug.
Sy is terselfdertyd beeldskoon en skrikwekkend en net om na haar te kyk laat koue grille teen Mira se ruggraat afglip. Onwillekeurig deins sy terug toe ’n deurskynende draak van agter verskyn en om die vrou se voete krul.
Dis asof tyd stilstaan. Al waarvan Mira weet is die vrou se magiese silwer oë wat hare vashou en die greep van Azan se hand om haar bo-arm.
Die vrou se oë glim. Die volgende oomblik vou die mis haar toe.
Azan blaas sy asem hoorbaar uit.
“Dink jy ons moet haar volg?” Mira se stem bewe.
“Jy vra nog!” Hy gryp haar hand en hulle draf teen die steil trappies uit. Toe hulle bo kom, moet Mira eers haar sy vashou tot die miltsteek bedaar.
Hulle staan op ’n platform wat soos ’n vervalle wagtoring lyk. Voor hulle voete, half versluier in die mis, kronkel ’n diep kloof tussen twee rotsagtige berghange deur. Aan weerskante van die kranse klou daar oorblyfsels van ou bouwerke vas. Gekraakte pilare … ingevalle openings wat in geheimsinnige donker dieptes in verdwyn … knoetserige bome wat uit die skeure groei. Hier en daar beweeg daar oranje spatsels soos uitroeptekens in die grys mis. Reusagtige skoenlappers, merk Mira op.
“D-dink jy hier woon iemand?” Sy is amper te bang om te praat.
Azan trek sy skouers op. “Hoe gouer ons vir Talon en Catlea kry en spore maak, hoe beter,” fluister hy.
Hulle vorder stadig teen die smal trappies af en Mira moet aan die varings wat uit die klipskeure groei, vashou om te keer dat haar voete glip. Elke nou en dan rammel die aarde, diep en donker, en plek-plek maak die draaiende mis dit moeilik om te sien waarheen om te gaan. Azan loop voor. Halfpad na onder druk hy ’n boomtak uit die pad en steek vas. “Mira, kyk!”
Sy kyk oor sy skouer en tuur deur die mis. Nog seker so ’n honderd trappe na onder is ’n plein met ou keistene geplavei. In die middel daarvan ’n reghoekige voorwerp wat glinster asof dit van suiwer goud gemaak is. Mira frons. Dit lyk bekend. Amper soos die ou altare op aarde waarvan sy in die ruimteskip se argief gelees het.
Toe trek sy haar asem in. Langs die voorwerp teen ’n ring aan ’n klippilaar is twee figure vasgeketting.
“Talon! Catlea!” Haar uitroep eggo teen die rotswande en rol deur die hol gange van die murasies.
Talon se kop ruk agteroor. Toe hy hulle sien, rek sy oë van skrik. “Vlug! Julle moet vlug!” skree hy.
Te laat!
Die takke van die bome teen die kranse begin ritsel liggies, asof ’n spookasem daardeur blaas. ’n Vlaag mis vee met koue vingers oor Mira se wange. Die skaduwees kry lewe.
Mira ril en vryf oor haar oë. Toe sy weer kyk, staan die grys vrou tussen die altaar en die klippilaar. Die deurskynende lyf van haar draak krul om haar voete en ’n verdwaalde sonstraal toor sterlig uit haar tiara.
“Kom nader, Mira en Azan van planeet Aarde.” Haar stem is betowerend, soos die diep klanke van ’n tjello, en Mira kan elke woord duidelik bo Catlea se gesnik hoor.
Azan se een hand vou om hare, die ander om die pistool in sy gordel.
Dis of die klam, glibberige trappies geen einde het nie, maar uiteindelik staan hulle voor die glinsterende wese. Azan lig sy ken. “Wie is jy? Hoe ken jy ons name? Hoekom hou jy ons vriende gevange?”
Die vrou se wenkbroue lig. “Jy vra baie vrae Azan van planeet Aarde. Noem my maar Terra vir die duur van ons kort ontmoeting. Jöro … Inanna … Gemini … Tocî … Gaia … wat ook al die aardelinge my genoem het, is lankal nie meer belangrik nie.”
Mira gee ’n tree vorentoe. “Laat ons vriende vry! Hulle het jou niks gemaak nie.”
“Mira, pasop!” Talon ruk aan die kettings om sy polse.
Terra se gesig vertrek. Sy lig haar arms en strek haar hande uit na Mira. Mira deins terug toe sy sien dat waar daar net nou nog slanke vingers was, daar nou kloue uitsteek, skerp soos dié van ’n roofvoël.
“Haka!” Die uitroep skeur uit Terra se keel. ’n Blou vlam skiet uit haar regterklou en tref Mira teen die skouer. Mira se voete gly en sy beland in ’n hopie op die plaveisel.
Azan roep uit en sak op sy knieë langs haar neer. “Vir wat het jy dit gedoen?” Hy gryp na sy pistool, maar nog ’n vlam en dit val verkool langs hom neer.
Terra se stem is kil. “Julle is oortreders op hierdie planeet.”
Mira sukkel op haar voete. “Ons het mos nie geweet hier woon iemand nie.”
“En nou is julle so vermetel om julle hier te kom tuismaak?”
“Ons wil niemand kwaad maak nie,” keer Azan. “Ons soek net na ’n plek om te woon.”
Terra se kloue trommel op die altaar.
Mira sluk teen die vrees wat in haar keel opdam. “Enigeen verdien tog seker ’n woonplek?”
“Regtig?” Terra strek haar kloue oor die altaar uit. Bokant dit begin die mis warrel en draai. Die grys slierte verander in deurskynende kwaste wat met lang hale teen die lug verf. Voor Mira se verbaasde oë verskyn daar ’n hologram.
“Die see!” roep sy uit. Branders breek oor ’n olierige swart strand. Die reuk van dooie voëls en vrot visse walm op in haar neusgate.
“Planeet Aarde, natuurlik,” sê Terra onnodig. “Een van die oliestortings in die 21ste eeu wat die seelewe uitgewis en die aarde se ekosisteem ingesypel het.”
“Dit was ons oumense,” verdedig Azan. “Ons het niks daarmee te doen gehad nie.”
Terra blaas deur haar neus en strek weer haar kloue uit. Die strand verdwyn en die buitelyne van ’n stad se wolkekrabbers verskyn, skaars sigbaar teen die horison waar fabrieke swart rook in die lug spoeg. “Kweekhuisgasse. Die resultaat van fossielbrandstof.”
“Dit was verskriklik.” Mira herken haar eie stem skaars. “Maar ons sal nie weer dieselfde foute maak nie.”
“Ha! Dis elke geslag se verskoning. Kyk!”
Hierdie keer voel dit vir Mira asof sy bokant die oseaan sweef. Onder haar maal ’n tamaai eiland van plastiek. ’n Dooie walviskalfie dryf met sy pens na bo. Langsaan spartel ’n seeskilpad met ’n plastiekstrooitjie tussen sy oë.
Catlea sak vooroor in haar boeie. Dit klink of sy opgooi.
Mira druk haar hande voor haar gesig.
Skerp kloue ruk dit weg. “Kyk!”
Mira snak na asem toe sy die blougroen aardbol sien wat nou bokant die altaar hang.
“Afrika … Europa … Asië … die Amerikas – ongerep soos dit was voor julle alles vernietig het.” Terra se oë lyk oud. “Ek was een van die gestuurdes wat die aarde moes versorg. Sommige het ons engele genoem. Ons het die mense besoek, hulle geleer hoe om vuur te maak, die grond te bewerk en asemrowende bouwerke op te rig. Maar julle voorvaders het gulsig geword. Vir alles wat hulle uit die aarde gevat het om hulle lewens geriefliker te maak, was daar ’n byproduk, ’n prys wat die planeet moes betaal. Hulle het nie omgegee nie. Net aangehou en aangehou tot alles vernietig is. En nou wil julle dit hier ook kom doen?”
“Ek … ons is jammer,” fluister Mira. “Maar ek belowe, ons het ons les geleer.”
“Glo my, die mensdom leer nie! Elke geslag het die skuld op die vorige gepak en daarna ’n nog groter gemors gemaak.” Terra leun vorentoe en haar silwer oë skroei in Mira s’n. “Maar daar is iets wat jy kan doen om my te oortuig.”
Mira gee ’n tree terug. “W-wat is dit?”
Terra se stem word swart. “Betaal vir jou foute! Gee een van jou vriende vir my as ’n offer.”
Dit tref Mira soos ’n skop in die maag. “Is jy gek?”
Catlea pluk aan die kettings. “Sy gaan ons almal doodmaak, Mira,” huil sy.
Talon lig sy kop. Sy oë soek Mira s’n. Kies my! vorm sy lippe die woorde.
“Dapper, jong man!” Terra gee ’n bitter laggie en tik met haar arendkloue op die goue altaar.
“Nou toe, waarvoor wag ons? Kies en kry klaar!”
Mira kry skaars asem. Dis ’n nagmerrie. Haar drie vriende se gesigte swem voor haar oë. Azan … Talon … Catlea … Sy het partymaal sulke nare goed van hulle gedink, hoekom besef sy nou eers hoe baie hulle vir haar beteken? Sy sal eerder doodgaan voor sy een van hulle gee om deur Terra geoffer te word. Maar as sy niks doen nie, sal Die Goeie Hoop vir ewig en altyd in die ruimte rondswerf.
Toe weet sy.
Sy lig haar ken en kyk Terra kalm in die oë. “Vat my. Ek sal jou offer wees. Belowe net jy sal weggaan en dat my mense hier kan kom woon.”
“Mira!” Azan gryp haar hand.
“Ag, hoe aandoenlik.” Terra gaan voor Mira staan. Haar kloue verander in vingers wat amper liefdevol om Mira se ken skulp. “Ek wens ek kon die mensdom verstaan. Aan die een kant doen julle die afgryslikste goed. Julle verskeur mekaar en verwoes als om julle. Aan die ander kant …” Sy bly ’n oomblik stil. Wanneer sy weer praat, moet Mira haar ore spits. “Aan die ander kant is julle ongelooflik. Dit is waarom julle nog ’n kans kry.”
“Jy bedoel ons mag op Caban bly?” Azan se stem is skor.
Terra skud haar kop. “Daar is net een plek in die heelal waar ek julle sal toelaat. Pluis uit waar dit is en ek sal julle met rus laat.”
Sy klap haar hande. ’n Miswolk borrel uit die altaar en vou oor die plein, so dig dat Mira skaars haar hand voor haar oë kan sien. Sy voel hoe haar voete van die grond lig, alles warrel om haar en toe sy weer weet wat aangaan, land sy op haar sitvlak op die gras langs die twee verkenningstuie.
Een na die ander beland Azan, Talon en Catlea langs haar.
“Mira!” Talon spring op en gee haar ’n drukkie. “Jy was net só dapper, ek gaan nooit weer sonder jou op ’n ekspedisie nie!”
“Ek het ’n beter plan!” Azan se ligblou oë lag in hare. “Sodra ons uitgepluis het van watter planeet Terra gepraat het, moet Mira ons nuwe leier wees.”
“Ek stem saam,” sê Catlea. “Maar hoe gaan ons dit regkry?”
’n Ruk lank praat niemand nie. Toe klap Mira haar vingers. “Ek weet! Ons kan mos teruggaan planeet Aarde toe!”
Catlea frommel haar neus. “Dis verwoes. Niemand kan daar leef nie.”
“Maar sê nou net daar het iets oorgebly?” ’n Opgewonde warmte spoel deur Mira se are. “Enigiets. ’n Plant iewers in ’n skeur in die berge. Water. Iets wat ons kan gebruik om van voor af te begin.”
“Jy is reg!” Azan gryp haar hande in syne vas. “Dis presies wat Terra wil hê. En wie weet, as sy sien ons gee alles wat ons het, help sy ons dalk weer soos sy ons voorvaders gehelp het.”
Mira staan op en klap ’n grasspriet van haar sitvlak. “Nou toe, waarvoor wag ons?” roep sy oor haar skouer terwyl sy begin aanstap na die verkenningstuig.
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!