Katja se kattesalon
Elsibe Loubser McGuffog
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172832
Elsibe, geluk met jou boek Katja se kattesalon. Heel eerste: Hou jy van katte? Tweedens: Onder watter kat-egorie sorteer jou boek – is dit vir grootmense of vir kinders of vir mense van alle ouderdomme?
Baie dankie! Ja, ek is dol oor katte. Die boek is ’n voorlees- en selfleesboek. Met ander woorde, ouers of onnies kan dit voorlees, of kinders van 9 en 10 kan dit self lees. Die hoofkarakter is so 8 jaar oud. Volwassenes wat dit al gelees het, vind daarby aanklank, maar die genre is wel kinderletterkunde.
Waar het die idee vir die boek vandaan gekom? Waaroor gaan die storie? En het die feit dat jy self ’n kind het jou dalk lus laat voel om ’n boek vir kinders te skryf?
Ek is seker beïnvloed deurdat ek in 2022 saam met ’n vriend ’n kat aangeneem het. Die kat was by ons plaaslike DBV op Wellington. Ek kan nie tans self katte aanhou nie, want ek het drie woelige honde. Ek wou tog ’n spesifieke katjie red, en ’n pêl van my in Brackenfell het ingestem om die kat te neem. Sy naam is nou Percy. Hy bly te lekker en ek help waar ek kan. Troeteldiere kan nes menskinders by verskeie tannies liefde kry. (Soos die gesegde sê: It takes a village to raise a child. Hoekom dan nie ook by troeteldiere nie?) Ek het as kind saam met my broer katte gehad en ons het as kinders op ’n keer ’n hond probeer red. Sulke stories bly in ’n familie en inspireer mens. Die feit dat ek ’n 8-jarige kind het, het beslis ook ’n invloed. Hy lewer goeie en saaklike kritiek op my stories. As gevolg van sy insae moes ek ’n rits stories maar snippermandjie toe stuur. Daarby het ek onlangs baie mense ontmoet wat kenners is in hierdie genre, onder andere Mia Oosthuizen.

Percy
Mense is soms verdeeld: Is iemand ’n kat-mens of ’n hond-mens? Maar dis nie nodig om enige van die diere ’n slegte naam te gee nie. ’n Dier is ’n vriend. Of hoe? Speel diere ’n belangrike rol in jou storie? En wat van mense?
Ek stem saam. Jy kan terselfdertyd ’n hond- en ’n kat-mens wees. Die storie gaan oor sorg vir diere, toevallig katte. Een van die kinders in my gehoor het nou die dag korrek geluister na die verhaal: Sy het dadelik agtergekom dat die storie gaan oor die verantwoordelikheid wat mens as kind moet aankweek om ’n troeteldier te hê. Troeteldiere is ’n familiesaak, want die dier moet tuis voel, maar ’n kind kan verantwoordelikheid aanleer deur die dier te voer en versorg. Die hoofkat in my verhaal is eintlik vernoem na ’n hond wat ek geken het. Ek het op daardie manier my liefde vir beide honde en katte ingevleg, net vir myself. Ek het al 12 katte en 9 honde gehad. Ek sou meer aangeneem het as ek op ’n plaas gebly het!
Ek sien jy benut die tyd in die skoolvakansie ten goede en lees orals in biblioteke jou storie voor. Hoe reël jy so lekker aan hierdie bekendstellings? Die biblioteke lyk of hulle graag meedoen. Is daar nog plekke waar jy gaan voorlees die vakansie, sodat mense kan weet?
Almal het ’n opinie oor katte. En indien hul ’n kat het of gehad het, het hul ook ’n storie. Kinders vertel my graag van hul eie troeteldiere. Daarby het ek ook ’n liedjie geskryf wat op die klimaks van die verhaal toegespits is. Sodra my gehoor die liedjie gesing het, is hulle ook reg om te miaau in ’n kompetisie. Ek hou van presente weggee. Die presente is ook volgens ’n kat-tema: koekies met katgesigte op, lap-katte, of die boek self. Ek hou van die opwinding en die gehoor raak baie entoesiasties. Soms vra ek algemene vrae oor katte wat die volwassenes ook intrek.
Wat is volgende? Skryf jy aan nog iets?
Ja, my volgende storie is alreeds aan ’n uitgewer gestuur. Ek hou maar duim vas. Dit is ’n Engelse verhaal. Daarna het ek nog ’n Afrikaanse verhaal, en nog ’n Engelse verhaal. Dit is lekker om te skryf. Die illustrasies vir kinderstories is duur, en dit is hoekom die standaard so hoog moet wees. Ek is baie dankbaar dat Naledi dadelik van my storie gehou het. Hul proses is topstandaard en neem soos gewoonlik ’n paar maande. As skrywer moet ’n mens maar geduld toepas.
Kommentaar
Dankie hiervoor. Interessant.