Kerrievis en hot cross buns

  • 1

Kerrievis en hot cross buns (Foto: Izak de Vries)

Sommige mense noem dit piekelvis, ander ingelegde vis. In ons dorp word dit kerrievies genoem, daai lekkerny bestaande uit stukkie vis bedek met lae uie en bedruip met ’n kerriesous. Gewoonlik lê die vis van die Maandag (of as jy ’n swak huisvrou is, die Woensdag) in die uie en sous.

Tradisioneel word dit dan Goeie Vrydag ná die kerkdiens geniet, saam met hot cross buns. Dis net hier waar dinge baie keer in ons familie verkeerd gaan, want sien, ons kerkdiens is van 12h00 tot 15h00, die volle drie ure wat Jesus na oorlewering aan die kruis gehang het. Dan knaag die hongerpyne al erg. Ons is veronderstel om die hot cross buns ook eers na die diens te eet, maar gewoonlik het ek vroeg al ’n bun met kaas op weggeslaan.

Kerrievis is ’n ernstige aangeleentheid. Nie almal maak dit reg nie, en ek besef dat “reg” hier ’n woord is wat swaar dra aan oordeel. Dit moenie te soet wees nie, ook nie te veel brand nie. Maar die ergste sonde is om dit flou te maak. Flou kerrievis kan die hele Paasnaweek bederf. Die uie moet die regte soort wees. Sommige mense sweer dat piekeluitjies die beste is. Maar om daai klein uitjies in ringe te sny en genoeg te sny om ’n bak te vul is eenvoudig marteling. Gewone ferm middelmatig-groot bruin uie doen die ding vir ons.

Dan is daar die vis. Geelstert, as dit beskikbaar is, snoek, of as laaste keuse, stokvis. Die vis moet ferm wees. Onthou, dit lê vir dae in ’n sous wat gewoonlik bruin asyn bevat, en sommige visse val uitmekaar. Ander visse mag dalk lekker smaak in elke ander gereg, maar werk gewoon net nie in kerrievis nie.

My niggie Leen is die koningin van kerrievis. Sy deel heel gemaklik haar resep, maar selfs wanneer ek dit tot op die letter volg, smaak dit nooit soos haar vis nie. Dis een van ons familie se grappe dat sy een jaar ’n bak met die allerheerlikste geelstertkerrievis vir ons gemaak het. Dis vis is die Sondagmiddag by ons huis afgelaai. Die aroma van die kerrie en die uie, en die toe nog warm vis het ons kombuis gevul. Toe besluit ek en my ma ons gaan elkeen net een stukkie vis proe, terwyl dit nog warm is. Dit was selfs lekkerder as wat dit geruik het.

Nou ja, toe dit afgekoel het, voor ons dit in die yskas sit, moes ons eenvoudig net weer proe hoe dit smaak noudat dit afgekoel het. Teen Donderdag was die hele bak vis opgeproe!

Ek vermoed ons was daai Goeie Vrydag die enigste gesin in ons buurt wat lamtjops op die kole gebraai het, half skaam want die reuk is onmiskenbaar, maar Eskom het ons ’n streep getrek en beurtkrag het begin net toe ons by die kerk uitkom. Ek sweer dis die eerste keer dat daar op ’n Goeie Vrydag beurtkrag was.

Nou nog, jare later, kom vra vriende en familie die Woensdag en Donderdag voor Goeie Vrydag of ons nog vis het vir Vrydag, en lag dan alte heerlik.

Hierdie jaar is anders. Dis die eerste Paasfees sonder my ma, en Leen het haar man verloor ’n paar weke na my ma. Nie een van ons is in die regte gemoedstemming vir Paasfees nie. Ek gaan dalk ’n bakkie kerrievis by ’n winkel koop. Dit gaan nie dieselfde smaak nie, ek weet. Die herinnering van uie sny en oë wat traan, die warm stoof wanneer die vis gebak word, die geur van speserye wat sorgvuldig gemeng word om die balans reg te kry, en bowenal die lag, die gesels en samesyn, is afwesig.

Tog is daar die wete dat, of ons vis nou uit ’n winkel kom of tuis gemaak is, ons is verbind met mense dwarsoor die land wat ons tradisie deel. Selfs mense wat nie die kruisiging en opstanding as deel van hul geloof ervaar nie, deel in dié tradisie.

Daarom sal ek tog maar die bakkie kerrievis koop.

En volgende jaar gaan ek my niggie oortuig dat sy haar kerrievis in bakkies moet verkoop. Haar talent is te kosbaar om net in die familie gedeel te word.

Lees ook:

Kaap, kerrie en koesisters deur Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien: ’n resensie

Daar’s ’n engel in my koskas: ’n onderhoud met Willie Strauss (en twee resepte)

Huldeblyk in beeld: Die tannies van Bonteheuwel

Paas-kerk in die tyd van Korona

Katrien

My Afrikaans is niks nie

Ons kom van vêr, noordelike boekbekendstelling

Afrikaans

  • 1

Kommentaar

  • Nico Schamrel

    Ek sal my linker dingese gee vir jou Leen se kerrievis. Dan is daar my oorlede vriend, Andre Engelbrecht, wat daar in Elgin (Grabouw) sy kerrievis met almal gedeel het.
    Nou is hy in die hemel en maak kerrievis - gebruik seker angel fish. Maar die samesyn is kosbaar en sy teenwoordigheid bly 'n wonderlike voorreg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top