My Afrikaans is niks nie

  • 1

Dat my Afrikaans dalk beskuit en dalk kerrievis

dalk bier en dalk bompie

dalk fok en dalk flippen – kan wees

ja, sure.

… maar my Afrikaans is niks nie.

 

Onthou jy, oom? Nie so lank terug nie.

Jou Afrikaans se isse is by jou werker se keel afgedruk

dis wetlik gesluk, saam met die bitter moerkoffie van jou Oppermagtige

wit vel.

 

… daarom is my baster Afrikaans niks nie.

Nie eens die kroon op my kop nie

miskien die waslap

om my huishulp se voete mee te was

Ja, why not.

Hoogtyd, hoogheiliges.

 

Nee, voortrekkerige meisie

my Afrikaans is nie boerebeskuit en mielies nie.

my Afrikaans is ook nie biltong en rugby nie

 

dis dalk hel-uit tasbaar

dalk insecure, tannie,

maar dis beslis nie meer 'n verkrampte lat wat jy kan gebruik om iemand

of die taal

mee tem nie.

Nie meer nie.

 

Gaan haal dan nou my broers en susters

van die FAK

van die ATKV

van die HAT

die pen

NG my tog net die geleentheid

om te sê

te spoeg

soos Antjie in die Kroeg sou sê, sonder 'n fênsie rooirok

 

dat ons eers

 

die is uit ons eie oog moet haal

voor ons verder kan praat oor wat ons taal moontlik kan wees

en nooit sal wees nie.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top