Paas-kerk in die tyd van Korona

  • 0

Foto van Bettina Wyngaard: Izak de Vries; foto van paasbolletjies: Pixabay

Baie mense maak hierdie week reg vir die groot Paas-ete. In die Kaap beteken dit bakke kerrievis en hot cross buns.

Elke familie het hul eie resep vir die kerrie, en elkeen glo hulle resep is die beste. Dan is daar die infidels wat by Woolworths, Checkers of Pick n Pay bakkies kerrievis gaan koop. Dis nie dieselfde nie.

Maar Paasfees gaan nie regtig oor kerrievis, of paashase of paaseiers nie. Dit gaan oor die herdenking van Christus se sterwe aan die kruis. Vir Jode gaan dit oor die pasga, toe die doodsengel al die huise van Egipte getref het, maar die Israeliete wie se deure met bloed besmeer was, oorgeslaan het. Vandaar die Engelse “Passover”.

In die Anglikaanse tradisie, waarin ek deel, word hierdie week voor Goeie Vrydag die Heilige Week genoem. Daar is elke dag kerk. Op Maandag en Dinsdag word die stasies van die kruis gedoen. Woensdag is daar boetedoening, wanneer alle aktiewe Anglikane hul sondes bely. Donderdag is ’n groot dag. Gedurende die dag hernu elke priester in die Anglikaanse kerk wêreldwyd sy of haar geloftes. Dan word die olie waarmee siekes deur die jaar gesalf word, ook ingeseën. Die aand, Maundy Thursday (oftewel Dag van die Voetwassing), word 12 gemeentelede se voete simbolies deur die priester gewas. Die aand eindig deurdat die altaar in absolute stilte gestroop word van alle ornamente, behangsels en versierings. Steeds in stilte verlaat die gemeente die kerk. Die eerste woorde word gespreek wanneer jy die kerkgrond heeltemal verlaat het, gewoonlik in die parkeerterrein.

Dan kom Goeie Vrydag. Die diens duur gewoonlik drie uur, maar die meeste mense kom net vir een of twee uur. Soos die Donderdagaand, is dit ’n somber tyd. Die vredegroet, wat deel van elke diens is, word nie gegee nie. Die diens eindig ook in stilte.

Sondagoggend, die eintlike Paasfees, begin die diens in donkerte, gewoonlik sesuur die oggend. Die gemeente is in duisternis in die kerk, en dan word kersies aangesteek, een na die ander, totdat elke gemeentelid ’n brandende kersie het. Dit verlig gewoonlik die hele kerk, wat met feestelike wit blomme versier is, en dis ’n feesviering. Daar word paaseiers uitgedeel vir die kinders. Soms is daar blomme vir die vroue. Baie keer word babas gedoop, en die kerk is stampvol.

Dis hoe dit tradisioneel verloop in elk geval.

Ander gelowe het ander tradisies. Die jaarlikse uittog na Polokwane van die Sioniste-Christenkerk is legendaries. In Genadendal is daar ’n tradisie dat alle grafte die Sondag skoongemaak moet word, en mense reis van regoor die land om deel te hê hieraan.

Verlede jaar was dit maar ’n droewe Paasfees. Ons was toe nog in die 21 dae van streng inperking, toe ons ons huise mag verlaat het net om kos te koop, of dokter of bank toe te gaan. Geen kerkdienste, geen grafte skoonmaak, geen massabyeenkomste nie.

En alle aanduidings is dat daar hierdie week weer strenger maatreëls aangekondig gaan word net voor Paasfees.

Alreeds word daar nie hande op enigeen gelê nie. Die vredegroet is nou ’n verlangse wuif met die hand, knik van die kop, of buig van die hoof met gevoude hande, in tipiese namaste-styl. G’n voet gaan gewas word nie. En die drie uur lange diens word verkort. Die inseëning van die olies is hierdie jaar selfs meer van ’n geloofsdaad as ander jare, want terselfdertyd word die hoop uitgespreek dat ons voor die volgende Paasfees in staat sal wees om mense die hande op te lê.

Dis nie net die simboliese handelinge en byeenkomste wat ons verloor in die pandemie nie. Ons hele manier van aanbidding verander. ’n Groot deel van geloofsuiting is tog die samesyn met ander wat dieselfde as jy glo. Hierdie afgelope jaar was dit afwesig. Zoom-kerk, of Facebook-kerk, is maar ’n dowwe weerkaatsing van ware samesyn. Facebook-begrafnisse troos nie.

Juis daarom dat ons almal moet saamwerk om te verseker dat ons vinniger hierdeur kom.

En deel van daai samewerking is om gesamentlik druk op die regering te plaas om seker te maak dat ons vinniger gevaksineer word sodat ons almal ’n normale lewe kan hervat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top