Ons kom van vêr, noordelike boekbekendstelling

  • 2

Praatjie gelewer by die boekbekendstelling by Graffiti Boekhandel, Pretoria.

Ons kom van vêr – Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans
Redakteurs: WAM Carstens en Michael le Cordeur
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316674

Ons kom van vêr is ’n boek van stemme, hoofsaaklik stemme uit die bruin gemeenskap, stemme van ’n wye verskeidenheid: van ’n skoonheidskoningin tot ’n politikus, van digters en skrywers en burgemeesters en joernaliste, akademici, onderwysers, sportlui en sakelui. (Ek wens ons kon Mercy Kannemeyer, ’n bruin Matie-drama-honneursstudent wie se kort video gister en vandag opspraak maak op LitNet, as stem toevoeg. Gaan neem gerus kennis.)

Die stemme klink nie eners nie – die variasie is net so groot soos die getal sprekers. Daar is 36 van hulle en soveel hoofde, soveel sinne. En dit maak die boek aantreklik: sommige stemme wroeg, ander debatteer en argumenteer; die politiek praat naas die kultuur. Daar is bydraes oor krisante kweek, oor ’n afkop blom en oor Klopse en kerrievis.

Daar is opgekropte woede oor en soms stille aanvaarding van wat ’n swart kol in die geskiedenis van die land is – ’n swart kol wat nog steeds nie uitgewis is nie en wat dalk onuitwisbaar is? Verhale van revolusie, moord, teregstellings, polisiebrutaliteite. Lees maar wat Cornelius Thomas (164) en Cecil Esau (171) daarvan vertel. En daarnaas die skandes en dwaasheid rondom ’n Adam Small wat aansoek moes doen om die première van sy eie meesterstuk, Kanna hy kö hystoe, in die Nico Malan-teater te kom bywoon – hy het die uitnodiging toe beleefd van die hand gewys (286). Hoe anders!

Daar is die verhale oor sportlui wat hulle potensiaal nie in hulle eie land kon ontplooi nie, wat in sommige gevalle tou opgegooi het en/of hulle heil elders gaan soek het. Daar is die storie van Basil d’Olivieira en die verhale van ander sterre in tennis, atletiek, fietsry, rugby en krieket.

Charles Beukes skryf: “Vir enige sportman/-vrou is die grootste uitdaging sekerlik om te weet hoe goed hy/sy werklik is. Ons het ons atletiek-, rugby-, krieket- en fietsryhelde gehad. Die politieke beperkings wat hulle verhoed het om te weet hoe goed hulle werklik was, het die talentvolles seker laat slange vang … uit pure frustrasie. Baie van hulle het saam met wit vriende geoefen en hulle dan geklop, maar hulle is nooit toegelaat om formeel teen hulle mee te ding nie” (345). Die gevolg was dat “talle … eenvoudig net hul sportstewels opgehang” het. “Ander het oorsee uitgewyk en vir ander lande gaan deelneem” (345).

Teenoor die swart kol – en daar is talle manifestasies van die swart kol – is daar tog ’n goue draad wat byna in al die sketse manifesteer: die storie van Afrikaans. En daarmee bedoel ek alle vorme van Afrikaans. Die man aan wie die boek opgedra is, Adam Small, het onteenseglik bewys hoe soepel en lenig Afrikaans is en dat die taal in alle omgewings en kringe kan tuis wees.

Hier verwys ek na die verhaal van Basil Kivedo, voormalige intelligensie-offisier in die ANC se gewapende vleuel Umkhonto we sizwe, van 2011 af burgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit en sedert 2014 lid van die Wes-Kaapse parlement.

Sy verhaal begin so: “Ek het as baba Afrikaans uit my moeder se bors gesuig en hierna fisies, psigies, spiritueel, polities en sosiaal op die akker van Afrikaans ontwikkel. Afrikaans het my totale bestaan en lewe gedefinieer, gedomineer en bepaal.” En verder: “[Afrikaans] was reeds van … vroeë ouderdom my lantern in die donker. ’n Pragtige tapisserie van woorde, klanke, idiome, metafore en uitdrukkings” (477).

En dan sê hy: “Ek het die protes in suiwer Afrikaans gelei; ek is deur die Veiligheidspolisie gearresteer in Afrikaans, ek is aangehou in Afrikaans, ek is gemartel in Afrikaans, maar ek het terugbaklei in Afrikaans” (481). Hy het in Afrikaans ’n kleefmyn gemonteer en gedetoneer (485). Maar nog steeds kry Afrikaans daardie die etiket van taal van die onderdrukker – en die vyande van Afrikaans sal dit graag oor en oor beklemtoon en dit so wil hou. Vir Basil Kivedo is Afrikaans egter ook die taal van die verdrukte, protestaal, strydtaal (72), moedertaal, liefdestaal, gebedstaal.

Lees ook wat Reggie Nel, professor in missiologie aan Unisa, hiervan te sê het (70). Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel beskryf die besondere rol wat die NG Sendingkerk speel en gespeel het in die “preservering” van Afrikaans. Terselfdertyd word ’n mens by die lees van die boek bewus van die deurlopende belangrike rol van die kerk in die bruin samelewing: “… altyd [as] ’n gemeenskap van geestelike voeding, materiële opheffing en burgerlike geregtigheid” (151).

Wat laasgenoemde betref, kom die Belydenis van Belhar aan die orde, onder meer in die hoofstuk van Cornelius Thomas. In hierdie verband is ook Llewellyn MacMaster se relaas onder die opskrif “Die bydrae van teologiese studente van die destydse NG Sendingkerk in die stryd om bevryding – Tokkelok, teologie en toi-toi in die tagtigerjare by die UWK” (237) openbarend, maar eweneens onthutsend.

En hoe lekker lees ’n mens tog aan Willa Boezak se bydrae, “Die Khoi-San as Afrikaanse gemeenskap – Gister, vandag en more”. Hy sluit af met ’n sitaat van Cloete-Saal:

Hier in Namakwaland praat ons die Afrikaans dat dit grens aan lekkerkry. Ons kraak hom, ons druk hom, ons tokkel hom. Ons trap hom. Hy laat jou voet jeuk … Dit stuur so ’n tinteling deur jou lyf. Hy moet vloei soos water uit jou hart se binneste uit. Los my taal. Hy hinder niemand nie. Moedertaal, O MOOISTE TAAL. (124)

Lees gerus die verhale oor die Kaapse Klopse van Michael le Cordeur, en neem kennis van die internasionale sukses van die rieldanse soos beskryf deur die baasverteller Elias Nel (318 ev). Proe anders bietjie aan die Oosterse speserye van Fatima Allie (506 ev): die kombuis word beskryf as “die hartklop in die lewens van die Kaapse Maleiers” (506).

Daar is te veel aspekte om op te noem. Miskien verdien Basil May se hoofstuk oor die sluiting van Suid-Afrika se onderwyskolleges nog besondere vermelding. Dit het nie geskied binne die apartheidsbedeling nie, maar “kortsigtigheid, eiewysheid en ’n gebrek aan respek vir die insigte van benadeeldes” (425) het ernstige gevolge vir die hedendaagse krisis in die onderwys. “Met die sluiting van die onderwyskolleges is onderwysstudente gedwing om na universiteite te gaan. Die afgestudeerde universiteitstudente het dalk ’n goeie akademiese agtergrond gehad, maar weens die eenjarige onderwysdiploma wat op die graad gevolg het, was daar duidelik leemtes” (422).

Kortom: dis die moeite werd, ja seker belangrik, om in hierdie tydsgewrig van taalontwrigting kennis te neem van die kaleidoskoop menings wat in die boek voorkom. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Geskiedeniskommissie oorweeg dit om ’n geskiedenis van die bruin Suid-Afrikaners te skryf. Ek dink die redakteurs, Wannie Carstens en Michael le Cordeur, het reeds daarin geslaag om met so baie skrywers ’n omvattende veld te dek.

Ons kom van vêr is ’n noodsaaklike boek wat vir seker ’n “opvolg” verdien waar dalk ook meer “noordelike” stemme aan die woord kan kom.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Erik Van der Straeten

    Het is een belangrijk boek dat elke blanke Zuid-Afrikaan moet lezen. Een aantal stukken zijn zeer goed en betekenisvol. Zeker deze van M. le Cordeur. Maar een aantal stukken zijn op een paar zinnen na te veel een passage uit het CV van de betrokken schrijver.

  • Avatar
    Anne van Zyl Kelbrick.

    Vir my is Afrikaans die taal wat in Suid-Afrika geskep en gebore is. Suid-Afrika se eie taal. Van die oomblik van konsepsie af tot die dag wat dit gebore is moes dit deur elke stap van swangerskap voortstu tot daardie oomblik wat dit die lig sien. Sien Afrikaans al die lig? Ek weet nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top