Katrien

  • 0

But you and I, our love will never die
But guess we'll cry come first of May
                       - First of May (Bee Gees)

Op die eerste Mei 1970 stap ek en Katrien die bult op.

Dit was ʼn vakansiedag, ek weet nie watter een nie. Dit was nog voor ons land Werkersdag begin vier het. In elk geval, ons was in ʼn goeie luim, oor die feit dat ons nie hoef skool toe te gaan nie. Maar ook omdat daar ʼn vonk tussen ons was.

Ons het pas teruggekom van ʼn Voortrekkerkamp wat naby Wellington gehou is. Tussen al die aktiwiteite heen het enkele van die seuns en die meisies vir mekaar ogies gemaak. Baie seuns het egter nog nie tot dié verdere vlak deurgedring nie. Op die ou end was dit net ek en Beyers Marais wat meisies in ons slee gehad het, hy vir Susan en ek vir Katrien.

Op die kamp is ons besiggehou met verskeie take: knope maak, kaarte lees, spoorsny en self leer kosmaak. Ons span se kos was gangbaar maar die gemeenskaplike koffie was aaklig en vol blouvitrioel om jagsheid teen te werk. Ons neef (volwasse leier) se naam was Poena en hy het ons graag uitgeneem op staptogte en inheemse bome uitgewys. Die meisiespan was saam en ek het gesorg dat ek naby Katrien bly. Sy het gemaak of sy my nie raaksien nie.

Om ʼn meisie in jou slee te kry, behels verskeie dinge. Eers moet jy vra of jy haar kan sleep. Met ʼn bonsende hart het ek dit gedoen, net na aandete. Sy het half verward ja gesê. Dan moet jy die slee by die kampvuur bou. Gewoonlik hol jy twee sitplekke teen die steilte uit en bedek dit met ʼn slaapsak. By voorbaat steel jy iemand se kombers as jou sleep dalk koud kry of ter bedekking as die hande begin dwaal. Ek was toe nog nie so gevorderd nie en meer bekommerd of Katrien nog sal saamspeel. Op die gepaste tyd, na tien minute se tandeborsel, het ek langs haar verskyn met ʼn “Kom jy?” Sy het saamgekom en ons het onsself netjies ingewurm in die holte vir twee. So het ons gesit die hele aand. Vanselfsprekend het ons teen mekaar geskuur, maar niks verder het gebeur nie. Nie eers handjiesvat nie. Die atmosfeer was egter elektries.

Die volgende aand was dit weer so. Maar toe eindig die kamp …

Nou stap ons die bult op. Ek dra haar bagasie, my eie het ek by die laer gelos. Ons kom by haar huis, sy sluit oop en draai om na my toe. Van pure spanning soen ek haar vinnig op die wang en probeer wegkom. Sy roep my: ˮDawie, kom in dan soek ek vir ons iets om te eet.ˮ Ek gaan binne en dit lyk vir my of haar ouers nie daar is nie. ˮMy pa-hulle is weg,ˮ sê sy. Sy krap in die kaste en kom te voorskyn met ʼn blik kerrievis. ˮEet jy dit?ˮ

ˮJa, ek sal nou enigiets eet.ˮ

En daar sit ons by die kombuistafel en kerrievis eet totdat die sous spat. Ek het nog nooit in my lewe so gelukkig gevoel nie. Toe ek opstaan om te gaan, soen ek haar sommer weer ʼn keer op die wang.

Ek het daarna baie keer vir Katrien gaan kuier. In Oktober was daar weer ʼn Voortrekkerkamp. Toe kry ek die lus vir ʼn ander meisie, Annabel. Ek het haar vir die slee gevra. Sy het tussen my bene gesit en my hande oor haar borste gevou. Ek kon die stywe nippels voel.

Die volgende oggend by ontbyt het Katrien my dié kyk gegee. Judas kon nie slegter as ek gevoel het nie. Ek het probeer verduidelik dat die ouens my uitgedaag het om Annabel te vra. Sy het my nie geglo nie. Al wat ek oor het van daardie kamp is ʼn potloodskets van Annabel met die vol lippe, gemaak deur een van die ander spanlede.

Tydens die somervakansie het ek gehoor Katrien is weg kosskool toe op George vir standerd nege en matriek. Sy het wel gereeld vir my geskryf, maar ek was baie lui en het maar min teruggeskryf. Of dalk was ek onbeholpe. Want ek het gehoor haar ma is ʼn alkoholis en Katrien is weggestuur om uit die huis te kom.

Katrien was in George en ek was alleen. Ek was ʼn hopelose en verraderlike vryer. Ons het uitmekaar gedryf. Kort hierna sou ek self in ʼn donker gat sink.

Haar ma is in haar tweedejaar op Stellenbosch dood tydens ʼn asma-aanval.

Sy is getroud, het drie kinders gehad en is toe geskei.

Sy bly nou op Pringlebaai en het ʼn lover.

Ek onthou soms die opwinding van 1 Mei 1970. En verlang daarna.

Lees ook:

Moord hier naby

Winter van 1972

Die sonde van die kinders

Alex

Adéle

Dit is nie paartyd nie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top