Adéle

  • 0

Jan Maraispark, Stellenbosch. Die park waar WEG Louw en sy vrou, Rosa, gereeld gaan stap het. Ook die middag voor sy dood. Ek het hulle nog sien uitklim uit die groen Mercedes. Hy het daarna gekla dat hy effens pyn in sy arm het. Tog het die Louws ’n groep studente die aand vir ete ontvang. Ek was een van die laastes wat by hulle weg is. So elfuur. Die nag ongeveer eenuur het WEG Louw aan ’n hartaanval gesterf.

Jare tevore het ek myself in dieselfde park bevind, so geskok en depressief dat ek selfdood oorweeg het. Dit was vroeg Desember 1971 en ek het pas my standerd nege-eindrapport gekry.  Al my vakke was af, maar die ergste was die punt vir Latyn: 49%.

Ek kon dit nie glo nie.

Wat het verkeerd geloop? Ek was dan so goed in Latyn. In my eerste eksamen in standerd ses 99% gekry. En nou? Ek het toe nog nie besef dat daar iets groots verkeerd was en dat ek my binnekort in ’n dwangbaadjie van donker magteloosheid sou bevind nie.

Standerd nege was verder nie ’n sleg jaar nie. Ek het lid geword van Junior Libertas, ’n amateurdramagroep wat onder leiding van ’n oud-onderwyser, Erika Dumas, ontstaan het. Sy was met ’n Fransman, Jean Dumas getroud en hulle het twee rooikopdogters gehad. Die oudste was Adéle. Sy was lank, sjiek, maer, sjarmant, dinamies en anders.

Daar was verskeie projekte by Junior Libertas. Ek en ’n ander meisie, Linette, het selfs tekste geskryf wat opgevoer is. Die onvermydelike Kersspel het ook gevolg. Ek was Josef en Maria is gespeel deur Maria Naudé, die mees esoteriese meisie wat ek ooit geken het. Haar werklikheid was nie ons s’n nie en sy het half bo ons uitgesweef. Laas wat ek gehoor het, seker 30 jaar gelede, was sy in ’n inrigting vir geestesiekes.

Adéle het my gefassineer. Sy was uniek mooi: ’n breë, maar nie wye mond nie – amper soos ’n roosknop, rooi krullerige hare en lewendig in haar bewegings en praat. Ek het al meer by hulle aan huis gaan kuier en iets was aan die ontwikkel.    

Ons het gereeld gaan stap, ook in die Jan Maraispark. Soos op ’n spesifieke koelerige middag in November 1971. Toe ons by die park instap, het sy by my ingehaak. Ek het geweet ons is besig om na ander dieptes te vorder. Na ’n ruk se stap het ons ’n skadukol gevind en daar op die grasbossies neergesak. Ek het op my rug bly lê en kamstig die hemele verken. Adéle het haar kop op my bors gevroetel. Bang en onnosel het ek daar bly lê, totdat ek doelbewus besluit het om die saak verder te neem.

Ek het afgebuig en haar op die hare en wang begin soen. Sag en subtiel, sonder haas. Toe ek my kom kry, is ek by haar mond. Dit was sag en soet en die daad het al meer intens geword. Na ’n ruk se gehyg, het ons eers opgehou. Toe het ek, nuuskierig gebore, my hand onder haar polonektrui ingewikkel, van onder af tot by haar linkerbors.

Sy het geen bra gedra nie en die bors was eintlik klein en baie sag. Ek het dit begin streel. En toe ook die regterbors. Sy het vinniger begin asemhaal en haar oë toegemaak. Daarna is ons huis toe, diep ingehaak. Ek het gegloei. Maar my lewe het ’n dramatiese wending geneem. Weg van Adéle af.

Later sou sy my verwyt: “Jy het dinge in my wakker gemaak ... En toe bly jy net weg!”

Maar ek was verstrik in my dwangbaadjie van donker magteloosheid, wou ek protesteer. So baie van ons het toe seergekry en almal het toegemaak. Elkeen vir homself.

Jare later sou ek Adéle weer sien op (toe nog) Jan Smutslughawe. Sy het deur die deure ingesweef gekom met dieselfde intense vitaliteit soos ek haar steeds onthou, bonsende borste en hare, nou rooier as ooit. Sy het haar maat ingewag en hand aan hand weer weg gesweef. Die man was ’n Arabier.

Nog fiksie deur Dawid de Villiers:
Alex
Die sonde van die kinders
Winter van 1972
Dis nie paartyd nie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top