Dit is nie paartyd nie

  • 1

Dit is nie paartyd nie

In 1975 het ek my tweede “institusionele” winter in Neuro C-kliniek by Stikland Psigiatriese Hospitaal deurgebring.

Om op jou eie pille te “OD” is pateties. Om by te kom na ’n mislukte oordosis is nog meer pateties en ook vernederend. Jy kan nie eens jouself doodmaak nie. En die mense rondom jou se veragting ...

Ek het deur daardie jaar se jool geslaap. Toe ek uiteindelik my oë oopmaak, was alles verby. So absurd – jy weet hier naby jou het iets groots gebeur, maar nou is daar net die na-stilte. Laat die Saterdagnag het ek opgestaan, na die Eersteriver geloop en in die middel van die halfstroom op ’n klip gaan sit. ’n Klip om die nek sou jou nie hier help nie. Die water is te vlak.

Dit was die tema van my lewe: slaap, slaap, slaap. Slaap deur etes, klasse, toetse, sokkies. My bed ’n drie by ses, ’n plek van veiligheid sonder eise, maar ook ’n sel van afsondering, futiliteit en toenemende wanhoop.

Die stryd om wakker te word en op te kom. Minute se opwerk daartoe, selfs regop sit, maar dan baie keer weer platval en verder slaap. Na nog ’n mislukte oordosis en my pa se moedelose gesig het ek besluit dit is nou genoeg. Middel-Junie het ek in my Kewer geklim en Stikland toe gery.

Op pad het ek ’n vreemde ding ervaar. Voor my het ’n kar met ’n CFR-nommerplaat gery. Dit was of die CFR begin lewe kry, begin bewe en lig uitstraal. Dit was bedreigend, sodanig dat ek eers langs die pad moes stop om die paniek onder beheer te kry. Ek was dus op pad na die regte plek.

Dit is raar dat iemand vrywillig opdaag by ’n psigiatriese kliniek en vra om opgeneem te word. My psigiater was nie daar nie, maar dr Saul was bereid om my te spreek. Hy het my ook laat opneem. In die lêer geskryf, sou ek later lees: “onset of schizophrenia” – ek het toegang tot my pasiëntbesonderhede as ’n reg beskou. Ek sou ek myself nooit as skisofrenies beskou nie. Eerder depressief en rigtingloos.

Daar was ek nou. Vir die tweede keer. Dit was dus nie alles so vreemd nie. Die pasiënte was egter almal nuut. Die kos was dieselfde. Een dis wat ek nog goed onthou was blokkiesvleis met sous, stampmielies en skorsie.

Intussen was my psigiater woedend vir my: “Jy hoort nie hier nie. Ek gaan elke aand vir jou ’n bottel melk met ’n tiet gee tot jy grootword.”

“Maar Dokter,” het ek gesê, “vat asseblief van my pille weg. Ek slaap my lewe om. Ek leef in angs as ek wakker is en dit kan tog nie goed wees nie.”

Hy het toe my medikasie verander na “Ativan 1 mg tds” en “Etomine 40 mg nocte”. Van toe af het ek minder geslaap.

Twee pasiënte kan ek nog goed onthou: Doreen en Jamie. Altyd saam. Doreen was middeljarig, ’n oujongnooi, ietwat van ’n droë rosyntjie. Jamie was gay. Hulle het alewig in die sitkamer plate gespeel, veral ’n stuk uit Swanemeer, tot vervelens toe. Selfs vandag nog krap dit my om as ek daardie musiek hoor. Jamie het aversieterapie gekry: hulle wys hom foto’s van kaal mans en as hy daar onder begin opleef, skok hulle hom. Hy het een middag huilend teruggekom van terapie, sy goed gepak en homself ontslaan. “Die varke!” was sy laaste woorde. Doreen is ook kort daarna weg.

My psigiater het vir my werk gekry by ’n versekeringsmaatskappy. Ek sou dan in die dag daar werk en saans weer terugkom na Neuro C. Altyd bewus van ’n intense angs het dit nie te sleg gegaan nie. Op pad terug van die werk na Neuro C in die middag het ek soms by die Welmans-tweeling aangegaan. Anneke en Maryke. Het hulle leer ken op ’n Voortrekkerkamp. Altyd net saam met een van hulle gekuier en nooit geweet watter een dit is nie. Eendag het ek laat val dat ek wel werk, maar ook nog ’n pasiënt is. Die volgende keer het hulle pa my in vriendelike dog duidelike Hollands gevra om nie weer te kom nie.

Ek het daardie dag so sleg gevoel dat ek by Stikland my skeermes gaan haal en my polse probeer sny het, terwyl ek in die Port Jacksons skuil. Mnr Christie du Preez, verpleër en goeie waarnemer, het my daar kom uithaal. Omdat ek net ’n bietjie bloed op die arm gehad het, het hy sommer self die “wond” ontsmet en verbind. Ek het toe kamer toe gesluip.

Die hoogtepunt van my verblyf was die aankoms van Tessa Steyn. Tessa was ’n pragtige meisie van sestien. Ietwat blas, met donkerbruin hare en blou oë, ’n prominente langerige neus en sterk swart wenkbroue. Sy het my aan ’n Egiptiese prinses laat dink, met breë en byna katagtige ooglyne.

Sy het tydens haar eerste aandete in Neuro C alleen by ’n tafel gesit. Baie verward. Ek kon nie gou genoeg my kos kry nie, het na haar gestap en gevra: “Kan ek by jou sit?” Sy het gemompel, maar ek het bly sit.

“Seker ’n bietjie vreemd vir jou hier?”

Sy het stadig ontdooi en ’n vriendskap het tussen ons ontstaan. Omtrent al die vrye tydjies wat die kliniek toegelaat het, was ons saam. Geen gevryery nie, want dit was taboe tussen pasiënte. Handjiesvat is darem verdra.

Sy het my vertel hoekom sy snaaks geraak het. Haar pa was ’n spesialisdokter en haar ma ’n verpleegsuster. Haar ma, sou ek later agterkom, was ’n pragtige vrou en het betrokke geraak by ’n ander dokter – hoe erg sou ek nie weet nie. Toe alles op die lappe kom, was daar vir maande groot spanning in hulle huis. Haar ma het bande met die man verbreek, maar Tessa het in ’n verlammende depressie beland.

Die psigiater het Tessa op antipsigotiese medikasie gesit, onder andere op ’n siklus van Stelazine. Dit begin met drie pille ’n dag, vermeerder elke dag totdat jy op die ou end 30 pille per dag drink en dan weer afwaarts tot by drie. Ongelukkig foeter dit jou metabolisme so erg op dat jy vet word. Voor my oë het Tessa gestoel en ongelukkig al hoe minder mooi geword. Hierdie nuwe oorgewigstatus was natuurlik ook nie bevorderlik teen depressie nie.

Tessa is voor my ontslaan. Sy het die skoot toe al hoog deur gehad. Sy het my byna elke dag van haar huis af gebel. Ek het al hoe meer ongemaklik geword en het nie geweet waaroor om te praat nie.

Haar familie het my twee keer by die kliniek kom haal, die eerste keer na Bloubergstrand en die tweede keer na die opening van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. By Blouberg het ons twee ’n lang ent gaan stap en was daar meer vroeteling en soentjies.

Ek is ook later ontslaan. Die daaglikse gebellery het voortgegaan. Ek het besef ek moet hierdie dinge nou stop. Tessa het verwagtinge. Sy het al begin praat van “as ons eers getroud is ...”

Ek het een Vrydagaand na hulle huis toe gery en vir Tessa vertel hoe ek voel: ons is albei nog baie jonk, ons is onstabiel, nog ’n lang pad om te loop, ’n risiko om ’n verhouding te laat ontwikkel.

Sy het baie gehuil, my lank vasgehou en laat gaan. Ek het haar pa gegroet en stadig na my Kewer geloop. Ek was al in die kar, toe Tessa se ma uitstorm en my konfronteer: “Baie dankie! Vir wat jy nou aan my kind gedoen het. Hoe sal sy ooit regkom na so ’n skok?”

Twee maande later moes ek weer Stikland toe om pille te gaan kry. Ek sien toe vir Tessa in die gange van Neuro C: oorgewig, onversorg, manies, woes aan’t vee met ’n besem. Soos Ophelia. Sy het my nie herken nie. Ek het in my kar geklim en gesnik.

Skaars vier maande tevore het ons nog saam buite die kliniek by die duiwehok op ’n bankie gesit. Die mannetjieduif het probeer om die wyfie die hof te maak, maar dit het misluk. Net ’n geklap van vlerke. Of sy dit toe reg verstaan het, weet ek nie, maar toe sê ek vir haar: “Tessa, dit is nie paartyd nie.”

Lees ook 

Moord hier naby

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Lydia Higginson

    Die lewe is partykeer nie 'n lied nie; vat krag van Bo om jou eie lied te skrywe en te sing.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top