Alex

  • 0

Alex het nie die see ingestap nie.

Ek en Alex het vriende geword in standerd vier (oftewel graad 6). Hy het nie ver van ons af gewoon nie. Ons het saam skoolbus gery en soms met die fietse skool toe gegaan. Veral die dae wanneer daar krieketoefening was. Hy was ’n natuurlike en begaafde kolwer. En kon ook boul en paaltjies hou. Ons het later saam vir die hoërskool se span gespeel. Hy het byna altyd lopies aangeteken, tot vyftigtalle toe en een keer ’n honderdtal. Ek het nooit meer as drie lopies nie, en meestal nul, aangeteken.

Alex was ’n vriendelike, hartlike mens. Nie aggressief of laf nie. Altyd ook in iemand anders belang gestel, uitgevra en geluister. Hy was gewild. In standerd 6 het Carl Weber drie van ons na sy huis op Bettysbaai genooi: dit was ek, Alex en Rassie. Ons het in die kloof opgeloop en in die waterpoele geswem. Die huis het na strooidak geruik en die kos was heerlik. In die aand het ons bordspeletjies gespeel.

Toe tref die blou hond ons albei. Alex se suster, Lynette, wat al op universiteit was, word met erge depressie gediagnoseer en in Herfsland Psigiatriese Hospitaal opgeneem. Dieselfde gebeur met my ma – maniese depressie. ’n Mens sou eers later ’n beter begrip kry van die oorsake daarvan. Alex se pa, ’n professionele man, het aan petidien verslaaf geraak, omdat hy nie kon slaap nie. My ma het ’n histerektomie gekry en ineengestort nadat sy vir meer as 30 jaar die rol van die perfekte predikantsvrou moes speel.

Die nawerking van hierdie gebeure in ons gesinne was dalk subtiel, maar vernietigend in my en Alex se lewe. ’n Mens besef dit nie eens altyd nie, maar daar kom ’n angs oor jou, so asof jou ankers weggeruk is. Daar is gapings en leemtes en vrae. Net die gedagte aan ’n psigiatriese hospitaal was vreesaanjaend. Jy besoek jou ma in die hospitaal, maar sy herken jou skaars.

Dit was glo vroegoggend dat hy gaan swem het. Maar hy het nie die see ingestap nie.

Op die bus eendag skool toe, het ek in ’n swak oomblik van solidariteit vir Alex gesê: “Ja, daar is ons twee nou, die een se suster en die ander se ma in ’n malhuis.” Dit is nie goed ontvang nie. Kort daarna is eers ek en toe hy ook Herfsland toe – ek met depressie en hy met iets wat later skisofrenie sou word.

Later jare het ek en hy in ’n groep van pasiënte beland wat as universiteitstudente mekaar se lief en leed gedeel het. Alex het nie baie gepraat nie. As hy iets probeer sê het, was dit blikkerig en onlogies. Hy het egter tog in ’n biblioteek werk gekry.

Sy liggaam is nooit gevind nie, anders as met Ingrid Jonker.

Hy het op ’n dag net nadat hy mondig geword het, van Twee Pieke se vierde vloer afgespring. Wonder bo wonder beland hy in digte bos vol struike en breek net sy arm. Ons ander het nogal agter sy rug hieroor gelag, miskien uit ongemak oor wat kon gebeur het. Niemand sou Alex wou dood sien nie.

Ek het hom die laaste keer in die see by Hermanus gesien. Ek was in die water toe ek hom so 40 meter van my af die see sien inkom. Hy het ’n paar keer probeer branders ry en toe is hy uit strand toe. Hy het gelukkig gelyk. Ek het hom nie gaan groet nie. Waarom nie, weet ek nie. Miskien verleentheid, miskien die vrees dat hy my nie sou herken nie. Drie jaar later het Alex by Hermanus verdwyn.

Maar Alex het nie die see ingestap nie. So sê hulle.

Lees ook 

Moord hier naby

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top