Daar’s ’n engel in my koskas: ’n onderhoud met Willie Strauss (en twee resepte)

  • 7

Daar's ’n engel in my koskas
Willie Strauss
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798177498

Hallo Willie! Geluk met Daar is ’n engel in my koskas. Jou boek is ’n lus vir die oog. Die roomys en kersies op die voorblad lyk heerlik en die ander foto’s in die boek is ook mooi. Van die visuele gepraat: jy skryf in die voorwoord jy het as klein seuntjie gekyk hoe jou ma kos maak. Wil jy dalk vir ons lesers ’n blik op jou lewe gee – van kleintyd tot nou? Anders gestel: hoe lyk Willie Strauss se lewe, en vertel asseblief van jouself?

Ek het op ons plaas Vyfbeker in die Noord-Kaap grootgeword. My pa was ’n skaapboer gewees.

My ma was een van daai mense wat lekker kon kosmaak. Niks fênsie nie. Gewone kos. Trooskos as ons naweke huis toe gegaan het. Daar was altyd iets lekker om te eet en sy het graag vir mense kos gegee. Jy het die hele tyd geëet. Skuinskoek, terte, koue boud met mosterdslaai. Dit het haar gelukkig gemaak. My liefde vir kos het daar op die plaas begin. Ek kook soos sy. As ek nou terugdink ... aan hoe ek "Afrikaanse treffers" geluister het in ons sitkamer met altyd iets te ete. Dit was die begin van my loopbaan in musiek en kos. Daar het die engele al my loopbaan vir my beplan, sonder dat ek dit besef het. Nooit gedink dat my loopbaan in ’n kosrigting sou gaan nie. Dit was ’n natuurlike beweging en ek geniet elke oomblik. Ek het drama studeer by Pretoria Technikon. Na ’n vertoning van "Van Berlyn tot Bapsfontein" het ek besef, dit is wat ek wil doen. Stories vertel met liedjies. As jy vryskut, doen jy mos alles. Ek beoordeel my jonglewe om aan kunswedstryde. Geniet dit om die jong talent te sien. Deesdae doen ek die Kook en Sing-produksie waarin ek my oorspronklike liedjies sing, stories lees en kosmaak. Die mense geniet dit en ek sien uit om volgende jaar by die US Woordfees te kom sing en kook! Magda Swart het my die geleentheid gegee om kosrubrieke vir Rapport Tydskrif te skryf. Sy het my aangemoedig om te skryf. Deesdae gesels ek gereeld op Pretoria FM en RSG oor resepte en kos en geniet elke oomblik daarvan. Om mede-aanbieder van "Kos is oppie Tafel" te wees is vir my ’n fees om te doen. Hoe meer ek kan doen en my besige kop aan die gang hou, hoe beter vir almal om my ... 

Kerrievis

Rondom smaak. Waarom ’n kookboek en watter rol speel kos in jou lewe?

Die kombuis is die plek waar ek regtig gelukkig is. Bella, my bulterriër, is by my voete en proe graag wat ek bak en brou. Ek is nie ’n opgeleide sjef nie. Ek maak net kos omdat dit vir my lekker is. Min dinge is vir my so lekker om te sien hoe mense my kos geniet. Ek moet erken ek sal eerder mense na my huis toe nooi as wat ek by ander sal gaan eet. Ek hou van my sinkhuis. Is my veilige hawe. Ek het lank gedroom om my eie kookboek vas te hou. Die eerste keer toe ek die boek in my hande vashou, het ek die geveerdes bedank. My wens is regtig dat mense lekker trooskos en hartskos saam met die engele in hulle kombuise gaan kook. Dit was vir my belangrik om resepte te kies wat gewone mense kan kook. Nie bestanddele wat jy sukkel om uit te spreek nie. Kos waarmee ons grootgeword het. Saam met my kosstories wil ek jou graag lekker laat eet. Ek is baie bevoorreg dat my manuskrip in die hande van Annake Müller van NB-uitgewers beland het. Sy het my droom nog mooier en spesiaal gemaak met haar kundigheid.

Die reuke van kos speel ook ’n rol, of hoe? Dalk kan jy vertel watter geure bly jou by – van kleintyd tot nou.

My ma is ’n paar jaar gelede oorlede. Sy was so opgewonde toe ek aan die manuskrip begin werk het. As ek haar mis, dan bak ek skuinskoek of anysbeskuit. Die reuk van anys laat my aan haar dink en so nooi ek die herinneringe na my sinkhuiskombuis toe. Van die knie van die deeg af, gesels ek met haar. As daai beskuit uit die oond kom ... breek ek stukke af en geniet met botter, vyekonfyt en biltong soos sy dit altyd vir ons gegee het. Die smaak maak die verlang beter. Kwepers, vye en granate is my ander groot swakpunt en ek is daarvan oortuig dat dit die engele se spesiale vrugte is.

Wortelkoek

Watter resep in hierdie boek is jou gunsteling? As jy een of twee moet uitsonder. 

Ooo, genade. Dit is moeilik. My kerrievis is op die oomblik my gunsteling, veral in die hitte. Ek kan dit die hele dag eet. Die wortelkoek is my ander gunsteling. Dit is regtig ’n jir-like klam wortelkoek vol vreugde.

Wat is jou wense vir Kersfees vanjaar?

Elke jaar dié tyd is vir my ’n stilwordtyd. Om in te asem en die jaar te onthou. Die sleg te vergeet. Dankbaar te wees vir so ’n geseënde jaar. My wens vir Kersfees is engele om elke mens – en borde vol kos, harde lag en stilte binne jouself.

  • 7

Kommentaar

  • Hallo Willie, ons wil jou boontjiesopresep probeer (die bone en koeksoda week al in koue water). Sou graag die resep wil print (Amore se program van Maandag, 17 April).

  • Naomi Niehaus

    Ai, die telefoonpoeding-resep neem my terug na my kinderjare! My ma het dit vir ons gemaak, maar na haar dood het die resep verlore geraak. Baie dankie dat jy nou jou resep met ons deel. Nou kan ek dit weer maak en met my kinders en kleinkinders deel!

  • Baie dankie, klink hemels. Ek soek die resepte van gister, asseblief. Van die biltong-en-marmite-tert.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top