Die twee kosmaaktannies van Bonteheuwel, Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, is kort ná mekaar oorlede. Izak de Vries bring hulde met van sy foto’s.
Tannie Koelsoem in haar kombuis.
Dit het alles begin met Riaz Kamalie. Hy het Amore Bekker van RSG se Tjailatyd gebel en gesê sy ma maak heerlik kos.
Tannie Koelsoem was lief daarvoor om te sê dat sy nie opgewonde was daaroor nie, “want nou gaan die mense my nie uitlos nie”.
Hoe reg was sy nie.
Tannie Koelsoem se huiskos het aandag getrek, maar dit was die stories en die humor wat gemaak het dat Amore weer en weer gebel het. RSG se luisteraars kon nie genoeg kry van dié tannie wat so uit die vuis uit die lekkerste resepte kon optower nie, en dan nog so lekker gesels ook.
Toe Amore kort voor Paasfees vir tannie Koelsoem vra vir ’n kerrievisresep, het tannie Koelsoem gesê: “Nee, bel my vriendin Flori. Sy is Chris. Ek is Slam.” (Oftewel “Flori is ’n Christen, ek is van die Islam.”)
Om kerrievis te eet op Goeie Vrydag is ’n baie ou tradisie in die Wes-Kaap, en dit is hoe Amore die ánder tannie raakgebel het.
Tannie Koelsoem Kamalie, ’n diep gelowige Moslem, en tannie Flori Schrikker, ’n diep gelowige Christen, het diep in RSG-luisteraars se harte ingekruip.
Tannie Flori in haar kombuis.
Japie Gouws, die toenmalige hoof van die ATKV aan wie LAPA Uitgewers toe behoort het, wou hierdie twee se resepte verewig en het LAPA opdrag gegee om die tannies te gaan besoek en ’n boek te maak.
Op 3 Maart 2016 is die boek tydens ’n direkte uitsending vanuit Bonteheuwel op RSG aan die land bekendgestel
Amore Bekker was, soos altyd, op haar stukke.
Japie Gouws verduidelik waarom hierdie resepte verewig moes word.
Tannie Flori gesels met Radio Tygerberg.
Enkele dae later, op 8 Maart, het die twee vroue by die US Woordfees opgetree. Hier is hulle druk aan die werk om alles gereed te kry vir die gaste.
Tannie Koelsoem rol deeg.
Die gaste verlustig hulle aan die eetgoed.
Die praatjie en die boek was so ’n sukses dat hulle die Woorfeestrofee gewen het vir die beste verkoper van niefiksie tydens die fees. Dit is op 19 April 2016 oorhandig.
Dit was nie lank nie of die boek was nommer een, algeheel, in Suid-Afrika. Vir meer as ’n jaar het Kook saam Kaaps nie een keer die Nielsen Top 100 vir niefiksie verlaat nie.
Koelsoem Kamalie. Amptelike foto op 28 April 2016.
Flori Schrikker. Amptelike foto op 28 April 2016.
Op 25 Mei 2016 het die ATKV hulle algemene jaarvergadering by Goudini gehou. Raai wie was die eregaste? Herman Bailey, een die ATKV se direksielede, het spesiaal voorskote vir die tannies laat maak.
Tannie Flori vermaak die luisteraars van Heart FM tydens ’n direkte uitsending uit haar sitkamer op 12 Junie 2016.
Tannie Koelsoem in gesprek met Heart FM.
Op 29 Junie 2016 het die Wes-Kaapse provinsiale regering die tannies vereer tydens ’n gesprek oor die belang van mondelinge geskiedenis.
Die persoon in rooi wat daar kniel om die tannies af te neem, is niemand anders nie as Anroux Marais, minister van sport en kultuur in die Wes-Kaap.
Daardie selfde middag het tannie Flori ’n enorme pot kos gemaak en uitgedeel aan elkeen in Bonteheuwel wat iets wou hê.
Op 13 Julie 2016 het Pasella kom besoek aflê. Hier is hulle in tannie Flori se sitkamer.
En hier is die Pasella-span in tannie Koelsoem se kombuis.
Via het die tannies gevra om ’n TV-reeks te maak, Flori & Koelsoem se kosse. Hier sit hulle in die ateljee vir die skiet van die eerste episode.
Tannie Flori en haar man, oom Foni. Die foto is op 21 September 2016 geneem, toe hulle kleinseun getroud is.
Tannie Flori in die kerk. Sy was baie lief vir mooi hoede.
’n Amptelike foto van tannie Flori op 21 November 2016.
Tannie Koelsoem en tannie Flori met die US Woordfeesprogram waarin hulle gesigte verskyn. Antonia Steyn het die foto in die boek geneem.
Op 12 Januarie 2017 het Netwerk24 ’n dokumentêr kom skiet.
Op 26 Januarie 2017 het die tannies deelgeneem aan ’n program wat gelyktydig in Suid-Afrika en in België uitgesaai is. Hier is hulle saam met Piet Huysentruyt, ‘n Michelin-sjef uit België. Dit is geskiet net voor hulle in die ateljee in is.
In die ateljee. Tannie Flori is links, kort agter haar ’n Belgiese omroeper wie se naam ongelukkig nie bekend is nie. Martelize Brink se bekende profiel kyk weg van die kamera terwyl sy twiet; Johan Rademan luister; tannie Koelsoem gesels en vertel vir Huysentruyt, heel regs, hoekom sy dink hy het veel te leer by die divas van Bonteheuwel. Sy reaksie is duidelik.
Op 6 Februarie 2017 was hulle in die ateljee van Good Hope FM in gesprek met DJ Ready D.
Ready D spog.
Tannie Koelsoem kom aan by die US Woordfees op 4 Maart 2017, reg vir nog ’n triomf.
Tannie Flori teken gou ’n boek voor die demonstrasie begin.
Tannie Koelsoem verduidelik iets aan die gehoor by die US Woordfees.
In die ateljee van Fine Music Radio saam met aanbieder Amanda Botha. Die klankingenieur, regs, se naam is ongelukkig nie bekend nie.
Op 24 Maart 2017 is hulle tweede boek, Soettand, bekendgestel. Hier is hulle saam met minister Anroux Marais wat die geleentheid bygewoon het.
Tannie Koelsoem vier Eid ul Fitr, die einde van die vastydperk, saam met haar kleinkinders.
Danny Titus, uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV, hou ’n tydskrif vas waarop die tannies glimlag.
Die Moslemkalender is nie dieselfde as die Westerse kalender nie. Hier is tannie Koelsoem besig om kos uit deel tydens die Nuwejaarsfees. Enigeen wat wou, kon gewoon inloop en kom kos haal. Dié foto is op 2 Oktober 2017 geneem.
DEKATv kom kuier in Bonteheuwel.
Tannie Koelsoem peins kort voor ‘n optrede by D’Aria, 24 Augustus 2018. Die wynlandgoed het daardie aand hulle kos “droog” bedien om tannie Koelsoem ter wille te wees.
Die tafelversierings met die gange uit die tannies se resepteboeke.
Hannes van Wyk, in die middel, kom vra vir ’n kiekie saam met die twee bekende tannies. Hy en sy metgesel, heel links, het die aand na die tannies se kwinkslae kom luister.
Tannie Koelsoem vier haar 70ste verjaarsdag. By haar is oom Osman, haar eggenoot.
Oom Osman en tannie Koelsoem by hulle dogter se troue.
Riaz, die man wat alles begin het, by sy sussie se troue.
Op 3 Desember 2019 het die tannies in Distrik 6 opgetree. Hulle was albei al redelik swak.
By dieselfde geleentheid teken tannie Flori ’n boek op Eureka Barnard, die hoof van Sasnev, se rug. Tannie Koelsoem kyk toe.
Hulle laaste optrede by die ATKV se Onse Fees op 9 Desember 2019 in die Paarl. Hier is hulle saam met Martelize Brink, self ’n kookboekskrywer, Rebecca Hurst, die uitvoerende hoof van die Hurst Culinary School, en Heinrich “H” Koen, voorheen die meesterbrein agter Madame Zingara en nou die hoof van House of H. Die ATKV het baie moeite gedoen om die tannies, toe al redelik swak, vir ’n naweek lank te vergas.
Tannie Koelsoem Kamalie is op 11 April 2020 oorlede.
Tannie Flori Schrikker is op 12 September 2020 oorlede.
Die resepte is neergeskryf, maar die stemme is stil.
Teks en foto’s: Izak de Vries
Lees ook:
US Woordfees 2016: Kook saam Kaaps deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker
Kommentaar
’n Kosbare versameling foto's Izak!
'n Huldeblyk om jou hart aan op te haal! Baie dankie vir die nabetragtiging van twee baie besondere vroue wat nie net voortreflike kos gemaak het nie, maar oral harte aangeraak het.
Wel gedaan, Izak, vir jou besondere bydrae met die uitgebreide media blootstelling wat jy aan hulle verleen het.
Ai, Izak - die naweek lê nog voor en hier kom breek jy nou mens se hart stukkend, maar dis van aangedaanheid en erkentlikheid vir die lewens van hierdie twee lieflike vrouens. Dankie vir jou visuele oplettendheid. Jou eerbetoon.
Dankie, Madelie! Dit onthou is ook kosbaar.
Amanda. Dit was mense soos jy wat die mediablootstelling moontlik gemaak het! Baie dankie.
Hulle was my na aan die hart, Breyten. Dankie!