US Woordfees 2016: Kook saam Kaaps wen 'n WOORDtroFEE

  • 2

Die US Woordfees het op 18 April 2016 die jaarlikse WOORDtroFEES oorhandig.

Die gewildste boek in die leefstylkategorie was Kook saam Kaaps deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker. 

Lees ook 'n artikel oor Kook saam Kaaps.

LitNet het probeer om Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker te kontak, maar hul was nie beskikbaar nie. Izak de Vries deel sy indrukke van die aand.


 

Koelsoem Kamalie

Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker het nie geweet hulle wen ’n prys nie. LAPA het net vir hulle gesê daar is akteurs en ander bekendes by die geleentheid wat pryse wen, en hulle word genooi omdat hulle nou ook baie bekend is. “Dis soos die Oscars,” is vir hulle gesê. “Almal wil daar wees, maar nie almal word genooi nie. Julle is genooi.”

So: toe die prys aangekondig word, bly hulle sit. Geen boe of ba nie. Geen uitroepe nie. Hulle bly gewoon sit.

Ek was voor in die saal besig om foto’s te neem, so ek gaan trek toe vir Koelsoem op. Tania de Kock, die uitgewer van die boek, gaan trek vir Flori orent.

Toe begin hulle verhoog toe stap.

Flori Schrikker

Op die verhoog vra Japie Gouws, uitvoerende direkteur van die ATKV-Groep, by die prysoorhandiging vir Flori Schrikker: “Is jy wakker?”

“Toe word ek eerste wakker,” sê Flori agterna. “Maar toe weet ek nie wat om te sê nie. Toe stuur ek maar vir Antie Koelie eerste.”

Die tannies ontvang die prys van Japie Gouws, Uitvoerende direkteur van die ATKV-Groep

Koelsoem het min emosie getoon, net almal bedank wat betrokke was. Veral Amore Bekker van RSG se bydrae is geloof.

Flori het toe ook agter die mikrofoon ingeskuif. Sy het veral die Here bedank, en toe ook die mense van LAPA en die ATKV.

Toe ek die volgende oggend met Koelsoem praat, sê sy: “Ek het nou besef dis nie ’n droom nie. Gisteraand het ek nog gedink dis ’n droom.”

Koelsoem Kamalie, haar dogter Gadija Kamalie, Tania de Kock (uitgewer by LAPA), Yolanda Peters, dogter van Flori Schrikker en Flori

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Maria Welthagen

    Ek wil baie graag hulle kook boek he maar kry hom gald. Kan julle my asb laat weet waar kan ek hom kry. Baie dankie

    • Hallo Maria, die boek word uitgegee deur 'n LAPA-Uitgewers. Besoek hul webtuiste vir nog inligting of 'n kontaknommer as jy dit nie in 'n boekwinkel opspoor nie. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top