Kan Saffers se oorsese stemme verkiesingsuitslae verander?

  • 0

Elke stem tel. Dis die hart van die demokratiese ideaal, is dit nie? Of jy ’n plaaswerker of ’n professor is, almal se stem dra dieselfde gewig.

Die stembus is die groot gelykmaker. Hierdie afgelope naweek het Suid-Afrikaanse burgers oorsee die geleentheid gehad om te stem, voor die nasionale verkiesing op 29 Mei plaaslik. Oral op sosiale media was video’s van lang toue mense, baie in Springbok-klere, wat wag om te stem. Een persoon het aangedui hy het vyf uur lank in die ry gewag om in Londen te kon stem. Daar was na skatting omtrent 250 000 mense wat daar gestem het.

Ook in Den Haag en Lissabon was daar lang toue. En ook plakkate. “Let’s save South Africa” was nogal gewild. Dit laat die vraag ontstaan. Waarvan moet Suid-Afrika volgens hierdie mense gered word? Of van wie?

Dan is daar ook die burgerskap-hofbeslissing in Junie 2023, DA vs Minister of Home Affairs , waartydens die DA die regering voor die hof gedaag het en beweer het dat baie burgers onregmatig en eensydig van hul burgerskap ontneem is wanneer hulle burgerskap van ’n ander land aangeneem het. Sulke mense was nooit in kennis gestel nie, en het eers ontdek hulle is nie meer Suid-Afrikaanse burgers nie wanneer hulle hulle paspoort by ’n grenspos aanbied, of as hulle hul paspoort probeer hernu. Die Appèlhof het die DA gelyk gegee en beveel dat sulke persone se burgerskap as herstel beskou moet word en dat die toepaslike deel van die wet ongrondwetlik verklaar moet word.

Dit maak alreeds die uitoefening van burgerskapsregte oop vir ’n groot deel van buitelandse Saffers, en daai groep voel dalk dankbaar teenoor die DA en wrewelrig teenoor die ANC-regering wat hulle van burgerskap ontneem het. Dis onseker of daardie groep reeds met hierdie verkiesing toegelaat is om hul stemreg uit te oefen, aangesien die Konstitusionele Hof nog nie uitspraak gelewer het oor die ongrondwetlikheid van die bepaling nie.

Maar die gevoel wat ek in informele gesprekke kry, is dat ook die nasionale gesondheidswetgewing wat ’n week gelede deur die President onderteken is, mense aanspoor na die stembus toe. Suid-Afrikaners in die buiteland, dis die indruk wat gelaat word, is nie gelukkig met die ANC-regering nie en is gereed vir verandering.

........
Maar selfs indien alle Saffers in die buiteland saamstem oor vir wie hulle moet stem, selfs as hulle as ’n blok stem, is dit genoeg om ’n spesifieke party oor die wenstreep te help?
........

Maar selfs indien alle Saffers in die buiteland saamstem oor vir wie hulle moet stem, selfs as hulle as ’n blok stem, is dit genoeg om ’n spesifieke party oor die wenstreep te help?

Die kort antwoord is nee. Die opkoms en die lang toue mense wat besluit het om hulle stemreg uit te oefen, is indrukwekkend en verblydend. Dis hoe dit moet wees, maak nie saak vir wie gestem word nie. Ek kan net hoop dat mense binne die grense van ons land ook in reuse getalle sal kom stem, ongeag wie hulle kandidaat of party is.

Daar is veel meer burgers binne die grense van Suid-Afrika as daarbuite. En baie van die burgers binne die grense van die land, dié vir wie se stem die President gemik het toe hy die gesondheidswetgewing onderteken het, is óf heel tevrede met die huidige regering en wil hê hulle moet in beheer bly, óf het nie genoeg vertroue in enige van die ander partye om te skuif nie.

........
Indrukwekkend soos wat die buitelandse opkoms was, vermoed ek apatie gaan die binnelandse verkiesing meer beïnvloed as wat wenslik is in ’n gesonde funksionele demokrasie.
........

Indrukwekkend soos wat die buitelandse opkoms was, vermoed ek apatie gaan die binnelandse verkiesing meer beïnvloed as wat wenslik is in ’n gesonde funksionele demokrasie.

Dan is daar die Afrikaners wat hulself verklaar het. Selfs as al twee miljoen lede van organisasies wat die Afrikaner Verklaring ondersteun, as ’n blok stem, kan dit ten beste vir ’n sterker opposisie sorg. Of dalk gaan dit juis die jakkals in die hoenderhok jaag en veroorsaak dat die opposisiepartye se steun verdeel word en dat onder mekaar baklei, wat die ANC toelaat om agteroor te sit en beheer te behou.

Hoe dit ook al sy, hierdie verkiesing beloof om ’n interessante verkiesing te wees, en die buitelanders se uitstekende opkoms is die eerste salvo in die stryd.

Lees ook:

Die aanloop tot 29 Mei

Is verkiesings vry en oop as kieseropvoeding laag is?

Ons weet wat hulle nie weet nie. Of weet ons?

Die regte kant van die geskiedenis

Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2024): Wie gaan Suid-Afrika ná 29 Mei regeer?

Bou ’n Springbokspan in elke gemeenskap dwarsoor Suid-Afrika! So maak ons hoop!

Verkiesing 2024: Wat soek kiesers?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top