Die regte kant van die geskiedenis

  • 0

Die Wêreldhof het ’n paar dae gelede uitspraak gegee oor sommige van die bedes wat Suid-Afrika in hul geding met Israel versoek het.

Oor die belangrikste een, dat Israel tans besig is met volksmoord, is daar nie beslis nie. Die algemene verwagting is dat dit etlike jare sal duur voordat só ’n beslissing kom. Die bevele wat die hof wel uitgevaardig het, is alreeds veelseggend. Om te parafraseer: Israel moet sy soldate in toom hou en alles in hulle vermoë doen om seker te maak dat volksmoord nie plaasvind nie. Boonop moet hulle sorg dat hulpverleningsagentskappe toegang tot Gaza het. Die hof het ook bevind dat sekere van die dade waaraan Israel hulle skuldig maak, alreeds binne die definisie van volksmoord val.

........
Israel moet sy soldate in toom hou en alles in hulle vermoë doen om seker te maak dat volksmoord nie plaasvind nie.
........

Dis alles goed en wel, maar wat gebeur as Israel die uitspraak ignoreer? As ek en my buurman ’n geskil het, kan die siviele hof bevel gee dat my meubels gevat en verkoop word om my buurman vir sy skade te vergoed. In ’n kriminele saak kan ek in die tronk geboender word. Dis die mag van die plaaslike hof sommer hier om die draai.

In die Wêreldhof, waar regerings teen mekaar te staan kom en nasies se toekoms op die spel is, is daar geen afdwingingsmeganisme nie. Niks nie. Israel sal gehoor gee of nie en daar is niks wat die hof daaraan kan doen nie.

Die krag van die hof se bevele lê in hul morele waarde. Die res van die wêreld kan Israel nou sien vir wie hulle is. Gaan dit enigeen van opinie laat verander? Natuurlik nie. Mense, en nasies, het al klaar kant gekies en niemand gaan feite in die pad van hul vooropgestelde idees laat kom nie. Maar ten minste kan Suid-Afrika, en die ander lande wat met hul geding saamstem, weet dat ons aan die regte kant van die geskiedenis is. Die President het dit ook so in sy Maandag-brief gestel, en vir ’n slag stem ek met hom saam.

........
Die krag van die hof se bevele lê in hul morele waarde.
........

Maar wat van die nasies wat aan Israel se kant is? Duitsland is waarskynlik bekommerd dat sy kragdadige optrede in Namibië in die vroeë 1900’s ook maar op die grense van volksmoord dans, indien nie die perke oorskry nie. En Amerika se geskiedenis met die Eerste Nasies destyds, en hul eie swart bevolking nou, stel hulle ook nie juis in staat om die morele hoë grond te probeer inneem nie. Maar die gevolge vir Amerika is alreeds baie meer direk as wat dit vir Duitsland is.

........
Biden lees nie die gemoed reg nie en dit gaan hom duur te staan kom. Baie Amerikaners wil ook aan die regte kant van die geskiedenis wees, en grootskaalse kindermoord steek hulle dwars in die krop.
........

“Genocide Joe” soos wat Joe Biden deesdae bekend staan, is in ’n verkiesingsjaar en hy is besig om sy ondersteuningsbasis met sy pro-Israel-optrede te vervreem. Amerikaners verstaan dat al wat nodig is om Israel se moorddadige veldtog te stuit, is vir Amerika om nie meer wapens en geld te voorsien nie. Dis al. Israel is kaatjie van die baan, want hulle weet die VSA steun hulle. Onttrek daai steun, en die moorde hou op. Dis hoe eenvoudig dit is, maar om redes wat net hy verstaan, is Joe Biden besig om te verseker dat sy ondersteuners hom wantrou. Hulle hoef nie vir Trump te stem nie, hulle hoef net weg te bly van die stembus af om Biden uit die kussings te lig. Kiesers wat met die vorige verkiesing bekommerd was oor dinge soos reproduktiewe regte, kan besluit dat die geveg om Palestynse lewens te red, baie meer dringend is as om hul eie burgerregte te red. Biden lees nie die gemoed reg nie en dit gaan hom duur te staan kom. Baie Amerikaners wil ook aan die regte kant van die geskiedenis wees, en grootskaalse kindermoord steek hulle dwars in die krop.

........
Vir Suid-Afrikaners wat meen ons moes nooit hof toe gegaan het nie, net die volgende: Jy was aan die verkeerde kant van die geskiedenis met apartheid en jy’t nog steeds niks geleer nie? Sies.  
........

Vir Suid-Afrikaners wat meen ons moes nooit hof toe gegaan het nie, net die volgende: Jy was aan die verkeerde kant van die geskiedenis met apartheid en jy’t nog steeds niks geleer nie? Sies.  

Lees ook:

Power politics in the Middle East: How the global North-South divide capitalises on trauma

Elders gesien: Die verrigtinge in die Vredespaleis, Den Haag

Die Iowa-voorverkiesings 2024: Trump 2.0?

Is daar hoop vir ’n vreedsame oplossing in die Israel-Hamas-konflik?

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Notas oor die tragedie van Israel en die Palestyne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top