Gustaf Pienaar skryf op Facebook:
Soos seker baie van julle het ek die verrigtinge in die Vredespaleis, Den Haag, gevolg waar Suid-Afrika die Wêreldhof op ’n dringende basis vra om Israel se verwoestende optrede teen die inwoners van Gaza in sy oorlog teen Hamas te muilband. Suid-Afrika voer aan dat daar prima facie getuienis bestaan dat Israel besig is met ’n veldtog van volksmoord ("genocide") teen die mense van Gaza.
Suid-Afrika het op 11 Januarie 2024 ’n besonder indrukwekkende vertoning in die Hof gelewer. Ons regspan het gesaghebbend vertoon en Suid-Afrika se klagskrif van 84 bladsye het op die oog af oortuigende getuienis vir sy saak gebied. Koerante soos Die Burger en Vrye Weekblad het met ’n groot mate van euforie oor Suid-Afrika se voorlegging gereageer.
Op 12 Januarie 2024 was dit Israel se beurt. Waar ek in die aanloop persoonlik sterk aansluiting by Suid-Afrika se saak gevind het, besef ’n mens nou dat daar ook ’n ander kant van die konflik is, wat nie sonder meriete is nie. Toegegee: Israel beskik al jare lank oor ’n hoogs gesofistikeerde propagandamasjien, en daardie sluise is behoorlik oopgetrek. Voorspelbaar het Israel reg aan die begin die sensitiewe Holocaust-snaar getokkel.
Israel se vertoning was eweneens indrukwekkend: Sy regspan was goed voorbereid en hul aanbieding het van skitterende advokatuur getuig. Ek dink hulle het veral daarin geslaag om sekere leemtes en – jammer genoeg – eensydighede in Suid-Afrika se voorlegging op ’n oortuigende wyse aan die man te bring.
Veral drie dinge van Suid-Afrika se saak pla my nou: (1) Dit lyk vir my asof Suid-Afrika straks nie die Hof gaan oortuig dat hy die jurisdiksie het om die aansoek aan te hoor nie. Suid-Afrika se “voetwerk” in die verband – voordat hy sy aansoek gebring het – was klaarblyklik ontoereikend. Dit sal vir die Hof ’n maklike uitweg wees, eerder as om te veel aandag aan die ander sterk opponerende argumente te skenk. (2) Die feit dat die ANC-regering hom al vir jare onomwonde aan die kant van Hamas skaar het my erg ongemaklik gestem. In die lig van Hamas se brutale aanval van 7 Oktober 2023 – wat, natuurlik, grafies in Israel se aanbieding beklemtoon is – is die ANC se verbintenis met hierdie terroriste-organisasie ’n enorme bron van verleentheid vir Suid-Afrika én sy saak. (3) Suid-Afrika vra net optrede teen Israel en sy verdedigingsmag; niks teen Hamas nie. Dit staan soos ’n seer duim uit. (Ek is egter onseker of Hamas – wat immers nie 'n staat in die konvensionele sin van die woord is nie – hoegenaamd deur hierdie besondere hof verbied kan word om Israel verder aan te val; dit lyk nie so nie.)
Wat my getref het is Israel se – weliswaar erg propgandistiese – aanbieding dat hy ’n moderne, gesofisteerde, wetsgehoorsame staat is. Dit, teenoor Hamas, wat dalk militêr goed georganiseerd is – maar dis skrikwekkend al.
Die verrigtinge het my telkens ’n doodgewone vraag laat vra: Wat maak dat Hamas vir Israel só intens haat? Daarvoor moet ons in die geskiedenis gaan delf. Marthie Momberg se boek 21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian Struggle Matters (Naledi, 2023) bied sommige van die antwoorde. Kyk byvoorbeeld na die kaarte van Israel tussen 1947 en vandag wat daarin afgedruk word – en vergewis jouself van hoe Israel sistematies en op ’n brutale manier Palestynse grondgebied ingepalm het. Dit het meegebring dat die Palestyne vasgedruk word aan die Wesoewer (waar Israel steeds besig is om grondgebied vir hom in te palm) en dan die nou landstreek aan die Middelandse See, bekend as Gaza (ook as “die wêreld se grootste opelugtronk”). Dís waar die wortels van volksmoord teen die Palestyne – en Hamas se haat – gesoek moet word.
Wat my betref moet Israel maar slaap in die bed wat hy vir hom oor die jare heen opgemaak het. Sonder ’n omvangryke herstel van Palestynse mense- en grondregte sal Israel nooit vrede hê nie. Nóóit.