Die Amerikaanse presidentsverkiesing op 5 November 2024 is net een van ongeveer 70 verkiesings wat in 2024 wêreldwyd gaan plaasvind en wat ongeveer 4 miljard mense gaan betrek; die aantal stemgeregtigde kiesers is natuurlik veel minder. ’n Aantal van hierdie verkiesings staan uit in terme van belangrikheid, naamlik die Amerikaanse verkiesings wat ’n presidentsverkiesing insluit, die verkiesing in Indië met ’n bevolking van 1,4 miljard mense, die verkiesing in Groot-Brittanje en die verkiesings in Brasilië, Pakistan, Indonesië en Meksiko. Daar sal ook ’n verkiesing wees in Rusland, maar daardie uitslag is gegewe, met Wladimir Poetin die voorloper en reeds die wenner! Suid-Afrika se verkiesing in Mei 2024 is baie belangrik vir Suid-Afrikaners, maar in globale terme van mindere belang.
Die voorverkiesing in die deelstaat Iowa wat op 15 Januarie 2024 plaasgevind het, het die formele afskop van die 60ste Amerikaanse presidentsverkiesing ingelui. Alhoewel die presidensiële wedloop informeel reeds drie jaar duur, begin die proses nou formeel in al 50 die deelstate asook Washington, DC. Dit is nie net die Republikeine wat sulke voorverkiesings hou om die potensiele kandidate deur te kyk nie; die Demokrate gebruik ’n soortgelyke proses en skop op 23 Januarie met hulle voorverkiesings af. In hierdie voorverkiesings stem die ingeskrewe lede van een van die twee partye binne partyverband vir ’n bepaalde kandidaat, en die kandidaat met die meeste steun word dan ’n aantal afgevaardigdes (“delegates”) toegeken. Tydens die nasionale konvensie van byvoorbeeld die Republikeine wat in Junie 2024 gaan plaasvind, sal die kandidaat met die meeste afgevaardigde stemme as presidentskandidaat benoem word.
Daar sal ongeveer 2 400 afgevaardigdes by die Republikeinse nasionale konvensie wees, en om die presidentskandidaat te word het ’n persoon ongeveer 1 200 afgevaardigdes se steun nodig. Met die steun wat Donald Trump nou in Iowa gekry het, het hy dus reeds 20 afgevaardigdes in die sak, en die volgende voorverkiesing sal in New Hampshire wees, waar 22 afgevaardigdes op die spel is. Die Demokrate skop hulle proses op 23 Januarie af met die voorverkiesing in Suid-Carolina. Die grootste aantal afgevaardigdes sal op 5 Maart 2024 op die spel wees wanneer 874 afgevaardigdes toegewys word in minstens 14 deelstate. Daar word na die verkiesingsdag as Super Tuesday verwys.
........
Waarnemers verwys na Trump se ondersteuning as die kiesers wat voel dat hulle nie meer belangrik geag word in politieke besluite in Washington, DC nie, die sogenaamde “fly-over people”, die kiesers in middel-Amerika wat nie aan die Ooskus of die Weskus of in die groot metropole bly nie.
........
Die Iowa-voorverkiesing het geweldig baie aandag getrek, omdat 2024 daarop dui dat die 81-jarige Joe Biden in die stryd gaan tree met die 77-jarige Donald Trump om op 5 November president te word en dan vroeg in Januarie 2025 ingehuldig te word. Omdat Biden tans na die Demokrate se kandidaat lyk, is die voorverkiesings in die Demokratiese Party nie so intens nie, maar die moontlike terugkeer van Donald Trump trek globaal aandag. Trump se steun het in die drie jaar waartydens hy nie president was nie, op baie hoë vlakke gebly en dit weer in Iowa gedemonstreer met 51% van die steun van die ongeveer 100 000 ingeskrewe Republikeine wat aan die voorverkiesings (ook koukusse genoem) deelgeneem het. Trump het die oorwinning behaal teen twee populêre kandidate, naamlik goewerneur Ron DeSantis van Florida en die voormalige ambassadeur en goewerneur Nikki Haley. Beide het rondom 20% van die steun op hulle verenig, met DeSantis ’n kortkop voor Haley. ’n Interessante stukkie statistiek uit die Iowa-voorverkiesing is wie vir wie gestem het. Mense sonder grade het 65% van Trump se ondersteuners uitgemaak, 17% van DeSantis se ondersteuners en net 8% van Nikki Haley se ondersteuners. As ons kyk na mense met grade, dan val Trump se steun na 35%; dié van Haley styg na 33%, en dié van DeSantis vermeerder tot 23%. Trump se ondersteuners maak geen geheim daarvan dat hulle nie regtig van Trump se persoonlikheid hou nie, maar eerder vir hom, met al sy gebreke, sal stem as om Biden te herverkies. Trump se politieke oorlogskreet “MAGA” (Make America Great Again) is baie populêr in die blouboordjie-omgewing en onder Amerikaners sonder grade. Waarnemers verwys na Trump se ondersteuning as die kiesers wat voel dat hulle nie meer belangrik geag word in politieke besluite in Washington, DC nie, die sogenaamde “fly-over people”, die kiesers in middel-Amerika wat nie aan die Ooskus of die Weskus of in die groot metropole bly nie.
Hierdie MAGA-kiesers se vooroordele en politieke behoeftes het baie waarnemers ook aan die raai, en politieke leiers elders bekommerd. Godsdiens, of ten minste die beeld van ’n president wat hom aan die kant van veral wit Christene plaas, is ’n baie belangrike stem. In Amerikaanse politieke terme word na hulle verwys as die konserwatiewe evangeliese of hergebore Christene of somer net “evangelicals”.
........
Daar is geweldig baie kritiek op Biden om weer op 81-jarige ouderdom te staan, en sy ondersteuningsvlakke lyk nie baie bemoedigend vir die Demokrate nie.
........
Daar is ook nog ander presidensiële kandidate in die wedloop, onder wie onafhanklike kandidate, maar die stryd tussen Biden en Trump oorheers die proses reeds in die geheel. Daar is geweldig baie kritiek op Biden om weer op 81-jarige ouderdom te staan, en sy ondersteuningsvlakke lyk nie baie bemoedigend vir die Demokrate nie. Daarteenoor bly Donald Trump baie populêr, ten spyte van ’n hoop bagasie wat hy saamdra, onder andere sy persoonlikheid, sy rol in die verkiesingsuitslag in November 2020, en sy rol tydens die protesaksies deur Trump-ondersteuners op 6 Januarie 2021 wat in die VSA as ’n “inval” (“insurrection”) beskou word. Miskien beskou ons in Suid-Afrika die politieke “inval” nie in so ’n ernstige lig as die Amerikaners nie, want die optrede van die EFF in die parlement en burgerlike protesaksie in dorpe en stede het ’n algemene ding geword! Daar is verskeie hofgedinge teen Trump aan die gang, waarvan die ernstigste die oortreding van die Grondwet is wat ’n kandidaat as president diskwalifiseer as hy by ’n politieke inval betrokke sou wees. Die saak sal waarskynlik deur ’n oorwegend juridies konserwatiewe Hooggeregshof beslis word en die kanse is baie goed dat Trump ook oor dié hekkie sal kom.
Indien Trump wel die benoeming kry as Republikeinse presidentskandidaat, wat tans waarskynlik lyk, sal dit ook ’n historiese gebeure wees. Die laaste keer dat ’n president ’n verkiesing verloor het en vier jaar later weer gestaan het, was in 1940 met Herbert Hoover, maar om ’n verkiesing te wen na ’n onderbreking van ’n termyn, sal ons moet teruggaan na 1892, toe Grover Cleveland sy tweede termyn gewen het. Indien Trump genomineer word, sal hy die rekord met Richard Nixon deel wat ook drie keer (1960, 1968 en 1972) as Republikeinse kandidaat benoem is.
........
Wat sou die implikasie van die Iowa-voorverkiesing wees as ons die Amerikaanse politieke blik in die pad sou afskop tot op 5 November 2024?
........
Wat sou die implikasie van die Iowa-voorverkiesing wees as ons die Amerikaanse politieke blik in die pad sou afskop tot op 5 November 2024? Ons weet uit Trump se eerste termyn dat hy ’n politieke ontwrigter is en nie die konvensies volg deur na sy omvangryke span raadgewers te luister nie. Ons weet ook dat hy met sy kabinet die speletjie “You’re fired” speel as ’n minister nie lojaal teenoor hom is, eerder as lojaal ten opsigte van die Grondwet nie. Dit is egter sy uitgesproke beleidstandpunte wat baie mense bekommer, soos sy verhouding met Poetin. Toe Trump president was, was daar nog nie ’n inval in Oekraïne nie en dit het sake heeltemal verander. Die VSA is tans die grootste hulpverlener aan Oekraïne, en Trump en sy ondersteuners is nie positief teenoor die rol wat die VSA daar speel nie. Trump het die VSA se verhouding met Navo ook heeltemal ontwrig en daar bestaan vrae oor wat hy nou sou doen as hy ’n tweede termyn sou kry. Sy uitsprake oor immigrasie is welbekend en hy maak geen geheim daarvan dat die muur klaar gebou sal word en dat onwettige immigrante op dag een uit die VSA geskop sal word nie. Sy inisiatiewe in die Midde-Ooste het ook nie gewerk nie, en as hy weer president word, sal hy ’n baie komplekse situasie tussen Israel en Gaza erf. Trump sal beslis ook weer sy stempel op die ekonomie afdruk en sy ekonomiese nasionalisme vrye teuels gee.
Suid-Afrikaanse politici behoort ook van die gebeure rondom Trump kennis te neem. Joe Biden was Suid-Afrika baie ter wille ten opsigte van Agoa, ons selektiewe neutraliteit mbt die konflik in Oekraïne, die Lady R-gebeure, asook ons rol in die Israel-Gaza-konflik met die mees onlangse gebeure in die Internasionale Hooggeregshof. Ek twyfel of die tweede Trump-administrasie dieselfde roete en posisie sal inneem. Amerika is een van ons grootste handelsvennote, en meer as 600 Amerikaanse maatskappye het ’n teenwoordigheid in Suid-Afrika. Indien Trump die verkiesing wen, die Republikeine beheer in die senaat terugwen en hulle beheer van die Huis van Verteenwoordigers handhaaf, sal die sewende administrasie wat na 22 Mei 2024 in Pretoria ingesweer sal word, Suid-Afrika se beleid ten opsigte van die VSA baie sensitief moet oordink.
Die moontlike herverkiesing van Donald Trump gaan politieke polarisasie in die VSA verder verdiep. Die kloof tussen links en regs, tussen liberaal en konserwatief gaan groter word, en dit bekommer baie mense. In die 2020-presidentsverkiesing het ons ongekende deelname gesien en het Biden die verkiesing gewen weens die feit dat voorstedelike vroue teen Trump gestem het en weens ’n paar onafhanklike kandidate wat Trump se steun in kritieke state ondermyn het. Wat sou ek vir die gemiddelde Amerikaner sê wat bekommerd is oor Trump se moontlike herverkiesing ná Iowa se verkiesingskoukusse? Ek sou vir hom of haar sê dat hulle 10 maande het om gewoond te raak aan die idee dat Trump baie hard aan die Withuis se deur gaan klop!
Lees ook: