Voor verlede week het ek nog nooit van Dricus “Stillknocks” du Plessis gehoor nie. Gewelddadige sport het nog nooit veel bekoring vir my ingehou nie, alhoewel ek saamlag vir die grappie dat hy dalk nommer een in die wêreld is, maar steeds net nommer agt in Nigel/Kemptonpark/Boksburg.
Ek weet nog steeds nie hoekom sy bynaam, of is dit sy verhoognaam, Stillknocks is nie. Dis reg so, ook. Anders as so baie van my landgenote het ek nie vyfuur opgestaan vir ’n wedstryd wat eers agtuur begin het nie. Hoekom sou ek? Die bebloede gesigte en lywe, toegeswelde oë en snymerke ná die tyd is erg genoeg; ek wil nie sien hoe dit toegedien word nie. Wat van harsingskudding, wat van breinskade, wat van al die boksers wat later met gesondheidsprobleme sit van al die kophoue wat hulle toegedien word? Nie een van die mense wat met soveel bewondering praat oor hoe hy in die derde ronde begin terugbaklei het en die oorhand gekry het klink of hulle juis bekommerd is oor die langtermynskade wat Stillknocks opgedoen het nie. Natuurlik nie. Solank hy wen kan ons almal bekostig om patrioties te wees.
Ekself het baie lekker gekry toe ek lees dat die Kanadese sanger Drake R13 miljoen verloor het nadat hy teen Stillknocks gewed het. Moet nooit teen ’n Suid-Afrikaner wed nie, dit behoort almal nou al te weet. Wat die oorwinning gedoen het, was om Suid-Afrikaners wéér bymekaar te bring in ons luide toejuiging. Suid-Afrikaners is plesierig, veral wanneer ons as underdog oorwin. Dis natuurlik die ander tipies Suid-Afrikaanse ding: As ons sportsterre wen, is dit ons almal se wen. Verloor hulle, is hulle en hul afrigter alleen sleg.
........
Ekself het baie lekker gekry toe ek lees dat die Kanadese sanger Drake R13 miljoen verloor het nadat hy teen Stillknocks gewed het. Moet nooit teen ’n Suid-Afrikaner wed nie, dit behoort almal nou al te weet.
........
Die afgelope ruk lees en dink ek baie oor toksiese manlikheid, en die ernstige geweldsprobleem waarmee ons land sit. Natuurlik het dit my laat dink en wonder oor Stillknocks. Op een van die eerste foto’s wat ek ooit van hom gesien het, staan hy met ’n bebloede bolyf, arms omhoog, oopmond met wat waarskynlik ’n oorwinningskreet op sy lippe is. Hy lyk soos die poster child van hipermanlikheid; ’n breker wat kan moker en die pyn kan hanteer wanneer hy gemoker word.
Maar dan luister ek na ’n uittreksel uit ’n onderhoud na die tyd en ek hoor die nederigheid en die grootmoedigheid waarmee hy praat. Ek sien die beelde waar hy toe hy besef hy’t gewen, op sy knieë neerval en sy trane met die landsvlag afvee. Ek sien hoedat hy sy afrigter en sy pa op die mond soen, en met sy kop teen sy pa se bors lê. Dis die optrede van ’n man wat nie omgee om sy sagter kant te wys nie. Dis die optrede van ’n man wat nie nodig het om sy manlikheid te bewys deur gedurig hard te wees nie.
Ek weet nog steeds nie wat dit beteken wanneer hulle sê “nou weet hulle wat ons weet” nie. Verwys dit na die persoon, die nasionaliteit, die kanniedood-ingesteldheid? Dalk moet ek net ophou dink en dit aanvaar as een van daai vreemde sportgoed wat nie sin maak nie. Dit weet ek wel: Die grootste geveg wat hierdie naweek gewen is, het nie in die kryt plaasgevind nie. Dit was agterna, toe ’n vegter sy liefde en teerheid teenoor ander mans kon bewys en niemand het ’n oog geknip nie.
........
’n Oorwinning ten spyte van die gebrek aan ondersteuning van jou eie regering, en om nog steeds jou liefde vir die land en sy mense te bely, is besonders.
........
Dalk moet een van die vele organisasies wat hulle beywer daarvoor om toksiese manlikheid te bestry daaraan dink om hom te nader as ambassadeur. Dade het nog altyd meer beteken as woorde.
En dalk moet die regering wakker skrik en begin om alle sportsoorte behoorlik te befonds, nie net rugby, sokker en krieket nie. Dit weet ek ook. ’n Oorwinning ten spyte van die gebrek aan ondersteuning van jou eie regering, en om nog steeds jou liefde vir die land en sy mense te bely, is besonders. Daaroor kan hy maar al wat ’n landsvlag is gebruik om sy trane af te droog.
- Fokusprent: Fighting Springboks deur op Unsplash
Lees ook:
"Ons een-punt-oorwinnings is ’n straf én ’n seën," vertel Hendrik Hancke, skrywer van Onkant!
Kommentaar
Stilnox is 'n slaappil. Du Plessis se broer het die verband getrek tussen Du Plessis se vele uitklophoue en die slaappil wat jou 'uitskop' en laat slaap en siedaar, so is die naam Stillknocks toe gebore. Die 'nou weet hulle' verwys eenvoudig, soos jy vermoed, na die kanniedood ingesteldheid van Suid-Afrikaanse sportsterre, veral gedagtig aan die oorwinnings wat behaal word, dikwels ten spyte van noemenswaardige agterstande en ongelykhede.
Sport en veral suksesverhale het altyd 'n heilsame effek op die gemoed van mense. 'n Gebeurtenis soos die is egter natuurlik selde sonder enige sekondêre dramas en insidente. Op X (voorheen Twitter) het ’n ou onderhoud van 2020 begin sirkuleer waar Du Plessis uitvaar teen "plaasmoorde". Die progge en wouk aktiviste het erg aanstoot geneem, veral ook toe Kallie Kriel op Facebook boonop ’n kiekie van homself en Du Plessis geplaas het. Ook ander foto’s het begin sirkuleer, soos een van Du Plessis by die Voortrekkermonument en een van Du Plessis, gemonteer langs die simbole van die Kaapse Onafhanklikheid groepering. Die aktiviste het toe begin kla dat Du Plessis se oorwinning gekaap word deur ’n minderheidsgroep.
Ek is ook nou nie juis gaande oor hierdie sportsoort nie. Beslis nie my koppie tee nie.
"Ek weet nog steeds nie wat dit beteken wanneer hulle sê 'nou weet hulle wat ons weet' nie."
Ek weet ook nie eintlik nie, maar as ek 'n rubriek/opiniestuk daaroor wou publiseer sou ek eers gaan nalees.
Verder ook: In my beperkte ervaring en waarneming is dit juis die ouens wat regtig hul man kan staan wat nie hoef te bewys hulle kan nie. Du Plessis sal nooit aan 'n ander man (of vrou!) buite die kryt hoef te tik om sy manlikheid te bewys nie. Dis juis die outjies met die tjippie op die skouer wat hulself moet probeer handhaaf.
“Nou weet hulle wat ons weet.” Beste Bettina, waarom sal ek jou in jou uur van nood versaak? “Cometh the hour, cometh the man.”
Die Booker-pryswenner (Prophet Song) skets ʼn somber tafereel van ʼn kreupel, distopiese, maar verbeelde leefwêreld in Ierland waar konflik tussen rebelle en die regime lei tot haglike omstandighede:
1. ʼn potjie tee word op ʼn kampstofie gemaak
2. elektrisiteit kom en gaan
3. mense staan met leë dromme in ʼn ry en wag vir ʼn watertrok
4. watergehalte is swak
5. dood word met dood vergeld
6. kamerade word in topposte aangestel en lojaliteit aan die regime is allerbelangrik
7. paniekaankope lei tot tekorte
8. sigarette en alkohol verkoop soos soetkoek
9. familiebande torring los
10. wantroue is aan die orde van die dag en so aan en so aan.
Dit is ook sinvol om ʼn waarneming of twee te deel:
1. “... watching the people in line around her and despising what she sees, the common run of mankind, what are they all but animals in docile servitude to the body, tribe and state.”
2. “… I got through two rebel checkpoints and at the third I was told to turn back so I just circled around them, they’re making up the rules as they go along, they’re just as bad as the regime …”
Nou weet hulle wat ons weet. Of nie.