Die aanloop tot 29 Mei

  • 1

Hierdie opstel oor die aanloop tot die nasionale en provinsiale verkiesing van 2024 is een van vier artikels oor die komende verkiesing. Die eerste sal hoofsaaklik handel oor die aanloop en belangrikste tendense op pad na 29 Mei 2024; die tweede sal meer waagmoedig wees en vooruitskouings maak met die politieke proses in die pylvak; die derde artikel sal die uitkoms van die verkiesing op nasionale en provinsiale vlak vertolk in terme van wie eerste oor die wenstreep is; en die vierde sal die samestelling van die sewende administrasie en moontlike koalisies bekyk.

Na die 1994-verkiesing het die eerste administrasie van Suid-Afrika tot stand gekom. Daarna het ons elke vyf jaar verkiesing gehou en in Mei 2024 kom die sesde administrasie tot ’n einde en sal dit deur ’n sewende administrasie vervang word.

’n Kenmerk van die afgelope 30 jaar was dat die politieke stelsel twee baie belangrike veranderings moes internaliseer, naamlik die gebruik van proporsionele verteenwoordiging as kiesstelsel en die onafhanklikheid van die regbank, wat veral gesetel het in die rol van die nuut geskepte Konstitusionele Hof.

Oor die politiek was daar baie vrae, en Breyten Breytenbach se siniese opmerking uit 1990 in Vrye Weekblad dra steeds gewig – hy het verklaar dat “die sterk staatsidee bly staan, want die ANC gaan vir daardie soort mag wat ’n afspraak is tussen magshandelaars. Dat die ANC nie sy basis kan vertrou met mag nie, die manne met houtgeweers ten spyt, dat ons ’n sterk koalisie gaan kry (ANC/NP), maar ’n minderheidsregering – repressief, alhoewel redelik prakties ingestel. Dat De Klerk voorbereidings tref om desnoods sonder die ANC te regeer, terwyl die ANC nie by magte is om hom te posisioneer vir regeer sonder die NP nie ...” Daar het egter sedert 1994 baie in die Suid-Afrikaanse politieke proses gebeur, en binne twee jaar het die Nasionale Party die regering van nasionale eenheid verlaat en heeltemal van die toneel verdwyn, hoofsaaklik oorgeneem deur die Demokratiese Alliansie.

Die aanloop tot the 2024-verkiesing word in vier dele bespreek. In die deel oor dryfkragte word gekyk na die onderliggende faktore wat verkiesingsuitkomste bepaal en in basiese tendense word gekyk na die bekende en voorspelbare omgewingsfaktore. Die derde deel is die sleutelonsekerhede. Dit is die faktore waaroor ons nie genoeg weet nie, maar wat, as dit in een of ander rigting beweeg, die verwagte politieke uitkoms betekenisvol sal kan verander. In die vierde deel vra ons die vraag oor hoe alles inmekaar steek of pas.

Die onderliggende dryfkragte in die Suid-Afrikaanse politieke proses het te doen met die deelnamepatrone van die Suid-Afrikaanse kieser aan die demokratiese proses. In die eerste vier verkiesings was die deelname van geregistreerde kiesers baie hoog gemeet aan internasionale standaarde. In 1994 was dit geraam op 86,97%; in 1999 was dit ’n 89,3%-deelname; en in 2004 het 76,7% van kiesers die moeite gedoen om te gaan stem. In hierdie persentasies word stemgeregtigdes wat nie geregistreer het om te stem nie, uitgesluit, ten spyte daarvan dat dit ’n betekenisvol groot deel van die bevolking bo die ouderdom van 18 jaar uitgemaak het. Die deelnamekoers styg in 2009 na 77,3% voordat dit laer begin beweeg, en uiteindelik is die stempersentasie in 2019 net 66,1%. Hierdie persentasies verwys na nasionale verkiesings en nie na plaaslike verkiesings nie, waar stempersentasies oor die algemeen laer is.

’n Tweede dryfkrag is die toenemende vertrouensbreuk wat daar tussen die regering en die kieser ontstaan het. In die eerste drie of vier verkiesings kon die ANC wegkom met die bevrydingspremie waaroor hulle beskik het; en apartheid was ’n nuttige slaansak as verduideliking waarom dienste nie gelewer word nie. Teen 2008–2009 het dinge egter begin verander. Beurtkrag en die verswakking van Eskom, staatskaping onder Zuma, swak ekonomiese groei, groeiende korrupsie en misdaad, asook faksies binne die ANC het sy tol begin eis. Die opkoms van die EFF as ’n wegbreekfaksie van die Jeugliga-leiers onder Julius Malema het tot die vertrouensbreuk bygedra. Sommige waarnemers gebruik selfs die term legitimiteitskrisis, maar ek dink dit is ’n oordrywing.

........
Suid-Afrika nader nou die 70%-verstedelikingsvlak, en dit word betekenisvol omdat die ANC se haarwortels in die platteland lê. Met elke verkiesing kon die ANC die stembus nader wetende dat die organisasie kan staatmaak op 30% nasionale steun uit die platteland.
........

Naas die dryfkragte wat die polities dinamiese proses beïnvloed, is daar ook basiese tendense wat die proses beïnvloed. Voorbeelde hiervan is die toenemende verstedeliking van Suid-Afrikaners. Eintlik moet dit “verdorping” eerder as “verstedeliking” genoem word! Suid-Afrika nader nou die 70%-verstedelikingsvlak, en dit word betekenisvol omdat die ANC se haarwortels in die platteland lê. Met elke verkiesing kon die ANC die stembus nader wetende dat die organisasie kan staatmaak op 30% nasionale steun uit die platteland. In 2024 gaan dit bepaald anders wees met ’n party soos Jacob Zuma se Umkhonto weSizwe- (MK-) party ook in spel.

Demografies het Gauteng die grootste enkele provinsie geword en KwaZulu-Natal na die tweede plek afgedruk. Die Wes-Kaap is nou die derde grootste provinsie en het die Oos-Kaap verbygesteek met die aantal geregistreerde stemgeregtigdes. Hierdie demografiese patrone sal ’n uitwerking op die verkiesing hê. Die sosiale media, vals nuus en ’n oorweldigende toegang tot slimfone was in die eerste drie verkiesings nie betekenisvolle faktore nie, maar sedert 2014 het dit ’n groot rol begin speel en sal dit ook in 2024 doen. Die rol van ongefiltreerde nuus en boodskappe wat tussen mense en groepe beweeg, het beslis ’n groot impak, en dit weet ons sedert die Arabiese Lente in Desember 2010 toe die Tunisiese regering tot ’n val gekom het as gevolg van Blackberry-slimfone in die hande van politieke aktiviste.

........
Aanvanklik kon nasionale vraagstukke en plaaslike kwessies duidelik van mekaar onderskei word, maar sedert 2009 het hierdie faktore so vervleg geraak dat dit nie meer moontlik is nie.
........

Basiese faktore soos misdaad wat op baie hoë vlakke bly en die tendens van geleidelike verswakking van regering op plaaslike owerheidsvlak speel ook ’n groot rol in stemgedrag, omdat kiesers dit daagliks beleef. Aanvanklik kon nasionale vraagstukke en plaaslike kwessies duidelik van mekaar onderskei word, maar sedert 2009 het hierdie faktore so vervleg geraak dat dit nie meer moontlik is nie. Onder die term dienslewering kan faktore soos beurtkrag, beurtwater, gebrekkige finansiële bestuur, swak rioolstelsels, swak paaie, slaggate en dies meer ingevoeg word.

Werkloosheid, armoede en gebrek aan werksgeleenthede is ook van die basiese tendense wat kiesers óf na die stembus dwing óf (soos wat uit die afgelope paar verkiesings geblyk het) kiesersapatie veroorsaak. Dit wil voorkom asof lojale ANC-ondersteuners wat swak regering beleef, eerder van die stembus sal wegbly as om teen die ANC te stem vanweë sy bevrydingspremie. Die werkloosheidskoers is tans gemiddeld 33%, en die uitgebreide koers so hoog soos 42%. Daar is ook die uitsonderings met die Wes-Kaap se werkloosheidskoers wat op 21% staan en die Noordwes se uitgebreide werkloosheid wat op 54% staan. Gebrek aan werksgeleenthede is telkens een van die faktore wat kiesers aandui as die belangrikste vraagstuk, gevolg deur beurtkrag, misdaad, dienslewering en immigrasie. Die meeste politieke partye het ook immigrasie op verskillende maniere deel gemaak van hulle politieke beleid en in partymanifeste opgeneem. Die voorkoms van vreemdelingehaat, of xenofobie, is ’n baie goeie aanduiding van geweldige kompetisie vir skaars hulpbronne in die sosio-ekonomiese omgewing in ’n ekonomie wat kwalik teen 0,5% per jaar groei.

Naas dryfkragte en basiese tendense bestaan daar ook sleutelonsekerhede. Dié ontstaan wanneer ’n basiese tendens van rigting verander of ’n tendensbreuk ontstaan en daar nie genoeg inligting bestaan om projeksies of voorspellings te waag nie. Die skielike ontstaan van die MK-party en die rol wat onafhanklike kandidate in die verkiesing kan speel, is voorbeelde hiervan. Ons weet egter nou dat net ses onafhanklike kandidate die nasionale kieserslys gehaal het en nie ’n groot impak sal uitoefen nie, maar die MK-party is ’n perd van ’n ander kleur. Tans is die denke oor dié party dat dit ’n soort verskietende ster kan wees óf dat dit die potensiaal het om ’n spelbreker kan wees. Dit is tipies van ’n sleutelonsekerheid.

Nog so ’n onsekerheid is die stemkoers en stempersentasie in die komende verkiesing. Alles dui daarop dat dit laer gaan wees as 2019 se 66%-stempersentasie, maar in die pylvak kan dit dramaties verander. ’n Lae stempersentasie bevoordeel die groter partye, omdat hulle ondersteuners meer lojaal is en die partye oor goeie logistiek beskik en oor fondse om die geweldig duur veldtogte met baniere, T-hemde en kospakkies aan te vul. Stempersentasie is ook deel van die onsekerheid oor wat apatie by kiesers veroorsaak en of die wegblystem deel sal bly van kiesergedrag in 2024. Die opkoms van MK mag hierdie gedragspatroon dalk beïnvloed.

Nadat die dryfkragte, basiese tendense en sleutelonsekerhede in die polities dinamiese omgewing bekyk is, ontstaan die vraag dus nou hoe alles inmekaar steek.

........
Die ANC het nou ’n voorbeeld geword van ’n klassieke eenparty-dominante regering. Oor ’n periode van 30 jaar het die ANC al die kenmerke van ’n dominante party vertoon, naamlik lang periodes van ononderbroke regering, ’n vervaging (“blurring”) tussen politieke party en staat, asof die een ’n verlenging van die ander is.
........

Die eerste kenmerk was dat die stelsel van proporsionele verteenwoordiging van die begin in 1994 gesorg het dat daar op nasionale vlak telkens ’n dominante party was wat die verkiesing oorheers het. Sedert 1994 was dit die ANC wat met die 2009-verkiesing 69,69% van die stemme op hom verenig het en dus ’n tweederde-meerderheid in die parlement gehad het. Die ANC het nou ’n voorbeeld geword van ’n klassieke eenparty-dominante regering. Oor ’n periode van 30 jaar het die ANC al die kenmerke van ’n dominante party vertoon, naamlik lang periodes van ononderbroke regering, ’n vervaging (“blurring”) tussen politieke party en staat, asof die een ’n verlenging van die ander is. As gevolg van die lang ononderbroke regering was daar ’n toename in korrupsie en verswakking van beheer en toesig; groeiende faksies binne die dominante party omdat die ideologiese spanwydte te groot begin word, en gevolglike vertragings in besluitneming; verswakte opposisiepartye en dat die dominante party eintlik die opposisie geïnternaliseer het in eie geledere en so die swak opposisie verder verswak het. Die interne partykultuur van die dominante party toon nou duidelike tekens van politieke arrogansie, politieke oorgerustheid en gebrek aan aanspreeklikheid.

Die tweede kenmerk van die politieke proses in Suid-Afrika was dat daar met elke verkiesing ’n party was met die tweede meeste stemme, maar wat geen bedreiging vir die dominante party ingehou het nie. Aanvanklik was dit die NP, daarna die DP (Demokratiese Party)  en uiteindelik die DA (Demokratiese Alliansie). ’n Derde kenmerk was dat ’n party derde in die verkiesing was, maar geen bedreiging ingehou het vir die sogenaamde amptelike opposisie nie. Aanvanklik was dit die IVP (Inkatha Vryheidsparty), daarna COPE en uiteindelik die EFF. Die vierde kenmerk was ’n reeks kleiner partye en selfs mikropartye soos die VF Plus, ACDP, Good, Azapo, PAC, ATM en ’n reeks ander.

In die volgende opstel gaan die politieke partye in die pylvak op pad na 29 Mei van nader beskou word, maar die groot vraag is tot watter mate die politieke ontwerp van die laaste 30 jaar in hierdie verkiesing sal verander of aanpas. Die sleutelonsekerhede wat reeds bespreek is, speel hier die belangrikste rol.

........
As die gevestigde patroon van apatie onder veral die swart kiesers egter gebreek gaan word, staan ons op die vooraand van ’n baie betekenisvolle kantelpunt in ons politieke geskiedenis.
........

Opsommend kan die volgende aan die orde gestel word:

  • Dit wil voorkom asof ons uit die eenparty- dominante stelsel gaan uitbeweeg in die rigting van koalisieregerings op nasionale vlak en in verskeie provinsiale regerings.
  • Gaan die ANC onder die 50%-kerf inskuif soos wat in 2021 se plaaslike verkiesings gebeur het toe die party 46% van die steun gekry het? Om van 57% steun in 2019 na onder 50% te beweeg is ’n enorme swaai van meer as 7% weg van die regerende party. Die ANC het egter oor verskeie verkiesings gedemonstreer dat hulle in die pylvak baie verlore steun kan herwin, en iets van dié proses is reeds sigbaar.
  • Wat gaan die impak van die MK-party wees as hulle ’n dominante posisie in die KZN- provinsiale verkiesing behaal? Tans lyk dit of hulle tot 30% van die steun daar kan mobiliseer met Zuma aan die spits. Dit het ’n tweeledige impak, want met KZN as die tweede grootste provinsie kan dit maklik vertaal na ’n nasionale steunvlak van ongeveer 6–8%. Die tweede impak is dat MK-party steun gaan wegrokkel van die EFF, ActionSA en IVP, bo en behalwe die ANC as die grootste slagoffer.
  • Watter sukses gaan die Veelpartyhandves met die DA aan die stuur in die verkiesing behaal, en sou ons in ’n komplekse koalisie-omgewing beland, hoe sterk gaan die bindingskrag tussen die 11 lede van die Veelpartyhandves bly?
  • Dit wil voorkom asof die EFF nie in enige van die koalisiegesprekke as ’n vennoot gesien word nie. Die EFF se dilemma is dat hulle op ongeveer 10% te groot is om klein te wees en te klein is om groot te wees, veral as die ANC op soek sou wees na ’n koalisievennoot met 12–15% van die steun. Ideologies het die EFF hulle ook in ’n baie moeilike hoek ingeverf met hulle ongebreidelde fascistiese kenmerke.
  • Uit ongeveer 42 miljoen stemgeregtigde kiesers het net 27,7 miljoen die moeite gedoen om te registreer, waarvan meer as 15 miljoen vroue was. Oor die laaste 30 jaar het daar tussen 15 en 18 miljoen kiesers op stemdag opgedaag. Die meeste navorsing wys dat die stempersentasie laer as 66% gaan wees en eerder nader aan 60%. As dié patroon nie gaan verander nie, kan ons verwag dat ongeveer 17 miljoen kiesers op verskillende maniere gaan stem, dié in die buiteland ingesluit. As die gevestigde patroon van apatie onder veral die swart kiesers egter gebreek gaan word, staan ons op die vooraand van ’n baie betekenisvolle kantelpunt in ons politieke geskiedenis.

Theo Venter is professor in praktyk in die Skool vir Openbare Bestuur, Bestuurspraktyke en Openbare Beleid aan die Kollege vir Besigheid en Ekonomie aan die Universiteit van Johannesburg, en gedurende die 2024-verkiesing sal hy ook optree as verkiesingsanalis vir Netwerk24 by die OVK se Verkiesingsentrum.

Lees ook:

The Z factor in KZN and the elections

Verkiesing 2024: 10 onderliggende veranderlikes van besondere belang

’n Komedie in drie stemme?

South Africa’s only hope?

Our most important election since 1994

  • 1

Kommentaar

  • Bekyk ons nie die situasie vanuit ‘n ontwikkelende of selfs ontwikkelde wêreld oogpunt nie? Die feit dat oud-president Zuma ‘n klomp korruptes of onder verdenking leiers bymekaar maak, en binne ‘n abnormale kort tyd dit regkry om die mees betekenisvolle inbreek op ANC ondersteuning maak, moet mos vir ons sê dienslewering, korrupsie, kriminele netwerke, werkloosheid, gebrek aan ekonomiese groei, ensovoorts, maak baie minder saak vir die meerderheid van kiesers.
    Solank as wat gebrek aan groei in die ekonomie gekanselleer kan word in die oog van die kiesers met R350 per maand toelaag, is daar ander faktore wat stempatrone beïnvloed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top