’n Komedie in drie stemme?

  • 2

Platkop de Vries is deurmekaar. As jy so deurmekaar soos ek is oor hoe om op een dag drie kruisies te trek, dan sal hierdie verduideliking hopelik help.

*

Ons tel nou al die slapies na ons komende verkiesing toe af, maar baie mense is nog deurmekaar oor die drie stembriewe wat wag.

Ek het so ’n bietjie daaroor gaan lees. Hier is my bevindinge:

  • Nasionaal, stem vir jou party.
  • Nasionaal, stem vir jou party, of ’n onafhanklike kandidaat.
  • Provinsiaal, stem vir jou party, of ’n onafhanklike kandidaat.

So eenvoudig is dit!

Hoekom twee keer vir die nasionale regering stem?

Die twee stemme vir die nasionale regering is nie so moeilik nie.

  • Ons een stem moet saam met almal in die land help kies vir 200 verteenwoordigers in die nasionale wetgewer.
  • Ons ander stem is vir die persoon of party wat ons provinsie die beste in die nasionale wetgewer sal verteenwoordig. Hierdie stem maak dit ook moontlik vir onafhanklike kandidate om verkies te word.

Maar hoe werk dit in die praktyk?

Die nasionale wetgewer (Deel 1) 

Die een stembrief vir die nasionale wetgewer is suiwer op persentasies geskoei. Hier kies jy vir ’n party; almal in die land stem saam vir 200 verteenwoordigers.

Kom ons sê die hele land se kiesers stem so:

  • Party 1: 40% = 80 verteenwoordigers
  • Party 2: 20% = 40 verteenwoordigers
  • Party 3: 12% = 24 verteenwoordigers
  • Party 4: 11% = 22 verteenwoordigers
  • Party 5: 4,5% = 9 verteenwoordigers
  • Party 6: 4% = 8 verteenwoordigers
  • Party 7: 3,5% = 7 verteenwoordigers
  • Party 8: 2,5% = 5 verteenwoordigers
  • Party 9: 2% = 4 verteenwoordigers
  • Party 10: 0,5% = 1 verteenwoordiger.

En daar het ons 200 verteenwoordigers.

Die nasionale wetgewer (Deel 2)

Die tweede stembrief is ook op persentasies geskoei, maar hier kies elke provinsie die persoon, of die party, wat hulle provinsie in die nasionale wetgewer moet verteenwoordig. Die grootste provinsie kry die meeste verteenwoordigers.

So lyk die verdeling van verteenwoordigers per provinsie:*

  • 47 verteenwoordigers vir Gauteng
  • 41 verteenwoordigers vir KwaZulu-Natal
  • 19 verteenwoordigers vir Limpopo
  • 15 verteenwoordigers vir Mpumalanga
  • 5 verteenwoordigers vir Noord-Kaap
  • 13 verteenwoordigers vir Noordwes
  • 25 verteenwoordigers vir Oos-Kaap
  • 11 verteenwoordigers vir Vrystaat
  • 24 verteenwoordigers vir Wes-Kaap.

Hier is ons weer by 200 verteenwoordigers.

Elke provinsie moet nou vir hul eie verteenwoordigers stem.

  • In die praktyk kan jy vir ’n party stem, of vir ’n onafhanklike kandidaat.
  • Nie alle provinsies het onafhanklike kandidate nie.

In Gauteng, wat 47 verteenwoordigers moet stuur, sou die getalle so kon lyk:

  • Party A met 44,68% van die stemme stuur 21 verteenwoordigers na die parlement.
  • Party B met 29,79% van die stemme stuur 14 verteenwoordigers na die parlement.
  • Party C met 12,77% van die stemme stuur 6 verteenwoordigers na die parlement.
  • Party D met 6,38% van die stemme stuur 3 verteenwoordigers na die parlement.
  • Party E met 4,26% van die stemme stuur 2 verteenwoordigers na die parlement.
  • Onafhanklike kandidaat X met 2,13% van die stemme gaan as verteenwoordiger na die parlement.

In die Wes-Kaap, wat 24 verteenwoordigers moet stuur, sou die getalle so kon lyk:

  • Party A met 45,83% van die stemme stuur 11 verteenwoordigers na die parlement.
  • Party B met 29,17% van die stemme stuur 7 verteenwoordigers na die parlement.
  • Party C met 12,50% van die stemme stuur 3 verteenwoordigers na die parlement.
  • Party D met 8,33% van die stemme stuur 2 verteenwoordigers na die parlement.
  • Onafhanklike kandidaat Y met 4,17% van die stemme gaan as verteenwoordiger na die parlement.
’n Stem vir jou provinsiale regering

Die provinsiale stem werk ook suiwer op persentasies.

  • As Party A die helfte van die stemme trek, kry hulle 50% van die verteenwoordigers in die provinsiale wetgewer.
  • As Party B ’n kwart van die stemme kry, kry hulle 25% van die verteenwoordigers in die provinsiale wetgewer.

Dit is ook moontlik vir ’n onafhanklike kandidaat om as ’n verteenwoordiger in ’n provinsiale parlement te dien, mits hy of sy genoeg stemme kry.

Mag ek drie verskillende partye kies, of nie?

Jy mag stem vir wie jy wil.

  • Jy mag al jou kruisies vir een party gee.
  • Jy mag op elke stembrief vir ’n ander party stem.
  • Onthou net: Jy mag slegs een kruisie op elke stembrief trek. As daar meer as een kruisie op ’n stembrief is, word daardie stembrief nie getel nie.
Hoe gaan dit prakties werk?

Ek het tot nou toe bewustelik nie ware partye se name genoem nie, maar ek gaan dit doen – en soveel as moontlik opsies noem.

In Gauteng kan persoon A dalk so stem:

  • Nasionaal 1: Bosa
  • Nasionaal 2: Anela Mda (Onafhanklik)
  • Provinsiaal: ActionSA.

In die Wes-Kaap kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: Rise Mzanzi
  • Nasionaal 2: Zackie Achmat (Onafhanklik)
  • Provinsiaal: DA.

In Limpopo kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: ANC
  • Nasionaal 2: ANC
  • Provinsiaal: ANC.

In die Vrystaat kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: ACDP
  • Nasionaal 2: Louis Liebenberg (Onafhanklik)
  • Provinsiaal: Vryheidsfront Plus.

In Noordwes kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: PAC
  • Nasionaal 2: EFF
  • Provinsiaal: EFF.

In KwaZulu-Natal kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: MK
  • Nasionaal 2: Patriotic Alliance
  • Provinsiaal: Inkatha.

In die Noord-Kaap kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: ANC
  • Nasionaal 2: #Hope4SA
  • Provinsiaal: DA.

In Mpumalanga kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: EFF
  • Nasionaal 2: Able Leadership
  • Provinsiaal: ANC.

In die Oos-Kaap kan iemand so stem:

  • Nasionaal 1: ANC
  • Nasionaal 2: ActionSA
  • Provinsiaal: EFF.
Om op te som 

Dit is toe nie so moeilik nie.

  • Op elke stembrief sal die naam en logo van ’n party verskyn, met ’n foto van hul leier langsaan.
  • As daar ’n onafhanklike kandidaat is, sal daar INDEPENDENT staan; hulle naam en foto sal daar langsaan wees. Jy hóéf nie vir ’n onafhanklike kandidaat te stem mie; jy mag vir ’n party stem.
  • Nie alle stembriewe sal onafhanklike mense op hê nie; jy moet dan stem vir die party wat jy wil ondersteun.

Jy gaan dus drie keer stem.

  • Nasionaal moet jy een keer stem vir die party wat Suid-Afrika die beste sal lei.
  • Nasionaal stem jy ook vir ’n party, of ’n onafhanklike kandidaat, wat jou provinsie die beste sal verteenwoordig in die nasionale wetgewer.
  • Provinsiaal moet jy stem vir ’n party, of ’n onafhanklike kandidaat, wat jou provinsie die beste in die provinsiale wetgewer sal dien.

Onthou ook:

  • Neem jou ID saam stembus toe.
  • Jou stem is jou geheim.
  • Jy mag slegs een kruisie op elke stembrief maak. As daar meer as een kruisie op ’n stembrief is, word daardie stembrief nie getel nie.

Maak jou drie kruises met trots!

* Eindnota

Die getalle wat vir provinsiale verteenwoordiging in die nasionale wetgewer genoem is, is gebaseer op die lyste wat deur die Onafhanklike Verkiesingskomitee (OVK) bekendgemaak is. Daar is sommige webruimtes wat die 200 provinsiale verteenwoordigers baie effens anders aandui. Die beginsel van hoe ons vir daardie 200 verteenwoordigers stem, verander egter nie.

Lees ook:

Hoe kan ’n onafhanklike kandidaat ’n verskil maak in die parlement?

Opdraandestryd vir onafhanklike kandidate in Suid-Afrikaanse verkiesing

Verkiesing 2024: 10 onderliggende veranderlikes van besondere belang

South Africa’s only hope?

Is verkiesings vry en oop as kieseropvoeding laag is?

"Dis 7 minute ná middernag."

Verkiesing 2024: Waar pas die VF Plus in die prentjie?

Journey from apartheid to freedom

Gewaarwordinge van die eerste verkiesingsdag, 27 April 1994

Hoe sal koalisieregerings ná die verkiesing provinsiaal en nasionaal kan werk of misluk?

  • 2

Kommentaar

  • Hennie van Deventer

    Perfekte voorbeeld van 'n iekakrasie. Sonder 'n IK in die boonste kwartiel gaan kiesers kleitrap. Hoop die klei ruik nie te onaangenaam nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top